Die Lockheed L-188 Electra is 'n Amerikaanse turboskroefpassasiersvliegtuig wat deur Lockheed gebou is. Dit is die eerste groot turboskroefpassasiersvliegtuig wat in Amerika gebou is. Dit is ontwerp as ’n passasiersvliegtuig met vier Allison Model 501-turboskroefenjins van 2794.5 kilowatt elk wat kort en medium afstande kon vlieg. Die eerste prototipe van die Electra het sy nooiensvlug op 6 Desember 1957 gehad. American Airlines het die eerste bestelling geplaas, en hierdie bestelling is deur bestellings van ander lugrederye gevolg. Dit het Eastern Air Lines ingesluit, wat, op 12 Januarie 1959, die eerste was om met die Electra dienste te bedryf. Ander lugrederye wat die Electra bestel het, was Braniff International Airways, KLM en Qantas. Verskeie lugrederye in die VSA het die Electra gebruik, maar die enigste Europese lugredery was KLM, wat 12 Electras tussen September 1959 en Januarie 1969 in Europa en oos na Saigon en Kuala Lumpur gebruik het. Aanvanklik was die verkope van die vliegtuig goed, maar ná twee noodlottige ongelukke was daar geen bestellings meer nie. Die Electra is van 1957 tot 1961 gebou.Die lugraam van die vliegtuig is gebruik om die Lockheed P-3 Orion te bou. duimnael|250x250px|Lockheed Electra by Lanseria-lughawe Met sy redelik hoë krag-tot-gewigverhouding, enorme lugskroewe en kort vlerke (wat daartoe aanleiding gegee het dat die grootste deel van die vlerkspan aan wind vanaf die lugskroewe blootgestel was), groot Fowler-klappe wat die effektiewe vlerkoppervlakte aansienlik verhoog het wanneer die klappe ontplooi is, en vierenjinontwerp, het die Lockheed L.188 Electra landing-en-opstygvermoëns gehad wat nie deur baie straaltransportvliegtuie – selfs vandag nog – geëwenaar kon word nie veral op kort aanloopbane en by vliegvelde wat hoog geleë is.
Verwysings
Eksterne skakels
Kategorie:Passasiersvliegtuie Kategorie:Turboskroef-aangedrewe vliegtuie