duimnael|centre|900px|Panorama van 'n oopgroefmyn in Garzweiler, Duitsland. duimnael|regs|300px|Die historiese Gold Reef City-mynskag. duimnael|regs|200px|Voorstelling van 'n ou myngang.

Mynbou behels die ontginning, deur mynwerkers, van ekonomies-kosbare minerale en ander geologiese materiaal van 'n soom, rif of aar in die aardkors, bevattende die mineraalpakket van ekonomies-ontginbare erts.

Produksie Stowwe waarvoor gemyn word sluit in metale, steenkool en olie-skalie, edelstene, kalk, rotssout, kalium (potas), gruis en klei. Myn is meestal die enigste manier om sekere materiale te bekom, wat nie landboukundig gekweek en geoes, of kunsmatig in 'n laboratorium of fabriek vervaardig kan word nie. Mynbou in 'n breër sin sluit ook die ekstraksie van nie-hernubare bronne soos ru-olie, petroleum en aardgas in.

Die myn van gesteentes, minerale en metale het reeds sedert prehistoriese tye plaasgevind. Moderne mynbou behels die prospekteer vir ertsdraende rots, ontleding van die winspotensiaal van 'n beoogde myn, ekstraksie van die benodigde stowwe en laastens, maar nie die minste nie, die opruim en rehabilitasie van die grond en omgewing nadat die mynaktiwiteit gestaak is.

Die taak van 'n myngeoloog is om geologiese data oor mineraalafsettings wat ontgin kan word te ontleed, sodat voorspel kan word waar om verder te myn en wat die geraamde gehalte en opbrengs van die erts sal wees.

Steenkool word die meeste in Suid-Afrika gemyn.

Negatiewe invloed Die metodes wat in mynprosesse gebruik word, het 'n potensieël-negatiewe invloed op die omgewing, beide tydens die myn se bedryf en selfs vir jare ná die myn reeds gesluit het. Hierdie inpak het daartoe gelei dat die meeste lande in die wêreld regulasies in plek gestel het om die negatiewe invloed van mynbou te versag.

Die rehabilitasiefunksie word gewoonlik aan 'n spesialis-opruimingsfirma uitgekontrakteer, maar die oorspronklike mynmaatskappy behoort vir ten minste 20 jaar verantwoordelik gehou te word vir die koste a.g.v. enige skadelike uitvloeisels of ongewenste effekte van die mynaktiwiteit.

Mynbou veroorsaak baie besoedeling, in die lug, water en grond. Mynbou en landbou kan meestal nie saam bestaan nie. Landbou kan vir duisende jare lank onderhou word, terwyl mynbou die omgewing kan verwoes en meestal van korte duur is. Sianied is een van die stowwe wat gebruik word om goud tussen die fyngemaalde rotse te onttrek. Dit is skadelik vir die mens, diere en die omgewing.

Nog 'n aspek van bekommernis is veiligheid in myne, maar moderne praktyke van mynbou het veiligheid heelwat verbeter.

Minerale (nie-plantaardige of nie-dierlike grondstowwe) word meestal uit die aardkors ontgin. Dit kan sowel naby die aardoppervlak as diep ondergronds plaasvind. In albei gevalle word van mynbou gepraat. Na die vroegste primitiewe voorbeelde van mynbou, wat hoofsaaklik die optel van klippe of die grond behels het, is die tegnieke voortdurend verfyn in ooreenstemming met die toenemende behoefte aan meer soorte grondstowwe. Teenswoordig word besonder gevorderde metodes gebruik, waarvan veral die metodes van aardolie-ontginning 'n goeie voorbeeld is. Gedurende die laaste paar jaar het die mynboubedrywighede in toenemende mate teenkanting van omgewingsbewaarders begin kry. Die olie-ontginning ter see kan katastrofies wees en die afvalhope van myne ontsier dikwels die landskap uitermate.

Geskiedkundige oorsig Klippe was van die eerste werktuie van die mens. Reeds gedurende die Paleolitiese Tydperk (die Ou Steentyd) is die meeste werktuie uit vuursteen(SiO2.nH2O) vervaardig, wat goed gebruik kon word vanweë die hardheid en die buitengewone skerp rande wat verkry is wanneer die steen gebreek is. Mettertyd is die stene al hoe meer verwerk en in die Neolitikum (die Nuwe Steentyd) is pragtig gepoleerde en fyn afgewerkte voorwerpe (messe, pylpunte, byle, ensovoorts) gemaak.

Die vuursteen wat hiervoor nodig was, is toe soms reeds deur 'n egte vorm van mynbou bekom. Vuursteenmyne is bekend uit onder meer Engeland, Frankryk, Pole, België en Nederland (vuursteenknolle uit die Limburgse Kryt). Die vuursteen is soms ontgin uit steengroewe wat tot 20 m diep uitgegrawe is, en soms uit ondergrondse myne. 'n Groot omwenteling het plaasgevind toe die mens ook metale leer gebruik het. Die mynbou het toe ʼn alledaagse bedryf geword (Nieu-Neolitikum in Suid-Europa).

Die gesogte erts is op twee maniere uit die myne verkry: deur die rotse in hanteerbare stukke te breek, of deur die rots met vure te verhit en daarna gou af te koel deur koue water oor die warm rots te gooi. Deur die skielike inkrimping van die rots het dit dan in stukke opgebreek. Dieselfde proses is toegepas gedurende die Vroeë Egiptiese tydperk. Die mynbou is toe nie slegs bedryf om grondstowwe te bekom nie, maar ook vir die vervaardiging van weeldeartikels (goud en edelstene).

Gedurende die bloeityd van die Griekse en Romeinse beskawings is die mynbou meer sistematies aangepak. Yster, koper, goud, silwer, kwik, tin en lood is toe oral in Europa ontgin. Hierdie metale was ook in China, Indië en Suid-Amerika bekend. Gelyktydig met die verval van die Romeinse Ryk het ook die mynbou in Europa agteruitgegaan, maar gedurende die Middeleeue het ʼn herlewing ingetree. Die eerste dokument oor die mynbou dateer uit 745 n.C. en is afkomstig van die Hongaarse dorpie Schemnitz.

Gedurende die 16e eeu is 'n belangrike stap voorwaarts gedoen toe dit moontlik geword het om groot hoeveelhede rots met 'n relatief klein hoeveelheid plofstof op te breek. Tegelykertyd het die kennis van die mynbou vinnig begin toeneem en dit is saamgevat in die beroemde werk van Georg Agricola (1494- 1555), De remetalica, wat in 1556 gepubliseer is. Die Spaanse ontdekkingsreise het 'n oorvloed van kosbare metale aan Europa besorg, met die gevolg dat die ontginningstempo daarvan in Europa aansienlik afgeneem het.

Die vraag na fossielbrandstof het egter toegeneem en gedurende die 17de, en veral die 18de eeu, het die ontginning van steenkool 'n belangrike bedryf geword - eers in Engeland en later in Duitsland en Frankryk. In Suid-Afrika was grotbewoners uit die Steentyd die eerste mense wat myne bewerk het. Uitgrawings in die Bomvu-rûens in Eswatini is ongeveer 40 000 jaar gelede gedoen. Oop myne wat by Phalaborwa ontdek is, dateer uit die 8ste eeu v.C..

Vroeë ontdekkingsreisigers langs die Suid-Afrikaanse kus is opdrag gegee om die legendariese ryk van Monomotapa te probeer opspoor, waar daar volgens oorlewering ryk goudafsettings en mynbedrywighede was. Hoewel die ryk blykbaar in die teenswoordige Zimbabwe was, het die kaarte van die vroeë reisigers melding gemaak van Vigiti Magna, Davagul, en ander stede wat geleë was aan 'n rivier wat naby Kaap Agulhas in die see sou gevloei het. Een van die kaarte is toegelig deur Johann van Linschoten, 'n Nederlandse reisiger wie se werk aan Jan van Riebeeck bekend was. Van Riebeeck het dit dus as deel van sy taak beskou om met Monomotapa in aanraking te kom.

Hy het verskeie ontdekkingsreise gelas met die bepaalde doel om 'n deel van die goudhandel na Tafelbaai te lok. Die soektog na Monomotapa was onsuksesvol. maar Simon van der Stel het wel in 1685 'n suksesvolle ekspedisie na die sogenaamde koperberge in Namakwaland gelei. Drie skagte is gesink en goeie monsters is verkry, maar die koperberge was byna 600 km van Tafelbaai af en ontginning is deur die gebrek aan 'n gerieflike hawe gekortwiek. Die bepaalde probleme van steenkoolontginning (die lae was dikwels maar dun en die gesteentes erg gevou en gebreek) het 'n behoefte aan gespesialiseerde vaklui laat ontstaan.

Die eerste amptelike opleiding het in 1763 in Schemnitz, Hongarye, begin, en later ook by die beroemde skole in Freiburg (1765, Sergbauschule) en Parys (1783, Ecole de Mines de Paris). Die belangrikheid van delf- en brandstowwe het veral gedurende die Industriële Revolusie vinnig toegeneem. In Suid-Afrika het sir James Alexander teen die middel van die 19e eeu geprobeer om koperafsettings naby die Oranjerivier te ontgin en teen 1855 is die eerste kopermyne naby Springbok begin.

Later is myne ook by Okiep en Nababeep geopen. Die eerste grootskaalse goudontginning het in 1873 begin toe groot spoelgoudafsettings by Pelgrimsrus gevind is. Teen 1885 is die eerste goud uit die hoofrif verkry en in 1886 is die myndorp Johannesburg aangelê. Teen 1910 was daar 67 myne aan die Witwatersrand, van Springs tot by Randfontein. Gedurende die 20ste eeu is steenkool, aardgas en aardolie op 'n al hoe groter skaal gebruik, maar dit het nou duidelik geword dat die olie- en gasreserwes beperk is. Gevolglik het die soektog na uraan, wat 'n belangrike element in die ontwikkeling van kernkrag is, teen die middel van die 20ste eeu geweldig uitgebrei.

Mynboukunde

Opleiding Na die stigting van die eerste mynbouskole in die tweede helfte van die 18e eeu, het studieinrigtings vir die mynbedryf oral in Europa verrys. Die eerste opgeleide mynboukundiges het gedurende die eerste ontginnings en stormlope uit die buiteland na Suid-Afrika gekom, en vir geruime tyd het Suid-Afrika staatgemaak op die kennis van hierdie buitelandse ingenieurs. Veral die "Cousin Jacks", wat in die tinmyne van Redruth en Camborne hul ambag geleer het, het oor die hele wêreld en ook in Suid-Afrika hul stempel afgedruk.

Die mynskool wat in 1896 by Kimberley gestig is, was gebaseer op die een by Redruth. 'n Afdeling van die Kimberley-skool is later in Johannesburg gestig, wat gelei het tot die stigting van die Universiteit van die Witwatersrand in 1922. Die meeste myningenieurs ontvang teenswoordig hul opleiding aan die universiteit of aan die Universiteit van Pretoria. Dit geld ook vir die metaalkundige, wat ook ʼn belangrike bydrae lewer tot die bedryf. By die opleiding van mynboupersoneel word aandag gegee aan alle aspekte van die opsporing en ontginning van delfstowwe.

Waar die mynbou in Suid-Afrika, met sy oorvloedige mineraalrykdom, die opbrengs van byna elke ander land oortref, is dit geen wonder nie dat Suid-Afrika ook op die gebied van die opleiding van personeel die voorste plek beklee. Suid-Afrikaanse mynboukundiges is vandag dwarsoor die wêreld in aanvraag en die land se kenners bedien mynmaatskappye wêreldwyd van raad.

Opsporing Die proses vir die opsporing (prospektering) van delfstowwe het gedurende die 20ste eeu baie verander. Oorspronklik is daar net ondersoek ingestel na toevallige vondste. Dit is gevolg deur 'n fase waartydens die mens deur middel van ondersoeke na die geologiese geskiedenis van 'n gebied probeer bepaal het watter delfstowwe daar aanwesig is.

Die ontginning van die aardrykdom is tans so ver gevorder dat daar digby die aardkors geen besondere vondste meer gedoen word nie. Gevolglik speel geochemiese en geofisiese opsporingsmetodes die grootste rol by die opsporing van minerale. By die geochemiese metodes word 'n ondersoek gedoen na die voorkoms van bepaalde elemente in 'n gebied.

By die geofisiese ondersoek word die geologiese struktuur van die ondergrond bepaal. Dit is veral belangrik by die opsporing van olie en gas bronne, wat hoofsaaklik ophoop in die kruingebiede van antiklinale (plooirûe of boogvormige formasies). Wanneer die bevindings dui op die aanwesigheid van die gesogte delfstof, word daar voortgegaan met eksplorasie.

Eksplorasie Die eksplorasie is die ondersoek na die gehalte en hoeveelheid van die delfstof. Dit is veral belangrik om vas te stel of ontginning ekonomies lewensvatbaar is. Vir die doel word verskeie monsters deur middel van duur boorprosesse by die betrokke terreine geneem.

Op grond van die gegewens wat so verkry word, word bereken presies hoeveel van die delfstof aanwesig is. Die bepaling omvat 'n bewese reserwe sowel as 'n waarskynlike reserwe. Vir die dele van die ondergrond waarvan 'n mens weinig of geen gegewens het nie, word 'n moontlike reserwe ook soms beraam. Ekonomies-ontginbare reserwes word in groot mate bepaal deur die heersende pryse.