duimnael|regs|'n Satellietbeeld van die pan (net links van beeldmiddel), met naasliggende panne van die omgewing Hakskeenpan is 'n modder- en soutpan in die Kalahari-woestyn, in Suider-Afrika. Dit is in die Mierstreek van die Noord-Kaap in Suid-Afrika op 801 meter bo seevlak geleë. Die pan beslaan 'n oppervlakte van ongeveer 140 km².
Vorming, geologie en klimaat Langtermyn-landskapsevolusie Die huidige Kalaharilandskap is die resultaat van 'n verskeidenheid interaksies tussen tektoniese en geomorfologiese prosesse wat oor aansienlike tydskale gewerk het. Die aanvanklike ontwikkeling van die Kalahari was nou gekoppel aan die evolusie van die Afrika-landmassa ná die verbrokkeling van die superkontinent Gondwanaland tydens die Mesosoïkum. Die geleidelike skeiding van Afrika van die hedendaagse Australië, Antarktika, Indië en Suid-Amerika het met die geleidelike verhitting en die skeuring van die kors gepaard gegaan, wat tot die opheffing van die kontinentale marge in Suid-Afrika tot in die laat Kryt gelei het. Die ontwikkeling van hierdie opgehewe marge het beduidende implikasies vir die streeksvloeistelsels gehad; die eindproduk was 'n dubbele dreineringspatroon wat hoofsaaklik uit kort riviere bestaan wat direk in die see uit die Groot Platorand dreineer en langer riviere wat binnelands dreineer en nooit die see bereik nie.
Pan-omgewings Panne is klein, geslote bekkens of depressies wat mere bevat en kenmerkend is van droë tot halfdroë gebiede met 'n lae reliëf. Dit is ook baie belangrik as waterbronne vir beide die mens en die natuur. Panne kom oral in die Kalahari en so ver as Zambië voor, maar is 'n besonder belangrike komponent van die landskap in streke met 'n jaarlikse reënval van minder as 500 mm op onderliggende rots of sediment wat vatbaar is vir winderosie. Die suidelike Kalahari voldoen aan albei hierdie kriteria.
Twee gebiede wat panne bevat, kom in die suide van Kalahari voor, naamlik 'n breë sone wat vanaf Upington, oor die laer Molopo en noordwaarts tot in Namibië strek, en 'n kleiner gebied tussen Vryburg in Noordwes en Tsabong in Botswana. Binne hierdie gebiede kom panne as geïsoleerde landskapskenmerke voor, maar ook in deuke in die vloere van droë valleie en paleo-dreineringslyne, en in die gange tussen lineêre duine. Die meerderheid het geen oppervlaktoevloei nie, hoewel sommige oor kort, swakontwikkelde kanale beskik wat afloop tydens groot stortbuie lewer. Hakskeenpan is een van die grootste geïsoleerde panne in die Suid-Afrikaanse Kalahari; die ander opvallende pan is Koppieskraalpan direk suidwes van die Kgalagadi-vredespark.
Klimaat Die klimaat in die Suid-Kalahari-ekostreek is half-dor. Die temperatuur wissel baie, beide op 'n seisoenale en daaglikse basis, met 'n gemiddelde maksimum- en minimumtemperatuur van 35,7°C en 19,5°C in Januarie en 22,2°C en 1,2°C in Julie. Reënval is onbetroubaar en onreëlmatig, en val veral gedurende die vlugtige, hoë intensiteit donderstorms tussen November en April. Voordat die reënseisoen begin, waai sterk noordwestewinde tussen September en November, wat stofstorms veroorsaak. Die gemiddelde jaarlikse neerslag is ongeveer 223 mm. Die humiditeit is laag en verdamping hoog; laasgenoemde veroorsaak die karakteristieke groot tekort in die jaarlikse waterbegroting. Die rivierwater in die stelsel is geneig om alkalies en troebel te wees. Die riviere vloei egter net vlugtig na 'n reënbui, en vinnige infiltrasie in die sanderige Kalaharibodem beteken dat die vloede, hoewel hulle tog by tye voorkom, skaars is, en dat die riviere vinnig ophou vloei.
Naam "Hakskeen" verwys waarskynlik na die vorm van hierdie pan op 'n kaart. "Pan" is die Afrikaanse woord vir 'n "vlak meer", hetsy droog of met water gevul.
Landspoedrekordpoging Die Bloodhound SSC-span het Hakskeenpan gekies om hul aanslag op die landspoedrekord uit te voer nadat lae reënval in die Black Rock-woestyn van Nevada hul poging aldaar laat misluk het, en daar nie voldoende water was om die oppervlak gelyk te maak nie. Die span het Hakskeenpan weens sy plat oppervlak gekies. Die baan waarop Bloodhound SSC op die Hakskeenpan getoets is, is 1 100 meter breed en 20 km lank.
Met toetse wat gedurende Oktober en November 2019 plaasgevind het, het die Bloodhound 'n spoed van 1 010 km/h behaal, amptelik die sesde vinnigste tot nog toe. Die span het na Europa teruggekeer waar 'n vuurpyl vir die beplande aanslag op die 1 228 km/h rekord aangebring sou word. Dié aanslag is vir 2020 beplan,Bloodhound-projek: R 200m. kort om tot in rekordboek te jaag. Die Burger. 13 Desember 2019. maar is deur die Covid-19-pandemie en gevolglike gebrek aan befondsing gekelder. Die rentuig word sedertdien by die Conventry-vervoermuseum uitgestal.
Lees ook Kalahari-pannestreek Koppieskraalpan
Verwysings
Kategorie:Noord-Kaap