Die Britse en Ierse Leeus (voorheen bekend as die Britse Eilande en tot in 2001 die Britse Leeus genoem; kort “Leeus”) is ’n rugbyspan saamgestel uit spelers wat vir die nasionale rugbyspanne van Engeland, Ierland, Skotland en Wallis mag speel. Al om die vier jaar onderneem die Leeus ’n weeklange toer afwisselend na Australië, Nieu-Seeland of Suid-Afrika, die drie groot rugbylande in die Suidelike Halfrond. Op ’n toer word gewoonlik ’n aantal toetswedstryde teen die onderskeidelike nasionale span en wedstryde teen plaaslike keurspanne gespeel.

Gemeensame spanne van die destydse Verenigde Koninkryk van Groot-Brittanje en Ierland het sedert 1888 toere in die Suidelike Halfrond onderneem. Die eerste toer was ’n suiwer kommersiële onderneming sonder amptelike goedkeuring deur die beheerliggame. Die ses daaropvolgende toere (voor die Suid-Afrikaanse 1910-toer) het meer en meer goedkeuring deur die nasionale beheerliggame verkry, hoewel net een span spelers uit al die vier lande ingesluit het. Sedert 1910 word die spelers deur ’n komitee met verteenwoordigers uit al die Tuisnasies saamgestel. In 1950 het die span vir die eerste keer uitsluitlik uit internasionaal ervare spelers bestaan.

Gedurende die eerste helfte van die 20ste eeu het die Leeus meestal nie daarin geslaag om ’n toetsreeks te beklink nie. In 1955 het ’n goue tydperk begin, nadat hulle in die toetsreeks teen Suid-Afrika met 2–2 gelykop gespeel het. Hul hoogtepunt het die Leeus gedurende die 1970’s bereik, toe hulle toetsreekse teen Nieu-Seeland en Suid-Afrika beklink het. Ná die professionalisering van rugby in 1995 het die Leeus bly bestaan, maar die toere is as gevolg van die spelers se minder beskikbaarheid aansienlik verkort.

Toere Die Leeus is ’n span bestaande uit spelers wat ook vir een van die vier Tuisnasies (Engeland, Ierland, Skotland, Wallis) mag speel en gewoonlik vir een van dié nasionale spanne speel. Gewoonlik toer hulle al om die vier jaar vir ’n aantal weke deur een van die drie vernaamste rugbylande in die Suidelike Halfrond. Dit is afwisselend Australië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika. Voor die Tweede Wêreldoorlog het hulle ook toere na Argentinië onderneem. Die mees onlangse toer was in 2025 na Australië. Die volgende vind in 2029 na Nieu-Seeland plaas.

’n Komitee bestaande uit verteenwoordigers van die vier betrokke beheerliggame (Engelse Rugbyvoetbalunie, Ierse Rugbyvoetbalunie, Skotse Rugbyunie, Walliese Rugbyunie) is vir die toer se organisasie verantwoordelik en bepaal sekere maande voor die toer se begin die afrigters. Daarna keur die hoofafrigter in afspraak met die komitee die span. Op die toer word gedurende die week wedstryde teen keurspanne en klubs gespeel, terwyl op die naweek toetswedstryde teen die gasheer se nasionale span gespeel word. Daar word minstens drie toetswedstryde gespeel; die Leeus se doelwit is om meer toetswedstryde as die gasheer te wen en sodoende die toetsreeks te beklink. Tuiswedstryde van die Leeus is maar skaars en hulle dien as ’n toervoorbereiding voor die vertrek na die gasheerland. ’n Toer vind gewoonlik in Junie of Julie plaas, wanneer elders die middeljaarrugbytoetsreeks gespeel word. Die aktiwiteite van die Tuisnasies se nasionale spanne is in dié tyd ingeperk en hulle maak slegs staat op reserwes of nuwelinge.

Die Leeus se wedstryde in die week herinner meer aan skougevegte as aan wedstryde en dit het veral die doelwit om die uit vier nasionale spanne bestaande span in taktiese opsig in lyn te bring en die beste span vir die toetswedstryde te bepaal. Dit is egter ook belangrik om die balans te vind tussen die spelers wat gedurende die week ingespan word en dié wat in die toetswedstryd uitdraf. Konflikte in dié verband is nie selde nie. Ook die aantal spelers vir ’n toer is dikwels onderworpe aan debatte. Byvoorbeeld het tydens die Nieu-Seelandse 2005-toer veral die Skotse pers gekritiseer dat Skotland met slegs drie spelers in die uit 44 spelers bestaande span duidelik onderverteenwoordig sou wees. Dit het tot die kwessie vir ’n kwota vir elkeen van die nasies gelei. Dit word egter as onwaarskynlik beskou.

Benaming en kentekens Bynaam Van die eerste spanne het onder die benaming British Isles verskyn. Op hul 1950-toer na Nieu-Seeland en Australië het die span die amptelike naam Britse Leeus goedgekeur. Dié naam is in 1924 vir die eerste keer deur Britse en Suid-Afrikaanse joernaliste as bynaam gebruik en dit het na die leeu verwys wat op die trui verskyn het. Die leeu het die destydse vierdelige kenteken vervang, waarop die embleme van die vier betrokke beheerliggame uitgebeeld word.

Toe die span aan die einde van die 19de eeu ontstaan het, was die Verenigde Koninkryk van Groot-Brittanje en Ierland nog een enkele staat. Die span het ná die stigting van die Ierse Vrystaat in 1922 bly bestaan, maar dit is steeds British Isles of British Lions genoem. Deur die loop van die dekades heen het die Iere dié name in ’n toenemende mate as ontoepaslik beskou, aangesien hulle glo nie verteenwoordig is nie. In 2001 is die span amptelik in Britse en Ierse Leeus hernoem. Die meeste ondersteuners verwys na die span steeds kort as “Leeus”.

Himne Aangesien die Leeus geen nasie verteenwoordig nie, beskik hulle nie oor nasionale kentekens soos ’n vlag of volkslied nie. Op die 1989-toer na Australië is die Britse volkslied God Save the Queen gespeel, wat in sport veral met Engeland geassosieer word. Veral die spelers uit Ierland was daarmee ontevrede, maar dit het ook kritiek uit Skotland en Wallis ontlok. Vervolgens het hulle daarvan afgesien om hoegenaamd ’n volkslied te speel. Vir die 2005-toer na Nieu-Seeland het die Leeuskomitee die musikus Neil Myers opdrag gegee om ’n lied vir die span te komponeer. Sy titel was The Power of Four en dit sou voor die wedstryde pleks van ’n volkslied gesing word. Die première was op 23 Mei 2005 op die Millennium-stadion in Cardiff voor die openingswedstryd teen Argentinië en dit is deur die Walliese operasanger Katherine Jenkins gesing. Dié lied is egter deur die spelers, ondersteuners en pers verwerp; dit het hulle glo laat “sidder” en is nie as inspirerend genoeg beskou nie. Sedertdien word dit nie meer gebruik nie.

Kleure duimnael|Vlag van die Britse en Ierse Leeus duimnael|Kenteken van die Leeus van 1924 af duimnael|Kenteken van die Leeus tot in 2023 Die Leeus dra sedert 1950 ’n rooi trui met ’n vierdelige embleem wat die vier beheerliggame verteenwoordig. Buitendien dra hulle wit broeke met blou lang sokkies met ’n groen kleuraksent. Op dié manier word die sportkleure van al die vier Tuisnasies gebruik (rooi vir Wallis, wit vir Engeland, blou vir Skotland en groen vir Ierland). Voor 1950 het die kleredrag verskeie aansienlike veranderinge ondergaan.

In 1888 het Arthur Shrewsbury, die eerste toer se organiseerder, aangedring op “iets wat goeie materiaal sou wees en hulle tog met storm hier uithaal” (something that would be good material and yet take them by storm out here). Die resultaat was ’n rooi-wit-blou-gestreepte trui met wit broeke en donker sokkies. Vir die Suid-Afrikaanse 1891- en 1896-toere het hulle dié kleure behou, maar dié keer as ’n rooi-wit-gestreepte trui met donkerblou broeke en sokkies. Vir die Australiese 1899-toer het die span weer die rooi-wit-blou-gestreepte trui gedra, maar met breë blou strepe asook rooi en wit dun strepe. Die broeke was steeds blou, só ook die sokkies, wat ’n wit kleuraksent bygekry het. Tydens die Suid-Afrikaanse 1903-toer het hulle rooi-wit-gestreepte truie gedra. Die enigste veranderinge was ietwat breër rooi as wit strepe (die teenoorgestelde as in 1896) en die wit kleuraksent op die 1896-sokkies is deels behou. Op die Australiese 1904-toer het hulle dieselfde trui as vyf jaar vroeër gedra. In 1908, toe die Skotse en Ierse beheerliggame geen spelers beskikbaar gestel het nie, het die Anglo-Walliese keurspan op hul toer na Australië en Nieu-Seeland rooi truie met ’n breë wit streep gedra. Die blou broek is behou, maar die sokkies was vir die eerste keer rooi met ’n wit kleuraksent.

In 1910 was die Skotte weer deel van die Suid-Afrikaanse toer. Vervolgens het die spelers donkerblou truie met wit broeke en die rooi 1908-sokkies gedra. Op die truie het ook ’n groot leeu verskyn. In 1924 het die span weer deur Suid-Afrika getoer en die blou truie is behou, maar dié keer het die broek by die kleur gepas. Die 1924-toer was die eerste waartydens die span Leeus genoem is. Ironies genoeg het hulle tydens dié toer die leeu-embleem met die voorganger van die huidige kenteken met die vier simbole vir die vier beheerliggame vervang. Die leeu het op die truie ontbreek, maar die spelers het tydens hul aankoms in Suid-Afrika dasse met ’n leeumotief gedra, waarvolgens die pers en die publiek na die span as Leeus verwys het.

Tydens die nieamptelike Argentynse 1927-toer het hulle dieselfde truie en kentekens gebruik, terwyl die drie gestileerde leeus in 1930 as ’n truikenteken teruggekeer het. Tydens dié Nieu-Seelandse toer het die gaste se blou trui baie opskudding veroorsaak. Dit is algemeen in rugby dat die tuisspan die besoekers tegemoet kom, as die kleure baie naby aan mekaar is. Die Nieu-Seelandse span, wat reeds as All Blacks bekend gestaan het, het ’n swart trui gedra, wat met die Leeus se blou trui gebots het. Ná ’n lang huiwering en baie debatte het die Nieu-Seelandse beheerliggaam ingestem en die All Blacks het in die toetswedstryde vir die eerste keer geheel en al in wit gespeel. Tydens hierdie toer het ’n aantal spelers rondom die Ierse slot George Beamish hul misnoeë daaroor uitgespreek dat Skotland se blou, Engeland se wit en Wallis se rooi verteenwoordig is, maar nie Ierland se groen nie. Vervolgens het die sokkies ’n groen kleuraksent bygekry, wat sedertdien ’n vaste bestanddeel in die kleredrag is. Op die Argentynse 1936-toer het die vierdelige wapen op die trui teruggekeer en dit word sedertdien gebruik.

Die rooi trui se invoering op die 1950-toer het gepaard gegaan met die wens om die 1930-kontroversie te vermy. Saam met die wit broeke en die groen-blou sokkies vorm dit sedertdien die algemene kleredrag. Die enigste verandering is in 1993 gemaak, toe hulle die truiverskaffer se kenteken prominent bygevoeg het. Umbro het in 1989 gevra om “die handelsmerk besmoontlik te wys” wat die truiontwerp egter nie beïnvloed het nie. Sedertdien het Nike, Adidas en Canterbury met groot kentekens op die truie verskyn, saam met die borge Scottish Provident (1997), NTL (2001), Zurich (2005), HSBC (2009 en 2013), Standard Life Investments (2017), Vodafone (2021) en Howden (2025).

Truiverskaffers en -borge Tot dusver het die volgende truiverskaffers en -borge verskyn:

Tydperk Verskaffer Borg BestemmingAmateurtydperk 1983 – – Nieu-Seeland 1989 – – Australië 1993 Nike – Nieu-SeelandProfessionele tydperk 1997 Adidas Scottish Provident Suid-Afrika 2001 NTL Australië 2005 Zurich Nieu-Seeland 2009 HSBC Suid-Afrika 2013 Australië 2017 Canterbury Standard Life Investments Nieu-Seeland 2021 Vodafone Suid-Afrika 2025 Howden Australië

Ontwikkeling van die spanklere

Geskiedenis Nieamptelike voorgangertoere duimnael|Die Britse 1888-span duimnael|Die Britse 1891-span