400px|regs|duimnael|Ruimteverdrag van 1967 Die Ruimteverdrag, amptelik die verdrag oor die beginsels waaraan die aktiwiteite van die staat onderworpe is in die verkenning en gebruik van die buitenste ruimte, insluitend die Maan en ander hemelliggame, is 'n verdrag wat die basis vorm vir die internasionale ruimtereg. Die verdrag is op 19 Desember 1966 in terme van 'n resolusie deur die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies aanvaar.

Dit is daarna op 22 Januarie 1967 vir ondertekening in Londen, Moskou en Washington DC geopen en het op 10 Oktober 1967 in werking getree. Op 23 Mei 2025 is die verdrag deur 117 lande geratifiseer en deur nog 26 lande onderteken.

In 1979 is die Maanverdrag onderteken, wat bedoel was as 'n uitbreiding van die Ruimteverdrag, maar omdat hierdie verdrag slegs deur 16 lande bekragtig is, waarvan nie een 'n onafhanklike ruimtevaarende nasie was nie, is dit in die praktyk 'n dooie verdrag.

Belangrike punte uit die verdrag Ruimteverkenning en -gebruik sal uitgevoer word tot voordeel van alle state en die ruimte moet beskou word as 'n hulpbron vir die hele mensdom.

Die ruimte is vry om te verken en te gebruik vir elke staat.

Daar kan geen soewereiniteit ten opsigte van die ruimte of hemelliggame geëis word nie.

State sal nie kernwapens en ander massavernietigingswapens in 'n wentelbaan plaas nie, dit op hemelliggame plaas of op enige ander manier in die ruimte stationeer nie.

Die maan en ander hemelliggame word uitsluitlik vir vreedsame doeleindes gebruik.

Ruimtevaarders sal as gesante van die mensdom beskou word.

State is verantwoordelik vir ruimteaktiwiteite wat deur regeringsinstansies en private instellings uitgevoer word.

State is verantwoordelik vir skade veroorsaak deur 'n ruimtetuig wat deur hulle gebou is.

Skadelike besoedeling van die ruimte en hemelliggame moet vermy word.

Verwysings

Eksterne skakel Treaty on Principles Governing the Activities of States in the Exploration and Use of Outer Space, including the Moon and Other Celestial Bodies

Kategorie:Ruimtevaart