Hierdie artikel handel oor die Samoaanse nasionale mansrugbyspan. Vir die artikel oor die nasionale vrouerugbyspan, sien Samoaanse nasionale vrouerugbyspan.
Die Samoaanse nasionale rugbyspan (Engels: Samoa national rugby union team; Samoaans: Manu Samoa) is die nasionale rugbyspan wat Samoa in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Rugby word in Samoa geadministreer deur Rugby Samoa (Lakapi Samoa) wat in 1924 gestig is. Samoa word deur Wêreldrugby as ’n vlak twee-span erken. Die Samoaanse rugbyspan is tans (November 2025) 17de op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys. Die span neem deel aan die jaarlikse Stille Oseaan-nasiesbeker, saam met Fidji, Japan en Tonga. Samoa was ’n lid van die Stille Oseaan-eilande Rugbyalliansie (Engels: Pacific Islands Rugby Alliance; PIRA), saam met Fidji en Tonga; maar hulle het in 2009 hulself onttrek.
Samoa het in 1924 sy eerste internasionale wedstryd teen Fidji gespeel. Samoa, Fidji en Tonga speel gereeld teen mekaar in toernooie soos die Stille Oseaan-nasiesbeker (tot in 2005 Stille Oseaan-drienasies), waarin Samoa tot dusver 14 titels gewen het. Samoa se bynaam is Manu Samoa. Om die teenstander te intimideer en hulself te motiveer word voor elke toetswedstryd die Siva Tau-oorlogsdans deur die Samoaanse span uitgevoer. Dié oorlogsdans dateer uit die land se oorloë met naburige eilande.
Samoa het tot dusver vir tien van die elf rugbywêreldbekertoernooie gekwalifiseer en slegs die Rugbywêreldbeker 1987 in Australië en Nieu-Seeland misgeloop. In 1991 en 1995 het hulle daarin geslaag om tot die kwarteindrondte deur te dring. Sedertdien vaar Samoa nie meer so goed in die Wêreldbeker nie. Twee voormalige Samoaanse rugbyspelers is in Wêreldrugby se Heldesaal opgeneem. Samoa speel tradisioneel in blou truie met wit kleuraksente, wit broeke en blou sokkies.
Beheerliggaam
Die beheerliggaam vir rugby in Samoa is Rugby Samoa (Samoaans: Lakapi Samoa). Rugby Samoa is in 1924 gestig en het in 1988, net ná die eerste rugbywêreldbekertoernooi, ’n volle lid van die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) geword. Daarbenewens was Rugby Samoa in 2000 ’n stigterslid van die Vereniging van Oseaniese Rugbyunies (Federation of Oceania Rugby Unions, FORU; nou Oseanië Rugby, OR).
Naas die amptelike nasionale span roep Rugby Samoa ook ander keurspanne byeen. Samoa A is die tweede nasionale span van Samoa en hulle neem aan Wêreldrugby se Stille Oseaan-uitdaagtoernooi deel. Die Samoa Sevens is die Samoaanse sewesrugbyspan en hulle neem aan internasionale toernooie soos Wêreldrugby se Sewesreeks, Sewesrugbywêreldbeker, Olimpiese Somerspele en die Statebondspele deel. Net soos ander rugbylande beskik Samoa oor ’n o/20-nasionale span wat aan die Wêreldrugby o/20-kampioenskap deelneem. Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting.
As deel van die Stille Oseaan-eilande Rugbyalliansie het die beheerliggaam van 2004 wedstryde gereël van die Stille Oseaan-eilanders, ’n gemeensame keurspan van die drie Stille Oseaan-eilandstate Fidji, Samoa en Tonga. Aangesien die Stille Oseaan-eilanders nie die gewenste inkomste vir die beheerliggame gegenereer het nie, het die Samoaanse beheerliggaam dié samewerking in 2009 beëindig. Sedert 2022 word die Stille Oseaan-eilande (feitlik die Cookeilande, Fidji, Samoa en Tonga) in die internasionale Superrugbytoernooi verteenwoordig deur die gesamentlike professionele span Moana Pasifika, wat aan dié toernooi deelneem saam met spanne uit Australië, Nieu-Seeland en een uit Fidji.
Algemene situasie Samoa is een van die min lande waar rugby die hoofsport is. Slegs die Cookeilande, Fidji, Nieu-Seeland, Tonga en Wallis kan soortgelyke bewerings maak. Met ’n bevolking van amper 200 000 is die keuring van talentvolle spelers in vergelyking met ander lande baie klein, maar Samoa behoort konstant aan die 15 beste spanne wêreldwyd en hulle is redelik mededingend. Dié land ly egter onder ’n groot uitvloei aan talent, aangesien baie spelers in die professionele ligas in Australië, Nieu-Seeland, Europa of Japan speel en deur die onderskeie land ingeburger word. Volgens Wêreldrugby se reëls is ’n tydperk van vyf jaar ononderbroke blyplek genoeg om vir die nasionale span van ’n ander land uit te draf (tot aan die einde van 2020 was dit slegs drie jaar). Sedert die 1970’s het baie Samoane veral na Nieu-Seeland vertrek. Van die bekendste Nieu-Seelandse spelers met ’n Samoaanse herkoms is Jerry Collins, Michael Jones, Chris Masoe, Mils Muliaina, Isaia Toeava en Tana Umaga, terwyl Manu Tuilagi vir Engeland uitdraf. Met ’n bevolking van ’n rapsie meer as ’n 200 000 is Samoa van die kleinste lande wat gereeld aan rugbywêreldbekertoernooie deelneem.
Die Stille Oseaan-eilandstate se beheerliggame is nie sterk genoeg om hierdie uitvloei aan talent stop te sit nie. Soms word die sistematiese stropery in ’n ironiese manier met die 19de eeuse Blackbirding vergelyk. Samoane, wat hul eie land verteenwoordig, kan nie altyd vir hul nasionale span verskyn nie, aangesien veral Engelse klubs huiwerig is om spelers vir toetswedstryde beskikbaar te stel. Die professionele span Moana Pasifika, wat sedert 2022 aan die internasionale toernooi Superrugby deelneem, sal as ’n oplossing dien. In dié span, wat in die Nieu-Seelandse stad Auckland gesetel is, speel Samoane saam met Tongane en Nieu-Seelanders met ’n Polinesiese herkoms; dié span streef ’n verkieslik “Stille Oseaan”-karakter na.
Amerikaans-Samoa, ’n eilandgebied van die Verenigde State van Amerika wat net soos Samoa aan dieselfde argipel behoort, beskik oor sy eie nasionale rugbyspan. Dit bereik egter by verre nie dieselfde status nie en hulle speel slegs af en toe. In Amerikaans-Samoa is Amerikaanse voetbal die gewildste sportsoort; baie Samoane speel in die Nasionale Voetballiga.
Geskiedenis ’n Beskeie begin In Wes-Samoa was die in ander gebiede van Oseanië reeds goed gevestigde rugbysport tydens die Duitse koloniale tydperk minder bekend, plaaslike koerante het aan die begin van die 20ste eeu net min oor rugbywedstryde in die hoofstad Apia berig. Dié situasie het in 1914 verander, toe Nieu-Seeland die eilandgroep aan die begin van die Eerste Wêreldoorlog beset en begin administreer het (van 1919 af amptelik as ’n Volkebondmandaat). Die Rooms-Katolieke orde van die Maristebroers, wat van 1871 af hier werksaam was, het van 1920 af aan hul skole weens die sterk Nieu-Seelandse invloed ’n aantal sportsoorte met ’n Britse oorsprong ingevoer. Rugby het vinnig die by verre gewildste sportsoort geword en is deur groot dele van die bevolking goed ontvang. Volgens Robert F. Dewey, ’n historikus aan die DePauw-universiteit, was rugby destyds ’n belangrike manier om die plaaslike trots en strydlustige manlikheid uit te druk. Nadat baie tradisionele rituele gedurende die koloniale tydperk verdwyn het, was rugby ’n goeie plaasvervanger vir die uitvoering van ou konflikte. Buitendien was die atletiese vaardighede van die inheemse spelers glo heel geskik vir die rugbyspel. ’n Soortgelyke ontwikkeling het in twee ander Stille Oseaan-eilandstate plaasgevind: Fidji en Tonga.
In 1924 is die Apia Rugbyvoetbalunie (Engels: Apia Rugby Football Union, die latere Wes-Samoaanse Rugbyvoetbalunie en die huidige Rugby Samoa) gestig, wat aanvanklik met die Nieu-Seelandse Rugbyvoetbalunie geassosieerd was. Die eerste toetswedstryd het op 18 Augustus 1924 in die Samoaanse hoofstad Apia teen Fidji plaasgevind en is met 0–6 verloor. Volgens ’n legende is die wedstryd op ’n rugbyveld met ’n groot boom op die middellyn gespeel, maar destydse koerantberigte vermeld niks daarvan nie. Die wedstryd het om 7 v.m. afgeskop om die Samoaanse toeskouers kans te gee om ná die wedstryd te gaan werk. ’n Maand later is die tweede toetswedstryd teen Fidji met 9–3 gewen. Aan die einde van Julie 1926 is Tonga vir die eerste keer verwelkom. In 1928 en 1932 het die Stille Oseaan-bure weer Samoa besoek, maar dit sou tot in 1947 duur, totdat die Samoane weer besoek ontvang het; daardie jaar het hulle Tonga vir die eerste keer geklop.
Gereelde wedstryde is eers in 1955 hervat en as gevolg van die beheerliggaam se moeilike finansiële situasie kon die eerste wegwedstryde eers in 1956 gespeel word, toe die Samoane na Tonga vertrek het. In 1960 het die Nieu-Seelandse Maori (die Maori se keurspan)vir die eerste keer Wes-Samoa besoek. In 1962 het die Nieu-Seelandse beheer geëindig en Wes-Samoa sy onafhanklikheid verkry. In 1963 is in die Fidjiaanse hoofstad Suva die eerste Suid-Stille Oseaan-spele aangebied, waartydens Wes-Samoa in al sy vier wedstryde maklik verslaan is en slegs die bronsmedalje ingepalm het. Aangesien die beheerliggaam se moeilike finansiële situasie bly aanhou het, moes hul internasionale speelprogram vir die volgende agt jaar opnuut opgeskort word.
Toenemende internasionale kontakte Aan die Suid-Stille Oseaan-spele 1971 se rugbytoernooi in Papeete (Frans-Polinesië) het die mededingers uit Fidji en Tonga nie deelgeneem nie. Tydens die groepfase het Wes-Samoa die Cookeilande en Nieu-Kaledonië geklop, en in die halfeindstryd Tahiti. In die eindstryd het die Samoane weer teen die Cookeilande te staan gekom en met ’n 23–9-oorwinning die toernooi beklink. In 1972 het hulle Tonga vir vier toetswedstryde ontvang, maar almal verloor. ’n Jaar later was hulle teen die besoekende Nieu-Seelandse Maori ook sonder enige kans. In Junie 1975 is Tonga opnuut vir vier toetswedstryde verwelkom; Wes-Samoa het twee oorwinnings aangeteken, die eerste oor dié span in amper drie dekades.
Tupuola Efi, wat gelyktydig as beheerliggaamspresident en eerste minister gedien het, het die doelwit gehad om die destydse beskeie Samoaanse rugbysport se vlak te verbeter. Dit was net met meer wedstryde teen gelykwaardige of beter teenstanders moontlik. Om hierdie rede het hy in 1976 ’n fondsinsameling georganiseer om die span se eerste toer na Nieu-Seeland te befonds. Dié veldtog het die bepaalde doelwit oortref en die beheerliggaam kon ’n verteenwoordigende keurspan saamstel. Gedurende die vierweekse toer het hulle teen ses plaaslike spanne van die Nieu-Seelandse kampioenskap te staan gekom en hulle is vyf keer verslaan. In die toetswedstryde teen die Nieu-Seelandse Maori is hulle ook twee keer geklop. Twee begeleiers van die span het die fondsinsameling by die Samoaanse diaspora voortgesit, waardeur hulle die grondslag vir toekomstige toere en die verbetering van die beheerliggaam se strukture gelê het. Die Suid-Stille Oseaan-spele 1979 het gewys dat die in Nieu-Seeland verwerfde kennisse veral in taktiese opsig nog nie voldoende was nie. Ná hul tweede plek gedurende die groepfase met die Salomonseilande, Tonga en Tahiti het hulle in die halfeindstryd teen die gasheer Fidji met 13–16 verloor en hulle het in die klein finale om die derde plek ’n verrassende nederlaag teen Nieu-Kaledonië met 8–9 gely.