Steven Allan Spielberg KBE (gebore 18 Desember 1946) is 'n Amerikaanse regisseur, vervaardiger en draaiboekskrywer. Hy is 'n belangrike figuur in die New Hollywood-tydperk en 'n pionier van die moderne supertreffer. Hy is die kommersieel suksesvolste regisseur in die geskiedenis en is al 'n rekordgetal van 13 keer vir 'n Oscar vir beste prent benoem.
Spielberg het talle pryse gewen, insluitende drie Oscars, twee Baftas en vier Directors Guild of America-pryse, sowel as die AFI Life Achievement-prys in 1995, die Kennedysentrum-eerbewys in 2006, die Cecil B. DeMille-prys in 2009 en die Presidensiële Vryheidsmedalje in 2015. Sewe van sy rolprente is deur die Library of Congress in die Nasionale Rolprentregister ingesluit as "kultureel, histories of esteties belangrik".
Spielberg het in Kalifornië in die rolprentwese studeer. Nadat hy verskeie televisie-episodes verfilm het, het hy die TV-fliek Duel (1971) geregisseer. In 1975 het hy beroemd geraak met die supertreffer Jaws. Hy was die regisseur van nog lokettreffers soos Close Encounters of the Third Kind (1977), E.T. the Extra-Terrestrial (1982) en die oorspronklike Indiana Jones-trilogie (1981-'89). Hy het daarna die dramarolprente The Color Purple (1985) en Empire of the Sun (1987) geregisseer.
In 1993 het Spielberg twee treffers geregisseer: die wetenskapsfiksieprent Jurassic Park, die grootste lokettreffer destyds, en die Holocaustdrama Schindler's List, wat dikwels genoem word een van die beste rolprente wat nog gemaak is. Hy het die Oscar vir laasgenoemde en die epiese 1998-rolprent Saving Private Ryan oor die Tweede Wêreldoorlog gewen. Sy rolprente daarna sluit in A.I. Artificial Intelligence (2001), Minority Report (2002) en War of the Worlds (2005); die avontuurprente The Adventures of Tintin (2011) en Ready Player One (2018); die historiese dramas Amistad (1997), Munich (2005), War Horse (2011), Lincoln (2012), Bridge of Spies (2015) en The Post (2017); die musiekprent West Side Story (2021); en die halfoutobiografiese drama The Fabelmans (2022).
Agtergrond Spielberg is op 18 Desember 1946 in Cincinnati, Ohio, gebore. Sy moeder, Leah, was 'n restaurateur en konsertpianis en sy vader, Arnold, 'n elektriese ingenieur wat betrokke was by die ontwikkeling van rekenaars.
Vroeg in 1957 het die gesin na Phoenix, Arizona, verhuis. Toe hy 13 was, het Spielberg 'n barmitswaseremonie gehad. Sy ouers was by die sinagoge betrokke en het baie Joodse vriende gehad. Sy vader het baie oor die Holocaust gepraat en dit was altyd in sy gedagtes. Hy het Judaïsme ontgroei tydens sy adolessensie, nadat sy gesin na verskeie buurte getrek en hulle die enigste Jode daar was.
Spielberg se belangstelling in rolprente het vroeg begin. Hy het sy eerste tuisfliek op 12-jarige ouderdom gemaak. Met sy vader se rolprentkamera het hy op 13 'n oorlogsfliek van 40 minute gemaak, met sy klasmaats as akteurs. Dit het die eerste prys in 'n staatswye kompetisie gewen. Later in sy skoolloopbaan het hy sowat 15 tot 20 avontuurprente gemaak.
Hy het in 1963 sy eerste onafhanklike rolprent, 'n wetenskapsfiksieavontuur van 140 minute, Firelight, gemaak. Dit was later die inspirasie vir Close Encounters of the Third Kind. In die somer van 1964 het hy as 'n onbetaalde assistent by Universal Studios se redigeringsafdeling gewerk. Sy gesin het later na Saratoga, Kalifornië, verhuis, waar hy die plaaslike hoërskool bygewoon het, tot in 1965. 'n Jaar later is sy ouers geskei en hy het saam met sy vader na Los Angeles verhuis. Sy moeder en drie susters het in Saratoga agtergebly.
In 1968 het Universal Spielberg die kans gegee om 'n kortfliek te skryf en regisseer: Amblin''', van 26 minute. Die ateljee se visepresident, Sidney Sheinberg, was beïndruk daarmee en het Spielberg 'n regisseurskontrak van sewe jaar aangebied.
Loopbaan 1969-1974: Vroeë rolprente en TV-werk thumb|200px|Joan Crawford in 1969 in Night Gallery. Spielberg se professionele debuut was die regie in 1969 van dele van die loodsepisode van die rolprent Night Gallery, geskryf deur Rod Serling en met Joan Crawford. Sy aanvanklike bydraes het gemengde reaksie ontlok, veral twyfel van Crawford oor sy min ondervinding. Hy het die ateljeewerk vir 'n ruk gelos.
Crawford, wat later oor haar samewerking met Spielberg besin het, het sy potensiaal raakgesien en dit in 'n nota aan hom gesê, asook aan Rod Serling. Dit het Spielberg die erkenning help kry vir sy latere loopbaan. In die vroeë 1970's het Spielberg draaiboeke geskryf en TV-episodes geregisseer. Dit sluit in Marcus Welby, M.D., The Name of the Game en The Psychiatrist. Hoewel hy nie tevrede met dié soort werk was nie, het hy die tyd gebruik om met sy tegnieke te eksperimenteer en meer oor die maak van rolprente te leer. Hy het goeie resensies gekry en vervaardigers beïndruk.
Universal het Spielberg opdrag vir vier TV-rolprente gegee. Die eerste was Duel (1971), wat goeie resensies ontlok het en Universal het Spielberg gevra om nog tonele te skiet sodat dit internasionaal uitgereik kon word. Nog TV-prente het gevolg: Something Evil (1972) en Savage (1973).
In 1974 het Spielberg sy rolprentteaterdebuut gemaak met The Sugarland Express, met Goldie Hawn en William Atherton. Dit was die eerste van baie samewerkings met die komponis John Williams. Hoewel dit die prys vir beste draaiboek op die Cannes-rolprentfees 1974 gewen het, was dit nie 'n kommersiële sukses nie. Die resensies was wel goed, en Pauline Kael het geskryf Spielberg "kan een van daardie skaars regisseur wees, 'n gebore vermaakkunstenaar".Kael, Pauline (18 Maart 1974). "The Current Cinema". The New Yorker. 130. The Hollywood Reporter het geskryf daar is 'n "groot nuwe regisseur aan die horison".
1975-1980: Rolprentdeurbraak thumb|links|200px|Die ingang tot die Jaws-rit by Universal se Florida-ateljee. Dit is nou gesluit.
Die vervaardigers Richard D. Zanuck en David Brown het besluit om Spielberg die geleentheid te gee om Jaws (1975) te regisseer. Dit is geskoei op die roman deur Peter Benchley met dieselfde naam. Dit gaan oor 'n withaai wat mense op 'n vakansiedorp aanval en die polisiehoof Martin Brody (Roy Scheider) aanspoor om jag daarop te maak met die hulp van 'n mariene bioloog (Richard Dreyfuss) en 'n veteraanhaaijagter (Robert Shaw). Jaws was die eerste prent wat op die oop see verfilm is, en dus was die verfilming moeilik en die meganiese haai het dikwels nie gewerk nie. Die werk het 100 dae langer geduur as beplan en Universal het gedreig om die rolprent te kanselleer. Teen die verwagting in, was Jaws 'n sukses en het dit die grootste binnelandse lokettreffer geword. Spielberg was 'n huishoudelike naam. Die prent het Oscars gewen vir die beste redigeerwerk, beste oorspronklike dramamusiek en beste klank. Spielberg het gesê die feit dat die haai nie wou werk nie, het 'n beter rolprent tot gevolg gehad, want hy moes aan maniere dink om die haai te suggereer sonder om dit te wys. Nadat Alfred Hitchcock die onkonvensionele kamerategnieke in Jaws gesien het, het hy die "jong Spielberg" geprys omdat hy buite die visuele dinamika van die teater gedink het.
Ná die sukses van Jaws het Spielberg die aanbod om Jaws 2 te maak van die hand gewys. Hy en Richard Dreyfuss het weer saamgewerk aan 'n rolprent oor VVV's, Close Encounters of the Third Kind (1977). Dit was een van die min rolprente wat Spielberg geskryf én geregisseer het, en was baie gewild by die loket. Spielberg het sy eerste Oscarbenoeming vir beste regisseur gekry. Die prent het nog ses benoemings gekry en het die prys op die 50ste Oscar-toekenningsaand gewen vir beste kinematografie en beste klankeffekredigering. Die resensent Stanley Kauffmann het dit eerste geplaas op sy lys van beste Amerikaanse rolprente van 1968-'77.
Spielberg se eerste prent as uitvoerende vervaardiger was I Wanna Hold Your Hand (1978). Sy volgende regiewerk was aan die komedie 1941. Hy was skrikkerig om komedie aan te pak, want hy het geen ondervinding in die genre gehad nie. 1941 was kommersieel suksesvol, maar die meeste resensente en die ateljeebase het nie daarvan gehou nie. Een resensent het 1941 beskryf as "die opvallendse vermorsing sedert die laaste groot oliestorting", en dit lyk ook amper soos een. Stanley Kubrick het na bewering gesê die prent was "goed, maar nie snaaks nie".
1981-1990: Sterstatus Spielberg het in 1980 Used Cars vervaardig. Die resensies was goed, maar dit was nie 'n kommersiële sukses nie. Hy het in 1981 Raiders of the Lost Ark geregisseer, geskoei op 'n verhaal deur George Lucas en Philip Kaufman, en met Harrison Ford as Indiana Jones. Dit was 'n lokettreffer en het op die 54ste Oscar-toekenningsaand die prys gewen vir beste redigering, beste kunsredigering, beste klank, beste klankredigering en beste visuele effekte. Raiders was die eerste prent in die Indiana Jones-franchise.
thumb|200px|Spielberg en Chandran Rutnam in Sri Lanka tydens die verfilming van Indiana Jones and the Temple of Doom. In 1982 het Spielberg teruggekeer na wetenskapsfiksie met E.T. the Extra-Terrestrial. Die reaksie was ekstaties. Volgens die vervaardiger Kathleen Kennedy "kon jy nie die einde van die prent hoor nie, want mense was op hulle voete en het voete gestamp en gegil [...] Dit was een van die wonderlikste ervarings." E.T. het vier pryse gewen op die 55ste Oscar-toekenningsaand: vir die beste oorspronklike musiek (John Williams), beste klank, beste klankredigering en beste visuele effekte. Dit is benoem vir beste prent, maar Gandhi het gewen; die regisseur van dié prent, Richard Attenborough, het gesê: "Ek was nie net seker dat E.T. sou wen nie, maar ook dat dit moes wen. Dit was vindingryk, kragtig, wonderlik."
In 1982 was Spielberg die medeskrywer en vervaardiger van Poltergeist en die regisseur van die "Kick The Can"-segment in Twilight Zone: The Movie. Sy volgende regiewerk was aan Indiana Jones and the Temple of Doom (1984). Spielberg het later gesê hy was ongelukkig met Temple of Doom, wat dit het "sy persoonlike aanslag en liefde" ontbreek. Dit was egter 'n lokettreffer, en het die Oscar vir beste spesiale effekte gewen. Dit was op dié projek dat Spielberg sy toekomstige vrou Kate Capshaw ontmoet het. Sy het die rol van Willie Scott vertolk.
In 1984 het Spielberg, Kennedy en Frank Marshall die vervaardigingsmaatskappy Amblin Entertainment gestig. Tussen 1984 en 1990 was Spielberg óf die vervaardiger óf die uitvoerende vervaardiger van 19 rolprente, insluitende Gremlins (1984), Back to the Future (1985), Who Framed Roger Rabbit (1988) en Cape Fear (1991).
Baie van Spielberg se vervaardigingswerk was op kinders gerig, soos Tiny Toon Adventures, Animaniacs en Family Dog. In 1985 het NBC Spielberg 'n tweejaarkontrak aangebied vir 'n TV-reeks, Amazing Stories. Ná twee seisoene en 'n teleurstellende reaksie is die reeks nie hernu nie. In 1992 het Spielberg minder vervaaardigingswerk begin doen, omdat dit "die mees onvervullende aspek is van die werk wat ek die afgelope dekade gedoen het".
Vroeg in die 1980's het Spielberg en die uitvoerende beampte van Warner Communications, Steve Ross, bevriend geraak. Dit het eindelik daartoe gelei dat hy rolprente vir Warner Bros. begin maak het. Die eerste prent was The Color Purple (1985), 'n verwerking van Alice Walker se roman met dieselfde naam, wat die Pulitzerprys gewen het. Dit was Spielberg se eerste prent met 'n dramatiese onderwerp. Die fliek, met onder andere Whoopi Goldberg en Oprah Winfrey, was 'n lokettreffer en resensente het begin oplet na Spielberg se toetrede tot die dramagenre. Volgens die resensent Ebert was dit die beste rolprent van die jaar. Dit het 11 benoemings gekry vir die 58ste Oscar-toekenningsaand, en Spielberg het die prys vir beste regisseur van die Amerikaanse Regisseursgilde gewen. Die vervaardiging en musiek was deur Quincy Jones.
thumb|links|220px|Spielberg in Maart 1990.