Sergio Mattarella ([ˈsɛrdʒo mattaˈrɛlla]; gebore 23 Julie 1941) is 'n Christen-Demokratiese Italiaanse politikus, regsgeleerde (met fokus op die Italiaanse grondwet) en akademikus wat tussen 2011 en 2015 as regter aan Italië se grondwetlike hof, die Corte costituzionale, gedien het. In Januarie 2015 is hy as die 12de staatspresident van Italië vir 'n ampstermyn van sewe jaar verkies. Sy pligte as staatshoof is hoofsaaklik seremonieel van aard - behalwe tydens 'n regeringskrisis wanneer die president 'n sleutelrol speel en politici deur hom na die Colle ontbied word, soos die Quirinaalpaleis, sy ampsetel op die Quirinaalheuwel, in die omgangstaal genoem word.

Sergio Mattarella se vader, Bernardo Mattarella, was 'n invloedryke politikus van Italië se Christen-Demokratiese party Democrazia Cristiana wat sewe keer as minister gedien het. Sy ouer broer Piersanti was 'n waagmoedige goewerneur in Sisilië wat ferm teen Mafiastrukture opgetree het. Op Driekoningsdag 1980 is hy, nadat hy 'n mis bygewoon het, in sy motor deur Mafialede geskiet en kort daarna in die arms van Sergio dood. Sergio Mattarella se toetrede tot die aktiewe politiek word deur hom as 'n geleentheid beskou om voort te gaan met Piersanti se politieke missie. In teenstelling met sy voorganger Giorgio Napolitano, wat daarvan gehou het om 'n aktiewe rol in Italië se politieke lewe te speel ('n oortuiging wat hom die bynaam "Koning Giorgio" besorg het), beskou Mattarella homself as 'n soort onpartydige skeidsregter.Süddeutsche Zeitung, 11 Augustus 2019: Italiens Staatspräsident Sergio Mattarella: Schiedsrichter vom Quirinalspalast. Besoek op 28 September 2020

Sedert die afsterwe van Sergio Mattarella se eggenote Marisa in 2012 woon hul dogter Laura (* 1968) saam met haar vader belangrike openbare plegtighede by en tree ook as Italië se Eerste Dame op.

Verwysings

Eksterne skakels Presidenza della Repubblica: The President Sergio Mattarella

Kategorie:Geboortes in 1941 Kategorie:Lewende mense Kategorie:Presidente van Italië Kategorie:Italiaanse akademici Kategorie:Italiaanse regsgeleerdes Kategorie:Italiaanse ministers