John Robert Bolton (gebore 20 November 1948 in Baltimore, Maryland) is 'n Amerikaanse prokureur, politieke kommentator, konsultant (in diens van die Republikeinse Party), regeringsamptenaar en vroeëre diplomaat wat van 9 April 2018 tot 10 September 2019 die amp van 27ste Nasionale Veiligheidsadviseur van die Verenigde State beklee het.

Bolton is 'n gewese senior vennoot van die American Enterprise Institute (AEI) en kommentator vir die nuuskanaal Fox News Channel. Hy was adviseur oor buitelandse beleid vir Mitt Romney, die Republikeinse Party se kandidaat vir die presidensiële verkiesing van 2012. Bolton was betrokke by 'n verskeidenheid konserwatiewe organisasies, waaronder die Gatestone Institute waar hy tot Maart 2018 as voorsitter gefungeer het, en as 'n direkteur vir die Projek vir die Nuwe Amerikaanse Eeu (Project for the New American Century) wat vir die militêre intervensie in Irak gepleit het.

Bolton word deur politieke opponente as oorlogsvalk beskryf, onder meer weens sy steun vir regimeverandering in Iran, Sirië, Libië, Venezuela, Kuba, Jemen en Noord-Korea. Ondanks sy betrokkenheid by organisasies wat as «neokonserwatief» bestempel word, hou Bolton nie daarvan om as aanhanger van hierdie stroming binne die Amerikaanse politiek gekategoriseer te word nie.

Bolton het hom as 'n kenner van Britse politiek voorgedoen en het persoonlike kontak met 'n verskeidenheid Britse politici. Die Verenigde Koninkryk (VK) se onttrekking uit die Europese Unie geniet sy entoesiastiese steun. So het hy 'n omvattende bilaterale handelsooreenkoms in die vooruitsig gestel. Kritiese Britse kommentatore vrees dat Bolton se ware agenda een of ander soort regimeverandering in die VK was wat die land se internasionale status tot dié van 'n Amerikaanse vasalstaat sou laat daal.

John Bolton kom uit 'n beskeie agtergrond. Hy is gebore as seun van Virginia Clare, 'n huisvrou, en haar eggenoot Jack Bolton, 'n brandweerman in Baltimore. Hy het die grootste gedeelte van sy kinderjare in Yale Heights, 'n werkersklasbuurt in Baltimore se Suidwesdistrik, deurgebring. Hy was 'n briljante leerder wat 'n beurs verwerf het om aan die prestigieuse McDonough-skool in Owings Mills, Maryland te studeer.

Op 10 September 2019 het president Donald Trump aangekondig dat John Bolton van sy pos as nasionale veiligheidsadviseur onthef sal word. Blykbaar was daar meningsverskille oor baie van Bolton se voorstelle.The Washington Post, 10 September 2019: Bolton out as national security adviser after clashing with Trump. Besoek op 10 September 2019

Bolton publiseer sy outobiografie in Junie 2020, getiteld The Room Where It Happened. Baker, Peter (17 Junie 2020). "Bolton Says Trump Impeachment Inquiry Missed Other Troubling Actions". The New York Times. Besoek op 17 Junie 2020.

In Julie 2025 het John Bolton voorgestel dat Algerië ’n geskenk aan Donald Trump bied sodat hy die Amerikaanse erkenning van Marokkaanse soewereiniteit oor Wes-Sahara sou laat vaar.

Verwysings

Kategorie:Amerikaanse diplomate Kategorie:Amerikaanse ministers Kategorie:Adjunk-ministers Kategorie:Ambassadeurs Kategorie:Geboortes in 1948 Kategorie:Lewende mense