EBLM J0555-57 is ’n driedubbele ster sowat 600 ligjare van die Son af. EBLM J0555-57Ab, die kleinste ster in die stelsel, wentel elke 7,8 dae om die primêre ster en was met sy ontdekking die kleinste bekende ster met ’n massa wat groot genoeg is vir die fusie van waterstof in sy kern.

Stelsel EBLM J0555-57, ook bekend as CD-57 1311, is ’n driedubbele ster in die sterrebeeld Skilder. Dit bestaan uit ’n visuele dubbelster, met twee sterre soos die Son wat 2,5 boogsekondes van mekaar af is: EBLM J0555-57A, met ’n skynbare magnitude van 9,98 en spektraaltipe F8, en EBLM J0555-57B, met ’n skynbare magnitude van 10,76. Geen wentelbeweging is waargeneem nie, maar hulle het feitlik identiese radiale snelhede en is vermoedelik swaartekraggebonde.

Komponent A van die stelsel is self ’n verduisterende dubbelster (EBLM J0555-57Ab wentel om EBLM J0555-57Aa). Tydens oorgange verminder die helderheid met sowat 0,05%. Die vorm en duur van die oorgange gee ’n aanduiding van die radiusse van die twee sterre. Die wentelperiode is sowat 7 dae en 18 uur, die eksentrisiteit 0,09, die baanhelling 89,84° en die halwe lengteas 0,08 AE.

EBLM J0555-57Ab EBLM J0555-57Ab het ’n massa van omtrent 85 keer dié van Jupiter of 0,081 keer die Son s’n. Sy radius is min of meer so groot soos Saturnus s'n. Dit is volgens huidige modelle omtrent so klein as wat ’n waterstofverbrandende ster kan wees. EBLM J0555-57Ab is ontdek deur ’n groep wetenskaplikes van die Universiteit van Cambridge met behulp van data deur die SuperWASP-projek. WASP soek na eksoplanete deur middel van die oorgangsmetode.

Verwysings

Eksterne skakels "Smallest ever star discovered by astronomers" Universiteit van Cambridge 15px Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia

Kategorie:2MASS-voorwerpe Kategorie:Veelvoudige sterre Kategorie:Skilder (sterrebeeld) Kategorie:F-tipe hoofreekssterre