Hierdie bladsy handel oor die dier wat die Noordelike Halfrond bewandel. Vir die Suider-Afrikaanse dier, sien strandwolf.

Die wolf (IPA: ♂: 'vɔlf ♀: 'vɔlfən) (Canis lupus) (meervoud: wolwe; vroulike enkelvoud: wolvin; vroulike meervoud: wolvinne) is 'n soogdier wat soortgelyk is aan sekere hondesoorte omdat wolwe sowel as honde tot die canidae-familie behoort. Wolwe lewe meestal in groepe, waarin hulle weer familie-eenhede het. Dit is die grootste hondagtige roofdier van die familie Canidae wat in die natuur voorkom. Hoewel die wolf vroeër talryk was in Noord-Amerika en Eurasië, kom hy nou binne ’n kleiner gedeelte van sy voormalige grondgebied voor weens die wydverspreide habitatvernietiging, die mens se indringing van sy habitat, asook die gevolglike wolf-tot-mens skermutselings, wat op verdelging uitloop. Tog word die wolf, alles in ag genome, volgens die Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur beskou as ’n diersoort wie se uitsterwing ons die minste oor bekommerd hoef te wees. Wolwe word vandag in sommige gebiede beskerm, vir ontspanning gejag, of staar uitwissing in die gesig, as gevolg van ’n toegedigte bedreiging vir die mens, vee en troeteldiere.

Wolwe is sosiale roofdiere waarvan die troppe soos kerngesinne funksioneer: dit bestaan uit ’n wolfpaar, wat alleenreg oor voedsel en voortplanting handhaaf, hul biologiese afstammelinge en soms ook aangenome ondergeskiktes. Die leiers van hierdie groepe staan bekend as die alfamannetjie en alfawyfie. Hoefdiere word hoofsaaklik gejag deur die prooi oor kort afstande moeg te hardloop. Wolwe is in hul tuisgebied tipiese roofdiere wat heel bo-aan die voedselketting geleë is, met slegs mense en tiere wat ’n beduidende bedreiging vir hulle inhou.

DNS-volgordebepaling- en genetiese drywingtoetse bevestig dat die wolf ’n gemeenskaplike voorouer met die hond deel. ’n Etlike aantal ander wolfsubspesies is al aangeteken, hoewel die werklike getal subspesies steeds onbepaald is.

In streke waar beide die mens en wolf woonagtig is (oftewel simpatries leef), sal die wolf dikwels in die volksverhale en godeleer van die betrokke menslike kultuurgroep teenwoordig wees en as beide positief en negatief uitgebeeld word.

Ewolusie duimnael|links|’n Wolf. duimnael|links|Tydlyn van hondagtiges, insluitende Canis lupus, in rooi aangedui (Tedford & Xiaoming Wang). duimnael|200px|Skedel van Canis etruscus by die Montevarchi Fossielkundemuseum. Die waarskynlikste voorganger van die wolf is Canis lepophagus, ’n klein Noord-Amerikaanse hondagtige met ’n smal skedel uit die Mioseentydperk, wat ook die vader van die prêriewolf (coyote) kon gewees het. Party fossiele wat opgediep is van die C. lepophagus, wat wel groter is en ’n breër kopbeen het, dui daarop dat dit dalk die oerdier kon wees waaruit die wolf voortgespruit het. Die eerste wolwe se oorsprong kan teruggevoer word tussen die Blankaanse era en die begin van die Irvingtoniese era. Onder hulle was die Canis priscolatrans, ’n klein spesie wat nouliks met die rooiwolf ooreenstem, wat Eurasië inbeweeg het deur die Beringlandbrug oor te steek. Die nuwe Eurasiese C. priscolatrans -bevolking het tot C. etruscus en daarna tot C. mosbachensis ontwikkel.

Hierdie oerwolf trek baie na die moderne suidelike wolfbevolkings van die Arabiese Skiereiland en Suid-Asië, wat eertyds gedurende die vroeë Kwarternêre Ystydperk tot omstreeks 500 000 in Europa verspreid was. C. mosbachensis het tot Canis lupus ontwikkel en Noord-Amerika in die laat-Rancholabreaanse tydperk weer beset. Die reeds gevestigde groter hondagtige, Canis dirus, het 8 000 jaar gelede uitgesterf toe die groot prooidiere waarvan dit geleef het uitgewis is. Mededinging met die nuwe aankomelinge om die oorblywende kleiner en vlugvoetiger prooi kon aanleiding tot sy ondergang gegee het. Weens die uitsterwing van die reusewolf het die moderne wolf as die enigste groot en wydverspreide hondagtige spesie oorgebly.

Die Noord-Amerikaanse herbesetting het moontlik in etlike vlae plaasgevind. Op die randgebied van hul tuisgebied is die meeste uiteenlopende bevolkings aangetref. Hierdie bevolkings (C. l. arctos op die Hoogarktiese eilande, C. l. lycaon aan die oostelike woude, C. l. baileyi in die verre suide en C. l. rufus op die hoek van die vasteland wat reg oorkant die indringingspunt is) word beskou as die moontlike Eurasiese oorlewende wolwe van vroeë migrasies. C. l. baileyi, C. l. lycaon en C. l. rufus toon enkele gemeenskaplike oertrekke en taksonomiese verwantskappe onder mekaar. Laat-Pleistoseense fossieloorblyfsels van bonkige wolwe, soortgelyk aan C. l. arctos en C. l. albus, is aan die suidelike Kaliforniese kusgebied opgegrawe, wat aantoon dat die Noord-Amerikaanse wolfsubspesies eens wydverspreid was. Hulle is moontlik deur gletservorming tydens die Ystydperk suidwaarts gedryf, hoewel wolwe nie meer daar voorgekom het nie. Die fossiele van kleingeboude wolwe wat baie met die C. l. baileyi ooreenstem is in ’n gebied wat Kansas en suidelike Kalifornië insluit gevind. Dit dui op ’n Laat-Pleistoseense bevolkingsverandering: die groot arktiese wolwe het suide toe beweeg; die kleiner wolfsoorte wat by die hitte aangepas was, het weer gedy soos die klimaat meer gematig geword het.

Die Japannese wolwe, wat reeds uitgesterf het, is afkomstig van die groot Siberiese wolwe wat 20 000 jaar gelede tydens die Pleistoseentydperk die Koreaanse Skiereiland en Japan koloniseer het voordat die land van die Asiatiese vasteland afgeskei het. Gedurende die Holoseentydperk het die Straat van Tsjoegaroe verbreed en Honsjoe van Hokkaidō afgesny, wat klimaatsveranderinge tot gevolg gehad het. Dit het weer gelei tot die uitsterwing van die meeste groot hoefdiere wat die eilandgroep bewoon het. Straks het die Japannese wolwe tussen 7 000 – 13 000 jaar gelede eilandverdwerging ondergaan om by hierdie klimaats- en omgewingsdruk aan te pas. C.l. hattai (voorheen inheems aan Hokkaidō) was aansienlik groter as die suidelike C.l. hodophilax, omrede dit in hoogliggende gebiede gehou en sodoende groter prooi kon teiken. Nog ’n rede kan ook wees dat die wolwe voortdurende genetiese wisselwerking met afgedwaalde wolwe uit Siberië gehad het.

Subspesies duimnael|links|’n Eurasiese wolf (Canis lupus lupus); ’n voorbeeld van die "Noordelike" wolfklade. Vanaf 2005 word 39 subspesies erken, wat die rooiwolf en twee hondsubspesies, Canis lupus dingo en Canus lupus familiaris, insluit. Die wolfsubspesies word in twee groepe verdeel:

Die "Noordelike wolwe" is fris gebou, toegerus met groot breine en sterk skeurtande en bewandel Noord-Amerika, Europa asook die noordelike Asië.

duimnael|’n Arabiese wolf (Canis lupus arabs), ’n voorbeeld van die Suidelike wolfklade. Die "Suidelike wolwe" kom inheems aan die Arabiese Skiereiland en Suid-Asië voor. Hul word uitgeken aan hul kort pelshare, klein breine en swak skeurtande. Dié groep kan dalk oorblywende spesies van die destydse oerwolwe wees, daar hulle ’n noue ooreenkoms met die gefossileerde Europese wolwe toon. Die veranderingkoers wat in hul DNS-volgordebepaling nagespoor is plaas hul oorsprong sowat 800 000 jaar terug, in teenstelling met die Amerikaanse en Europese afstammelinge wat maar 150 000 jaar terug dateer.Sharma, D. K., Maldonaldo, J. E., Jhala, Y. V., Fleischer, R. C. (2003) Ancient wolf lineages in India. Proceedings of the Royal Society, London B (Supplement) Biology Letters 271: S1–S4 Die Suidelike wolwe maak grotendeels kort, skerp blafgeluide en huil selde. Daar bestaan die moontlikheid dat honde en dingo’s uit hierdie groep ontstaan het.Corbett, L. K. The dingo in Australia and Asia (1995), Comstock/Cornell, p. 10,

In vergelyking met die Noordelike en Suidelike wolwe is diegene in Sentraal- en Oos-Asië maar van middelmatige grootte. Die verskillende breinmassas van die onderskeie wolfbevolkings is goed omskryf: die wolwe van die noordelike Europa het die grootste breine, gevolg deur die Noord-Amerikaanse wolwe, wat effens kleiner is, en laastens die Suidelike wolwe wat se breine die kleinste is. Oor die algemeen is die Suidelike wolwe se breine 5 – 10% kleiner as die Noordelike wolwe s’n. Ofskoon die gedrag en bou van die twee groepe verskil, kan teling tussen die Noordelike en Suidelike wolwe tog plaasvind: die Londense Dieretuin het byvoorbeeld eenkeer daarin geslaag om ’n Europese wolf met ’n Indiese wolvin te kruis. Die wolfwelpie het bykans op ’n druppel water na sy vaar gelyk.The Living Age, Littell, Son and Co., 1851

Makmaking duimnael|'n Wolf. duimnael|links|Kopbene van ’n Sint Bernardhond en skoothondjie. Ondanks die verskil in voorkoms, word hondeskedels geredelik van wolfskedels onderskei op grond van hul verkorte muile, breër verhemeltes, beknopte gebit en die breë, swaar voorhoofsbene by die boonste gedeelte van hul kopbene. Navorsing rakende die genetiese afstand van mitochondriese DNS tussen honde en Eurasiese wolwe het bewys dat die wolf die enigste voorsaat van die hond is. Die hond het vier mtDNS-stambome, wat aan die hand doen dat vier onafhanklike makmaak-gebeurtenisse plaasgevind het. ’n Latere studie het mtDNS-bewyse gevind wat dui op ’n gemeenskaplike oorsprong van alle honde wat uit ’n enkele Oos-Asiatiese genepoel afkomstig is. ’n Ander studie bevind weer dat die Midde-Ooste die bron van die meeste genetiese diversiteit van die hond is en daarom ook die heimat van makmaak-gebeurtenisse behoort te wees. Navorsing aan die Kunming Instituut van Dierkunde voer aan dat die hond die afstammeling is van die wolwe wat minder as 16 300 jaar gelede aan die suide van die Yangtzerivier in China makgemaak is. Vergelykings wat tussen die liggaamsbou van die hond en die wolf gemaak is vooronderstel dat die wolfvoorsate van die Midde-Oosterse of Suid-Asiatiese soorte moes gewees het.

duimnael|200px|’n Vergelyking tussen wolf- en hondepootafdrukke. Die makmaakproses bly ’n algemene twispunt. Daar word deurgaans geglo dat die hond deur kunsmatige seleksie geteel is. Tog het die algemene onvermoë om volwasse wolwe te dresseer sekere wetenskaplikes laat dink dat die makmaakproses eerder deur natuurlike teeltkeuse geskied het. Daar word aangevoer dat in die tyd toe die Mesolitiese mensegemeenskappe permanente nedersettings begin bou het, hulle ’n nuwe nis (naamlik die afvalhoop) vir wolwe geskep het. Hierdie wolwe het in ’n kommensalistiese simbiose met mense geleef deur geslagte lank hul afval te eet. Natuurlike seleksie tussen wolwe wat ’n mindere vlugafstand en skuheid vir die mens se teenwoordigheid openbaar het, het veroorsaak dat die wolf met verloop van tyd liggaamsveranderinge ondergaan het. So het ’n geleidelike afskaling van oortollige eienskappe, wat voorheen noodsaaklik was om grootwild mee te jag, plaasgevind.Eckersley, Dominic Thyroxine’s Role in the Pre-Domestication of the Dog from Wild Dogs and Wolves; a Unique Opportunity to Reexamine Man’s and Dog’s Migration to the Americas, New York City, 2003.

Alhoewel honde die naaste aan wolwe verwant is, is daar heelwat liggaams- en gedragsverskille. Die vergelykings wat tussen die wolf en die hond se gedrag en anatomie gemaak word, toon dat die laasgenoemde se fisiologie en gedrag met dié van jong wolwe s’n strook. Dit is ’n toonbeeld van neotenie en pedomorfisme.

Die middeloorholtebeen (tympani bullae) van die wolf is groot, bolvormig en bykans sferies, terwyl die hond s’n kleiner, verdig en ietwat verfrommeld is. Wat grootte betref, is wolwe geneig om 20% groter skedels en 10% groter breine as hul honde-eweknieë te ontwikkel. Hierdie vermindering betrek die dele van die hond se brein wat ’n rol speel by gewaarwording. Die gebit van die wolwe is ook in verhouding groter as dié van honde; die voorkiestande en malers van wolwe is baie minder saamgedruk en het ingewikkelder knobbelpatrone.