Skoliose (van die Griekse σκολίωσις skoliosis, "kromtrekking") is ’n mediese toestand waar ’n mens se ruggraat ’n sywaartse kurwe het. Die kurwe is gewoonlik S- of C-vormig. In sommige gevalle is die kurwe stabiel, maar in ander kan dit mettertyd vererger. Matige skoliose veroorsaak gewoonlik nie probleme nie, terwyl dit in ernstiger gevalle tot asemhalingsprobleme kan lei. Gewoonlik is geen pyn aanwesig nie.
In die meeste gevalle is die oorsaak onbekend, maar dit behels vermoedelik ’n kombinasie van genetiese en omgewingsfaktore. Dit kan ook voorkom weens ander toestande soos spierspasmas, serebrale verlamming en sekere gewasse. Diagnose word met X-strale bevestig. Skoliose word gewoonlik geklassifiseer as óf struktureel wanneer die kurwe onbuigsaam is óf funksioneel wanneer die onderliggende ruggraat normaal is.
Behandeling hang af van die graad van die kurwe, die ligging en die oorsaak. Klein kurwes kan net gemonitor word. Behandeling kan insluit ’n rugstut of chirurgie. Die rugstut moet daagliks gebruik word totdat die persoon ophou groei.
Skoliose kom in sowat 3% van mense voor, gewoonlik op die ouderdomme van tussen 10 en 20 en meer dikwels by meisies as by seuns.
Verwysings
Eksterne skakels
15px Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia
Kategorie:Siektes Kategorie:Werwelkolom