duimnael|358x358px|Wildebees migrasie Onder die begrip migrasie word algemeen verstaan die beweging van organismes van een plek na ʼn ander. Om dit beter te omskryf, moet die beweging egter in terme van al die bewegings van ʼn organisme gedurende sy lewensduur gesien word.

Die meeste bewegings van 'n dier vind binne kontinente plaas. Die tuisveld is die gebied waarin 'n dier beweeg om voedsel, 'n maat en/of skuiling te soek. Jong diere beweeg uit so ʼn tuisveld op ontdekkingstogte om met 'n groter gebied bekend te word. Mettertyd veroorsaak die verkenning dat die dier hom met behulp van bakens en ander hulpmiddels ten opsigte van die omgewing kan oriënteer.

'n Gebied wat 'n dier so leer ken, word sy bekende gebied genoem. In die dierkunde kan die woord migrasie dus gebruik word om die beweging van 'n dier van sy tuisveld na ʼn ander tuisveld, of op soek na nog ʼn tuisveld, aan te dui. Party diere beweeg jaarliks van so 'n tuisveld na 'n ander en keer dieselfde jaar na die oorspronklike tuisveld terug.

Swaels is 'n voorbeeld hiervan en dit word terugkerende migrasie genoem. 'n Tweede soort migrasie wat onderskei kan word, is hermigrasie, dit wil sê daar word na die oorspronklike tuisveld teruggekeer maar deur 'n ander generasie.

Die monargvlinder (Danaus plexippus), wat in Noord-Amerika voorkom, vlieg elke winter van die Groot Mere suidwaarts na Meksiko. Hulle oorwinter in Meksiko of in die suidelike state van die VSA en vlieg in die lente weer noordwaarts. Die meeste vlinders oorleef die vlug van 3 000 km suidwaarts, maar hulle lewensduur is nie lank genoeg om na die noorde terug te keer nie.

Slegs die nageslag van hierdie vlinders bereik die Groot Mere. Die derde soort migrasie, wat landimegrasie genoem kan word, kom ook by die mens voor en behels die permanente migrasie van een land of gebied na 'n ander.

Ontdekking en oriëntasie Jong diere is gewoonlik rusteloos in die tydperk vandat hulle van hulle ouers onafhanklik geword het totdat hulle self voortplant. Gedurende hierdie tyd toon jong diere se bewegingspatrone nie dieselfde reëlmatigheid as die van die spesie se ouer lede nie.

Hulle beweeg meer rond en dit is gewoonlik die jonger lede van 'n spesie wat ver van die gewone roetes aangetref word. Die konvensionele opvatting is dat die diere in so 'n geval verdwaal het, maar dit is moontlik dat hulle daar is op 'n ontdekkingstog. Hulle kan as volwasse diere na 'n plek terugkeer wat hulle uit vorige ervaring geskik gevind het, maar wat ver van die spesie se gewone gebied is. Sodoende kan 'n gebied deur nuwe lede van 'n spesie gekoloniseer word en die spesie se verspreiding aanhelp.

Weens besoedeling het verskeie riviere vir salms ongeskik geword om in te broei. Streng teenbesoedelingsmaatreëls het veroorsaak dat die riviere weer geskik geword het vir kolonisasie deur salms. As salms uitsluitlik na hulle riviere van herkoms teruggekeer het, sou die riviere nie weer gekoloniseer word nie. Salms word egter wel in gesuiwerde riviere aangetref, wat daarop dui dat sommige visse hierdie riviere ontdek en toe net so geskik gevind het as hulle rivier van herkoms.

Wanneer jong diere met ontdekkingstogte begin, toon hulle gewoonlik 'n voorkeur om hulle in ʼn spesifieke kompasrigting te rig. Eksperimente met jong voëls wat nog nooit gemigreer het nie, toon dat die diere in 'n spesifieke rigting beweeg wanneer die seisoen vir migrasie aangebreek het. Aangesien die voëls nog nooit geleer het in watter rigting hulle moet beweeg nie, is dit waarskynlik dat die inligting geneties geprogrammeer is. Hierdie voorkeur vir beweging in 'n spesifieke rigting moet vir jong voëls as stimulus dien vir hul ontdekkingstogte.

Jong visse toon 'n neiging om stroom af te beweeg om voldoende voedselvoorrade te vind. Wanneer paartyd aanbreek, verkies die ouer visse om stroom op te gaan omdat hulle in vlakker water minder roofdiere teëkom en ongesteurd kan paar en eiers lê. Diere se neiging om in 'n sekere geografiese rigting te beweeg, word oriëntasie genoem. Hierdie verskynsel kan eksperimenteel gedemonstreer word deur jong voëls van hulle tuistes na 'n vreemde plek te neem.

Daar is gevind dat die voëls nie in die rigting migreer van die inheemse voëls van dieselfde spesie nie, maar in die rigting wat hulle sou verkies het as hulle by hul oorspronklike tuiste was. 'n Ander metode is om te kyk in watter deel van 'n hok diere gedurende die migrasietyd saamdrom. Daar is gevind dat sommige voëls in bepaalde rigtings saamdrom, wat as aanduiding beskou word dat die diere hulle in 'n spesifieke kompasrigting oriënteer.

Navigasie Daar kan aanvaar word dat diere die landmerke van 'n groot gebied kan leer ken, maar voordat hulle dit kan doen, moet hulle oor groot dele van onbekende gebiede beweeg. Blote oriëntasie sal die diere nie met betrekking tot die gebied rig nie; hulle sal met doelbewuste navigasie hulle weg uit die gebied moet vind.

Diere kan van twee vorme van navigasie gebruik maak. Die eerste vorm is roetegebaseerde navigasie, wat gebruik word wanneer 'n dier buile sy bekende gebied verken. Inligting oor die roete word versamel, sodat die dier met dieselfde roete uit die gebied kan beweeg. Dit kan gedoen word deur die presiese roete te memoriseer en daarlangs terug te keer. 'n Alternatief is om groot landbakens se posisies te memoriseer en relatief daarvolgens te beweeg.

Die tweede metode is plekgebaseerde navigasie, waarvolgens die dier min rekening hou met sy onmiddellike omgewing, maar eerder sy posisie skat en hiervolgens na sy tuisveld beweeg. Soogdiere maak, feitlik net soos die mens, tydens migrasie gebruik van landbakens. Party diere, veral honde, gebruik hulle reuksintuig en let op sogenaamde reukbakens. Walvisse en vlermuise maak gebruik van eggolokasie deur klankgolwe uit te stuur en die weerkaatsing daarvan te analiseer.

Hierdie metode is op 'n kort afstand baie doeltreffend. Omdat voëls oor baie groot afstande kan beweeg, is daar baie navorsing oor hulle navigasiemetodes gedoen. Dit blyk dat sig hul belangrikste hulpmiddel is. Voëls kan hulle oriënteer met betrekking tot kompasrigtings deur bedags na die son en snags na die sterre te kyk. Daar bestaan twee teorieë oor die voël se metode van navigasie met behulp van die son. 'n Britse ornitoloog, G.V.T. Matthews, het ʼn meer aanvaarbare teorie geskep om die metode van navigasie te verklaar.

Sy teorie berus op die aanname dat voëls bekend is met die son se kenmerkende beweging in hul tuisveld. Omdat die voëls aspekte van die son se beweging op die plek waar hulle hulle bevind, vergelyk met die van hul tuisveld, kan hulle hul relatiewe posisie met betrekking tot die tuisveld bepaal. Aangesien die noord-suid- en omgekeerde migrasies tussen Europa en Afrika 'n lang vlug oor die Sahara insluit en baie min spesies in die woestyn sal oornag, moet die voëls ook snags vlieg.

Eksperimente in planetaria het aangedui dat voëls hulle in die Noordelike Halfrond volgens die posisies van die sterrekonstellasies om die poolster oriënteer. Navorsing het gelei tot die opsporing van magnetietkristalle (Fe3O4) in die koppe van duiwe. Hierdie kristalle is ook al in die koppe van dolfyne en by bye gevind. Die seevaarders van ouds het magnetiet as magneetsteen geken en het dit as 'n primitiewe kompas gebruik. Eksperimente met die bakterie Aquaspirillum magnetotacticum, wat hierdie kristalle in 'n lyn ooreenstemmend met die lang as van die sel het, het getoon dat die bakterieë hulle vanweë die polarisasie van magnetiet onder die direkte invloed van die aarde se magnetiese veld oriënteer (sien diagram).

Bakterieë van die Noordelike Halfrond sal hulle altyd in 'n noordelike rigting oriënteer, terwyl die van die Suidelike Halfrond hulle suidwaarts oriënteer. Die teorie dat magnetiet diere help om hulself volgens die aarde se magnetiese veld te oriënteer, word deur hierdie bevindinge gesteun. Navigasie met behulp van die sterre en die son word aangevul deur die voël se kennis van landbakens. Daar is ook aanduidings dat trekvoëls 'n genetiese geheue het vir die regte trekroetes. Jong voëls kan, sonder dat hulle enige ondervinding het, na die regte gebied migreer.

Die geheue word voorts aangehelp deurdat sommige spesies ook ʼn akkurate vooropgestelde verwagting het van hoe die omgewing moet lyk waarna daar getrek word. Namate die diere oue word, sal hul vorige ervarings bepaal na watter spesifieke omgewing hulle trek. Daar is 'n aantal gevalle bekend van swaels wat jaar vir jaar na dieselfde nes sal terugkeer nadat hulle oor 'n afstand van duisende kilometers getrek het om daar te kom. Reptiele en amfibieë maak gedurende migrasies van visuele en olfaktoriese bakens (reukbakens) gebruik.

Reptiele kan kenmerkende omgewingsbakens uitken en hulle daarvolgens rig. Hulle reuksintuie speel 'n groot rol in die bepaling van rigting en dit is moontlik dat hulle reuke as bakens gebruik soos ander diere sigbare landmerke gebruik. dit is waarskynlik dat visse soos die salm gedurende hulle migrasie van die posisie van die son gebruik maak. Die presiese meganisme hiervan is onbekend, maar die buiging van ligstrale deur water moet die gebruik van die son as navigasiemiddel bemoeilik.

Dit is waarskynlik dat die verskillende dele van die oseaan, estuaria (strandmere), in hamme, riviere en hulle sytakke hul eie spesifieke reuktekens het. Visse se reuksintuie is hul belangrikste navigasiehulpmiddel omdat hulle hul bestemming se reuksein tussen ander reuke kan uitken en daaragter aanswem. Oor langer afstande kan spesifieke reukbakens gebruik word net soos landdiere landbakens gebruik. Bykomende in ligting oor 'n vis se posisie in die water word verskaf deur die vis se sylyne, wat sensitief is vir waterdruk en sodoende help met dieptebepaling, rigting en die sterkte van die waterstrome.

Reseptors in die vis se vel verskaf inligting aangaande die temperatuur van die water. Deur al die inligting te kombineer, kan 'n vis bepaal waar hy hom bevind. Motte wat snags migreer, gebruik die sterre as navigasiehulpmiddel, terwyl vlinders en bye die son as navigasiemiddel gebruik. Anders as voëls maak die meeste vlinders nie voorsiening vir die beweging van die son gedurende die dag nie en vlieg hulle dus in 'n boog.

Net soos die meeste ander migrante, laat vlinders nie toe dat die winde hulle van hul uiteindelike bestemming wegdwing nie; hulle sal eerder die wind as hulpmiddel gebruik wanneer dit hulle pas. ʼn Vlinder sal laag oor die grond vlieg wanneer 'n wind van voor waai omdat die wind naby die grond nie so sterk is nie. Wanneer hulle saam met 'n wind van agter vlieg, sal hulle relatief hoog vlieg sodat die wind hulle vinniger kan voortstu. Klein insekte soos plantluise en blaarspringers, wat swak vlieërs is, maak heeltemal op die wind staat wanneer hulle migreer.

Hulle spring in die lug op sodat 'n wind hulle kan wegvoer na 'n bestemming wat moontlik aan hulle behoeftes sal voldoen. Gevolglik hoef hierdie diere nie van enige navigasiehulpmiddels gebruik te maak nie omdat hulle heeltemal van die wind afhanklik is vir hul finale bestemming. Omdat daar groot getalle van hierdie insekte in die lug kan wees, word hulle lugplankton genoem. Windswaels se dieet bestaan in groot mate uit hierdie diere. Die beskikbaarheid van lugplankton sal gevolglik ʼn invloed op die migrasie van windswaels hê.

Fisiologlese stimulus Migrerende diere ondervind soms probleme ten opsigte van die tydsberekening van hulle aktiwiteite. Indien 'n voël te vroeg na ʼn spesifieke terrein migreer, kan hy daar gedood of verswak word deur 'n onverwagte koue front, of sy voedselbron kan nie beskikbaar wees nie. Insekte-etende voëls is afhanklik van die beskikbaarheid van insekte wanneer hulle uitgeput en uitgehonger by hul bestemming aankom. Indien dit te vroeg in die seisoen en dus te koud is, sal die insekte nog nie beskikbaar wees nie en die voortbestaan van die voëls sal in gevaar gestel word.