duimnael|400px|Trekroetes van die grootste trekgeselskappe tydens die eerste golf van die Groot Trek (1835–1840), met die belangrikste veldslae en gebeurtenisse aangedui.
Die Groot Trek (Nederlands: de Grote Trek) verwys na die massa-migrasie, vanaf die jaar 1835, van Kaapse Nederlandssprekende burghers na die Suid-Afrikaanse binneland om onder andere weg van Britse beheer af te kom. Die immigrante was afstammelinge van setlaars vanuit die westelike vasteland van Europa, veral uit Nederland, Noordwes-Duitsland en Hugenote uit Frankryk. Die Groot Trek het gelei tot die stigting van verskillende Boererepublieke vernaamlik die Natalia Republiek, die Oranje-Vrystaat en die Transvaal. Die Trek het ook gelei tot die verplasing van die Matabele na die noorde van die Limpoporivier en tot die omverwerping van die Zoeloe-koning Dingaan.
Inleiding duimnael|regs|Pierneef se skildery: Die Groot Trek Weens die onrus aan die Kaapse Oosgrens en ’n verskeidenheid van griewe teen die Britse owerheid het ’n paar duisend Afrikaanssprekende boere tussen 1834 en 1837 hul plase verlaat en na Natal, Transvaal en Vrystaat getrek. Hulle wou ’n onafhanklike staat vestig waar hul hulself volgens eie oortuiging kon regeer.
Die swaartepunt van die Groot Trek was in Natal, totdat die gebied in 1842 deur Brittanje geannekseer is. Daarna het ’n sogenaamde Tweede Trek na Transvaal en Transoranje (Vrystaat) ontstaan. Voortdurende botsings tussen die heterogene bevolkingsgroepe van Transoranje (Vrystaat) het meegebring dat Brittanje die gebied in 1848 geannekseer het. Transvaal het egter onafhanklik gebly en kon deur die Sandrivierkonvensie (1852) amptelike Britse erkenning van sy onafhanklikheid ontvang. Die konvensie was die begin van ’n ommeswaai in die Britse beleid ten opsigte van die Trekkers en het uiteindelik ook gelei tot die Bloemfontein-konvensie (1854), waarmee Brittanje onafhanklikheid aan Transoranje (Vrystaat) verleen het.
Die Groot Trek, wat in 1834 begin het en eers 20 jaar later met die ondertekening van die Bloemfontein-konvensie afgerond is, was ’n ordelike emigrasie van sowat 10 000 Afrikaner-grensboere uit ’n toestand wat vir hulle ondraaglik geword het.
Hulle was ontevrede oor die Britse beleid aan die Oosgrens van die Kaapkolonie en oor die behandeling wat hulle van die Britse owerheid ontvang het. Met die doel om ’n onafhanklike staat te stig, weg van Britse invloed, het hulle hul plase in die Oosgrensdistrikte van die Kaapkolonie verlaat en na die binneland getrek.
In die opsig was die Groot Trek dus ’n vreedsame rebellie en die begin van die Afrikaner se nasiewording. Hoewel die Groot Trek in sommige van sy doelwitte gefaal het, was dit ’n gebeurtenis van deurslaggewende belang in die geskiedenis van Suid-Afrika. Met die konvensies van Sandrivier (1852) en Bloemfontein (1854) het twee onafhanklike Boererepublieke in die binneland tot stand gekom, terwyl Brittanje in daardie stadium, juis as gevolg van die Groot Trek, van Natal besit geneem het. Binne die relatief kort tydsbestek van 20 jaar het die Groot Trek dus die noordgrens van blank-bewoonde Suid-Afrika van die Oranjerivier na die Limpoporivier verskuif en gestalte gegee aan Suid-Afrika soos hy vandag daar uitsien.
Oorsake Die Voortrekkers se griewe teen die Britse owerheid, op geestelike sover as materiële gebied, het hulle onderskei van die trekboerbeweging. Die trekboere was sedert die tweede helfte van die 18e eeu ’n algemene verskynsel in die Kaapkolonie. Hulle was halfnomadiese veeboere wat voortdurend na nuwe en beter weivelde verskuif het. Ten tyde van die Groot Trek het baie van die trekboere hulle reeds permanent in Transoranje (Vrystaat) gevestig. Hulle het egter om suiwer materiële redes uit die Kaapkolonie getrek, was lojaal teenoor die Britse owerheid en het geen permanente breuk met die Kolonie in gedagte gehad nie. Die Voortrekkers, daarenteen, het juis uit die Kolonie geëmigreer met die doel om nooit terug te keer nie en om alle bande met die Britse owerheid te verbreek.
Een van die hoofoorsake van die Groot Trek was die voortdurende onrus aan die Oosgrens van die Kaapkolonie. Die Kaapse grensoorloë het met grootskaalse veerowery, verwoesting en aansienlike lewensverlies gepaard gegaan. Die toestand is vererger deurdat die Britse owerheid vanweë die voortdurende wisseling van goewerneurs en ministeries geen konsekwente beleid ten opsigte van die grensprobleme gevolg het nie.
Oor die algemeen is daar ook nie simpatiek teenoor die boere opgetree nie. Daar is voortdurend toegegee aan druk wat deur invloedryke filantrope op die imperiale regering uitgeoefen is. Gegronde griewe van die boere is dikwels veroordeel as onnodige aggressie teenoor die Xhosas. Om koste te bespaar, het die Britse owerheid nooit ’n toereikende aantal troepe aan die Oosgrens gestasioneer nie. Die boere was gevolglik in toenemende mate op die kommandostelsel aangewese, nie net vir hul eie beskerming nie, maar ook vir die terughaal van gesteelde vee. Vir ammunisie en voorrade was die kommando’s egter afhanklik van die owerheid se steun, iets wat steeds ontoereikender geword het namate die druk van die filantrope toegeneem het. duimnael|regs|160px|Piet Retief se manifes wat in die Grahamstown Journal van 2 Februarie 1837 verskyn het, gee ’n uiteensetting van die beweegredes vir die Trek. Die filantrope het die kommandostelsel as ’n euwel beskou en die boere daarvan beskuldig dat hulle dit misbruik om die Xhosas van vee te beroof. In 1833 is die kommandostelsel dan ook afgeskaf. By die boere het die gedagte posgevat dat die Britse owerheid hulle nie wou en ook nie kon beskerm nie. Die afskaffing van die kommandostelsel het die boere tydens die verwoestende Sesde Grensoorlog (1834/35) onbeskermd gelaat. Die verliese wat hulle in die oorlog gely het, het op R600 000 te staan gekom. Die nuwe grensreëlings wat na beëindiging van die oorlog deur die Kaapse goewerneur, sir Benjamin D'Urban, ingestel is, is kort daarna deur die Imperiale regering verwerp.
Boonop is die boere deur die regering daarvan beskuldig dat hulle self vir die oorlog verantwoordelik was en is die beloofde, hoewel geringe, skadevergoeding nooit uitbetaal nie. Die grensboere het alle vertroue in die owerheid verloor en geglo dat die Britse regering, wanneer dit op stuk van sake sou kom, niks sou doen om hulle van algehele ondergang te red nie. Die onsekerheid van die lewe aan die Oosgrens, soos veral weerspieël is in die Sesde Grensoorlog en in die Britse houding daarna, was ’n onmiddellike oorsaak van die Groot Trek. Daar was egter ook ander griewe, op materiële sowel as geestelike gebied, wat die emigrasie-idee onder die grensboere laat posvat het.
Die belangrikste hiervan was ’n gebrek aan arbeid, grond en kapitaal, die ongunstige voorwaardes waarop die slawe vrygestel is (1834), die gelykstelling van die Hottentotte (1828), die feit dat die grensboere geen seggenskap in bestuursake gehad het nie en die bereid van verengelsing sedert 1822. Sedert 1813, toe die pagstelsel deur die erfpagstelsel vervang is, was grond moeiliker bekombaar en het plase ook kleiner geword. Ingevolge die nuwe stelsel het boere besitreg op hul plase verkry in plaas daarvan dat dit net teen ’n vaste bedrag jaarliks aan hulle verhuur is. Weens swak administrasie het boere in baie gevalle na ’n lang tyd nog nie kaart en transport op hul grond ontvang nie. Dit het onsekerheid oor hul eienaarskap laat ontstaan en hulle daarvan weerhou om verbeterings op die plase aan te bring. Die grondskaarste is vererger deur die dooie punt wat die ooswaartse migrasie bereik het. Die konsentrasie van blankes en swart mense aan weerskante van die Oosgrens was juis die grondliggende oorsaak van die onrus wat geheers het. Die boere het gemeen die Kaapkolonie het te klein geword vir hul uitgebreide veeboerderye.
Nou verwant aan die grondskaarste was die skaarste aan kapitaal. Daar was nooit baie geld in die Kaapkolonie in om loop nie omdat die ekonomie basies nog op ruilhandel ingestel was. Die situasie is vererger deurdat die uitgifte van groot somme papiergeld die waarde van geld verminder het. In 1825, toe die Engelse muntstelsel in die Kaapkolonie ingevoer is, moes ’n riksdaalder wat voorheen sowat 40 sent werd was, ingeruil word vir slegs 15 sent. Hoewel banke, geldskieters en dorpbewoners die meeste daardeur getref is, het talle grensboere tog ook daaronder gely. Ordonnansie 50 van 1828 het alle vorige wetgewing insake die Hottentotte herroep en aan hulle gelykstelling met die blankes verleen.
Die passtelsel waardeur die bewegings van die bruin mense beheer is asook die inboekstelsel waarvolgens Hottentotkinders vir ’n bepaalde aantal jare by ’n boer moes werk, is daardeur opgehef. Die ordonnansie het die boere meteens van alle seggenskap oor hul arbeiders ontneem. Bruin mense was nou nie meer verplig om te werk nie en duisende het rondgeloop en van diefstal geleef. Van die sowat 32 000 bruin mense in 1836 aan die Kaap het tussen 8 000 en 10 000 sonder vaste werk rondgeswerf. Die ordonnansie het die boere op twee maniere nadelig getref: aan die eenkant het hulle baie van hul arbeiders verloor omdat die Hottentotte nie meer gedwing kon word om te werk nie, en aan die ander kant het hulle slagoffers geword van die astrantheid van rondlopende bruin mense wat van diefstal geleef het eerder as om te werk.
Dit was nie altyd moontlik of lonend vir ’n boer om 2 of 3 dae te perd na die naaste magistraat te ry om ’n klag in te dien teen ’n Hottentot wat oortree het nie. Die arbeid- en kapitaalskaarste is verder vererger deur die vrystelling van die slawe. Die waarde van die Kaapse slawe is op R6 miljoen vasgestel, maar slegs R2,5 miljoen sou uitbetaal word. Die betaling het ook nie in kontant geskied nie, maar in Britse aandelesertifikate wat in Londen gehaal moes word. Omdat dit vir die boere onmoontlik was om die reis na Londen af te lê, het hulle hul eise teen ’n breukdeel van die Groot Trek waarde aan spekulante verkoop. Daardeur het hulle nie net geweldige verliese gely nie, maar is hulle ook van nog ’n bron van arbeid ontneem.
Die meeste boere was gegrief deur die morele en sosiale implikasies van Ordonnansie 50 van 1828. Hulle het die gelykstelling tussen blank en nie-blank as "strydig met die Woord van God" beskou. Hulle het ’n onderskeid getref tussen hulself en die bruin mense, nie net op godsdienstige gebied nie (die kerstening van bruin mense was toe nog in die beginstadium), maar ook wat die fisieke en maatskaplike ontwikkeling betref het. Hulle het gemeen dat die gelykstelling ondraaglik was vir enige fatsoenlike Christen.
Die rondlopery en astrantheid van die Hottentotte het hulle net nog heftiger laat reageer. Hoewel die nasionale bewussyn van die Afrikaner aan die vooraand van die Groot Trek nog nie ten volle ontluik het nie, het hulle tog sedert die einde van die 1880's ’n gevoel van nasionale samehorigheid geken. Deur die stelsel van landdros en heemrade het hulle ’n mate van seggenskap in plaaslike bestuursake verkry. Die stelsel is met die Britse oorname beëindig. Dit was die Britse beleid om waar moontlik Britse offisiere as magistrate aan te stel. Weereens onder druk van die filantrope is die regsgesag van die veldkornette ook ingekort. Britse amptenare is aangestel om die regte van die nieblankes teenoor die grensboere te beskerm. Die boere was gegrief omdat hulle nie geken is in sake wat hulle intiem geraak het nie, veral die nie-blanke beleid en die wyse waarop die vrystelling van die slawe geskied het.