Die term kriminalistiek (polisiewetenskap) word in Suid-Afrika gebruik am die toepassing van wetenskaplike kennis en tegnieke in misdaadondersoek te omskryf. In die ondersoek na misdaad word gebruik gemaak van uiteenlopende wetenskappe soos chemie, biologie, natuurkunde, daktiloskopie (die opspoor, bewaar en vergelyking van vingerafdrukke), grafologie (soortgelyke werk met handskrifte) en fotografie.

In hul toepassing by die kriminalistiek word hierdie wetenskappe en tegnieke forensies (wat betrekking het op die geregtelike) genoem. So is die forensiese of geregtelike geneeskunde van die grootste belang in byvoorbeeld die ondersoek na moordgevalle, waarin tegnieke soos lykskouings en nadoodse ondersoeke gebruik word. Die forensiese geneeskunde het reeds aan die einde van die 19e eeu bestaan, nog voordat die kriminalistiek tot 'n egte wetenskap ontwikkel is.

Die studie van gifstowwe, wat toksikologie genoem word, is in hierdie tyd ook al toegepas. In moderne kriminalistiese ondersoeke word gekonsentreer op die slagoffer, die plek van die misdaad, die middele waarmee dit gepleeg is en die verdagte persoon. Die leidrade word met allerlei apparaat in kriminalistiese of polisielaboratoriums ondersoek. Die bevindings kan van die grootste belang wees in polisieondersoeke en as getuienis in hofsake.

Oorsig Die kriminalistiek of misdaadleer is die wetenskaplike en tegniese ondersoek van alle moontlike leidrade en getuienis wat tot die moontlike oplossing van 'n misdaad kan lei. So 'n misdaadondersoek geskied met die noue samewerking van die polisie en die reg bank. Die kriminalistiese deskundige ontleen sy kennis en ondervinding aan verskeie wetenskappe, onder meer die geneeskunde en die tegniese en natuurwetenskappe.

Geskiedenis Nog lank voor die bestaan van kriminalistiek as wetenskap in sy huidige vorm is geneeshere in geregtelike nadoodse ondersoeke geraadpleeg oor die moontlike oorsake van die slagoffer se dood. Die forensiese (geregtelike) geneeskunde is reeds in die 17e eeu as 'n onafhanklike vak aan die Universiteit van Leipzig gedoseer.

Die studente het geleer hoe om deur die ondersoek van wonde en ander uitwendige verskynsels die oorsaak van 'n slagoffer se gewelddadige dood vas te stel. Die sogenaamde longtoets wat op pasgebore babas gedoen word wat na bewering doodgebore is, dateer uit dieselfde tyd. Hierdie toets is gedoen as die vermoede bestaan het dat die moeder haar pasgebore kind vermoor het. Die baba se longe word in water geplaas en as die longe bo-op die water dryf, toon dit dat die longe lug bevat, wat aandui dat die kind dus na geboorte gelewe het.

In die eerste helfte van die 19e eeu is die wetenskaplike ontleding van gif as hulpmiddel gebruik in die oplossing van misdade (geregtelike toksikologie). Die grondlegger van hierdie wetenskap was die Franse geregtelike geneesheer en skeikundige, Matthieu Orfila (1787- 1853). Hy was die eerste wetenskaplike wat daarin geslaag het om 'n chemiese metode te ontwikkel wat die aanwesigheid van gif in 'n slagoffer se liggaam kon aantoon. Die Belg Jean Servais Stas (1813- 1891) was die uitvinder van ʼn metode waardeur plantaardige gifstowwe soos nikotien uit die liggaamweefsel onttrek kon word.

Daarna is chemiese ontledingsmetodes ontwikkel waarmee die aard van die gifstof vasgestel kon word. Met die groot toename in en die massaproduksie van sintetiese gifstowwe en geneesmiddels in die 20e eeu moes meer verfynde ondersoekmetodes en apparaat ontwikkel word.

Oorsprong Volgens sommige skrywers het die kriminalistiek saam met 'n stelsel in verband met die eiening van misdadigers ontstaan. Hierdie stelsel, die bertillonnage, is vernoem na die Franse polisieman Alphonse Bertillon (1853-1914), wat die stelsel in 1883 ontwerp het. Die stelsel is gegrond op die bevindings van antropoloë en statistici dat bepaalde liggaamsmate by 'n volwassene nie meer verander nie en dat dit byna nooit by twee verskillende mense identies kan wees nie.

Hierdie metode, wat baie tydrowend was, is aan die begin van die 20e eeu deur die daktiloskopie (die studie van vingerafdrukke) vervang. Die meeste skrywers dateer die ontstaan van die kriminalistiek egter 10 jaar later, as 1893. In daardie jaar het 'n Oostenrykse regter in strafsake, Hans Gross (1847-1915), ʼn boek gepubliseer met die titel Handbuch für Untersuchungsrichter. Daarin het hy nie slegs die bekende metodes van die geregtelike geneeskunde, die geregtelike toksikologie en bertillonnage bespreek nie, maar ook voorspraak gemaak vir die toepassingsmoontlikhede van die mikroskopie, die chemie, die natuurkunde en die biologie in die oplossing van misdade.

Spesialiseringsgebiede In die kriminalistiek word van baie wetenskappe en tegnieke gebruik gemaak wat in die professionele terminologie deur die woorde "geregtelik" of "forensies" aangedui word. Die woord "forensie" is afgelei van die Latynse woord "forum", 'n openbare plein waar onder meer geregtelike verhore gehou is en vanwaar in die regstaal die betekenis "geregtelik" verkry is. Die geregtelike ballistiek is die wetenskap wat hom bepaal by die werking van vuurwapens.

'n Baanbreker op die gebied was die Amerikaner Calvin Goddard (1891-1955), wat met behulp van ʼn vergelykingsmikroskoop die "vingerafdruk" van 'n vuurwapen op 'n koeël aangetoon het. Patroondoppies en koeëls wat op die misdaadtoneel gevind word, kan byvoorbeeld vergelyk word met die koeëls en patroondoppies wat afkomstig is uit die vuurwapen wat vermoedelik vir die misdaad gebruik is. Die geregtelike serologie bestudeer die eienskappe van bloedserum vir regsdoeleindes. Die Duitse geneesheer Paul Uhlenhuth (1870-1957) het eerste daarin geslaag om mensebloed van dierebloed te onderskei.

Uhlenhuth het ʼn duidelike verskil bespeurtussen die eiwitte in die bloed van mense en die van die verskillende dierespesies. Deur die ontdekking is dit moontlik om byvoorbeeld vas te stel of die bloedvlekke op die kledingstukke van 'n verdagte misdadiger die van 'n mens of 'n dier is. Die volgende stap in die bloedondersoek was om vas te stel tot watter bloedgroep die persoon behoort wat die opgedroogde bloedspoor agtergelaat het. Die Italiaanse polisiegeneesheer Leone Lattes het in 1916 'n metode ontwikkel waarvolgens die bloedgroep bepaal kon word. Latere ondersoekers het sedertdien daarin geslaag om die bloedgroep van 'n persoon uit sy speeksel en ander liggaamsuitskeidings vas te stel.

Benewens bloedvlekke is daar verskeie ander leidrade wat lig kan werp op 'n misdaadsaak. Die mikroskopiese ondersoek van hare, grond, papier, tekstielvesels, verf, ink, ensovoorts het dikwels al tot die oplossing van 'n misdaad gelei. Hierdie soort ondersoeke word hoofsaaklik deur skeikundiges en bioloë gedoen. Daarom praat ʼn mens van geregtelike (forensiese) chemie en geregtelike (forensiese) biologie. Deur 'n chemiese ondersoek van ink kan handskrifvervalsings byvoorbeeld aan die lig gebring word.

Laboratoria Met die moontlikhede wat die natuurwetenskappe gebied het in die oplossing van misdaadsake, het 'n behoefte aan goed toegeruste laboratoria ontstaan. In die eerste helfte van die 20e eeu is daar in die meeste ontwikkelde lande geregtelike wetenskaplaboratoria (kriminalistiese of polisielaboratoria) gestig. Die eerste geregtelike wetenskaplaboratoria was private ondernemings van bekende kriminaliste (strafregkenners) soos die van Rudolph Reiss in Lausanne, Edmond Locard in Lyons (1910) en die van die Nederlandse strafregkenner Christiaan Jacobus van Ledden Hulsebosch in Amsterdam (1914). Vandag het die meeste lande goed toegeruste laboratoria vir geregtelike ondersoeknavorsing. In Suid-Afrika word die polisie- en geregtelike ondersoeke gedoen deur die Forensiese Wetenskaplaboratorium van die Suid-Afrikaanse Polisie in Pretoria.

Die Forensiese Wetenskaplaboratorium is in 1971 by die hoofkwartier van die Suid-Afrikaanse Polisie gestig nadat hierdie forensiese afdeling vroeër onder die Suid-Afrikaanse Kriminele Buro geressorteer het. In die geregtelike laboratoria word allerlei leidrade ondersoek. Bloedmerke word byvoorbeeld ontleed om die ouderdom daarvan, die soort (mens of dier) en die bloedgroep te bepaal. Ook uitskeidingsprodukte soos speeksel, sperma en urine word aan toetse onderwerp.

Ander ondersoeke wat in hierdie laboratoria gedoen word, het te doen met brandstigtingsake en vermeende vervalsings van dokumente en handskrifte. Daar is ook al baie navorsing gedoen om die alkoholgehalte in die bloed van dronkbestuurders te bepaal. Nog 'n belangrike afdeling van die navorsing het met dwelmmiddels te doen. Die kriminalistiese laboratoria beskik oor baie moderne toerusting: allerlei meetapparaat, kameras en mikroskope, soos die vergelykingsmikroskoop, die stereomikroskoop en die elektronmikroskoop. Kernenergie word ook in die geregtelike laboratoria gebruik. Deur middel van neutronaktiveringslise kan die kleinste moontlike deeltjies van 'n stof herken word.

Die stof wat ondersoek word, word met neutrone bestraal en word so radioaktief. So kan vasgestel word watter stowwe oorspronklik aanwesig was en in watter hoeveelhede aangesien die golflengte en die sterkte van die bestraling van element tot element verskil.

Geregtelike geneeskunde en psigiatrie In die ruimste sin van die woord beteken geregtelike geneeskunde die toepassing van die geneeskunde as hulpmiddel in misdaadondersoeke. In die sin is geregtelike psigiatrie 'n onderafdeling van die geregtelike geneeskunde. Geneeshere kan in siviele sowel as strafregtelike sake as deskundiges geraadpleeg word. In siviele sake kan sulke raadplegings betrekking hê op eise ten opsigte van skadeloosstelling of versekeringsprobleme, soos byvoorbeeld ondersoeke na die aard en erns van beserings (na verkeersongelukke), siekte en invaliditeit.

In strafsake word 'n geregtelike geneeskundige ondersoek gedoen wanneer menslike lewens daarby betrokke is (soos in die geval van moord en manslag) of in die geval, van oortredings ten opsigte van sedelikheid en mishandeling. Die geregtelike geneeskunde hou hom lank reeds besig met die geregtelike geneeskundige ondersoek van mense wat op onnatuurlike wyse gesterf het. Die term geregtelike geneeskunde word in engere sin gebruik vir hierdie spesifieke toepassingsgebied. Reeds in die Oudheid is die lyke van slagoffers in 'n geregtelike moordondersoek en ander ernstige misdade vir tekens van vergifting ensovoorts ondersoek. In 1532 het Karel V 'n wet uitgevaardig waarvolgens hy bepaal het dat ʼn geregtelike geneeskundige ondersoek in die geval van sulke misdade gedoen moet word.

Deur die eeue heen, maar veral sedert die 19e eeu, het hierdie ondersoeke die taak van spesialiste geword. Dit was deels die gevolg van die toenemende spesialisering in die mediese wetenskap self en deels omdat verskeie nuwe wetenskappe en spesialiteitsrigtings ontstaan het wat vir die geregtelike geneeskunde van groot belang was. Mylpale in die ontwikkeling van die kriminalistiek was die toepassing van die histologie of mikroskopiese anatomie (die mikroskopiese ondersoek van liggaamweefsel), die toksikologie (die wetenskap van gifstowwe) en die serologie (die studie van die eienskappe van bloedserum wat vir bloedgroepondersoek van belang is).

Leerstoele in die geregtelike geneeskunde is by verskillende universiteite, insluitende Wenen en Praag, gestig en dit het gelei tot die stigting van forensiese wetenskap laboratoria. Die ondersoek van liggaamweefsels en lykskouings word in die geregtelike wetenskap laboratoria gedoen. Die lykskouings, wat deur spesialiste van so 'n laboratorium gedoen word, word nie altyd in die laboratorium self gedoen nie, maar word ook in hospitale en in die lykskoukamer van die polisiekantoor gedoen indien so 'n vertrek beskikbaar is.

Geregtelike lykskouings