Jakobus I (Engels: James I; 19 Junie 1566 - 27 Maart 1625) was van 24 Julie 1567 koning van Skotland (as Jakobus VI) en van 24 Maart 1603 koning van Engeland en Ierland, tot met sy dood in 1625. Hoewel hy lank probeer het om Brittanje en Skotland polities meer te laat verenig, het die twee lande soewereine state gebly, elk met sy eie parlement, wetgewende gesag en wette, met Jakobus as koning van albei. Hy is ook bekend as Jakobus VI en I.

Jakobus was die seun van Maria I van Skotland (Mary, Queen of Scots) en 'n agter-agterkleinseun van Hendrik VII, koning van Engeland en lord van Ierland, en dus 'n moontlike troonopvoler in al drie lande. Hy het op die ouderdom van 13 maande koning van Skotland geword nadat sy ma gedwing is om ten gunste van hom te abdikeer. Hoewel sy ma Katoliek was, is Jakobus as 'n Protestant grootgemaak.

Vier regente het names hom regeer totdat sy minderjarigheid in 1578 amptelik geëindig het, hoewel hy eers in 1583 volle beheer oor sy regering gekry het. In 1589 het hy getrou met Anna van Denemarke. Drie van hulle kinders het 'n volwasse ouderdom bereik: prins Hendrik Frederik, Elizabeth en Karel. In 1603 het Jakobus sy agterkleinniggie, Elizabeth I, die laaste monarg van die Huis van Tudor, opgevolg as heerser van Engeland en Ierland. Elizabeth het nie kinders gehad nie. Hy het 22 jaar oor al drie koninkryke regeer, 'n tydperk bekend as die Jakobeaanse era, tot met sy dood in 1625. Ná die verening van die krone was sy basis in Engeland (die grootste van die drie ryke) en het hy net een keer na Skotland teruggekeer, in 1617. Hy het die titel "koning van Engeland en Ierland" aanvaar. Tydens sy bewind het die kolonisasie van Ulster en die Amerikas begin.

Op 57 jaar en 246 dae was Jakobus se bewind in Skotland die langste van enige Skotse monarg. Hy het die meeste van sy doelwitte in Skotland bereik, maar moes groot probleme in Engeland oorkom, soos die Buskruitverraad in 1605 en konflik met die Engelse parlement. Onder Jakobus het die Elisabethaanse letterkunde en drama voortgeduur, met skrywers soos William Shakespeare wat tot die florerende letterkundige kultuur bygedra het. Jakobus was self 'n woekerende skrywer wat werke soos Daemonologie (1597) en ander geskryf het. Hy het die Engelse vertaling geborg van die Bybel wat later na hom genoem is, die Authorized King James Version.

Jakobus is in sy tyd beskou as 'n "wyse man in klein dingetjies en 'n dwaas in belangrike sake". Sedert die tweede helfte van die 20ste eeu is historici geneig om hom as 'n ernstige en intelligente heerser te beskou.; Hy was ernstig oor 'n vredesbeleid en het probeer om betrokkenheid by godsdiensoorloë te vermy, veral die Dertigjarige Oorlog wat die grootste deel van Sentraal-Europa verwoes het. Hy was die eerste Engelse koning van die Huis van Stuart en is opgevolg deur sy jongste seun, Karel I.

Vroeë lewe 160px|links|thumb|Jakobus as 'n seun.

Jakobus Karel Stuart is op 19 Junie 1566 in Edinburg-kasteel gebore as die oudste seun van Maria, koningin van die Skotte, en haar tweede man, Hendrik Stuart, lord Darnley. Jakobus was ’n afstammeling van koning Hendrik VII van Engeland deur sy oumagrootjie Margaret Tudor, die oudste suster van Hendrik VIII.

Maria se bewind in Skotland was onseker omdat ’n rebellie deur die Protestantse bevolking haar en haar man, wat Katolieke was, in die gesig gestaar het. Hendrik is op 10 Februarie 1567 vermoor. Maria was toe reeds ’n ongewilde koningin en dit is vererger toe sy op 15 Mei 1567 trou met James Hepburn, 4de Graaf van Bothwell, wat daarvan verdink is dat hy Hendrik vermoor het.

In Junie 1567 het Protestantse rebelle Maria gearresteer en sy het nooit weer haar babaseun gesien nie. Sy is op 24 Julie gedwing om te abdikeer ten gunste van haar seun. Haar buite-egtelike halfboer, Jakobus Stewart, Graaf van Moray, is as regent aangestel.Guy, pp 364–5. Haar seun is op 29 Julie 1567 op die ouderdom van dertien maande as koning Jakobus VI van Skotland gekroon. Hy is grootgemaak as lid van die Protestantse nasionale Church of Scotland.

In 1568 het Maria uit die tronk ontsnap en dit het gelei tot ’n kort tydperk van geweld. Die Graaf van Moray het Maria se troepe in die Slag van Langside verslaan. Sy het noodgedwonge na Engeland gevlug waar sy deur Elizabeth in hegtenis geneem en uiteindelik tereggestel is.

160px|thumb|Jakobus op 20 jaar. Bewind in Skotland Hoewel die regentskap amptelik in 1578 geëindig het, het Jakobus nie volle beheer oor die regering gekry voor 1581 nie.Stewart, p 47; Croft, p 16; Willson, pp 29–31. In Augustus 1582 het die verskeie grawe Jakobus na 'n kasteel gelok, hom gevange geneem en gedwing om ’n verklaring af te lê waarin hy verklaar dat hy nie gevange gehou word of teen sy wil aangehou word nie en dat niemand hom moet kom help nie.Stewart, p 66. Hy is in Junie 1583 vrygelaat en het daarna toenemend beheer oor sy koninkryk oorgeneem.

In 1586 het Jakobus die Verdrag van Berwick met Engeland gesluit. Dit en die teregstelling van sy ma in 1587 het dit vir hom moontlik help maak om later die Engelse troon te bestyg.

Huwelik thumb|160px|Koningin Anna omstreeks 1605.

In sy jeug is Jakobus geprys vir sy kuisheid omdat hy min belangstelling in vroue getoon het. Hy het die geselskap van mans verkies,Croft, pp 23–24. maar ’n huwelik was nodig om sy bewind te versterk. Die keuse het geval op die 14-jarige Anna van Denemarke, die jongste dogter van die Protestantse Frederik II. Hulle is op 23 November in die huwelik bevestig.

Jakobus was aanvanklik versot op Anna en het haar met geduld en deernis behandel.Willson, pp 85–95. Die koninklike egpaar het drie kinders gehad wat 'n volwasse ouderdom bereik het: Hendrik Frederik, Prins van Wallis, wat in 1612 op 18-jarige ouderdom oorlede is; Elizabeth, later koningin van Boheme; en Karel, die toekomstige koning Karel I van Engeland.

Anna was telkens siek, en van 1617 af ernstig. Jakabos het haar tydens haar laaste siekte net drie keer besoek. Sy is voor haar man dood, in Maart 1619.

thumb|links|200px|Vermeende hekse kniel voor koning Jakobus, uit Daemonologie (1597).

Heksejagte Jakobus se besoek aan Denemarke, 'n land wat bekend was met heksevervolging, het 'n belangstelling ontketen in die studie van heksery, wat hy as 'n deel van godsdiens beskou het. Hy het die Noord-Berwick-hekseverhore bygewoon wat die eerste vervolging van hekse in Skotland was onder die hekserywet van 1563. Verskeie mense is aangekla van die gebruik van heksery om storms teen Jakobus se skip te stuur toe hy sy bruid in Denemarke gaan haal het.

Jakabus het bekommerd geraak oor die bedreiging van heksery en het Daemonologie in 1597 geskryf. Dit is geïnspireer deur sy eie betrokkenheid wat die beoefening van heksery teengestaan het en die agtergrond verskaf het van Shakespeare se Macbeth.

Jakobus het persoonlik toesig gehou oor die marteling van vroue wat daarvan beskuldig is dat hulle hekse is. Ná 1599 het sy sienings skeptieser geraak.; ; .

Hoogland en eilande Die gedwonge ontbinding van die lordskap van die eilande deur Jakobus IV in 1493 het tot onstuimige tye vir die westelike kusgebied gelei. Jakobus IV het die georganiseerde militêre mag van die Hebride onderdruk, maar hy en sy onmiddellike opvolgers het die wil of vermoë ontbreek om 'n alternatiewe vorm van regering te bied. Gevolglik het die 16de eeu bekend gestaan as linn nan creach, oftewel “die tyd van strooptogte”. Verder het die uitwerking van die Hervorming die Skotse Hoogland stadig bereik en dit het 'n godsdienstige wig ingedryf tussen dié gebied en "Sentrale" Gordel van Skotland.

In 1540 het Jakobus V die Hebride besoek en die clanhoofde gedwing om hom te vergesel. Daarna het ’n tydperk van vrede gevolg, maar die clans het gou weer onderling gebots. Tydens die bewind van Jakobus VI is die inwoners van die Hebride as wettelose barbare uitgebeeld, eerder as die wieg van Skotse Christendom en nasiebou. Amptelike dokumente beskryf die mense van die Hoogland as “sonder kennis van en vrees vir God” en geneig tot “alle vorme van barbaarse en dieragtige wreedhede”. Gaelies, wat vlot gepraat is deur Jakobus IV en waarskynlik ook deur Jakobus V, het tydens Jakobus VI se bewind bekend geword as “Erse” of Iers, wat geïmpliseer het dat dit volksvreemd was. Die Skotse Parlement het besluit Gaelies is ’n hoofrede vir die tekortkominge van die Hooglanders en het dit probeer afskaf.;

Teen dié agtergrond het Jakobus VI in 1598 die edelman-koloniste van Fife gemagtig om die “mees barbaarse eiland Lewis” beskaaf te maak. Jakobus het geskryf die koloniste moes optree “nie deur ooreenkomste” met die plaaslike inwoners nie, maar deur “die uitroeiing van hulle”. Hulle landing by Stornoway het goed begin, maar die koloniste is verdryf deur plaaslike magte onder bevel van Murdoch en Neil MacLeod. Die koloniste het in 1605 weer probeer, met dieselfde uitkoms, hoewel ’n derde poging in 1607 suksesvoller was.;

Die Statute van Iona is in 1609 afgekondig, wat vereis het dat clanhoofde ondersteuning moes bied aan Protestantse predikante in Hooglandse gemeentes; dat barde verbied moes word; dat hulle gereeld in Edinburg moes rapporteer vir hulle dade; en dat hulle erfgename na die Skotse Laagland gestuur moes word om in Engelse Protestantse skole opgevoed te word. So het ’n proses begin wat “spesifiek gemik was op die uitwissing van Gaelies en die vernietiging van die tradisionele kultuur”.

In die Noordelike Eilande het Jakobus se neef, Patrick Stewart, Graaf van Orkney, die Statute van Iona teengestaan en is gevolglik gevange geneem.; Sy buite-egtelike seun, Robert, het ’n onsuksesvolle rebellie teen Jakobus gelei, en die graaf en sy seun is gehang. Hul eiendomme is gekonfiskeer, en die Orkney- en Shetland-eilande is deur die kroon geannekseer.

Letterkundige beskerming In die 1580’s en '90’s het Jakobus die letterkunde van sy geboorteland bevorder. Hy het 'n verhandeling oor Skotse versleer in 1584 op die ouderdom van 18 gepubliseer. Dit was beide ’n poëtiese handleiding en ’n beskrywing van die digkunstradisie in sy moedertaal waarin Renaissance-beginsels toegepas is. Hy het ook statutêre voorsiening gemaak om die onderrig van musiek te hervorm en te bevorder, aangesien hy die twee as verbind gesien het.Sien: Jack, R.D.S. (2000), "Scottish Literature: 1603 and all that ", Association for Scottish Literary Studies, besoek op 18 Oktober 2011.

Ter bevordering van hierdie doelstellings was Jakobus beide beskermheer en leier van ’n los groep Skotse Jakobeaande hofdigters en musici, wat William Fowler en Alexander Montgomerie ingesluit het, met Montgomerie as een van die koning se gunstelinge.Jack, R.D.S. (1985), Alexander Montgomerie, Edinburg: Scottish Academic Press, pp. 1–2. Jakobus was self ’n digter en was bly om as ’n praktiserende lid van die groep beskou te word.

Teen die laat 1590’s het Jakobus se bevordering van die inheemse Skotse tradisie in ’n mate afgeneem weens die toenemende waarskynlikheid van sy opvolging tot die Engelse troon. William Alexander en ander hofdigters het begin om hulle geskrewe taal te verengels en het die koning ná 1603 na Londen gevolg.Spiller, Michael (1988), "Poetry after the Union 1603–1660", in Craig, Cairns (general editor), The History of Scottish Literature, Aberdeen University Press, vol. 1, pp. 141–152. Jakobus se rol as aktiewe letterkundige deelnemer en beskermheer het hom in baie opsigte ’n bepalende figuur gemaak vir die Engelse Renaissance-poësie en , wat ’n hoogtepunt tydens sy bewind bereik het, maar sy beskerming van die hoë styl in die Skotse tradisie is grootliks na die kantlyn geskuif.

Bestyging van die Engelse troon thumb|160px|Die vereniging van die krone is ná 1603 in Jakobus se persoonlike wapen weerspieël, met 'n samesmelting van die Tudor-roos en die Skotse dissel.