thumb|450px|'n Foto van sommige van Saturnus se mane wat deur die Cassini-ruimtetuig geneem is. Op die foto is Dione, Enkelados, Epimeteus, Prometeus, Mimas, Rea, Janus, Tetis en Titaan.
Saturnus se natuurlike satelliete (mane) is talryk en uiteenlopend. Hulle wissel van klein maantjies van net 'n paar dosyn meter breed tot die enorme Titaan, wat groter as die planeet Mercurius is. Saturnus het 274 mane met bevestigde wentelbane,https://www.bbc.co.uk/news/science-environment-49962134 die meeste van enige planeet in die Sonnestelsel. Dié getal sluit nie die duisende maantjies in wat in Saturnus se digte ringe voorkom of nóg honderde moontlike mane van 'n kilometer breed wat slegs eenmalig waargeneem is nie.
Sewe van Saturnus se mane is groot genoeg om die vorm van ’n ellipsoïed te hê, hoewel net een of twee, Titaan en moontlik Rea, tans in hidrostatiese ewewig is. Drie mane is besonder noemenswaardig: Titaan is die tweede grootste maan in die Sonnestelsel (ná Jupiter se Ganumedes) Dit het 'n stikstofryke, aardagtige atmosfeer en 'n landskap met rivierstelsels en koolwaterstofmere. Enkelados spuit ysstrale uit sy suidpoolgebied en is bedek met 'n dik laag sneeu. Iapetos het 'n kontras tussen 'n swart en wit halfronde en 'n indrukwekkende bergketting op die ewenaar, een van die hoogstes in die Sonnestelsel.
Altesaam 24 van die bekende mane is reëlmatige satelliete: Hulle het prograde bane wat nie 'n groot baanhelling teenoor Saturnus se ewenaar het nie. Iapetos het egter 'n groot helling – 'n ongewone kenmerk vir 'n reëlmatige maan. Dié 24 mane sluit die sewe groot mane in, asook vier klein mane wat in 'n trojaanbaan met groter mane is, en vyf wat as herdersmane optree. Twee klein mane wentel in Saturnus se B en G-ring. Die relatief groot Huperion is in 'n baanresonansie met Titaan.
Die oorblywende 250 mane, met 'n deursnee van 2 tot 213 km, wentel veel verder van Saturnus af. Hulle is onreëlmatige satelliete, met hoë baanhellings en eksentrisiteite, beide prograad en retrograad. Hierdie mane is waarskynlik kleinplanete of fragmente van botsings wat deur Saturnus aangetrek is.
Daar word geraam dat Saturnus sowat 150 onreëlmatige satelliete groter as 2,8 km het, asook honderde kleineres. Hulle word in groepe geklassifiseer: die Inuïtiese, die Galliese en die groot retrograde Noorse groep. Hulle name kom uit ooreenstemmende mitologieë. 'n Uitsondering is Foibe, die grootste onreëlmatige maan van Saturnus, wat wel deel van die Noorse groep is, maar na 'n Griekse Titaan genoem is.
Saturnus se ringe bestaan uit voorwerpe wat wissel van mikroskopies klein tot maantjies van honderde meter breed, elk in 'n eie baan. Daarom is daar geen vaste getal vir Saturnus se mane nie, want daar is geen duidelike grens tussen die ontelbare klein voorwerpe in die ringstelsel en die groteres wat as mane erken word nie. Meer as 150 maantjies in die ringe is reeds opgespoor.
Vanaf Maart 2025 is daar 211 bevestigde mane wat nog nie name het nie; almal buiten een (die B-ringmaantjie S/2009 S 1) is onreëlmatig. As hulle name kry, sal die meeste van dié onreëlmatiges mane se name uit die Galliese, Noorse en Inuïtiese mitologie kom, na gelang van hulle groep.
Ontdekking Vroeë waarnemings thumb|220px|Saturnus (oorbelig) en die mane Iapetos, Titaan, Dione, Huperion en Rea soos gesien deur 'n 12,5-duim-teleskoop. Voor die uitvinding van teleskopiese fotografie is agt mane van Saturnus deur direkte waarneming ontdek met die gebruik van optiese teleskope. Die grootste maan, Titaan, is in 1655 deur Christiaan Huygens ontdek. Tetis, Dione, Rea en Iapetos is tussen 1671 en 1684 deur Giovanni Domenico Cassini ontdek, en Mimas en Enkelados in 1789 deur William Herschel. Huperion is in 1848 W.C. Bond, G.P. Bond en William Lassell ontdek.
Die gebruik van lang beligtingstye het die ontdekking van nog mane moontlik gemaak. Die eerste een wat so ontdek is, Foibe, is in 1899 deur W.H. Pickering waargeneem. In 1966 is die tiende maan, Janus, en 'n paar jaar later Epimeteus ontdek. In 1980 is nog drie mane ontdek: Helena, Telesto en Kalipso.
Waarnemings deur ruimtetuie thumb|220px|Vyf mane op 'n Cassini-foto: Rea is heel regs op die voorgrond, met Mimas daaragter. Die helder Enkelados is bo en agter die ringe, en Pandora word verdwerg deur die F-ring. Janus is heel links.
Die buitenste mane is daarna bestudeer met behulp van onbemande ruimtetuie. Met die aankoms van die Voyager-ruimtetuig by Saturnus in 1980-'81 is nog drie mane ontdek: Atlas, Prometeus en Pandora. Dit het die totaal op 17 te staan gebring. In 1990 is Pan ontdek op argieffoto's van Voyager.
Die Cassini-sending, wat in Julie 2004 by Saturnus aangekom het, het aanvanklik drie binnemane ontdek: Metone en Pallene tussen Mimas en Enkelados, en 'n trojaan van Dione, Poludeukes. Dit het ook drie verwagte, maar onbevestigde mane in die F-ring ontdek. In November 2004 het Cassini-wetenskaplike aangekondig die struktuur van Saturnus se ringe dui op die teenwoordigheid van nog verskeie mane in die ringe, hoewel net Dafnis visueel bevestig is. Sedert 2007 is nog 'n paar mane ontdek.
Buitemane thumb|220px|Dié foto wys die aanwending van die opstapelingstegniek om 'n dowwe maan van Saturnus te ontdek (in rooi omkring). Terwyl die maan op 'n gewone foto feitlik onsigbaar is (bo), raak dit duideliker wanneer verskeie foto's opmekaargestapel en dan geskuif word (onder).
Die bestudering van Saturnus se mane het 'n hupstoot gekry met die vooruitgang in teleskopiese instrumente. In die 20ste eeu was Foibe die enigste maan met 'n hoogs onreëlmatige wentelbaan. In 2000 het 'n span sterrekundiges 12 onreëlmatige mane ontdek met behulp van verskeie grondgebaseerde teleskope oor die wêreld heen. Dit het gewys Saturnus het groepe onreëlmatige mane. In 2003 het 'n span sterrekundiges die Subaru-teleskoop by die Mauna Kea-sterrewag gebruik om na nog sulke mane te soek. Hulle het eers Narvi opgespoor, en in 2005 het die span die ontdekking van nog 12 klein, onreëlmatige buitemane aangekondig, in 2006 nog nege en in 2007 nog drie.
Geen nuwe onreëlmatige mane is daarna aangekondig nie tot in 2019, toe die span nog 20 onreëlmatige mane gevind het in argiewe van hulle vorige soektogte. Dit het Saturnus se mane op 82 te staan gebring, wat vir die eerste keer sedert 2000 meer mane was as wat Jupiter het.
In 2019 het navorsers sowat 80 nuwe onreëlmatige mane ontdek. Van 2019-'21 is nog mane gesoek, en eers is nog een ontdek en in Mei nog 62. Saturnus het toe 145 bevestigde mane gehad, die eerste planeet met meer as 100. Nog een is daarna ontdek, wat die totaal op 146 te staan gebring het. Al dié nuwe mane is klein en dof, met 'n deursnee van sowat 3 km en 'n skynbare magnitudes van 25-27. Dié uiters dowwe mane kon net gesien word danksy die foto-opstapelingstegniek, waar verskeie foto's met 'n lang beligtingstyd opmekaargestapel en geskuif word na aanleiding van Saturnus se beweging in die lug. Die navorsers het bevind die meeste onreëlmatige mane is klein, wat daarop dui hulle is waarskynlik fragmente van 'n botsing 'n paar honderd miljoen jaar gelede.
Op 11 Maart 2025 is die ontdekking van nog 128 mane tegelykertyd deur die Kleinplaneetsentrum aangekondig, en dit het die totaal van Saturnus se mane op 274 te staan gebring. Dit is die enigste planeet met meer as 200 mane. Nes die ander dowwe mane, is dié nuwes ontdek met die opstapelingstegniek. Baie van dié mane is teruggespeur na vroeëre waarnemings van 2004 tot 2021, wat ooreenstem met die datums van hulle ontdekking.
Name thumb|220px|Foibe, die enigste Noorse maan wat na 'n Titaan uit die Griekse mitologie genoem is.
Die moderne name vir mane van Saturnus is in 1847 deur John Herschel bepaal. Hy het voorgestel hulle word genoem na mitologiese figure wat met die Romeinse god van landbou en oeste, Saturnus, te doen het. Sy naam in die Griekse mitologie is Kronos. Die sewe mane wat toe bekend was, is na Titane en Griekse Gigante (reuse) genoem – broers en suster van Kronos.
In 1848 het Lassell voorgestel die agtste maan word Huperion genoem, na nog 'n Titaan. Toe daar in die 20ste eeu nie meer name van Titane oor was nie, is die mane genoem na verskillende karakters uit die Grieks-Romeinse mitologie of reuse uit ander mitologieë. Al die onreëlmatige mane is genoem na gode uit die Inuïtiese, Keltiese en Noorse mitologie, en na Noorse ysreuse. Die enigste uitsondering is Foibe, wat 'n eeu voor die ander ontdek is.
Fisiese eienskappe Saturnus se satellietstelsel is baie onewewigtig. Een maan, Titaan, maak meer as 96% van die massa uit. Die ander ses ronde mane maak sowat 4% uit en die oorblywende klein mane net sowat 0,04%.
+ Saturnus se grootste mane, in vergelyking met die Maan Name Deursnee(km) Massa(kg) Wentelradius(km) Wentelperiode(dae) Mimas 396(0,12 D☾) 4×1019(0,0005 M☾) 185 539(0,48 a☾) 0,9(0,03 T☾)D☾ = maandeursnee; M☾ - maanmassa; a☾ = maanwentelradius; T☾ = maanwentelperiode; ♂ = mars Enkelados 504(0,14 D☾) 1,1×1020(0,002 M☾) 237 948(0,62 a☾) 1,4(0,05 T☾) Tetis 1 062(0,30 D☾) 6,2×1020(0,008 M☾) 294 619(0,77 a☾) 1,9(0,07 T☾) Dione 1 123(0,32 D☾) 1,1×1021(0,015 M☾) 377 396(0,98 a☾) 2,7(0,10 T☾) Rea 1 527(0,44 D☾) 2,3×1021(0,03 M☾) 527 108(1,37 a☾) 4,5(0,20 T☾) Titaan (1,48 D☾)(0,75 D♂) 1,35×1023(1,80 M☾)(0,21 M♂) 1 221 870(3,18 a☾) 16(0,60 T☾) Iapetos 1 470(0,42 D☾) 1,8×1021(0,025 M☾) 3 560 820(9,26 a☾) 79(2,90 T☾) Notas
Maangroepe thumb|400px|'n Kunstenaar se voorstelling van Saturnus, sy ringe en sy groot ysmane – van Mimas tot Rea.
Hoewel die grense effens vaag is, kan Saturnus se mane ingedeel word in nege groepe, volgens hulle wenteleienskappe. Baie van hulle, soos Pan en Dafnis, wentel binne-in Saturnus se ringstelsel en het wentelperiodes van net langer as die planeet se rotasieperiode. Die heel binneste mane en die meeste reëlmatige mane het gemiddelde baanhellings van minder as 'n graad tot 1,5 graad (buiten Iapetos, wat 'n helling van 7,57 grade het) en klein eksentrisiteite. Aan die ander kant het die onreëlmatige mane in die buitenste streke, veral die Noorse groep, baanradiusse van miljoene kilometers en wentelperiodes van verskeie jare. Die mane van die Noorse groep wentel ook in die teenoorgestelde rigting as waarin Saturnus roteer.
Binnemane Ringmaantjies
In 2006 is vier klein maantjies in die A-ring op Cassini-foto's gekry. Voorheen was net twee mane in die gapings van die A-ring bekend: Pan en Dafnis. Hulle is groot genoeg om permanente gapings in die ring te skep. In 2007 is nog 150 maantjies ontdek in drie smal bande van die ring. Hulle is waarskynlik gevorm nadat 'n groter satelliet opgebreek het.
In laat Julie 2009 is 'n maantjie in die B-ring ontdek. Soortgelyke maantjies kan in die F-ring voorkom. Daar kom "strale" materiaal dalk voor vanweë versteurings van die nabygeleë klein maan Prometeus van dié maantjies in die ring.
'n Onlangs ontdekte maan, Aegaeon, lê in die helder boog van die G-ring en is in 'n resonansie van 7:6 met Mimas. Dit beteken dit voltooi presies sewe omwentelings van elke ses van Mimas.
Ringherdersmane 'n Herdersmaan is 'n klein maan wat in, of net buite, 'n planeet se ringstelsel lê. Hulle beïnvloed die vorm van die ringe: gee hulle skerp rande en vorm gapings in die ringe. Saturnus se herdersmane is Pan (Encke-gaping), Dafnis (Keeler-gaping), Prometeus (F-ring), Janus (A-ring) en Epimeteus (A-ring). Atlas en Pandora lê buite onderskeidelik die A- en F-ring. Daar is lank geglo hulle is ook herdersmane, totdat onlangse studies op die teenoorgestelde begin dui het.
Janus en Epimeteus kom in amper dieselfde wentelbaan voor. Hulle is ook byna ewe groot; Janus is effens groter as Epimeteus. Hulle sal bots as hulle mekaar probeer verbysteek. In plaas daarvan veroorsaak hulle swaartekragwisselwerking dat hulle elke vier jaar wentelbane omruil.
Groot binnemane
Die binneste groot mane van Saturnus wentel binne sy yl E-ring, saam met drie kleiner mane van die Alkuoniedgroep.