duimnael|Die nier van 'n vark Die nier is 'n boonvormige uitskeidingsorgaan wat in soogdiere voorkom. Die nier vorm deel van die urinêre stelsel en filtreer afvalstowwe (veral ureum) vanuit die bloed en skei dit saam met water uit as urine. Die nier sorg ook vir die handhawing van die suur-basis-ewewig in die liggaam deur die vervoer van bikarbonaat en waterstof-ione. Die mediese veld wat niere bestudeer word nefrologie genoem vanuit die Grieks. Die byvoeglike naamwoord "renale" beteken nier-verwant en kom uit die Latyn renes.

In die mens is die niere aan die agterkant (posterior) van die buik geleë, agter die peritoneum (vlies wat die buik uitvoer). Hulle is 10-13 cm lank, 5 cm dik en weeg elk ongeveer 150 gram. Daar is een aan elke kant van die werwelkolom; die regter nier is net onder die lewer geleë (dus effens laer as linker nier) en die linker nier net onder die diafragma en langs die milt. Aan die bo-pool van elke nier is 'n klier genaamd die bynier.

Die niere speel 'n belangrike rol ten opsigte van die behoud van die interne balans van die liggaam deur op 'n selektiewe wyse die afvalprodukte van die liggaam uit te skei, die verlies van sout en water te beheer en die konsentrasie waterstofione in die liggaam konstant te hou.

Die niere is ook verantwoordelik vir die vervaardiging van die hormone eritropoiëtien en renien, wat onderskeidelik 'n invloed op die produksie van die rooi bloedselle en die bloeddruk uitoefen. Die niere van die mens is aan weerskante van die werwelkolom, teen die posterior abdominale wand, geleë. In 'n deursnee van die nier kan met die blote oog die skors (korteks) en die murg (medulla) onderskei word. Die nier is opgebou uit ongeveer een miljoen nefrone. Hierdie mikroskopies klein struktuurtjies kan as die funksionele eenhede van die nier beskou word.

In die glomerulus (die eerste gedeelte van die nefron) word die bloed gefiltreer via 'n spesiale skeidingswand wat water en klein molekules maar nie groter proteïenmolekules nie, deurlaat. Die filtraat beland dan in die nierbuisie; nuttige stowwe soos natrium, glukose en water word uit die filtraat opgeneem. Die absorpsie van veral water is indrukwekkend: hierdeur word die volume van die filtraat aan die einde van die nierbuisie tot 'n honderdste van die oorspronklike volume gereduseer.

Die klein bloedvaatjies waarin die bloed vanaf die glomerulus weggevoer word, volg naastenby dieselfde roete as die van die nierbuisies. Hulle loop vanaf die glomerulus in die korteks van die nierweefsel na die medulla en keer na die glomerulus terug. Op hierdie plek vorm 'n aantal selle van die glomerulus, nierbuisie en toevoerende (afferente) bloedvaatjies gesamentlik 'n struktuur wat by die vorming van hormone betrokke is. Die nierbuisie open uiteindelik in 'n versamelbuisie, wat deur die medulla loop en op sy beurt in die nierbekken uitmond.

Bou In die niere word die urien gevorm. Die niere is twee boontjievormige organe wat aan weerskante van die werwelkolom, teen die posterior abdominale wand, net onder die diafragma, lê. Die niere lê op die hoogte van die twaalfde torakale werwel (aan die bokant) en die derde lumbale werwel (aan die onderkant). Die regternier lê effens laer as die linkernier om sodoende ruimte te laat vir die lewer, wat in die regterbobuikkompartement geleë is.

Omdat daar weerskante van die werwelkolom 'n nier geleë is, verskil die organe in verhouding tot die niere. Die regternier word byvoorbeeld superior begrens deur die regterbynier, anterior deur die regterlob van die lewer, die duodenum en die regterbuiging van die dikderm, terwyl dit posterior deur die diafragma en die spiere aan die agterkant van die abdomen begrens word. Die linkernier word superior begrens deur die linkerbynier, anterior deur die milt, die maag, die pankreas, die jejunum en die linkerbuiging van die dikderm, terwyl dit posterior net soos die regternier deur die diafragma en die spiere aan die agterkant van die abdomen begrens word.

'n Mens se nier is ongeveer 10 tot 12 cm lank, 5 tot 7 cm breed en weeg 140 tot 160g. Elke nier word omring deur 'n dun fibreuse bindweefselkapsel, wat kenmerkend geen septa bevat nie. Buite die kapsel word die nier deur 'n dik laag perinefriese vetweefsel omring. Hierdie vetweefsel omring ook die bynier, 'n afsonderlike klierorgaan wat bo-op die nier geleë is. Bloedvate, senuwees en die ureter sluit hulle by die nier aan in die mediale induiking wat as die hilus bekend staan. Waar die ureter die hilus bereik, vorm dit die pelvis van die nier, wat gewoonlik in twee groter en 10 kleiner kelke verdeel word. Die nier is rooibruin van kleur. In 'n sagittale snit deur die nier kan sy makroskopie duidelik waargeneem word.

Die liggaam van die nier, wat onder die kapsel lê, kan in twee duidelike gedeeltes verdeel word, naamlik 'n buitenste, donkerbruin, korrelrige korteks en 'n binneste, ligter, gestreepte medulla, wat in die vorm van 'n piramide vanaf die korteks tot in die pelvis loop. Hierdie piramidevormige uitlopers staan as nierpapille bekend. Tussen die nierpapille is daar nog uitlopers van die kortikale weefsel wat Bertin se kolomme genoem word. Die urine wat in die korteks en medulla gevorm word, word in die nierbekken versamel.

Vervolgens word die urine weggevoer via die urienbuis (ureter), wat die nier by die hilus verlaat. By die hilus kom die nierarterie (arteria renalis) die nier binne en verlaat die vertakkinge van die niervena (vena renalis) die nier. Waar die arteria renalis die nier binnekom, vertak dit in dorsale en ventrale takke, wat onderskeidelik die anteriore en posteriore aspekte van die orgaan bedien. Elkeen van hierdie takke gee oorsprong aan 'n aantal interlobêre arterieë, wat tussen die piramides in die renale kolomme van binne (sentraal) na buite (perifeer) loop.

Die interlobêre arterieë verdeel in die arteriae arcuatae, wat tussen die korteks en medulla parallel met die nieroppervlakte loop. Die arteriae arcuatae gee veelvuldige in terlobulêre takkies na die korteks af. Vanaf die interlobulêre arterieë word intralobulêre takkies afgegee, wat op hulle beurt oorsprong gee aan die afferente arterioli, wat Bowman se kapsels instulp en so aan die kapillêre netwerk van die glomeruli oorsprong gee. Een van Bowman se kapsels en 'n glomerulus staan saam bekend as 'n Malpighi-liggaampie (renale liggaampie).

Uit 'n glomerulus ontstaan 'n efferente arteriool, wat bloed vanaf 'n Bowman-kapsel wegvoer. In die geval van die kortikale glomeruli vertak die efferente arterioli in kapillêres wat anastomoses in die korteks vorm. Hierna verval dit in 'n veneuse stelsel van intralobulêre takkies, wat dan verder loop as interlobulêre, arkuate en interlabêre venae, wat uiteindelik as die vena renalls die hilus verlaat. In die geval van die juksta-medullêre glomeruli vertak die efferente arterioli in takkies wat in die medulla afstrek. Hierdie arterioli staan as die arteriolae rectae, of vasa rectae, bekend. Laasgenoemde vorm kenmerkende lusse rondom die bene van die Henle-Ius en word hier die rete mirabile genoem.

Die nefron Die glomerulus en die nierbuisie (niertubulus) vorm gesamentlik die nefron. Deur mikroskopiese ondersoek is vasgestel dat die nier uit ongeveer een miljoen nefrone opgebou is. Die wat in die korteks geleë is, se glomerulus word gevorm deur 'n afferente arteriool, wat die bloed na die glomerulus vervoer en wat in ʼn kluwetjie haarvate vertak. Hierdie haarvate verenig weer en vorm so 'n efferente arteriool wat die bloed vanaf die glomerulus wegvoer.

Die hele glomerulus is omgewe deur ʼn bekervormige kapsel, wat bekend staan as Bowman se kapsel (glomerulus + Bowman se kapsel is gesamentlik bekend as Malphighi se liggaampie). Bowman se kapsel is eintlik 'n onderdeel van die nierbuisie, wat hier bolvormig uitgestulp is. Die binneste laag epiteelselle van die kapsel is met wande van die haarvate van die glomerulus vergroei, met tussenin 'n basale membraan. Deur hierdie skeidingswand word die bloed gefiltreer.

Die epiteelselle van Bowman se kapsel rus met uitlopers op die basale membraan en veroorsaak sodoende dat gedeeltes van die membraan onbedek is. Die endoteelselle, wat die wande van die haarvate vorm, bedek die membraan volledig, hoewel sommige gedeeltes ʼn dunner bedekking het. Die vloeistof wat deur hierdie wand gefiltreer is, beweeg in die nierbuisie af; eerstens deur die proksimale kronkelbuis, dan deur die dalende been van die Henle-Ius (dik en dun gedeelte), dan deur die stygende been van die Henle-Ius, (dun en dik gedeelte) en vervolgens In die distale kronkelbuis af.

Die distale kronkelbuis sluit by ʼn versamelbuis aan, terwyl 'n aantal versamelbuise op hul beurt saamsmelt en die papillere buise vorm, wat in 'n kleiner kelk van die pelvis uitmond. Bowman se kapsel en die proksimale en distale kronkelbuise word altyd in die Ferreinstrepe van die korteks aangetref, terwyl die dele van die Henle-Ius in die medulla afstrek. Die nefrone wat in die buitenste deer van die nier geleë is, bevat 'n groot deel van die Henle-Ius in die korteks en staan bekend as kortikale nefrone.

Die Henle-Ius van die nefrone wat meer sentraal geleë is, sal feitlik heeltemal in die medulla loop en staan as die jukstamedullêre nefrone bekend. Die gekronkelde deel van die distale buis kom weer dig teen die glomerulus te lande. Die nierbuisie keer met ander woorde na sy hele tog deur die medulla terug tot vlak by die glomerulus. Hier is 'n gedeelte van die selle van die wand van die nierbuisie verleng en digter teen mekaar (macula densa).

Die afferente arteriool is in noue kontak met die macula densa net waar dit die glomerulus binnegaan. Daar is in hierdie gebied in die arteriool abnormale selle wat saam met die macula densa en die mesangium (bindweefsel wat die afferente en efferente arterioli omring) die jukstaglomerulêre apparaat vorm. Die jukstaglomerulêre apparaat is by die produksie van hormone betrokke.

Funksie Een van die belangrikste funksies van die niere is om die samestelling van die bloed te reguleer. Ongeag die groot wisseling in die opname van voedsel en in die aktiwiteit van stofuitruiling bly die samestelling van die liggaamsvloeistof konstant. Dat die nierfunksie belangrik is, blyk duidelik uit die feit dat al die bloed elke 4 minute deur die niere beweeg. Wanneer bloed vanaf die afferente arteriool in die haarvate van die glomerulus stroom, funksioneer die wande van die haarvate saam met die basale membraan en die epiteel van Bowman se kapsel, as 'n filter wat water en klein molekules, maar nie groter molekules soos proteïenmolekules nie, deurlaat.

Die glomerulêre filtraat wat so gevorm word, kom in Bowman se kapsel te lande. Hierdie filtrasieproses word deur die verskil in druk tussen die haarvate en Bowman se kapsel veroorsaak. Die totale hoeveelheid glomerulêre filtraat beloop 180 liter per dag (ongeveer 'n tiende van die hoeveelheid bloed wat deur die niere stroom). Die grootste deel van die glomerulêre filtraat word nie saam met die urien uitgeskei nie, maar bly in die liggaam behoue.

Die geleidelike omskakeling van die glomerulêre filtraat tot urien vind in die nierbuise plaas. Tydens die beweging deur die nierbuise word allerlei nuttige stowwe uit die glomerulêre filtraat opgeneem en aan die weefselvog en die bloed teruggegee (herabsorpsie); sommige stowwe word in die nierbuisie afgeskei (tubulêre sekresie). Soortgelyke prosesse wat in die selle in die wande van die nierbuisie plaasvind, word tubulêre transport genoem.