Francois Alwyn (Frans) Venter (1916–1997) was ’n Afrikaanse skrywer gedurende die 20ste eeu in Suid-Afrika en wenner van die Hertzogprys. Hy skryf ook onder die skuilname Meiring Fouché, René Stegmann, Marius de Jongh en Elske te Water.

Lewe en werk Venter is op 27 November 1916 in Hopetown gebore en sy ouers het in die distrik Britstown geboer. Hy leer aanvanklik in plaasskole, daarna aan die Sekondêre Skool Strydenburg, en matrikuleer in 1934 aan die Hoërskool Hopetown. Hy studeer aan die Universiteit van Stellenbosch en begin in 1938 ’n joernalistieke loopbaan wat vyf-en-twintig jaar sou duur, in Kaapstad, Pretoria, Windhoek en Johannesburg.

Hy is die oudste seun van Hermanus Carel (Herman) Venter en Cornelia Cecilia (Nellie) Koortse. Sy oupa se testament het bepaal dat Botterkraal ná sy dood verkoop moes word en die gesin word dus gedwing om na sy dood na die plaas Nuwejaarskraal in dieselfde distrik te verhuis. Frans ontvang aanvanklik sy skoolopleiding op Botterkraal by die goewernante, Miss Eagleton. Daarna gaan hy skool op die plaasskool by Kalkkraal, sy oupa se plaas, waar hy by sy oom Jannie en tant Johanna en hulle drie kinders loseer. Hierna woon hy die plaasskool Lanquedoc op Vioolkraal by tot standerd vier. Vanaf standerd vyf gaan hy na die Middelbare Skool op Strydenburg, waar hy standerd ses slaag. Groot droogte breek dan uit en die gesin is verplig om met die vee te trek op soek na staanplek en weiding. Hulle word toegang tot Suidwes-Afrika geweier en gaan dan na Kakamas, waar hulle vir ’n ruk staning by ene oom Muller kry. Daarna is hulle vort na die Kalahari, waar hulle by Dawid Kriel weireg kry vir die vee. Na sowat ’n jaar verneem hulle dat dit goed gereën het by die huis en hulle keer terug. Nuwejaarskraal is intussen ook verkoop en Frans se pa kry deelsaairegte op die plaas Breekkierie. Frans gaan nou na die Hoërskool Hopetown en hy matrikuleer in 1934 in die eerste klas. In die Uniale Taaleksamen kom hy tweede in die Unie van Suid-Afrika en in die Geskiedenis-eksamen vierde.

Na skool studeer hy aan die Universiteit van Stellenbosch waar hy ’n B.A.-graad verwerf. Tydens sy studentejare dien hy op die redaksie van Die Stellenbosse Student en word later onderredakteur. Ernst van Heerden, Gerhard Beukes, W.A. de Klerk en Audrey Blignault is onder andere saam met hom op die redaksie. Weens finansiële redes onderbreek hy sy studies vir ’n M.A.-graad halfpad. In 1938 word hy in Kaapstad redaksielid van Die Suiderstem waar Abraham H. Jonker en E.B. Grosskopf van sy kollegas is. In 1941 is hy vir ’n kort tyd na Pretoria, waar hy as joernalis by Die Volkstem werk. Hy trou in hierdie jaar met Stella Muller van Fraserburg, wat hom op 25 Junie 1994 ontval, en die egpaar het twee kinders, ’n seun, Herman, en ’n dogter, Elizabeth.

Na sy troue keer hy terug na Kaapstad en Die Suiderstem. Hier word hy bevorder tot parlementêre beriggewer en later waarnemende nuusredakteur. In Augustus 1946 word hy redakteur van die weekblad Die Suidwes-Afrikaner in Windhoek. In 1952 gaan hy na Johannesburg waar hy hoof van inligting vir die Verenigde Party word en ’n tyd lank aan die politiek deelneem. Reeds in Suidwes-Afrika het hy in ’n verkiesing as kandidaat van die Verenigde Nasionale Suidwes-Party verloor en in die verkiesings van 1953 verloor hy die stryd as kandidaat van die Verenigde Party in Kemptonpark. Hierna gaan werk hy by Blaar Coetzee, destydse eienaar van Tafelberg Uitgewers en uitgewer van verskeie tydskrifte. Frans word redakteur van die tydskrif Fyngoud en skryf verskeie kortverhale wat in die tydskrif geplaas word. Die gesin bly in hierdie tyd eers in ’n woonstel in Hillbrow en later in ’n huis in Linden.

In Januarie 1960 vestig hy hom in die Noordwes-Kaap op die familieplaas Constantia naby Vanwyksvlei, tussen Kenhardt en Carnarvon, waarheen sy ouers in die dertigerjare verhuis het. Hier boer hy met merinoskape en skryf feitlik voltyds. Die strawwe klimaat en veral die nadelige uitwerking wat dit op sy vrou se gesondheid het, noop hom om in 1967 die plaas te verlaat en Strand toe te verhuis. Hy skryf nou voltyds en lewer verskeie boeke, opdragwerke, vertalings, kortverhale, vervolgverhale en liefdesverhale, terwyl hy ook artikels skryf vir publikasies en bydraes maak tot die “Van alle kante” rubriek in Die Burger. Hy besluit egter om weer te gaan boer en in 1970 begin hy met druiwe boer in die distrik Vredendal, op die wingerdplaas Ciréne in die Olifantsriviervallei.

In 1971 het hy egter ’n hartaanval en toe Stella in 1975 ook hartaanvalle het, verkoop hulle die plaas en tree in 1976 af in die Strand, waar hy hom voltyds aan sy skryfwerk wy. Op 15 September 1990 kry hy ’n ernstige beroerteaanval, waarvan hy merkwaardig herstel en volledig beskryf in sy boek “Die keer toe ek my naam vergeet het”. Met sy herstel verhuis hy en sy vrou na die Altena-tehuis vir bejaardes in die Strand. In Maart 1996 kry hy weer ’n beroerte-aanval. Na sy ontslag uit die Vergelegen Medi-Clinic op Somerset-Wes word hy in die siekeboeg van Huis Altena opgeneem en hier versorg tot met sy dood.

Hy was lid van die Maatschappij der Nederlandsche Letterkunde in Leiden. Hy was ook lid van die Afrikaanse Skrywersgilde, maar bedank in 1987 uit protes teen die Gilde se beplande ontmoeting met die ANC, wat hy as “’n Marxistiese geweldsorganisasie” beskou. Aan die begin van 1989 veroorsaak hy polemiek in die Kaapse koerante wanneer hy in ’n sterk bewoorde brief beswaar maak teen die toepassing van apartheid op strande en die manier waarop gekleurde mense van “blanke” strande in die Strand verwyder word.Sien briewe aan Die Burger gedateer 28 Januarie 1989 (http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/1989/01/28/10/5.html) en 20 Februarie 1989 (http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/1989/02/20/6/2.html ).

F.A. Venter is oorlede op 8 Julie 1997.Gevierde skrywer FA Venter sterf, Beeld, 9 Julie 1997

Skryfwerk Jeugverhale en kortverhale

Reeds van sy skooldae af wou hy ’n skrywer word en het hy groot bewondering vir Sangiro se “Uit oerwoud en vlakte”. Hy probeer dus op skool reeds ’n soortgelyke boek skryf met onder andere akkedisse, meerkatte en skilpaaie as karakters, maar kan nie ’n uitgewer vir die boek kry nie. Een van sy kortverhale word op agtienjarige ouderdom deur Die Landbouweekblad gepubliseer, wat hom een pond sewentien sjielings en ses pennies daarvoor betaal. Hierna is daar geen keer aan hom nie. Sy debuut is met die jeugroman “Die geheim van die berg”. ’n Plantkundige, dr. Hans Bols, onderneem saam met ’n groep van vier seuns ’n verkenningstog in die berge by die Groot Kloof op soek na ’n seldsame iris, wat slegs op moeilik bekombare plekke bloei en net in die maanlig ontluik. Hull word egter deur ’n kluisenaar gewaarsku om nie naby die kloof te kom nie. Wanneer hulle dit nader waag, word hulle deur arende aangeval. Die boek het ’n goeie vermenging van die didaktiese en die spannende. Die klem is egter op uiterlike gebeure en die spannende, met weinig karakterontwikkeling. “Wit oemfaan” is weer ’n jeugboek, wat die verhaal vertel van ’n Voortrekkerseun wat verdwaal en dan deur die Zoeloes gevind word en hy ’n tyd lank tussen die Zoeloes woon. Die verhaal is gebaseer op die ware verhaal van die lewe van Ferdinand Paulus van Gass, wat opgeteken is deur Gustav Preller. Aanvanklik voel die jong Van Gass hom sterk aangetrokke tot die sorgvrye bestaan van die Zoeloes, maar hy besef algaande dat dit nie sy tuiste is nie, veral as gevolg van die Zoeloes se Christelike ongeloof en volksvreemde tradisionele gebruike. Hy keer dus na sy eie mense terug.

Elf kortverhale word in “Gebondenes” gebundel, met veral die oorlogskets “Offerande” en die verhaal “Offer van die weduwee Buys” wat noemenswaardig is. Die hoogtepunt van die bundel is “Twee vyande” wat die tweestryd tydens die Tweede Wêreldoorlog tussen ’n Duitse en ’n Russiese vlieënier uitbeeld. Met wisselende perspektief tussen die twee hoofkarakters word daar ’n ooreenkoms bereik, met ’n treffende ironiese einde wanneer die twee vyande aan mekaar se bors sterf. Skrynend ironies is die einde van die aangrypende verhaal “Tien pond”. “Uitvaart van Arie” gee ’n geslaagde uitbeelding van die gedagtewêreld en innerlike van ’n karakter. Dit is Venter se enigste bundel kortverhale en hy spits hom hierna op langer werke toe. Sy kortverhaal “Drie kamerade” word deur Abraham H. de Vries in die versamelbundel “Steekbaard” opgeneem.

Romans

Sy eerste roman, “Eenderse morge”, is ’n verhaal oor die verwydering en verbittering wat die Tweede Wêreldoorlog bring tussen twee Boeregesinne met verskillende politieke sienings wat in hulle boerdery van mekaar afhanklik is. Voor die oorlog het Hardus Vermeulen van Bronwater en Siewert Breedt van Syferkuil ten spyte van hulle politieke verskille goed saamgewerk, maar die oorlog verander alles. Siewert besluit nou om ’n damwal te gooi sodat Syferkuil se vloedwater nie Hardus se dam op Bronwater kan voed nie. In ’n reënbui merk Siewert dat die damwal besig is om te breek en terwyl hy poog om dit te herstel, word hy deur die stroom meegesleur. Eers wanneer Hardus vir Siewert uit die vloedwater red, word die verhoudings tussen die bure herstel. Die interessante groter nasionaal-politiese stryd word ongelukkig nie bevredigend uitgewerk in die roman nie en die twis word kunsmatig bygelê deur ’n uiterlike oplossing, naamlik die damwal wat breek. Karakterbeelding is ook nog oppervlakkig en te veel van die aksie word meegedeel in stede van beskryf.

“Die drosters” speel af tydens ’n denkbeeldige derde wêreldoorlog tussen Oosterse en Westerse magte, waar drie uiteenlopende Westerse soldate (die Duitser Von Schlabitz, die Italianer Pazlotti en die Suid-Afrikaner Herbst) tydens ’n nag van verskrikking van die front af dros. Hulle verklee hulle in burgerdrag sodat hulle ongesiens saam met die massas burgerlike vlugtelinge kan wegkom. So ontmoet hulle die vlugtelingvrou Lotte, met wie Herbst ’n verhouding aanknoop. Hulle pogings om vanuit die slagvelde van die oorlog terug te keer na hulle tuistes vorm die verhaallyn, met die karakters wat meer oortuigend uitgebeeld word as in sy debuut. Die voortdurende spanning tussen selfsug, haat, agterdog en vrees aan die een kant en onselfsugtigheid, liefde, vertroue en moed aan die ander kant maak dit ’n boeiende wisselwerking tussen die karakters. Hierdie roman word later by ’n herdruk grondig verwerk en hersien, sodat dit grootliks verbeter word.

“Die tollenaar”Antonissen, Rob “Standpunte” Nuwe reeks 17 en 18, Mei-Desember 1957 beeld die lewe in ’n sanatorium vir teringlyers uit. Deurlopende motiewe is die ware roeping van die geneesheer, die stryd tussen lewe en dood en die rol van geloof in die mens se lewe. Die hoofkarakter is Leon Verhage, ’n vooraanstaande snydokter wie se huwelik misluk en sy praktyk swaarkry. Dan ontvang hy boonop die tyding dat hy aan tering ly. Hy beland in ’n sanatorium waar hy verlief raak op ’n medepasiënt. Hulle vlug saam uit die sanatorium om te ontsnap van die outoritêre hoof van die inrigting en sodat hy weer sy beroep as geneesheer kan beoefen. Dan begin hy sy eie inrigting vir teringlyers. Ander karakters is die getroude vrou Janie, die ou walvisjagter Jakob Björson en Salie, die verstandelik vertraagde seun met die ghitaar onder sy arm, wie se grootste begeerte is om by sy moeder te sterf. Hulle is eenvoudige mense met normale verlangens en ’n lus vir die lewe, maar staan almal aan die poorte van die dood.