Bulgarye (Bulgaars: България, Balgarija, [bɐɫˈɡarijɐ], ), amptelik die Republiek Bulgarye (Република България, Republika Balgarija, [rɛˈpublikɐ bɐɫˈɡarijɐ]), is 'n land in Suidoos-Europa. Dit word begrens deur die Swartsee in die ooste, Griekeland en Turkye in die suide, Serwië en Noord-Masedonië in die weste, en Roemenië in die noorde.HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013,
duimnael|links|Die Mandrenskomeer naby Boergas duimnael|links|Die Rilaklooster is een van die belangrikste historiese, kulturele en godsdienstige monumente van Bulgarye Bulgarye is genoem na 'n Turkse volk wat die land tydens die 7de eeu verower en later met die Slawiese en Trakiese bevolking vermeng het. In die Middeleeue het Bulgarye tot 'n magtige ryk ontwikkel wat oor groot dele van Suidoos-Europa gestrek het. In die 11de eeu is Bulgarye vir 'n tydperk van sowat 100 jaar by die Bisantynse Ryk ingelyf, en teen die einde van die 14de eeu het die land onder Turkse heerskappy gekom.
Bulgarye vorm ten opsigte van sy landskappe en sy kultuur 'n oorgangsgebied tussen Europa en die Ooste, maar ook tussen die Mediterreense en vastelandse gebiede van Oos-Europa. Tydens die Middeleeue het die sogenaamde Slaweapostels Cyrillus en Methodius 'n aantal Christelike Griekse tekste na Oud-Bulgaars vertaal, 'n taal wat in die Goue Tydperk tydens die bewind van tsaar Simeon die basis van 'n veelsydige godsdienstige en wêreldse literatuur gevorm het. Alhoewel die literêre bloeitydperk met die begin van die Turkse heerskappy tot 'n einde gekom het, het Oud-Bulgaars steeds die taal van die Slawies-Ortodokse Kerk gebly, en sy literêre werke word deur die Slawiese volke as 'n gemeenskaplike kulturele erfenis beskou.
Bulgarye het sy bevryding vyf eeue later veral aan Rusland te danke, en die noue politieke en kulturele bande tussen die twee lande het in 1945 die inlywing van Bulgarye by die Sosialistiese Oosblok bevorder. Onder die bewind van die Kommunistiese Party het die oorwegend agrariese land tot 'n moderne staat met 'n verskeidenheid nywerhede ontwikkel. Sy belangrikste uitvoere is egter nog steeds landbouprodukte, waaronder ook roosolie, 'n kosbare eteriese olie.
Die agteruitgang van die Sosialisme en die oorgang na 'n vrye markekonomie het die lewensstandaard van groot dele van die bevolking swaar geraak. Na ramings het dit in die jare negentig met sowat veertig persent gedaal. Die Bulgaarse ekonomie het intussen oortuigend herstel, en die lewenstandaard het in 2004 weer die vlak van die tydperk voor die negentigerjare bereik.
Bulgarye het op 29 Maart 2004 'n lidstaat van die NAVO en op 1 Januarie 2007 'n lidstaat van die Europese Unie geword. Op 1 Januarie 2026 is die Euro as geldeenheid ingevoer.
Etimologie Die naam "Bulgarye" is ontleen aan die Proto-Bulgare, 'n stam van Turkse oorsprong wat die Eerste Bulgaarse Ryk gestig het. Die betekenis van hul naam is nie heeltemal duidelik nie en dit is moeilik om dit vroeër as die 4de eeu terug te dateer, maar dit is dalk afgelei van die Proto-Turkse woord bulģha ("om te meng", "skud", "roer") en die afgeleide vorm bulgak ("opstand", "wanorde"). Die betekenis kan verder uitgebrei word na "rebellie", "aanhits" of "'n toestand van wanorde veroorsaak", en in die afgeleide vorm "versteurders". Stamgroepe in Sentraal-Asië met fonologies verwante name, soos die Buluoji (een van die "Vyf Barbare") wat gedurende die 4de eeu beskryf is as beide 'n "gemengde ras" en "moeilikheidmakers", is gereeld met soortgelyke terme beskryf.
Geografie duimnael|links|Nasa-satellietbeeld van Bulgarye in Desember 2001 duimnael|'n Winterlandskap naby die Sjipka-bergpas duimnael|links|Die hoofstad Sofia, met die Vitosja-bergspits in die agtergrond duimnael|'n Uitsig oor die dorp Vrata in die Rhodope duimnael|links|'n Bergmeer in die Pirinberge Bulgarye beslaan dele van die historiese gebiede Thracië, Moesië en Masedonië. Sy huidige grense is ná die einde van die Tweede Balkanoorlog in 1913 vasgelê, toe Bulgarye sy toegang tot die Egeïese See verloor het.
Die land word deur groot klimatiese verskille tussen die Donauvallei in die noorde met sy kleiagtige lössgrond en die beboste Rhodope-bergreeks in die suide gekenmerk. Die Balkan, 'n bergreeks, wat oor 'n lengte van sowat 600 kilometer in wes-oostelike rigting deur Bulgarye loop, vorm die sentrale landskap van die land. Hierdie gebergte het sy naam ook aan die hele skiereiland verleen.
In noord-suidelike rigting is daar vier groot landskappe: die Donauvallei en die Donauplato in Donaubulgarye, die Balkanbergreeks met die Sredna Gora-gebergte, wat parallel loop, die vlaktes en heuwels van Roemelië en die bergmassiewe van Rila, Pirin en die Rhodope.
Die sogenaamde Donaubulgarye is 'n gebied van vlaktes en heuwels, wat deur 'n eskarp of platorand met steil wande en 'n hoogte van tussen 100 tot 150 meter bo die riviervallei begrens word. 'n Aantal valleie met steil hellings sny deur die plato. In die droë platolandskappe word veral mielies en koring verbou, terwyl die gras- en bosvelde in die noord-ooste geskik is vir skaapteelt. Die valleie kry meer reënval en is relatief dig bevolk; hier oorheers die wyn-, vrugte- en groentebedryf. Die hawestad Roese teen die Donau is die belangrikste binnelandse nywerheidsentrum in Donaubulgarye, terwyl Warna aan die Swartsee die grootste van 'n hele reeks bekende vakansieoorde is, wat jaarliks miljoene besoekers uit ander dele van Europa lok.
Met die oorgangsgebied van die Voorbalkan begin die landskap geleidelik styg na die Balkanbergreeks (Bulgaars: Stara Planina), wat met 'n wydte tussen dertig en vyftig kilometer dwarsdeur Bulgarye loop. Die Balkan het net soos die Alpe tydens die Tersiêr ontstaan, maar bereik net in sy sentrale gedeelte, die Hoë Balkan, waar ondergrondse gesteentes soos graniet na die oppervlak geskuif is, hoogtes van meer as 2 300 meter bo seevlak. Met sy talryke bergpasse en klein plato's verskil die Balkan se karakter duidelik van dié van die Alpe. Die Westelike Balkan, wat ook die grenslyn met Serwië vorm, word deur gesteentes uit die Trias- en Juratydperk oorheers en bereik 'n hoogte van maksimaal 2 168 meter. Die Oostelike Balkan, wat tot by die Kaap Emine aan die Swartsee loop, is die laagste gedeelte van die bergreeks.
In die suide word die Balkan deur 'n steil eskarp begrens. Hier loop kleiner bergreekse parallel met die Balkan, met die Sredna Gora of Bulgaarse Middelgebergte suid van die Hoë Balkan as die bekendste. Tussen die Balkan en die laer bergreekse lê 'n aantal bekkens, wat deur berge omring word en dus 'n baie gematigde klimaat het. Hier het van die oudste nedersettings in Bulgarye ontstaan, en ook die hoofstad Sofia is reeds in die antieke tydperk teen 'n hoogte van 550 meter in een van hierdie bekkens aangelê. Die bekkens speel 'n groot rol in die Bulgaarse landbou as belangrike verskaffers van roosolie en wyn.
Die Maritsarivier vloei deur die sentrale gedeelte van die Roemeese landskap, wat hoofsaaklik uit vlaktes en heuwelagtige gebiede bestaan en tussen die Balkan en die Rhodopebergreeks lê; die gebied word dus dikwels ook Maritsabekken genoem. In een van die groter vlaktes lê Plovdiv, een van die oudste stede in Bulgarye, wat in die antieke tydperk as Philippolis bekend gestaan het. Ander bekende stede is Dimitrofgrad, 'n nywerheidsentrum, wat sedert 1947 teen die Maritsarivier ontwikkel is, en Boergas, 'n nywerheidstad, seehawe en vakansieoord aan die Swartsee. Die digbevolkte vlaktes van Roemelië is geskik vir die verbouing van wyn, sonneblomme, tabak, katoen, groente, mielies en ander graangewasse, alhoewel die meeste aanplantings in teenstelling met die noorde van die land onder besproeiing is.
Die Thrakiese Massief in die suide word deur drie bergreekse gevorm – Rila, Pirin en die Rhodope. Die Rilaberge is 'n kristalliene bergreeks, wat veral bekend staan vir die Middeleeuse klooster Rila. Sy hoogste bergspits is die Moesala (2 925 meter bo seevlak). Ook die Pirinbergreeks, wat in die suide by Rila aansluit, verrys tot hoogtes van meer as 2 900 meter. Tussen die hoë bergspitse van albei reekse lê bekkens, wat geskik is vir die verbouing van graan en groente.
Die beboste Rhodope, wat tot by 2 191 meter bo seevlak verrys, vorm 'n natuurlike grens met die suidelike buurstaat Griekeland en die Middellandse Seegebied, veral omdat bergpasse hier skaars is. Net die laer geleë oostelike gedeelte het danksy die invloed van die Middellandse See 'n gematigde bergklimaat. Die res van die Rhodope is 'n barre berglandskap, en die landbou is beperk tot veeteelt en die verbouing van aartappels, linne en klein hoeveelhede tabak. Damme in die Ardawallei lewer hidroëlektriese krag op.
Geskiedenis Antieke tydperk duimnael|'n Rhyton (houer vir drankoffers) uit die Thrakiese "Goudskat van Panagjoerisjte" Die oudste menslike nedersettings in Bulgarye het in die Balkanberge ontstaan. Die eerste staat in die gebied van die huidige Bulgarye is deur 'n Thrakiese stam gestig wat hom omtrent 500 v.C. teen die Maritsarivier gevestig het. 'n Ryke kulturele erfenis dateer uit hierdie tydperk, soos byvoorbeeld die goudskatte van Warna, Valtsji Tran en Panagjoerisjte wat tans in die Argeologiese Museums van Sofia en Plovdiv vertoon word.
Philippos II, die vader van Alexander die Grote, het die Thrakiese gebiede op die Balkanskiereiland in 342 v.C. verower. In hierdie tydperk het nedersettings soos Philippolis (die huidige Plovdiv) ontstaan. Griekse setlaars het hulle langs die Swartseekus gevestig en stede soos Warna en Nesebâr gestig.
Die gebied is verskeie kere deur Keltiese invallers bedreig, maar het uiteindelik het die Romeine daarin geslaag om die hele Balkanskiereiland te verower. Dit is as Provincia Thracia in 46 v.C. by die Romeinse Ryk ingelyf.
Eerste Bulgaarse Ryk duimnael|Die Eerste Bulgaarse Ryk onder Tsaar Simeon I Vanaf die 6de eeu het Slawiese stamme Bulgarye binnegedring, en sedert 680 het ook die Proto-Bulgare, 'n Turkse volk, wat oorspronklik uit die gebiede langs die Swart en Kaspiese See afkomstig was, begin om hier nedersettings te vestig. Die Bulgare het daarin geslaag om hulle onafhanklikheid teen die magtige Bisantynse Ryk, destyds die belangrikste groot moondheid in die Balkangebied, te bewaar.
Met die stigting van die Eerste Bulgaarse Ryk (680–1018) het bykans die hele Balkanskiereiland binne die Bulgaarse magsgebied geval. Pliska en later Preslaf het as administratiewe sentrums gedien. Onder die heerskappy van Boris I (852–889) het die Bulgare die Christelike Ortodokse geloof, en die Oud-Bulgaars taal het amptelik in die land geword. Die Slawiese apostels Cyrillus en Methodius het 'n Slawiese skrif en literatuur ontwikkel.
Die belangrikste Bulgaarse heerser tydens die Middeleeue was Simeon I (893–927). Hy staan as die stigter van die Bulgaarse Patriargaat bekend en het ook die kunste bevorder. In 927 het hy die titel tsaar aangeneem. Die heerskappy van sy seun, tsaar Pieter, is deur boereopstande en die uitbreiding van die Bogomielse geloofsleer gekenmerk. Die Bogomiele het 'n maatskaplike en teologiese dualisme tot die grondbeginsel van hul leerstellings gemaak en moontlik ook groot invloed uitgeoefen het op die Kathare van Wes-Europa.
In 969 is die Bulgaarse Ryk in Wes-Bulgarye (met Serwië, Albanië en Noord-Masedonië en die hoofstad Ohrid) en Oos-Bulgarye met die hoofstad Preslaf verdeel. Die Eerste Bulgaarse Ryk het in 972 'n neerlaag teen die strydmagte van die Bisantynse keiser Basileios II Bulgaroktonos ("die Bulgareslagter") en die Prins van Kiev gely. Oos-Bulgarye is onmiddellik by die Bisantynse Ryk ingelyf, terwyl Wes-Bulgarye eers in 1018 volledig verower is.
Tweede Bulgaarse Ryk duimnael|Desislava, die eggenote van Kalojan. Fresko uit die kerk van Bojana (1259)