Howard Robard Hughes, Jr. (24 Desember 1905 – 5 April 1976) was 'n Amerikaanse vliegpionier, lugvaart-ingenieur, filmregisseur, pierewaaier, eksentrieke individu en kluisenaar. Hy was een van die rykste mense ter wêreld.
Jeug en familie Hughes is in 1905 in Texas gebore. Daar is onsekerheid oor sy geboortedatum en geboorteplek: volgens sommige bronne is hy gebore in die dorp Humble en volgens andere in Houston. Hughes self beweer dat hy op 24 Desember 1905 gebore is, maar sy dooprekords dateer uit September van daardie jaar. Sy ouers was Allene Gano Hughes en Howard R. Hughes Sr."Howard Hughes." MSN Encarta online, 21 Oktober 2009. Sy pa het 'n diamantpuntboor ontwerp wat boorwerk vir voorheen onbereikbare oliebronne moontlik gemaak het. Hy stig die Hughes Tool Company om die uitvinding te kommersialiseer en word welvarend uit die besigheid. Dit was van hom wat Hughes 'n voorliefde vir alles wat meganies werk, geërf het. Sy moeder sterf in Maart 1922 as gevolg van komplikasies tydens haar swangerskap en skaars twee jaar daarna, in Januarie 1924, sterf sy pa aan 'n hartaanval. Hughes was maar 16-jaar oud toe hy sy moeder verloor het.
Onderrig As tiener verklaar Hughes dat sy doelwitte is om die beste gholfspeler, beste vlieënier en beste filmregisseur ter wêreld te word. Ten spyte daarvan dat hy aan verskeie goeie skole en tersiêre instellings studeer, het hy nooit 'n diploma of graad verwerf nie. Hy gaan skool aan onder andere die Fessenden Skool in West Newton, Massachusetts (naby Boston) en die Thacher Skool in Ojai, Kalifornië. Sy pa het later gereël dat hy wiskunde- en ingenieursweseklasse aan die Kaliforniese Instituut vir Tegnologie bywoon. Hy skryf hierna in by die Rice Instituut (later bekend as die Rice-Universiteit). Op negentienjarige leeftyd sterf sy pa en erf hy die uiters winsgewende Hughes Tool Company. Hughes laat vaar hierna sy studies. Hy het met behulp van 'n regter, wat hy by die gholfklub leer ken het, gereël dat hy wettiglik as 'n volwassene beskou word. Hy kon daardeur regstreeks beheer kry oor die $800 000 wat hy geërf het (wat vandag oor 'n miljard dollar sou wees)."Golf's Bizarre Billionaire." golfonline.com. Besoek op 6 Februarie 2020.
Hollywood Hughes trou in 1925 met die 22-jarige Ella Rice wie hy in Houston ontmoet het, en verhuis met haar na Los Angeles waar hy al sy passies van gholfspeel en toetsvlieg kon uitleef. Hy skei egter van Ella vier jaar later in 1929, nadat sy erg gefrustreerd geraak het met al sy vryetyd-vermaaklikhede terwyl sy alleen in hul suite in die Ambassador Hotel moes agterbly.
Aanvanklik word hy deur die Hollywood-elite afgemaak as 'n rykmanskind. Sy eerste twee rolprente, albei uitgereik in 1927 Everybody's Acting en Two Arabian Knights was finansieel suksesvol. Die laasgenoemde het selfs 'n Oscar vir die beste regisseur vir 'n komedierolprent gewen. Sy rolprente The Racket (1928) en The Front Page (1931) word vir Oscars genomineer. Hughes vervaardig ook die rolprent Hell's Angels (1930) waarvoor hy die draaiboek skryf en die regie doen, en Scarface (1932). Hell's Angels was die eerste Amerikaanse rolprent wat meer as een miljoen dollar gekos het. Sy bekendste rolprent is The Outlaw, uitgereik in 1941 met Jane Russell in die hoofrol. Vir Russell laat hy 'n spesiale bra ontwerp. Beide The Outlaw en Scarface besorg Hughes probleme met die Amerikaanse filmsensuurowerhede. Weens Scarface word hy ook gedreig deur die mafia.
In hierdie tyd het Hughes verhoudings met verskeie aktrises gehad, onder wie Katharine Hepburn (twee jaar), Bette Davis, Jean Harlow en Ava Gardner. Hy het ook met Ginger Rogers en Gloria Vanderbilt, beide toe 16-jaar oud, verhoudings gehad.
Vlieënier en ingenieur Hughes was gedurende sy hele lewe 'n lugvaartentoesias, 'n vlieënier en 'n selfopgeleide lugvaarttegniese-ingenieur. Hy stel verskeie wêreldrekords daar, en ontwerp en bou verskeie vliegtuie terwyl hy aan die hoof van Hughes Aircraft staan.
Die belangrikste vliegtuig wat hy ontwerp het was die Hughes H-1 Racer. Op 13 September 1935 het Hughes 'n wêreldrekord opgestel toe hy dié vliegtuig teen 'n spoed van 352 mpu (566 km/h) oor sy toetsbaan naby Santa Ana, Kalifornië gevlieg het. Die vorige rekord was 314 mpu (505 km/h).
Op 19 Januarie 1937 stel Hughes 'n nuwe rekord op deur in 7 uur, 28 minute en 25 sekondes van Los Angeles na New York te vlieg. Op 10 Julie 1938 stel hy nog 'n nuwe rekord op deur in 91 uur om die wêreld te vlieg. In dieselfde jaar word die Houston Munisipale lughawe in Houston herdoop na die Howard Hughes Lughawe maar dit word laat vaar na protesaksie teen die vernoeming van die lughawe na 'n lewende persoon. (Die lughawe se huidige naam is die William P. Hobby Lughawe.)
Gedurende 1938 plaas William John Frye, 'n voormalige Hollywood waaghalsvlieënier wat die direkteur van die lugvaartmaatskappy Transcontinental and Western Airlines (TWA - in 1950 hernoem as Trans World Airlines) geword het, 'n bestelling vir die nuwe Boeing 307 Stratoliner, wat die eerste passasiersvliegtuig met 'n drukkajuit was. Hy werf Hughes, wat ook begeesterd was met die ontwikkeling van vliegtuigtegnologie, om hierdie aankoop te finansier. Hierdeur word Hughes in April 1939 die grootste aandeelhouer van TWA. Gedurende die 1940’s en 1950’s bly TWA waag met die mees gesofistikeerde vliegtuie, grotendeels as gevolg van Hughes se belangstelling in die ontwikkeling van vliegtuie. Onder sy leiding groei die lugvaartmaatskappy aansienlik.
Op 7 Julie 1946 onderneem Hughes die eerste toetsvlug met die eksperimentele vliegtuig FX-11. 'n Deel van sy vlugplan was om oor Los Angeles te vlieg ten einde 'n nuwe apparaat te toets. 'n Olielek veroorsaak dat een van die teenoorgestelde draaiende skroewe in die verkeerde rigting draai. Hughes probeer om die vliegtuig te red deur 'n noodlanding te maak op die gholfbaan van die Los Angeles Country Club. Enkele sekondes voor die landing daal die vliegtuig skerp en stort neer in die woonbuurt buite die Country Club. Die vliegtuig bots teen drie huise en die brandstoftenks ontplof wat een huis laat brand. Hughes kom te lande langs die vliegtuig, maar word gered deur 'n sersant van die Amerikaanse Marinierskorps wat in 'n naburige huis op besoek was. Hughes het 'n sleutelbeen en ses ribbes gebreek en het derdegraadse brandwonde opgedoen. Die letsel het tot met sy dood 'n invloed op hom gehad en vele mense skryf sy latere verslawing aan opiate toe aan die hoë dosering van morfien wat na die ongeluk aan hom voorgeskryf is. Sy kenmerkende snor wat hy later in sy lewe gekweek het, was 'n poging om 'n klein litteken op sy lip te verberg.
Een van sy grootste ondernemings was die ontwerp en bou van die H-4 Hercules, met die bynaam die Spruce Goose ("die gans van sparrehout"), 'n enorme vliegboot wat kort na die Tweede Wêreldoorlog voltooi word. Die Hercules onderneem maar net één vlug (met Hughes aan die stuurstang) in 1947. Die vliegtuig was aanvanklik deur die Amerikaanse regering bestel vir gebruik tydens die Tweede Wêreldoorlog, maar was nie betyds klaar nie. Hughes word gedaag om te getuig voor 'n ondersoekskommissie van die senaat, waar hy moes verduidelik waarom die vliegtuig nie tydens die oorlog aan die Lugmag van die Verenigde State gelewer is nie. Die kommissie ontbind egter sonder dat 'n finale verslag uitgegee word. Hughes stel dat hy die kontrak wou nakom. Aangesien die Amerikaanse regering hom egter nie enige metaal toewys nie was hy verplig om die vliegtuig grotendeels uit hout (berk) te bou. Die vliegtuig was vir jare in Long Beach te sien, langs die Queen Mary maar word later verskuif na McMinnville in Oregon, waar dit tans te sien is in die Evergreen lugvaartmuseum.
RKO In 1948 koop Hughes die rolprentmaatskappy RKO wat toe finansieel in die knyp was. Hy bemoei homself met filmproduksie en die maatskappy lei skade as gevolg van sy bestuurstyl. Binne weke nadat hy beheer oorgeneem het, het hy twee derdes van die werknemers ontslaan en produksie word in 1949 vir ses maande gestaak toe hy 'n ondersoek las na die oorblywende wernemers se politieke affiliasies. Voltooide rolprente word deur hom teruggestuur indien hy van mening is dat die ster (veral die vrouens) nie na behore uitgebeeld word nie, of dat die rolprent se anti-kommunistiese politiek nie duidelik genoeg is nie.
Hughes verkoop RKO se teaters in 1953 as skikking vir die Verenigde State v. Paramount Pictures, anti-kartelsaak. Die verkoop van die winsgewende teaters ontbloot die probleme met die filmateljee. Gedurende die Koreaanse oorlog was hy so besig met die eise wat vliegtuigvervaardiging stel en sy TWA-belange, dat hy die voortdurende stroom regsaksies van die minderheidsaandeelhouers in RKO frustrerend vind. Angstig om die aanklagtes tot 'n einde te bring, het Hughes voorgestel om alle aandeelhouers se aandele uit te koop. Teen die einde van 1954, teen 'n koste van $24 miljoen, bekom Hughes totale beheer van RKO, en word daarmee die eerste alleeneienaar van 'n Hollywoodateljee sedert die pioniersdae. Ses maande later, in Julie 1955, het Hughes onverwags RKO aan die General Tire and Rubber Company vir $25 miljoen verkoop. Hughes behou egter die regte ten opsigte van die rolprente wat hy persoonlik vervaardig het, insluitende dié gemaak deur RKO. Hy behou ook Jane Russell se kontrak. Vir Howard Hughes was dit die einde van 'n rol van vyf-en-twintig jaar in Hollywood.
Hughes en die lugvaartindustrie Na die oorlog herstruktureer Hughes die maatskappy Hughes Aircraft as 'n verdedigingskontrakteur. Die Hughes Helikopterafdeling word in 1947 begin nadat die helikoptervervaardiger Kellett hul nuutste ontwerp vir produksie aan Hughes verkoop het. In 1948 het Hughes 'n nuwe afdeling van die maatskappy, die Hughes Aerospace Groep, gestig. Die Hughes Space and Communications Group en die Hughes Space Systems Division word later in 1948 afgestig om hul eie afdeling te vorm. Afdelings van die maatskappy word deel van McDonnell Douglas en ten laaste Boeing toe die twee maatskappye saamsmelt. Die oorblywende afdelings van Hughes Aircraft word in 1998 aan Raytheon verkoop.
In 1961 span die bestuur van TWA in 'n regsgeding saam teen die bestuursvoorsitter, Hughes, weens 'n verskil van mening oor die wyse waarop die maatskappy bestuur word. Hughes word gedwing om TWA in 1966 vir ongeveer 500 miljoen dollar te verkoop. In die 1970’s keer hy weer na die lugvaartindustrie terug. Hy koop die lugvaartmaatskappy Air West, en noem die maatskappy Hughes Airwest.
Howard Hughes Mediese Instituut In 1953 stig Hughes die Howard Hughes Mediese Instituut in Delaware. Dit word opgerig vir fundamentele biomediese navorsing. Die doel van die instituut is, in Hughes se eie woorde, om die "oorsprong van die lewe self" te ondersoek. Die instituut word deur vele beskou as 'n soort belastingskuiling vir Hughes. Hy dra al sy aandele in Hughes Aircraft maatskappy aan die instituut oor, waardeur hy die verdedigingskontrakteur vrygestel van belasting maak. Die gevolg hiervan was 'n langdurige regstryd tussen Hughes en die Amerikaanse belastingdiens (Internal Revenue Service) wat uiteindelik deur Hughes gewen word. Na Hughes se dood in 1976 groei die instituut tot een van die belangrikste filantropiese instellings vir ondersoek op die gebied van biologie en medisyne. Die instituut beskik oor fondse ter waarde van 12 miljard dollar (2004).
Glomar Explorer In 1972 word Hughes deur die Amerikaanse buitelandse intelligensiediens, die CIA, genader om te help met die koverte berging van 'n Sowjet duikboot wat vier jaar tevore naby Hawaii gesink het. Uit die samewerking ontstaan die Hughes Glomar Explorer, 'n bergingskip wat spesiaal vir hierdie operasie ontwikkel word. Met Hughes se samewerking kon die CIA 'n geloofwaardige dekkingsteorie opmaak. Hiervolgens was die skip bedoel vir onderwaternavorsing in ekstreme dieptes en vir die myn van mangaan klonte op die seebodem.