Die Khoikhoi (die regte mense of mense onder mense) of Khoi is 'n historiese onderdeel van die Khoisan etniese groep van suid-westelike Afrika wat nou verwant is aan die Boesmans. Khoikhoi word soms KhoeKhoe gespel. Die Khoikhoi is tevore Hottentotte genoem maar die term word nou as neerhalend beskou. Ten tye van die aankoms van Europese setlaars in 1652 het die Khoikhoi reeds vir ongeveer 30 000 jaar in Suider-Afrika gewoon. Die naam "Hottentot" is waarskynlik deur die Nederlanders aan hulle gegee weens die baie klikgeluide (suigklanke) in hulle taal, terwyl "Khoikhoi" ("manne van manne") die benaming is wat hulle hulleself genoem het.
Die meeste geelbruin inheemse bewoners van die Kaap het in die 17de en 18de eeu gesamentlik bekend gestaan as “Hottentotte”, hoewel hulle in kleiner groepe of stamme, elk met 'n kenmerkende naam, verdeel was. Die algemene benaming Hottentot het reeds in Jan Van Riebeeck se tyd dokumentasiestatus verwerf. Eers in die 19de eeu is die benaming “mense van kleur” as alternatief gebruik deur o.a. die Britse goewerneur Richard Bourke.
Weens die negatiewe konnotasies wat aan die woord Hottentot bly kleef het, het navorsers veral in die tweede helfte van die 20ste eeu 'n meer eietaalse etnoniem, “Khoekhoen”, in wisselende spelling begin gebruik. Hierdie dubbelstammige naam beteken letterlik “mens van mense”. Volgens G.S. Pienaar, 'n kenner van die inheemse tale, is die hedendaagse skryfwyse “Khoi-khoi” misplaas en in stryd met aanvaarde ortografie. Die korrekte stamwoord is Khoe.
Die term “Khoesan” (Khoisan) is 'n nuutskepping van die 20ste eeu. Dit poog om die gemeenskaplike kenmerke van die Boesmans en Khoekhoen te omvat, maar daar is ook geldige redes om die unieke identiteit van albei groepe afsonderlik te erken. Anders as die Khoekhoen het die Boesmans slegs in klein gesinsgroepies geleef, sonder 'n gemeenskaplike gesagstruktuur soos 'n opperhoof of stamkaptein. Hulle was klein van postuur en het 'n nomadiese leefwyse gevoer om die jagveld en beskikbare veldkosse ten beste te benut.
Die Khoekhoen het tradisioneel in familiegroepe gewoon in matjieshutte bestaande uit raamwerke van houtlatte wat oorgetrek is met gevlegte matjies. Dié boumateriaal is op pakbeeste van een kampterrein na 'n ander vervoer. Skeletoorblyfsels van gedomestikeerde (mak gemaakte) skape wat sowat 2 000 jaar oud is en in Laat Steentydafsettings in rotsskuilings aan die Kaapse kus gevind is, word verbind met vroeë Khoekhoenjagters. Dié jagters was toe reeds nomadiese herders van kleinvee en het mettertyd ook beeste bekom, waarskynlik van Bantusprekende Ystertydboere. Khoekhoengroepe was tot en met die aanbreek van die koloniale tyd betreklik welvarende veeboere. 'n Khoekhoengemeenskap wat vandag nog 'n tradisionele pastorale lewenswyse handhaaf, is die seminomadiese Nama van die Richtersveld.
duimnael|250px|'n Akwatint uit 1805: Korah-Khoikhoi besig om hulle hutte af te breek om na nuwe weivelde te trek.
Godsdiens Hulle het 'n god genaamd Tsui-Goub aanbid. Hulle het geglo dat hy uit die ooste gekom het, uit sy geesteswêreld die wolke maak en die reën laat uitsak, die beesstapels laat vermeerder en weiding vir die beeste verskaf. Hulle het aan die nadoodse voortbestaan van die siel geglo. Hul grafte is eweneens na die ooste georiënteer, vanwaar hulle geglo het Tsui-Goub gekom het.
Hulle het die hottentotsgot as 'n gelukbringer vereer. Sommige stamme het die een testikel van seuns verwyder met puberteit, omdat daar geglo is dat dit die voortbring van tweelinge sou verhoed.
Nederlandse vestiging Die veebesittende Khoekhoen in die ongewing van die Kaapse Skiereiland was belangrik vir gereelde vleisverskaffing aan die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) se retoerskepe in Tafelbaai vanaf 1652. Om sowat dertig skepe per jaar van vleis te voorsien, het vereis dat sowat 300 beeste en 300 skape deur ruilhandel bekom word. Koperplaatjies, voorwerpe van yster, tabak en rooi glaskraletjies was gewilde ruilartikels. Die Khoekhoen het ook van brood, wyn en arak (rysbrandewyn) gehou.
Die Kompanjie het probeer om die enigste koper te wees, want hy wou pryse laag hou, maar die Khoekhoen het net skape, of siek beeste, probeer verkoop om te sorg dat hul kuddes lewenskragtig bly.
Ondanks vele pogings kon Van Riebeeck nie die vleistekort oplos nie. Die Khoekhoen wou nie ruilgoedere aanvaar as die transaksies op 'n drastiese daling in hul eie kuddes sou neerkom nie en hulle was ook onderling verdeeld en het mekaar gewantrou. Van dié stamme was die Goringhaiconas (Strandlopers van Autshumao), Goringhaiquas (Kaapmans onder Gogosoa), Gorachouquas (Tabakdiewe onder Choro en Ankaisoa), Cochoquas (onder Oldasoa en Gonnema) en verder noord die Namaquas. duimnael|'n Voorstelling van Krotoa, of Eva Vir Van Riebeeck en sy amptenare was 'n tolk onontbeerlik om misverstande te voorkom. Daar is afwisselend en met sukses gebruik gemaak van Autshumao (alias Herrie die Strandloper), sy susterskind Krotoa (alias Eva), Doman (alias Anthonie) en Claas Das.
Autshumao het op Robbeneiland gewoon en 'n “poskantoor” vir Engelse en ander seemanne bedryf. In die vroeë jare van die nedersertting het Autshumao hom as Van Riebeeck se enigste tolk gevestig. Hy het raad oor Khoekhoenpolitiek gegee en het Khoekhoenveehandelaars na die fort toe gebring. Teen 1658 het Autshumao groot troppe vee gehad, en was hy die leier van veewagters wat hom voorheen as 'n aasdier geminag het. Tydens die die Eerste Khoekhoen-Nederlandse Oorlog het Van Riebeeck, wat oor Autshumao se lojaliteit getwyfel het, hom op Robbeneiland gevange gehou. Hy het egter in 'n lekkende ou boot ontsnap. Daarna was nhy die woordvoerder van die een Khoekhoengroep na die ander. Hy het in 1663 gesterf. Autshumao was al sy vee kwyt, maar sy goeie naam is tot 'n mate herstel. duimnael|Maria van Riebeeck Autshumao se jong verwant Krotoa of “Eva”, wat in Van Riebeeck se huishouding diens gedoen het, was in feitlik elke opsig anders as Autshumao. Sy het Nederlands en Portugees onder die knie gekry en het gretig gereageer op Christelike onderrig deur Maria van Riebeeck. Eva was 'n stoere vriendin van die Nederlanders en het 'n samewerkingsverband tussen die fort en die volgelinge van Oedasoa, haar ryk verwant, gesmee. Sy het later 'n groot rol gespeel in die bedinging van die voorwaardes vir die beëindiging van die Eerste Khoekhoen-Nederlandse oorlog.
In die 1650’s was Eva die enigste persoon met 'n goeie kennis van sowel die Khoekhoen- as die Nederlandse kultuur; elke keer dat sy van een kultuur na die ander oorgestap het, het sy haar Nederlandse klere vir Khoekhoenvelle verruil, en andersom. Sy is in 1662 gedoop en het in 1664 met die ontdekker Pieter van Meerhof getrou. Die Kompanjie het totale kultuurassimilasie van die Khoekhoen voorgestaan en het haar 'n ruim bruidskat gegee. Eva het Van Meerhoff drie kinders geskenk, en hom vergesel toe hy bevelvoerder van Robbeneiland word. Van Meerhof het tydens 'n ekspedisie na Madagaskar in 'n skermnutseling gesneuwel. duimnael|Robbeneiland Eva was daarna 'n ruk lank nog 'n gesiene lid van die Europese gemeenskap, maar het toe swaar begin drink en haar aan prostitusie oorgegee. Die laaste vyf jaar van haar lewe was sy merendeels weens onsedelike gedrag op Robbeneiland in die tronk. Ná haar dood het die Nederlanders haar tragiese lewe voorgehou as bewys dat die Khoekhoen die beste aspekte van die Europese kultuur nie kon aannneem nie. Die amptelike dagboekhouer teken aan: “Soos die honde keer sy na haar eie braaksel terug, 'n duidelike bewys dat die mens se aard, ongeag hoe sterk dit deur borele beginsels aan bande gelê word, na sy ingebore eienskappe terugkeer.”
Daar is min bekend oor die oorsprong van Doman, maar hy was beslis geen hoofman nie. In 1657-1658 het die Nederlanders hom na Batavia (Jakarta), hul hoofstad in die Ooste, geneem. Hier het hy sowel die potensiële mag van Nederlandse kolonialisme as die klimaks van weerstand daarteen aan die eiland se noordkus gesien. Doman het trou aan die Nederlanders gesweer en beweer die Christendom lok hom. Dit was egter suiwer takties, want terug aan die Kaap het hy Van Riebeeck se beleid teengestaan en Eva gekritiseer. Hy het haar Christenskap bespot en geskree: “Hier kom die voorstander van die Nederlanders; sy gaan haar mense stories en leuens vertel, en hulle oplaas almal verraai.” duimnael|Kasteel de Goede Hoop circa 1680 Van Riebeeck se verdraagsaamheid teenoor die Khoekhoen is tot breekpunt beproef. Op 19 Oktober 1653 het Autshumao en sy volgelinge byna al die vee van die Kompanjie gesteel en die veewagter David Jansz gedood. Toe Autshomao weer in Junie 1655 by die fort opdaag. Moes Van Riebeeck sy ontkennings en verskonings aanvaar. Die tolk Doman, wat Autshomao se taak oorgeneem het, het intussen die Kaapmans aangeraai om tydens reënweer die vee van die verversingspos te steel, aangesien Van Riebeeck se mense dan nie met klam lonte en kruit hul pangewere doeltreffend kon gebruik nie.
Toe die Kaapmans in Julie 1659 die veewagter Sijmon in’t Velt doodsteek en 68 beeste en 67 skape wegvoer, het Van Riebeeck die plaaslike soldate en burgers opkommandeer. Die Kaapmans het met 'n ontwykingstrategie gereageer, maar in 'n skermutseling is drie Khoekhoen gedood. Daar is eers in April en Mei 1660 met die verskillende leiers vrede gesluit nadat 'n vaste grenslyn en spesifieke toegangsroetes wedersyds neergelê is. Daarna is die amptelike versoeningsbeleid hervat.
Die Khoekhoen het as veewagters en in hul ruilhandel met die Kompanjie meer vertroud geraak met die Nederlandse taal, leefwyse, kleredrag en gebruiksartikels. In die eerste dekade van die verversingspos se bestaan was daar net een Christenbekeerling onder die Khoekhoen, naamlik Krotoa.
Koloniale uitbreiding en die Khoekhoen Die Khoekhoen was nooit besonder veglustig teenoor die burgers nie. Slegs enkele stamme was betrokke by herhaaldelike veediefstalle en aanslae op burgers. Die sogenaamde Tweede Khoekhoenoorlog (1673-1677) was klein in omvang. Die strafekspedisies van die owerheid teen die Cochoquas van Gonnema was ook nie juis baie suksesvol teen 'n ontwykende vyand nie.
Verskeie faktore het bygedra tot die ontstamming en vermindering van die Khoekhoen gedurende die 18de eeu. Onoordeelkundige veeruil met Kompanjiesamptenare en vryburgers, onderlinge oorloë, veediefstal en veesiektes het die Khoekhoen verarm. Baie van hulle het vir oorlewing as veewagters of wadrywers by burgers gaan werk. duimnael|Khoekhoennedersetting, 1711 Aansteeklike siektes het ook ontstamming in die hand gewerk. Die gevreesde pokke-epidemies van 1713, 1755 en 1767 het sommige Khoekhoenstamme totaal itgewis en ander se getalle dramaties uitgedun. Die voorkoms van pokke is die eerste keer op 18 April 1713 by die Slawelosie in Kaapstad aangeteken. Hierdie aansteeklike en dodelike siekte is waarskynlik deur die wasgoed van besoekende skeepslui oorgedra. Die Khoekhoen was besonder vatbaar daarvoor, en weldra is aan die owerheid gerapporteer dat Khoekhoen wat na die binneland gevlug het, die epidemie vinnig laat versprei.
Noukeurige statistieke ontbreek, maar die besoekende Nederlandse skrywer Francois Valentijn het bevestig dat die epidemie letterlik honderde Khoekhoen in sommige streke van die kolonie uitgewis het. Die Sweedse reisiger Anders Sparrman het ook in 1776 bevind dat 'n onbekende “galkoors” groot lewensverlies onder veral die Khoekhoen veroorsaak het.
Volgens 'n sensusopgawe van 1805 was daar toe slegs sowat 20 000 Khoekhoen in die Kaapkolonie oor. Hulle was teen daardie tyd 'n grondlose proletariaat wat in 'n groot mate hul eie taal en tradisionele leefwyse ingeboet het om by die Westerse leefwyse aan te pas.