duimnael|links|Lord Milner-hotel
Matjiesfontein is 'n klein nedersetting in die Victoriaanse boustyl in die hartland van die Karoo, sowat 100 kilometer noordoos van Worcester in die huidige Suid-Afrikaanse provinsie Wes-Kaap.
Ontstaan
Die gehug wat aanvanklik net 'n halte langs die spoorlyn was, waar stoomlokomotiewe van vars water voorsien is, is in 1884 deur die Britse immigrant James ("Jimmy") Douglas Logan gestig. In 1889 het Logan 'n mineraalwaternywerheid hier opgerig en water en ander verversings aan treinpassasiers verkoop.
Logan se bekende Lord Milner-hotel is in 1899 geopen. Die lug van die Karoo-halfwoestyn is destyds ook as baie geskik vir die behandeling van longsiektes geag, en derhalwe het Matjiesfontein toe vinnig ook bekende persoonlikhede soos Cecil Rhodes, Edgar Wallace, lord Randolph Churchill en Rudyard Kipling as gaste ontvang. Die skryfster Olive Schreiner het ook tussen 1890 en 1892 op die dorp gewoon.
Twintigste eeu Tydens die Tweede Vryheidsoorlog (1899-1902) het Logan se hotel as 'n Britse militêre hospitaal gedien. Met Jimmy Logan se afsterwe in 1920 raak Matjiesfontein uit die mode. Eers in 1968 herleef die dorpie met die heropening van die hotel. In 1970 is Matjiesfontein tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar.
Algemeen Matjiesfontein met sy gerestoureerde stasie en 'n nuwe konferensiesentrum is deesdae weer 'n gewilde bestemming vir welgestelde Kapenaars. Die N1 nasionale pad gaan digby die dorp verby. Die R354-provinsiale pad tak hier van die N1 af in 'n noordelike rigting na Calvinia via Sutherland.
Bibliografie Allen, Dean: Empire, war & cricket in South Africa. Logan of Matjiesfontein. Kaapstad: Zebra Press, 2015.
Sien ook Logan-korrupsieskandaal Lys van dorpe in Suid-Afrika
Eksterne skakels
Reis in Afrikaans - Matjiesfontein
Kategorie:Nedersettings in die Wes-Kaap