Sir Stirling Moss OBE (* Londen, 17 September 1929 – 12 April 2020) was 'n Britse renjaer. Hy was die seun van Alfred Moss wat die veertiende plek behaal het in die Indianapolis 500-wedren van 1924.
duimnael|links|Moss in 'n Lotus by die Nürburgring in 1961 duimnael|links|Moss in 'n Mercedes-Benz W196 by Goodwood 2014 Stirling Moss was 'n pionier in die Britse Formule Een-wedrenbedryf en word as een van die beste renjaers beskou wat nooit die Wêreldkampioenskap vir renjaers kon wen nie. Hy het tussen 1955 en 1958 vier keer die tweede plek behaal.
Moss het 194 van sy 497 wedrenne tussen 1948 en 1962 gewen, wat 16 Formule Een Grand Prix-oorwinnings insluit. Vir Moss was die manier waarop die stryd gevoer word net so belangrik as die uitslag en sy goeie sportmangees het hom moontlik die Wêreldkampioenskap gekos toe hy sy teenstander Mike Hawthorn verdedig het toe daar in Portugal oorweeg is om hom weens 'n oortreding te straf. Hawthorn het Moss toe uiteindelik met 'n enkele punt geklop ten spyte daarvan dat hy slegs een wedren gewen het teenoor Moss se vier.
In 1962 is Moss ernstig beseer tydens 'n ongeluk in Goodwood in sy Lotus. Hy het goed herstel maar te vroeg teruggekeer tot motorwedrenne. Hy het egter agtergekom dat hy nie meer die mas kon opkom nie en sy uittrede uit Grand Prix-wedrenne aangekondig. Hy het egter aanhou deelneem aan veteraanmotorwedrenne.
Een van sy beroemdste wedrenne was tydens die "Mille Miglia" van 1955, 'n 1 500 km-ooppad-uithouren in Italië, wat hy in 'n rekordtyd van 10 uur en 8 minute gewen het (Juan Manuel Fangio het tweede geëindig). Sy medebestuurder in die Mercedes-Benz 300 SLR was die joernalis Dennis Jenkinson wat hom ondersteun het met notas oor die besonderhede van die lang pad ('n innovasie wat direk gelei het tot die instel van die navigator met sy roetenota's in tydrenne).
Moss se eerste Formule Een-oorwinning was in 1955 by die Britse Grand Prix te Aintree. Dit was die enigste wedren waarin hy sy spanmaat, vriend, mentor en teenstander by Mercedes, Juan Manuel Fangio uitgestof het. Daar word egter dikwels gegis oor die moontlikheid dat Fangio vir Moss op die laaste draai laat verbykom het sodat hy voor sy tuisskare kon wen.
Tydens sy loopbaan het Moss in verskeie motors gejaag, onder meer in 'n privaat Jaguar, vir Maserati, Vanwall, Lotus vir Cooper en dan ook vir die magtige Mercedes-Benz.
Eksterne skakels
Sir Stirling Moss – amptelike webwerf Grand Prix History – Hall of Fame, Stirling Moss Sir Stirling Moss – President van die Brooklands Society
Kategorie:Britse renjaers Kategorie:Engelse sportlui Kategorie:Formule Een-renjaers Kategorie:Geboortes in 1929 Kategorie:Sterftes in 2020