regs|duimnael|200px|Jan Meyer.
Johannes Petrus Meyer (noemnaam Jan, Prins Albert, Kaapkolonie, 26 Junie 1842 – Johannesburg, 2 Desember 1919) was ’n staatsamptenaar, Volksraadslid, myneienaar en boer en die man na wie Meyerton en Meyersdal (Alberton) genoem is. Die voorstad Linmeyer is waarskynlik na sy skoondogter Lynne genoem.
Meyer het geen geringe aandeel aan die opsporing van die hoofrif op die Witwatersrand gehad nie. As veldkornet moes hy gedurig inspeksies doen en bakens oprig. Dit het hom die gulde geleentheid gebied om die geologiese strukture te bestudeer en waar te neem waar dagsome uitsteek. Baie van die vroeë opsporings van die hoofrif was te danke aan sy opmerksaamheid. Dit was op sy aanbeveling dat G.J. du Plessis die hoofrif op die plaas Turffontein opgespoor het. Hy was die stigter van Meyerskamp, later bekend as Natalkamp, en as mede-eienaar van die Meyer-en-Charltonmyn was hy een van die eerste Afrikaanse mynmagnate.
Hy het Johannesburg van 1887 tot 1892 in die Volksraad verteenwoordig as die eerste Volksraadslid vir Johannesburg. Sake waarvoor hy hom beywer het, was die verkryging van ’n munisipaliteit vir Johannesburg ('n saak wat wel gerealiseer het), die aanbou van die Delagoabaai-Pretoriaspoorweg deur Johannesburg, wat dui op die besef wat hy gehad het van die belangrikheid van Johannesburg as ’n mark vir plaaslike en ingevoerde landbouprodukte en die feit dat baie nywerheidsmateriaal deur Johannesburg benodig is. Hy het klaarblyklik besef die korter afstand na die hawe sou die mynmagnaat, handelaar, nyweraar asook die boere om Johannesburg bevoordeel. Derdens het hy ’n rol gespeel in die instelling van die Tweede Volksraad, wat die uitlanders se belange verteenwoordig het.
Herkoms en jeug Meyer was ’n seun van Johan George (Org) Meyer en Hester Christiana Elizabeth Mulder. Johan Meyer het die Groot Trek as jong vrygesel meegemaak, waarskynlik as lid van Andries Henrik Potgieter se geselskap, en het saamgetrek tot by Ohrigstad. Lede van die trekgeselskap het op pad volgens oorlewering laer getrek naby die huidige standplaas van die NG gemeente Alberton-Suid en op die grond waarop die gemeente se pastorie gebou is, is die graf van ’n Voortrekkervrou en –kind. Org was bes moontlik lid van die geselskap van 11 man wat in 1835 noordwaarts gery het om Louis Tregardt op te soek en die wêreld in die noorde te verken. Met sy terugkeer in Augustus 1836 was hy net betyds om sy mense te organiseer om hulle te verdedig by Vegkop in Oktober daardie jaar, toe die Matabele hulle aangeval het. Blykbaar het Org Meyer toe na Prins Albert teruggekeer. Daar is hy in 1840 met Hester Mulder getroud en op 26 Junie 1842 is Johannes Petrus (Jan) daar gebore, vyf maande voor die stigting van die NG gemeente Prins Albert.
In 1844 het die twee jaar oue Jan saam met sy ouers na Transvaal gereis, waar sy vader eienaar van drie plase geword het: Elandsfontein (waarop hulle gewoon het), Klipriviersberg en Alwynspoort. Die gesin het die Karoo laat in die 1840's besoek, want met hul terugkeer het Jan se vader ene Smit op Klipriviersberg aangetref waar dié hom tuisgemaak het. Org Meyer was volgens oorlewering maar te bly om ’n buurman in die ylbevolkte streek te hê; daarom het hy die plaas aan Smit gegee. In 1860 is Smit oorlede en nadat sy boedel afgehandel is, het Klipriviersberg in die mark gekom. Jan Meyer wou die plaas bekom, maar omdat die hoofpad tussen Vereeniging en Pretoria naby die plaas verbyloop, het ’n paar handelaars ook hul oog op die plaas gehad met die doel om ’n winkel daarop op te rig. Dit was ook die oornemende Jan Meyer se gedagte. Plase kon destyds verniet bekom word, maar omdat hier sprake van mededingers was, is die hoogste bod van £500 vir die plaas op Jan Meyer toegeslaan. Jan het net £200 gehad, maar die res geleen by ene Erasmus, want later by Irene geboer het. Jan het ’n winkel op die plaas opgerig en begin transport ry.
In 1855 het die Meyers weer hul familie op Prins Albert besoek. Op pad terug, by Colesberg, is Org Meyer oorlede. So het die verantwoordelikheid om die gesin terug in Transvaal te kry, op die 13-jarige Jan se skouers gerus. Vol riviere moes hulle met oorsteek en die vee moes snags beskerm word teen wilde diere. Dit het baie gereën en daar was nie droë hout vir vuurmaak nie. ’n Broer van Jan het in 1851 verkluim, terwyl hy met ’n wa en span osse langs die Jukskeirivier hout gaan haal het. Daar het ’n hewige storm losgebars en kapok het hulle oorval. Die vee en die swart werkers het die loop geneem en hy het onder die wa skuil gehou.
Jan Meyer is getroud met Christina Salmina Meyer (nie verwant nie) en in 1860 het hy sy eerste huis gebou op die grond waar die nuwe Albertonse burgersentrum nou staan. Hierdie stukkie grond van 13 morg, het hy vir £13 van sy stiefvader, Abraham Viljoen, gekoop. Sy koringland en vrugtebome is met ’n leivoor uit die Natalspruit natgelei. Christina is met die geboorte van hulle vierde dogter op 31 Julie 1870 oorlede. Hy het op dié grond gebly tot met die dood van hierdie dogtertjie op 29 Augustus 1871. In 1872 is hy weer getroud, met die weduwee Stephina Petronella Botha, gebore Strydom, waarna hulle hul intrek op Klipriviersberg geneem het. Hy het ’n seun en vier dogters gehad.
Die enigste formele onderrig wat hy ontvang het, was van sy weduweemoeder, maar ondanks ’n lewe van armoede en ontberinge in sy jeug het hy vroeg reeds aanleg getoon vir openbare sake.
Jong lewe In Augustus 1881 is Meyer verkies as veldkornet vir die wyk Kliprivier, distrik Heidelberg. Met verloop van tyd het hy op sy drie groot plase met vee geboer en ’n saaiery volgens die beste landboumetodes van daardie tyd aan die gang gesit het. Tydens die Transvaalse Vryheidstryd was Meyer deel van die kommando wie se taak dit was om die Britse soldate op die verskillende dorpe vas te keer en afgesny te hou. Toe dit vir sir Owen Lanyon, Britse administrateur van Transvaal en opvolger van sir Theophilus Shepstone, duidelik word dat die Transvalers vasbeslote was om die bestuur van die land oor te neem, het hy ’n afdeling soldate beveel om van Lydenburg na Pretoria te gaan om die garnisoen daar te versterk. Die Transvalers wou dit voorkom en het kmdt. Frans Joubert opdrag gegee om hierdie opmars met ’n kommando te stuit. Dit het tot die eerste groot slag van die oorlog gelei. Op 20 Desember 1880 het die Slag van Bronkhorstspruit plaasgevind, waartydens die grootste deel van die Engelse soldate binne enkele minute gewond of gedood is. Jan Meyer se verdere bewegings tydens die Eerste Vryheidsoorlog is nie bekend nie, maar hy moes hom onderskei het, want in dié tyd is hy as veldkornet vir Kliprivier aangestel. In dié hoedanigheid het hy ’n belangrike rol in die ontdekking van goud gespeel.
Die ontdekking van goud duimnael|links|300px|'n Kaart van die plase waarop die Witwatersrand aangelê is met die dagsoom daarop aangedui. Meyer het eers op die plaas Elandsfontein en daarna tot sy dood op Klipriviersberg gewoon. Met die ontdekking van goud op Barberton het Meyer daar besoek afgelê en waardevolle kennis opgedoen rakende die identifisering van gouddraende erts. Toe dit in die 1880's bekend word dat daar ook goud op die Rand was, het Meyer volgens oorlewering, voorbeelde van die gouddraende erts bymekaar gemaak en dit na Pretoria geneem om die owerheid se aandag daarop te vestig.
In 1884 het hulle hom opdrag gegee om die bakens van die plase in sy wyk na te gaan om vas te stel of daar nie stukkies grond oorgebly het wat geen eienaar het nie. Dit het bekendgestaan as uitvalgrond en sou dan tot staatsgrond geproklameer word. Dit het 18 maande geduur om die opdrag uit te voer. So het hy op die Witwatersrand so ’n stuk grond gekry wat hy, volgens oorlewering, Randjeslaagte genoem het. Die staat het in dié tyd – en veral omdat die staatskas juis toe leeg was – hulle veldkornette baie min betaal en omdat hy 18 maande in die saal was, het hy die owerheid versoek om as betaling vir die werk wat hy gedoen het nadat die Staatsekretaris vir hom gesê het dat die staat hom nie kon betaal nie, hierdie stukkie grond aan hom te gee. Die Volksraad was nie in sitting nie en die staatsekretaris het gesê hulle sou eers moes wag tot die volgende sitting om oor die versoek te besluit.
Intussen het dit geblyk dat die Witwatersrand baie goud gehad het en het die staat besluit om eerder ’n dorp op die grond te stig, maar dat hulle die dorp na hom sou noem. Geen dokumentêre bewys bestaan dat die Staatsekretaris hierdie inligting aan Meyer oorgedra het nie; Johannesburg is trouens nie na hom nie, maar na Christiaan Johannes Joubert en Johann Rissik genoem.
In die openbare lewe Die ontdekking van goud het gelei tot ’n toestroming van delwers na die Rand. Dit het praktiese probleme opgelewer vir die grondeienaars. Oral het delwers toestemming gevra om op plase te delf. In ander gevalle, soos met die eienaar van die plaas Doornfontein, F.J. Bezuidenhout, het hulle sonder toestemming begin delf. Kapitaliste uit Kimberley het opsies op plase geneem of selfs plase opgekoop. In Pretoria het die owerheid eers gemeen die stormloop sou soortgelyk wees aan dié by Pelgrimsrus, Barberton en Lydenburg, naamlik tydelik. Al staatsamptenaar op die toneel was veldkornet Meyer en was dit sy taak om sake te behartig soos die afpenning van kleims, ooreenkomste tussen grondeienaars en delwers, toekenning van delwerslisensies en die toepassing van die Grondwet.
Die ontdekking het groot verantwoordelikhede op Meyer se skouers geplaas, maar hom ook geleentheid gegee om geldelik baat te vind by die vonds. Omdat die owerheid gemeen het die goudkoors sou mettertyd afkoel, moes Meyer ook die rol van mynkommissaris vervul. Op 5 Julie 1885 (volgens die bron, maar bes moontlik 1886) het ’n prospekteerlisensie uitgeneem en op die plaas Doornfontein van sy vriend F.J. Bezuidenhout vir homself kleims afgepen. In vennootskap met ene Charlton het hy die Meyer & Charltonmyn opgerig, ’n baie ryk myn.
Kort voor lank het die stormloop so moeilik geword om te beheer dat hy onder meer die staat versoek het om die gebied tot openbare delwerye te verklaar. In Pretoria het die owerheid toe besef wat die waarde van die goudvonds was en op 4 Augustus 1886 besluit om die gebied as openbare delwery te proklameer. C.J. Joubert en J.F.B. Rissik is na die gebied gestuur om te bepaal watter plase deur hierdie besluit geraak sou word. Hierin moes hulle ten nouste met Meyer as plaaslike veldkornet en tydelike mynkommissaris saamwerk.
Voorrade vir die winkel op sy plaas Klipriviersberg moes van Kimberley of Pietermaritzburg af aangery word met ’n ossewa. Gevolglik was hy bekend met ’n hele aantal Natallers. Mettertyd het ’n delwerskamp naby sy myn en langs die spruit opgespring wat hoofsaaklik deur Natallers bewoon is. Hierdie kamp het die naam Meyerskamp (later Natalkamp) gekry en die spruit het bekend geword as Natalspruit.
Die afpen van kleims Weens die geologiese struktuur van die Rand was dit onmoontlik vir afsonderlike kleimhouers om hul kleim alleen te bewerk; swaarmasjinerie sou dus nodig wees wat net die kapitaliste kon bekostig. Die verkryging van nog kleims was dus nodig. Om die huurders en eienaars van plase die geleentheid te gee om voldoende aaneengeskakelde kleims te bekom, is aanbeveel dat ’n mynpagbrief op hul grond van die owerheid verkry word. Dis ’n bepaalde stuk grond wat die staat aan die eienaar toeken en waarop hy teen betaling van 5/- per morg per jaar kon myn. Dit het die grondeienaar bevoordeel. ’n Delwerslisensie het £1 per kleim per maand gekos. Die houer van ’n mynpagbrief was in groot aanvraag en eienaars of huurders kon ’n goeie prys daar-voor vra.