Die Europese Suidelike Sterrewag (ESO, amptelik: Europese Organisasie vir Sterrekundige Navorsing in die Suidelike Halfrond) is 'n interregeringsorganisasie van 16 lande vir sterrekundige navorsing. Dit is in 1962 gestig en het moderne geriewe op die been gebring vir die waarneming van die suidelike naghemel. Die organisasie het 730 personeellede en ontvang jaarlikse lidlandbydraes van sowat €131 miljoen. Sy sterrewagte is in Noord-Chili geleë.

duimnael|links|upright|Die ESO se logo. Die ESO het van die grootste en tegnologies mees gevorderde teleskope gebou. Dit sluit in die New Technology Telescope en die Baie Groot Teleskoop (VLT), wat bestaan uit vier verskillende teleskope elk met 'n primêre spieël van 8,2 m en vier kleiner hulpteleskope. Die Atacama Large Millimeter Array (ALMA) neem die heelal waar in millimeter- en submillimeter-golflengtes en is die wêreld se grootste sterrekundeprojek nog op die grond. Dit is in Maart 2013 voltooi danksy internasionale samewerking deur Europa (verteenwoordig deur die ESO), Noord-Amerika, Oos-Asië en Chili.

Tans in aanbou is die Uiters Groot Teleskoop (ELT). Dit sal 'n gesegmenteerde spieël van 39,3 m gebruik en sal in 2024, wanneer dit in werking gestel word, die grootste optiese reflektorteleskoop ter wêreld wees. Dit sal planete om ander sterre kan bestudeer, asook die eerste voorwerpe in die heelal, supermassiewe swartkolke en die aard en verspreiding van donker materie en donker energie, wat die heelal oorheers.

Wetenskaplikes het met die ESO se waarnemingsgeriewe verskeie sterrekundige ontdekkings gedoen en sterrekundige katalogusse saamgestel Ontdekkings sluit in die verste gammaflits en bewyse van die swartkolk in die middel van die Melkweg. In 2004 het die VLT sterrekundiges in staat gestel om die eerste foto te neem van 'n eksoplaneet (2M1207b) wat 173 ligjare van hier om 'n bruindwerg wentel. Die High Accuracy Radial Velocity Planet Searcher (HARPS)-instrument wat in 'n ander ESO-teleskoop geïnstalleer is, het gelei tot die ontdekking van eksoplanete, insluitende Gliese 581 c, een van die kleinste bekende planete buite die Sonnestelsel.

Geskiedenis Die idee dat Europese sterrekundiges 'n groot gemeenskaplike teleskoop moet bou, het in 1953 by die Leidense Sterrewag in Nederland ontstaan by Walter Baade en Jan Oort. Oort het 'n saamtrek met 'n groep sterrekundiges in Leiden gereël om dit op 21 Junie dié jaar te oorweeg. Op 26 Januarie 1954 is 'n ESO-verklaring deur sterrekundiges van ses Europese lande onderteken waarin onderneem word om 'n gesamentlike Europese sterrewag in die Suidelike Halfrond te bou.

duimnael|Die ESO-hoofkwartier uit die lug gesien. In dié tyd was alle reflektorteleskope met 'n lensopening van groter as 2 m in die Noordelike Halfrond geleë. Die besluit om dit in die suide te bou, het ontstaan uit die behoefte aan waarnemings van die suidelike hemelruim; sommige voorwerpe soos die middel van die Melkweg en die Magellaanse Wolke kan net uit die Suidelike Halfrond bestudeer word.

Hoewel die aanvanklike plan was om teleskope in Suid-Afrika te bou, waar reeds 'n paar Europese sterrewagte was, het toetse van 1955 tot 1963 getoon 'n terrein in die Andes was verkieslik. Op 15 November 1963 is Chili gekies as die ideale plek. Dit is voorafgegaan deur die ondertekening van die ESO-konvensie op 5 Oktober 1962 deur België, Duitsland, Frankryk, Nederland en Swede.

In 1966 is die eerste ESO-teleskoop op die La Silla-terrein in Chili in werking gestel. Omdat CERN, nes die ESO, gesofistikeerde instrumente het, het die sterrekundevereniging hom al hoe meer tot die kernnavorsingsliggaam gewend vir advies, en 'n samewerkingsooreenkoms is in 1970 deur die ESO en CERN onderteken. 'n Paar maande later het die ESO se teleskoopafdeling in 'n CERN-gebou in Genève ingetrek en die ESO se Lugatlaslaboratorium is op 'n CERN-eiendom gevestig.

Die ESO se Europese afdelings het in 1980 in die nuwe ESO-hoofkwartier in Garching naby München, Duitsland, ingetrek.

Lidlande duimnael|Die ESO se lidlande. duimnael|Die Melkweg glinster helder bo die ALMA-antennas by Chajnantor. Land Datum aangesluit 1962 1962 1962 1962 1962 1967 1981 24 Mei 1982 27 Junie 2000 8 Julie 2002 1 Julie 2004 1 Julie 2006 1 Januarie 2007 1 Julie 2008 29 Desember 2010 (hangende) 28 Oktober 2014 vanaf 2018

Chileense sterrewagterreine Hoewel die ESO se hoofkwartier in Duitsland is, is sy teleskope en sterrewagte in Noord-Chili, waar die organisasie gevorderde, grondgebaseerde sterrekundegeriewe bedien: La Silla, met die New Technology Telescope (NTT); Paranal, met onder meer die Baie Groot Teleskoop (VLT); Llano de Chajnantor, met die APEX (Atacama Pathfinder Experiment, 'n submillimeterteleskoop) en ALMA (Atacama Large Millimeter/submillimeter Array).

Dit is van die beste terreine vir sterrekundige waarnemings in die Suidelike Halfrond. 'n ESO-projek wat tans aan die gang is, is die Uiters Groot Teleskoop (Extremely Large Telescope, ELT), 'n teleskoop van 40 m met vyf spieëls. Dit sal die grootste optiese en naby-infrarooiteleskoop in die wêreld wees. Bouwerk het in Junie 2014 begin. Die ELT word op 'n ander, vierde terrein (Cerro Armazones) gebou en sal na verwagting in 2024 klaar wees.

Elke jaar is daar sowat 2 000 versoeke om die ESO se teleskope te gebruik, vier tot ses keer soveel nagte as wat beskikbaar is. In 2009 is meer as 650 geskrifte gepubliseer wat op ESO-data geskoei was.

ESO-teleskope genereer 'n groot hoeveelheid data teen 'n hoë spoed, en dit word in 'n permanente argief in die ESO-hoofkwartier gebêre. Die argief het sowat 1,01 petagrepe data.

ESO-teleskope Naam Afk. Grootte Soort Ligging Jaar  ESO-3,6 m-teleskoop, met HARPS ESO 3,6m 3,57 m Opties en infrarooi La Silla 1977  MPG/ESO-2,2 m-teleskoop MPG 2,20 m Opties en infrarooi La Silla 1984  New Technology Telescope NTT 3,58 m Opties en infrarooi La Silla 1989  Baie Groot Teleskoop VLT 4 × 8,2 m4 × 1,8 m Opties tot middel-infrarooi Paranal 1998  Atacama Pathfinder Experiment APEX 12 m Millimeter-/submillimeter-golflengtes Chajnantor 2005  Visible and Infrared Survey Telescope for Astronomy VISTA 4,1 m Naby-infrarooi, opname Paranal 2009  VLT Survey Telescope VST 2,6 m Opties, opname Paranal 2011  Atacama Large Millimeter/submillimeter Array ALMA 50 × 12 m12 × 7 m4 × 12 m Millimeter-/submillimeter-golflengtesInterferometer-rangskikking Chajnantor 2011  Uiters Groot Teleskoop ELT 39,3 m opties tot middelinfrarooi Cerro Armazones 2024ALMA is 'n vennootskapsprojek van Europa, die VSA, Kanada, Oos-Asië en Chili.Bykomende ESO-navorsingsgeriewe is in Santiago, Chili, geleë en sluit in 'n biblioteek, rekenaarbronne en programme vir besoekende wetenskaplikes.ESO het ook nou bande met ander sterrewagte en universiteite in die land.Bron: ESO – Telescopes and Instrumentation

La Silla

La Silla, in die suidelike Atacamawoestyn 600 km noord van Santiago de Chile op 'n hoogte van 2 400 m, is die tuiste van die ESO se aanvanklike sterrewag. Nes ander sterrewagte in die gebied is La Silla ver weg van enige ligbesoedeling en is die naghemel een van die donkerstes op Aarde. Daar is verskeie teleskope, onder meer die ESO-3,6 m-teleskoop, die New Technology Telescope (NTT) en die Max-Planck-ESO-teleskoop van 2,2 m.

By die sterrewag is besoekerinstrumente wat vir besoeke aan 'n teleskoop vasgemaak word. La Silla het ook nasionale teleskope, soos 'n Switserse teleskoop van 1,2 m en 'n Deense teleskoop van 1,5 m.

Sowat 300 publikasies per jaar gaan oor werk van dié sterrewag. Ontdekkings hier sluit in die High Accuracy Radial Velocity Planet Searcher (HARPS)-waarneming van die planeetstelsel van die ster Gliese 581, wat die eerste bekende rotsplaneet in 'n bewoonbare sone buite die Sonnestelsel bevat. Verskeie teleskope by La Silla het 'n rol gespeel in die verbinding van gammaflitse met die ontploffing van enorme sterre. Die sterrewag het ook 'n rol gespeel in die bestudering van die supernova SN 1987A.

ESO 3,6 m-teleskoop Die ESO 3,6 m-teleskoop is in 1977 in werking gestel. Dit is intussen opgradeer met onder meer die installering van 'n nuwe sekondêre spieël. Die konvensioneel ontwerpte stiebeuelmontering is hoofsaaklik vir infrarooi-spektroskopie gebruik; dit bevat nou die HARPS-spektrograaf wat gebruik word in die soeke na eksoplanete en vir asteroseismologie. Die teleskoop is ontwerp vir radialesnelheidsakkuraatheid oor baie lang tydperke (in die orde van 1 m/s).

New Technology Telescope Die New Technology Telescope (NTT) het 'n asimutale montering. Dit is 'n Ritchey-Chrétien-teleskoop van 3,58 m wat in 1989 in gebruik geneem is en die eerste in die wêreld met 'n rekenaarbeheerde hoofspieël. Die buigbare vorm word tydens waarnemings aangepas om optimale fotogehalte te verseker. Die sekondêre spieël se posisie kan ook in drie rigtings verstel word. Hierdie tegnologie (wat deur die ESO ontwikkel is en bekend is as "aktiewe optika") word nou in alle groot teleskope gebruik, insluitend die VLT en die toekomstige ELT.

Die ontwerp van die agthoekige omhulsel van die NTT is innoverend. Die teleskoopkoepel is relatief klein en word deur 'n stelsel flappe geventileer wat egalige lugvloei oor die spieël stuur wat turbulensie verminder en skerper beelde tot gevolg het.

MPG/ESO-2,2 m-teleskoop Dié 2,2 m-teleskoop word sedert vroeg in 1984 by La Silla gebruik en word onbepaald aan die ESO geleen deur die Max Planck-geselskap (MPG). Die gebruik daarvan word gedeel deur die MPG en ESO, terwyl die onderhoud die ESO se verantwoordelikheid is.

Sy instrumente sluit in 'n 67 miljoen-pieksel-wyeveldbeelder met 'n sigveld so groot soos die volmaan. Dit het al talle foto's van hemelliggame geneem. Ander instrumente is GROND (Gamma-Ray Burst Optical Near-Infrared Detector), wat soek na die nagloed van gammaflitse, en die hoëresolusie-spektrograaf FEROS (Fiber-fed Extended Range Optical Spectrograph), wat gebruik word om gedetailleerde studies van sterre te doen.

Ander teleskope

By La Silla is verskeie nasionale en projekteleskope wat nie deur die ESO bedryf word nie. Onder hulle is die Switserse Euler-teleskoop en die Deense Nasionale Teleskoop, asook die REM-, TRAPPIST- en TAROT-teleskoop.

Die Euler-teleskoop is 'n 1,2 m-teleskoop wat deur die Geneefse Sterrewag in Switserland gebou is en bedryf word. Dit word gebruik vir hoëpresisie-radialesnelheidsmetings wat hoofsaaklik belangrik is in die soeke na groot eksoplanete in die Suidelike Halfrond. Sy eerste ontdekking was 'n planeet om Gliese 86. Ander waarnemingsprogramme fokus op veranderlike sterre, asteroseismologie, gammaflitse, die monitering van aktiewe sterrestelselkerns en gravitasielense. Die Deense Nasionale Teleskoop van 1,54 m word sedert 1979 gebruik. Dit het aansienlike beperkings weens sy montering en die beperkte ruimte in sy koepel. Die Rapid Eye Mount-teleskoop is 'n klein outomatiese teleskoop met 'n vinnige reaksie en 'n primêre spieël van 60 cm. Die altasimut-teleskoop is sedert Oktober 2002 in werking. Die hoofdoel daarvan is om die nagloed van gammaflitse dop te hou wat deur die Swift Gamma-Ray Burst Mission-satelliet waargeneem word. Die Belgiese TRAPPIST is 'n gesamentlike projek deur die Universiteit van Luik en die Geneefse Sterrewag. Die 0,6 m-teleskoop spesialiseer in komete en eksoplanete, en was een van die min teleskope wat 'n stelêre okkultasie van die dwergplaneet Eris waargeneem het; dit het gelei tot die onthulling dat Eris kleiner as Pluto kan wees.Newscientist.com, Kelly Beatty - Former 'tenth planet' may be smaller than Pluto, November 2010