Die groei van 'n lewende organisme is gewoonlik uitwendig sigbaar deurdat die organisme al hoe groter word. Hoewel kristalle en druipsteen met verloop van tyd ook groter word (kristalgroei genoem), is die groei van lewende organismes wesenlik anders. In die geval van lewende organismes is groei 'n aktiewe proses wat van binne gereguleer word. Al die inwendige dele van die organisme kan by die groeiproses betrokke wees, terwyl kristalgroei en die toename in grootte van druipstene uitsluitlik op die toevoeging van materiaal aan die buitekant berus.
Die groei van 'n organisme is spesie-georiënteerd en word erflik bepaal. Dit lyk soms of sommige plante onbepaald aan hou groei, maar elke organisme bereik gewoonlik 'n maksimumgrootte.
Plante groei nie net as gevolg van selvermeerdering nie, maar ook vanweë selvergroting. Die opname van water in die selvakuool bring mee dat die sel baie opswel en dit verklaar die merkbare groei van byvoorbeeld onkruid ná 'n reënbui. In plante vind egter seldeling gewoonlik net in afsonderlike weefsel aan die toppunt van die stingel of die wortel plaas.
Hoewel dierlike selle ook eers ná seldeling hul normale volume kan bereik, is daar hier geen ware selvergroting soos in die geval van plante nie omdat die dierlike sel geen vakuool het en dus geen water kan opneem nie. By diere vind groei wel op alle plekke in die liggaam plaas.
Die groei van kinders word deesdae met behulp van groeikurwes waargeneem. Elke moontlike afwyking van die normale groeipatroon kan dus vinnig opgespoor word. Die vernaamste bepalers van groei is die groeihormone, die skildklierhormone en geslagshormone. Groei-afwykings is dikwels te wyte aan hormonale faktore, hoewel erflike en chromosomale invloede, wanvoeding en siekte ook 'n rol kan speel.
Plante duimnael|Baba soetrissie ''Capsicum annuum'' As die groei van plante met dié van diere vergelyk word, word bemerk dat die dier ná sy jeug ophou groei. Die volwasse dier het 'n bepaalde maksimumgrootte. Plante groei egter elke seisoen verder, dikwels eeue lank, en kan geweldig groot word. Een indrukwekkende voorbeeld is die reuse-mammoetboom (Sequoia gigantea) in Kalifornië. Tropiese liane word nooit baie dik nie, maar kan meer as 120 m hoog word.
Groeiwyses Selgroei kan plaasvind deurdat die protoplasma vermeerder. Vir hierdie doel word stowwe soos eiwitte en vette voortdurend in die sel vervaardig. Sodra die selle volgroei is, verloor hulle gewoonlik die vermoë om te deel en neem dan 'n bepaalde vorm en funksie aan. By diere en verskeie laer plante is plasmagroei die enigste moontlike vorm van selgroei. Hoër plante kan boon op deur selvergroting groei. Wanneer die plasmagroei voltooi is, kan die sel deur wateropname in die vakuool en groot blaas wat met water en opgeloste soute gevul is geweldig in grootte toeneem. Die selwand groei saam deur die vorming van nuwe materiaal. Selvergroting vind gewoonlik in 'n lengterigting pi aas; daarom word hierdie soort groei gewoonlik strekkingsgroei genoem. Die voordeel van hierdie groeiwyse is dat dit baie min materiaal en energie vereis. Die volume van die sel en die grootte van alle organe neem slegs toe as gevolg van die opneem van water. Die merkbare groei van onkruid ná 'n reënbui is 'n goeie voorbeeld van hierdie groeiwyse.
Meristeme Die ontkieming van 'n saadjie is gewoonlik die begin van die plant se sigbare groei. Die jong kiemplantjie leef aanvanklik van die reserwevoedsel wat in die saadlobbe geberg word, maar sodra die blare verskyn, kan die jong plantjie sy eie organiese stowwe begin opbou.
Reeds in 'n baie vroeë stadium van die plantjie se embrionale ontwikkeling kan twee seltipes onderskei word. Sommige selle verloor hul vermoë om te deel, terwyl ander selle aan hou deel. Hierdie seldelings en die daaropvolgende vergroting van die selle is beperk tot 'n klein streek, die meristeem. Ook by volwasse plante vind groei slegs in die meristeem plaas. Die embrionale meristeme (primêre meristeem) behou dwarsdeur die plant se lewe die vermoë om te deel. Die selle wat só gevorm word, is die primêre weefsel van die plant en vervul 'n spesifieke funksie. Ouer en dooie selle word ook uit die meristeem vervang.
As die weefsel van selle wat reeds gedifferensieer het, byvoorbeeld ná beskadiging, weer begin deel, word van die vorming van 'n sekondêre meristeem gepraat. Die weefsel wat só gevorm word, word sekondêre weefsel genoem. 'n Voorbeeld van sekondêre weefsel is kambium wat in die stingel gevorm word as 'n voortsetting van die kambium wat reeds in die vat bundels is. As volgroeide weefsel beskadig word, ontstaan (sekondêre) selweefsel wat die wond sluit (wondmeristeem).
Die groei van wortels en stingels Die vorming van die wortels, stingels en blare van 'n plant word deur die primêre meristeme behartig. Die eerste 3 cm van die stingelgroeipunt bevat verskillende delingstreke wat feitlik al die selmateriaal verskaf. Die apikale (top-) meristeem vorm aan weerskante van die stingelgroeipunt klein heuweltjies met delende selle: die aanleg van die blare (blaarprimordiums).
Bokant die apikale meristeem lê die laterale meristeem, waaruit sytakke en blomme ontwikkel. Gewoonlik word die laterale meristeem eers aktief nadat die stingelpunt afgesny is. Die apikale meristeem oorheers die laterale meristeem (apikale dominansie). Net onder die apikale meristeem lê die subapikale meristeem. Die selle wat hier gevorm word, rek en bring mee dat die stingel sigbaar groei. As die subapikale meristeem ontbreek sal net blare gevorm word en geen stingel nie. In so 'n geval ontstaan 'n wortelroset, soos in die geval van die weeblaar (genus Plantago).
Die stingel van die meeste tweesaadlobbige plante groei net aan die punt. Baie eensaadlobbige plante soos grasse het 'n stingel wat uit knope en litte opgebou is. Elke lit groei uit sy eie meristeem, wat net bokant die stingelknoop geleë is. Hierdie meristeem word die interkalêre meristeem genoem.
By die wortel vind die groei uit die enigste aanwesige meristeem, naamlik die apikale meristeem, plaas. Net agter hierdie delingstreek lê die sogenaamde rekstreek. Sywortels word nie soos systingels by die groeipunt gevorm nie, maar ontwikkel uit sekondêre meristeme wat later gevorm word.
Die bepalers van groei Die groei van 'n plant is van verskeie faktore afhanklik. Uitwendige faktore soos lig, water en voedsel speel 'n belangrike rol. Die temperatuur bepaal grootliks die groeitempo. By 'n gebrek aan lig word die stingels abnormaallank terwyl die vorming van blare grootliks gestrem word. Naas omgewingsinvloede het planthormone (groeistowwe) ook 'n bepalende invloed op die groei van die plant.
Diere duimnael|Pasgebore vrugtevlermuis By die meeste dierespesies gaan groei met verandering en ontwikkeling gepaard. Pasgebore diere lyk dikwels glad nie, of baie min, soos hul ouers. Hierdie verskynsel is veral opvallend by spesies wat 'n deel van hul lewens in 'n larwestadium verkeer en daarna 'n gedaantewisseling ondergaan. Selfs in minder uiterste gevalle is groei selde slegs 'n geval van groter word. Die verskillende liggaamsdele groei dikwels nie in dieselfde tempo nie. 'n Vulletjie, byvoorbeeld, lyk uiterlik soos 'n perd, maar sy bene en kop is in verhouding tot die res van sy liggaam langer en kleiner. Dit is eers in die proses van groei dat die proporsies verander en die dier 'n volwasse vorm aanneem.
Benewens die erflike eienskappe bepaal die voedselinname (vitamiene, hormone, boustowwe) en waarskynlik ook omgewingsfaktore in groot mate die groei. 'n Tekort aan 'n bepaalde voedingstof of 'n patologiese afwyking kan die groei van 'n spesifieke orgaan vertraag of selfs heeltemal agterweë laat bly. So veroorsaak 'n tekort aan vitamien D byvoorbeeld ragitis, wat gekenmerk word deur 'n swak en misvormde skelet (sogenaamde X- en O-bene). 'n Gebrek aan fosfor, kalk en ander vitamiene kan ook die normale ontwikkeling van die skedelgebeentes belemmer.
Ongewerwelde diere duimnael|Baba stokinsek In teenstelling met jong werweldiere, wat geleidelik groter word, sal 'n jong kreef byvoorbeeld tussen twee vervellings skaars groei, selfs nie eens as daar genoeg kos beskikbaar is nie. Wanneer die dier vervel en die chitienagtige pantser afgegooi word, groei hy opmerklik. ’n Nuwe, harde pantser word egter gevorm en verdere groei kan dan eers weer ná die volgende vervelling plaasvind.
Die groeiproses van insektelarwes verloop op dieselfde wyse. Die ruspe (vlinderlarwe) neem 'n groot hoeveelheid kos in en vervel 'n hele paar keer. Daarna verander dit in 'n papie en uit die papie verskyn die volwasse insek naamlik die skoenlapper. Die skoenlapper groei nie verder nie, maar speel 'n belangrike rol in die voortplantingsproses.
Baie diere wat in die see lewe, gaan deur verskeie larwestadiums sonder dat enige noemenswaardige groei plaasvind. Uiteindelik sal die larwe van byvoorbeeld 'n mossel of 'n seester na die seebodem sink en daar tot 'n klein weergawe van die volwasse dier ontwikkel. Die dier groei daarna tot die volwasse grootte.
Werweldiere Daar is ook sekere spesies werweldiere (sommige amfibieë) wat 'n deel van hul bestaan as larwes deurbring. Paddalarwes (paddavissies) broei in die water uit, uit eiers, lewe gedurende hul ontwikkeling tot volwassenheid van plante en ondergaan in hul larwe stadium geweldige veranderings. Die dier kry pote, die larwestert verdwyn en inwendig is daar ook ingrypende veranderings. Die larwe ontwikkel byvoorbeeld longe en die derm word gewysig van 'n orgaan wat plantaardige voedsel verteer tot 'n volwasse paddaderm wat aangepas is om dierlike voedsel te verteer.
Navorsers het vasgestel dat die gedaantewisseling deur hormone beheer word. By larwes van paddas en salamanders wat met skildklier gevoer is sodat hulle meer skildklierhormoon ingekry het, het die gedaantewisseling baie vinniger verloop maar die paddatjies en salamanders wat ontstaan het, was baie klein. Wanneer die larwes egter met 'n ander hormoonklier, die timusklier gevoer is, het hulle geen gedaantewisseling ondergaan nie en buitengewone groot larwes het ontwikkel. In die geval van sommige amfibiese spesies (die axolotl) is die handhawing van die larwestadium 'n spontane reaksie – 'n verskynsel wat neotenie genoem word. Benewens die hormoonreëling is die temperatuur ook belangrik vir die verloop van die gedaantewisseling. duimnael|Baba tiertjies By soogdiere word twee groeifases onderskei: die fase voor geboorte (prenatale fase) en daarna. Die groei binne die baarmoeder word deur 'n hele aantal faktore beïnvloed. Nie net erflike eienskappe nie, maar ook die voeding van die moeder, haar algemene toestand, die grootte van die plasenta en die aantal kleintjies speel 'n belangrike rol. Die jong hondjies uit 'n werpsel van 4 kleintjies is gemiddeld swaarder as die hondjies van dieselfde ras wat uit 'n werpsel van 8 kom. Die voeding van die embrio word deur die plasenta beheer. As die plasenta baie klein is, sal minder voedsel aan die embrio verskaf word en die groei sal as gevolg hiervan gestrem word teenoor dié van 'n embrio wat deur 'n groter plasenta gevoed word. Daar is 'n duidelike verhouding tussen die plasentale massa en die massa van 'n kleintjie (of kleintjies) by geboorte. Dit is by baie soogdiere en by die mens die geval.
Die groei ná geboorte is by die meeste diere aanvanklik stadig. Dikwels is daar 'n verlies aan massa vanweë die kleintjie se aanpassing by sy nuwe omstandighede ná die geboorte. Daarna tree 'n groeiversnelling in wat weer gevolg word deur 'n vertraging van groei. Uiteindelik kom die groeiproses heeltemal tot stilstand en die individu bereik volwassenheid. Hierdie groeifases toon kenmerkende S-vormige groeigrafiek.