Bernhardt Aronstam (King William's Town, 2 November 1909 – onbekend) was ’n Suid-Afrikaanse sakeman.
Hy is in die Grensgebied gebore as die seun van J. Aronstam. Hy het sy skoolopleiding aan Dale-kollege op sy geboortedorp ontvang. In die Tweede Wêreldoorlog het Aronstam diens gedoen in die Midde-Ooste. In 1945 is hy met die rang kaptein gedemobiliseer. Ná die oorlog het hy by Bayer Products aangesluit as hul Kaapse besturende direkteur. In 1952 het hy na Brittanje verhuis om beheer oor te neem van die vervaardiging van Bayer se produkte aldaar. In 1956 het hy by die skoonheidsfirma van Helena Rubenstein aangesluit as bestuurshoof in Suid-Afrika.
Aronstam is op 30 Augustus 1949 met Margaret Ebsworth getroud. Twee dogters is uit die huwelik gebore. In die vroeë sestigerjare het hulle by Sentraallaan 5, Illovo, gewoon.
Bronne Kruger, dr. D.F. 1963. Wie is wie in Suid-Afrika. Johannesburg: Vitae Uitgewers.
Kategorie:Suid-Afrikaanse entrepreneurs Kategorie:Suid-Afrikaanse militariste Kategorie:Suid-Afrikaanse Jode Kategorie:Suid-Afrikaners in die Tweede Wêreldoorlog Kategorie:Kapteins Kategorie:Geboortes in 1909