Caph (ook bekend as Beta Cassiopeiae of β Cas) is ’n Delta Scuti-veranderlike ster in die sterrebeeld Kassiopeia. Dit is ’n reusester met ’n klassifikasie van F2. Die wit ster met ’n skynbare magnitude van 2,27 het ’n absolute magnitude van 1,16.
Eienskappe Caph is een van die vyf sterre wat die "W" van Kassiopeia vorm en lê langs die helderder Schedar (Alpha Cassiopeiae). SN 1572, tradisioneel bekend as Tycho se Ster, het in 1572 sowat 5 grade noordwes van Caph gelê. Die ster is hoofsaaklik in die Noordelike Halfrond sigbaar.
Caph is ’n gelerige reusester van klas F2 III, met ’n oppervlaktemperatuur van sowat 7 000 K. Dit is meer as drie keer so groot en, met ’n absolute magnitude van 1,16, omtrent 28 keer so helder as die Son. Dit was eens ’n A-tipe ster met ’n massa van omtrent twee keer die Son s’n. Dit is op die oomblik aan die afkoel en uitsit om ’n rooireus te word. Caph se korona is gewoonlik swak.
Dit is ’n Delta Scuti-veranderlike en is die tweede helderste ster van dié soort, naas Altair. Sy helderheid wissel tussen 2,25 en 2,31 m met ’n periode van 2,5 uur.
Die ster roteer teen sowat 92% van die kritieke spoed en voltooi elke dag 1,12 rotasies. Dit gee die ster die vorm van ’n afgeplatte sferoïed, met ’n ewenaarbult wat 24% groter as die poolradius is. Dit veroorsaak dat die poolstreek ’n hoër temperatuur as die ewenaarstreek het; die verskil is omtrent 1 000 K.
Name Die ster se Bayer-naam is "Beta Cassiopeiae" en sy Flamsteed-naam "11 Cassiopeiae". Die tradisionele naam "Caph" of "Kaff" kom van die Arabiese woord كف kaf, "palm" (wat uit die Plejades strek) en "al-Sanam al-Nakah" van die Arabies vir "die kameel se boggel".
In 2016 het die Internasionale Astronomiese Unie se sternaamwerkgroep (WGSN) die naam "Caph" vir die ster goedgekeur.
Verwysings
Eksterne skakels
15px Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia
Kategorie:Bayer-voorwerpe Kategorie:Kassiopeia (sterrebeeld) Kategorie:Sterre met eiename Kategorie:Veranderlike sterre Kategorie:Flamsteed-voorwerpe Kategorie:Henry Draper-voorwerpe Kategorie:Gliese-voorwerpe Kategorie:F-tipe reusesterre