Ajatolla Ali Chamenei (Persies: سید علی حسینی خامنه‌ای , [ʔæˈliː hoseiˈniː χɒːmeneˈʔiː], ; 19 April 1939 – 28 Februarie 2026) was van 1989 tot 2026 die godsdienstige leier en staatshoof van Iran. Hy het in 1989 ajatolla Roeholla Chomeini opgevolg. Die Irannese het hom as God se verteenwoordiger op Aarde beskou en hy het die hoogste magsposisie in die land beklee.HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, Van 1981 tot 1989 was hy ook die president van Iran.

Chamenei was 'n volgeling en vertroueling van Roeholla Chomeini en as sodanig 'n teenstander van die Westerse politiek van sjah Mohammad Reza Pahlavi. Tussen 1964 en 1978 is hy om dié rede gereeld gevange geneem. Ná die val van die sjah in 1978 het hy lid geword van die Islamitiese Revolusionêre Raad, 'n minister en 'n Vrydag-imam in Teheran. As voorganger in die gebed op Vrydagmiddae het hy opruiende preke in die hoofstad gelewer, waarmee hy gelowiges in vervoering gehad het.

Op 27 Junie 1981 het hy 'n aanslag op sy lewe oorleef. Tydens 'n perskonferensie het 'n bom ontplof wat in 'n kassetopnemer weggesteek was. Hoewel Chamenei reg langs die opnemer gesit het, het hy dié aanslag oorleef. Hy was daarna aan sy regterhand gestrem. Vir sy volgelinge was dit 'n bewys dat hy 'n "lewende" martelaar was.

Ná die moord op Mohammad Ali Rajai is Chamenei deur 'n oorgrote meerderheid tot president van Iran verkies. Só het hy die eerste geestelike geword wat hierdie amp in Iran beklee het. As president het hy ook die Islamitiese Republikeinse Party gelei. Net soos sy voorganger, Chomeini, het Chamenei byna onbeperkte mag oor alle staatsinstellings uitgeoefen.

In 1985 is hy vir 'n tweede termyn herkies. In teenstelling met sy voorganger, Abolhassan Bani Sadr, het hy selde met die godsdienstige leier van Iran in konflik gekom. Ná die dood van Chomeini is Chamenei op 4 Junie 1989 tot godsdienstige leier (die opperleier) van Iran verkies.

Chamenei het konserwatiewe Islamisme voorgestaan, wat selde hervormings toelaat. Hierby het hy steun gevind van die Raad van Hoeders wat in die 1980's gestig is. Hierdie raad bestaan uit ses Sjiitiese moellahs en ses juriste en waak oor alle politieke aanstellings, parlementsbesluite en oor die toepassing van sensuur.

Aan die einde van die 1990's het hy enkele hervormings toegelaat om 'n einde aan Iran se internasionale geïsoleerde posisie te maak. Die hervormingsbeweging het in 1997, ná die verkiesing van Mohammad Chatami tot president, in volle gang gekom.

In die vroeë oggendure van 1 Maart 2026 het die Irannese staatsmedia bevestig dat Ali Chamenei in bomaanvalle op Iran gesterf het.

Verwysings

Eksterne skakels

Persoonlike webtuiste

Kategorie:Presidente van Iran Kategorie:Diktators Kategorie:Geboortes in 1939 Kategorie:Sterftes in 2026