Voor die aankoms van die Europese setlaars in die 15de eeu was die ekonomie van wat Suid-Afrika sou word, gegrond op bestaansboerdery en jag.

In die noorde, sentrale en ooste van die land het stamme van inheemse Afrika-mense die grond op 'n gemeenskaplike grondslag bewoon onder stamkapteinskappe. Dit was oorwegend 'n pastorale ekonomie en rykdom is gemeet aan die aantal beeste wat 'n man het. Bevolkingsgroei het druk op die beskikbare grond geplaas en veroorsaak dat die stamme voortdurend verder van hul oorsprong in oos-Afrika weggetrek het.

In die suidelike en westelike dele van die land het die San-mense (Boesmans) nomadiese lewens gelei wat gegrond was op jag en die Khoikhoi (Hottentotte) het 'n herdersbestaan gevoer.

Europese nedersetting In 1652 is 'n permanente Europese nedersetting in Kaapstad in die verre suidweste van die land gevestig. Dit was nie oorspronklik beplan as 'n kolonie, maar as 'n lafenis-stasie. Wanvoeding, veral skeurbuik – 'n vitamien C-tekort weens 'n tekort aan vars vrugte en groente – was 'n probleem vir die handelskepe van die Hollandse Oos-Indiese Kompanjie wat tussen Nederland en Hollandse Oos-Indië, deesdae Indonesië, gevaar het.

Om dié probleme die hoof te bied, het die kompanjie 'n tuin aan die voet van Tafelberg gevestig, en met ruilhandel vee van die Khoi-Khoi gekry om aan verbygaande skepe te verskaf. dae Indonesië, gevaar het.

Die aankoms van permanente Europese setlaars het egter diepgaande veranderings meegebring. Die Europeërs het sonder opset die San met siektes uitgedun, wat hulle na die Kalahari-woestyn-gebied verdryf het, en het die Khoi-Khoi-mense bykans vernietig namate hul stryd teen die Europese siektes toegeneem het.

Die soeke na grond het gelei tot oorloë tussen die Afrikane soos wat die setlaars ooswaarts gemigreer het van die oorspronklike nedersetting in Kaapstad.

Tussen die oorloë het handel ontwikkel tussen die setlaars en die inheemse mense. Die verkope van groente en vee het gelei tot die ontwikkeling van 'n swart kleinboerestand wat grond besit.

Alhoewel die Kompanjie se vernaamste belang die behoud van die verversingspos aan die Kaap was, was hy ook verantwoordelik vir die vryburgerbevolking wat by die hawe en in die westelike en oostelike distrikte gevestig was.

Die Beleid van die Kompanjie As ’n handelsonderneming wie se grootste belang met die Ooste was, het die Kompanjie maar min aandag aan die ekonomiese ontwikkeling van die Kaap gegee. Sy grootste belang was om die verversingspos op ’n so ’n peil te hou dat hy vlote op hul reise heen en terug van voedsel kon voorsien, en om die nodige aandag aan siek matrose te skenk.

Die direkteure wou hê dat die verversingspos betalend moes wees en, indien moontlik, ’n wins moes afwerp. Daarom het die Kompanjie die invoerhandel beheer. Dus het daar geen private winkels in die Kolonie bestaan nie, en moes die burgers handelsartikels soos speserye, suiker, tee, porseleinware en kledingstowwe by die Kasteel koop. Hierdie beleid het tot ’n uitgebreide smokkelhandel gelei ten einde die hoë pryse wat die Kompanjie vir ingevoerde goedere gevra het, vry te spring. Om dieselfde rede het die Kompanjie die plaaslike kleinhandel gereël. Huurkontrakte is opgeveil, waardeur plaaslike handelaars die reg ontvang het om handelsartikels soos brood, wyn en vleis te verkoop. Hierdie alleenreg om ’n handelsartikel vir ’n bepaalde tydperk te voorsien is aan die hoogste bieër toegestaan. Hierdie huurkontrakte het die Kompanjie van ’n gereelde inkomste verseker. Die Kompanjie het ook sy vleis, wyn en graan vir verbygaande skepe verkry deur die kontrakte aan alleen-handelaars op te veil. Die burgers is nie toegelaat om tabak te verbou nie, daar die Kompanjie graag die monopolie van hierdie handel met die Hottentotte wou behou. Ten einde te verseker dat die verversingspos betalend sou wees, is selfs die ekonomiese bedrywighede van die burgers aan bande gelê. Hierdie koloniste kon koring verbou of wingerde plant, maar die opbrengs moes aan die Kompanjie teen ’n vasgestelde prys verkoop word, wat meestal maar laag was. Daar was werklik geen teken van vryhandel aan die Kaap nie; die Kompanjie het feitlik ’n monopolie van al die handel gehad deur die beperkinge wat hy opgelê het.

Streng Besuiniging Daar die Kompanjie maksimumwinste wou verkry, het die direkteure ’n beleid van streng besuiniging in die bestuur van al sy besittings toegepas. Karige salarisse is aan amptenare betaal. Hierdie gebruik het oneerlikheid aangemoedig, omdat die amptenare hul klein inkomste probeer aanvul het. Privaat handel, smokkelary van ingevoerde goedere, onwettige boerdery en bedrog het hoogty gevier. Die betrekking van fiskaal is geskep om oneerlike amptenare te betrap en te ontslaan. Die administrasiekoste is so laag moontlik gehou deur die oprigting van kantore en vestings te beperk. Selfs die instelling van die vryburgers was ’n besuinigingsmaatreël, aangesien hierdie mense produkte sou kweek en dit aan die Kompanjie teen vasgestelde pryse sou verkoop sonder om in die diens van die Kompanjie te wees. ’n Direkte belasting op die produkte wat verkoop word en die verhuur van grond was ’n verdere bron van inkomste. Die tiende, die belasting op wyn, rekognisiegelde en ander belastings is ook ingestel. Aangesien die surplusse van koring en wyn na 1706 toegeneem het, is die burgers toegelaat om ’n persentasie van hierdie handelsartikels na Batavia uit te voer, maar dit moes deur middel van die Kompanjie se skepe geskied.

Die Amptenare van die Kompanjie Die amptenare het ’n belangrike sosiale status aan die Kaap beklee, aangesien hulle die verteenwoordigers van ’n vooraanstaande handelsmaatskappy was. Aan die einde van die Kompanjie se bestuur was daar ongeveer 1 200 amptenare, die meeste van wie van oorsee gekom het en by die Kaapse seehawe aan diens was. Soos die gebruik toe in Europa was, is hulle volgens rang gegradeer, en elke rang het sekere voorregte gehad en voorrang by sosiale funksies, seremonies en kerkdienste geniet. Die goewerneur en lede van die Politieke Raad was die hoogste rang. Na hulle het die senior koopmanne, junior koopmanne, offisiere van die garnisoen, klerke, ens. gekom. Om die onnodige vertoon van weelde onder die amptenare te onderdruk, is hul klere en sosiale omgang streng ooreenkomstig hul rang deur die weeldewette van 1755 gereël. Slegs lede van die Politieke Raad se koetsiers kon in livrei gekleed wees; dit was uitsluitend die voorreg van senior koopmanne en hulle vrouens om groot sambrele te dra; en vrouens is nie toegelaat om slepe te dra nie. Verder het die wette die aantal bediendes en perde wat die verskillende range toegelaat was om te besit, vasgestel. Aangesien die meeste amptenare getroud was, het hulle nie in die Kasteel gebly nie, maar in private huise in die dorp. Die amptenare het vryelik met die burgers verkeer en gereeld met die burgers se familielede getrou. Daar was ook die garnisoen, wat teen 1795 uit ongeveer 1 200 man bestaan het. Hulle was meestal Duitse huurtroepe wat in Holland in diens van die Kompanjie getree het. Die meerderheid was by die Kasteel gevestig, maar sommige is by die veeposte in die binneland gestasioneer om die Kompanjie se beeste teen die plunderende San te beskerm.

Die Burgerbevolking by die Kaapse Hawe In 1795 het die vryburgerbevolking 15 000 getel en ongeveer ’n derde van hulle het in Kaapstad gewoon. Die meeste se bestaan het afgehang van die Hollandse en vreemde skepe wat die baai binnegekom het. Die burgers van Kaapstad het losieshuise en drinkplekke aangehou waar die bemannings van die verbyvarende vlote gebly het terwyl die skepe voor anker gelê het. Die meeste van hierdie eienaars van herberge het ’n bestaan gevind deur gesmokkelde goedere te verkoop. Alhoewel die Kompanjie die monopolie gehad het om ingevoerde goedere te verkoop, het seelui en amptenare artikels soos tee, suiker, tabak, breekgoed en kledingstof ingesmokkel, wat hulle dan aan die herbergiers verkoop het. Laasgenoemde het dit dan weer aan die burgers in die dorp of in die distrikte van die hand gesit. Party burgers het ’n bestaan gevoer as kleremakers, boumeesters en skoenmakers, maar die eintlike werk is deur geskoolde slawe verrig. Die kleinhandel in eetware soos brood, vleis en wyn was in die hande van ’n paar plaaslike burgers wat die alleenhandel in die hande gekry het toe die kontrakte opgeveil is. Sommige burgers het slawe as smouse in diens geneem om die groente wat hulle op die kleinhoewes gekweek het, te verkoop. Die Kapenaars was in nouer voeling met Nederland as die boere van die westelike distrikte. Baie het volgens die nuutste mode aangetrek en sommige het indrukwekkende woonhuise in die Heerengracht of in Strandstraat laat bou.

Die Wyn- en Koringboere Baie burgers het plase van ongeveer 60 morge (51.39 hektaar) buite die nedersetting en langs die Eerste- en Bergriviere in vrye erfpag ontvang. Daarop moes hulle koring en wyn verbou om in die behoeftes van die verversingspos te voorsien. Teen 1795 was die meeste van die graanplase in die Swartland (Malmesbury), terwyl die wynplase weer in die Constantia-vallei en by Stellenbosch, Paarl en Franschhoek geleë was. Die koring- en wynboere was vir hul bestaan van die Kaapse mark afhanklik. Teen die middel van die eeu het hierdie boere meer geproduseer as wat die mark verlang het, omdat die Kompanjie reeds besig was om sy houvas op die handel met die Ooste te verloor as gevolg van die kwaai Britse en Franse mededinging. Selfs toe die Kompanjie sy toestemming verleen het om aan vreemde skepe te verkoop, kon die boere nie van al hul surplus ontslae raak nie. Hulle is toe toegelaat om koring na Batavia uit te voer. Op hierdie wyse is daar teen 1780 van 18 500 mud jaarliks ontslae geraak. As gevolg van die swak gehalte van die wyn kon baie min uitgevoer word. Dit was slegs gedurende ’n oorlog dat die burgers hul surplus-koring en wyn kon verkoop, want baie vreemde skepe het in Tafelbaai vars kosvoorrade ingeneem. Pryse het dan die hoogte ingeskiet en ’n kort tydperk van voorspoed het gevolg. Dit het tydens die Sewejarige Oorlog en die Amerikaanse Vryheidsoorlog (1779-83) gebeur. Hierdie koring- en wynboere is egter aansienlik aangehelp deur die feit dat die Kompanjie hulle nie swaar belas het nie. Die belangrikste belasting was dié op wyn en brandewyn wat in Kaapstad verkoop is, en dit was slegs 3 riksdaalders per lêer. ’n Ander belasting was die tiende, ’n belasting van een tiende van die jaarlikse wins uit graan of beeste, wat volgens die opgaaf van die boer bereken is; hierdie syfers was gewoonlik laer as wat dit werklik was. Daar was ook ’n klein belasting vir die uitroei van wilde diere. Al hierdie belastings is aan die sekretaris van die Heemraad by die drosdy betaal. Die swaarste belasting was die fooie wat burgers aan die amptenare moes betaal wanneer hulle hul produkte kom verkoop het. Die huise van die wyn- en koringboere was meer imposant as dié in Kaapstad. Hierdie huise was enkelverdiepings met rietdakke en gewels. Groot-Constantia, hoewel herbou, is die beste voorbeeld van hierdie boustyl. Die huise het die bekende klein vensterruitjies en groot stoepe gehad, terwyl die kamers ruim en redelik goed gemeubileer was. Wanneer produkte deur ossewaens by die Kompanjie se pakhuise in Kaapstad afgelaai is, is verskeie huishoudelike benodigdhede soos tee, suiker, tabak, speserye en rokmateriaal verkoop.

Slawe-arbeid