Gordonsbaai is 'n dorp en vakansieoord aan die Valsbaai, Wes-Kaap, met sowat 17 000 inwoners.

In die jaar 1778 vaar kolonel Jacob Gordon van die Kaap om Kaap Hangklip en noem die baai na hom. Die dorpie kom oorspronklik as 'n vissershawe tot stand, maar het intussen tot 'n gewilde vakansieoord ontwikkel. Sedert die nuwe munisipale bedeling van 2000 is Gordonsbaai deel van die Stad Kaapstad Metropolitaanse Munisipaliteit.

Die hawe van Gordonsbaai, wat in 1936 gebou is, word nou ook deur seiljagte aangedoen. Digby die hawe lê die Generaal Botha-kollege van die Suid-Afrikaanse Vloot, met 'n groot G B teen die berghange as sy opvallende teken. Die strand is as 'n Blouvlagstrand gesertifiseer.

Naam Gordonsbaai is vernoem na Robert Jacob Gordon (1743–1795), die Nederlandse ontdekkingsreisiger van Skotse afkoms.Robert Jacob Gordon 1743-1795: The Man and His Travels at the Cape - Patrick Cullinan Winchester Struik (1992)

Wapen Gordonsbaai was vanaf 1961 tot 1996 'n munisipaliteit. Die raad het in 1962 'n wapen aangeneem. Dit is later by die Kaapse Provinsiale Administrasie (in 1962) en die Buro vir Heraldiek (in 1988) geregistreer : Kepersgewys verdeel, die skildhoof golwend gedwarsbalk van silwer en blou en die skildvoet groen, in die skildhoof twee ankers en in die skildvoet 'n gestingelde en geblaarde protea, alles goud. Die helmteken was 'n seiljag en die wapenspreuk "Sol et salubritas".Kaap die Goeie Hoop Amptelike Koerant 3161 (23 November 1962).National Archives of South Africa: Data of the Bureau of Heraldry. Schalk Pienaar het die wapen ontwerp.

Sien ook Lys van dorpe in Suid-Afrika

Verwysings

Bronnelys Burman, Jose: The False Bay Story. Kaapstad: Human & Rousseau,1977. de Jager, Eben: Gordonsbaai. In: Suid-Afrikaanse Panorama. Jaargang 34, nr. 3, Maart 1989. ISSN 0491-4783 Tredgold, Arderne: Bay between the mountains. Kaapstad: Human & Rousseau, 1995.

Kategorie:Baaie van Suid-Afrika Kategorie:Voorstede van Kaapstad