Dié artikel gaan oor manlike besnydenis. Vir vroulike besnydenis, sien Vroulike genitale verminking.
Manlike besnydenis is die verwydering van die menslike penis se voorhuid. In die mees algemene prosedure word die voorhuid oopgetrek en van die eikel weggetrek. Daarna word die besnydenistoestel (indien gebruik) oor die voorhuid geplaas en die vel afgeknip. Plaaslike verdowing word meestal gebruik teen pyn en stres. Die prosedure word dikwels om kulturele of godsdiensredes op babas en kinders uitgevoer. In sommige gevalle kan dit gedoen word as behandeling teen ’n mediese toestand of vir die voorkoming van siektes. Dit is ’n behandelingsopsie vir problematiese gevalle van voorhuidvernouing, infeksie van die voorhuid en penis wat nie op ander behandeling reageer nie en chroniese urienweginfeksie.
Die posisie van die wêreld se grootste mediese verenigings wissel van die beskouing dat die besnydenis van babas en kinders geen voordele inhou nie maar wel veiligheidsrisiko's, tot die siening dat dit ’n matige gesondheidsvoordeel inhou wat swaarder weeg as die risiko's. Geen groot mediese vereniging beveel óf ’n verbod op besnydenis aan óf die algemene besnydenis van alle mans nie (buiten die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) vir gebiede met ’n groot voorkoms van MIV). Etiese en wetlike vrae oor die besnydenis van babas en kinders om niemediese redes is al gevra, en die kwessie is dus omstrede.
Daar is bewyse dat besnydenis die risiko van MIV onder heteroseksuele mans in Afrika suid van die Sahara verlaag. Daarom beveel die WGO aan dat besnydenis oorweeg word as ’n moontlike voorkomende program in gebiede waar MIV algemeen voorkom, soos in bogenoemde gebied. Die gesondheidsvoordele daarvan teen MIV vir gay mans is minder duidelik, asook die voordele daarvan in die ontwikkelde wêreld. Besnydenis in die algemeen word verbind met ’n verlaagde risiko van kankervormende vorme van die menslike papilloomvirus (MPV), asook van urienweginfeksie en peniskanker. Die voorkoming van dié siektes word egter nie beskou as genoegsame rede vir die algemene besnydenis van babas en kinders nie. Die mate waarin besnydenis iemand teen ander seksueel oordraagbare infeksies beskerm, is onduidelik.
Navorsing in 2010 het gewys besnydenis deur mediese verskaffers hou komplikasies in vir 1,5% van babas en 6% van ouer kinders, met ’n paar gevalle van omvattende komplikasies. Bloeding, infeksie en die verwydering van óf te veel óf te min voorhuid is die algemeenste redes vir komplikasies. Die kans op komplikasies is groter wanneer die prosedure deur ’n onervare persoon uitgevoer word, in onsteriele omstandighede of by ouer kinders. Dit lyk nie of besnydenis ’n negatiewe invloed op seksuele funksie het nie.The American Academy of Pediatrics Task Force on Circumcision "Technical Report" (2012) addresses sexual function, sensitivity and satisfaction without qualification by age of circumcision. Sadeghi-Nejad: "Sexually transmitted diseases and sexual function" (2010) addresses adult circumcision and sexual function. Doyle: "The Impact of Male Circumcision on HIV Transmission" (2010) addresses adult circumcision and sexual function. Perera: "Safety and efficacy of nontherapeutic male circumcision: a systematic review" (2010) addresses adult circumcision and sexual function and satisfaction.
Aanduidings en teenaanduidings
Roetine- of gekose prosedure Die besnydenis van babas word gewoonlik deur ouers gekies vir niemediese redes, soos godsdiens- of persoonlike oortuigings wat moontlik deur gemeenskapnorme bepaal word. Die posisie van die wêreld se grootste gesondheidsverenigings is dat sulke besnydenisse óf geen voordele inhou nie maar wel veiligheidsrisiko's óf dat dit ’n matige gesondheidsvoordeel en klein risiko's inhou. Geen groot mediese vereniging beveel aan dat dit verbied word nie, en ook nie dat alle mans besny behoort te word nie. Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) beveel dit egter wel aan vir gebiede met ’n groot voorkoms van MIV, soos Afrika suid van die Sahara. Daar is bewys dat die kans op die oordrag van die virus van vroue aan mans verklein word as die man besny is. Voorwaardes vir so ’n program is ingeligte toestemming, vertroulikheid en ’n afwesigheid van dwang.
Die Koninklike Nederlandse Maatskappy tot die Bevordering van Geneeskuns, wat een van die grootste teenstanders van die roetinebesnyding van babas is, beveel nie aan dat dit verbied word nie uit vrees dat ouers wat op die prosedure aandring, hulle tot swak opgeleide mense sal wend in plaas van professionele mediese verskaffers. Die Deense Kollege van Algemene Praktisyns voer aan besnydenis moet net oorweeg word wanneer dit medies noodsaaklik is, "anders is dit ’n kwessie van verminking".
Deur die invloed van die Amerikaanse weermag in Wes-Duitsland, is roetine-bababesnydenis in sommige Duitse hospitale ingestel. Ná die Duitse hereniging in 1990 het die besnydenis in die Duitse bevolking drasties afgeneem https://male-initiation.net/library/medicus/schoeberlein_de.html.
Mediese aanduidings Besnydenis word aanbeveel as behandeling vir problematiese gevalle van voorhuidvernouing, infeksie van die voorhuid en penis wat nie op ander behandeling reageer nie en chroniese urienweginfeksie. Die WGO beveel dit aan vir seksueel aktiewe mans in gebiede waar MIV algemeen voorkom. Dit word ook deur die International Antiviral Society-USA aanbeveel as teenmaatreël teen MIV vir alle seksueel aktiewe heteroseksuele mans, asook vir gay mans wat anale seks beoefen, veral in gebiede met ’n groot voorkoms van MIV.
Teenaanduidings Besnydenis word nie aanbeveel vir kinders met sekere genitale struktuurabnormaliteite soos ’n misplaasde urienwegopening, buitengewone kromming van die penis of meerduidige geslagsdele nie, aangesien die voorhuid nodig kan wees vir rekonstruktiewe chirurgie. Dit word ook afgeraai vir kinders wat vroeg gebore is en vir dié wie se gesondheid nie na wense is nie. As ’n kind of volwassene ’n familiegeskiedenis van bloeding het, soos met hemofilie, word aanbeveel dat die bloed getoets word vir normale stollingseienskappe voor besnydenis oorweeg word.
Prosedure duimnael|180px|Die prosedure, met bloedstelpapparate en ’n skêr. duimnael|180px|’n Besnyde en onbesnyde penis.
Die voorhuid strek vanaf die basis van die eikel (of glans) van die penis en bedek die eikel. Voorgestelde teorieë vir die doel van die voorhuid is dat dit die penis beskerm terwyl dit in die baarmoeder ontwikkel, die eikel klam hou en seksuele plesier verhoog. Dit kan ook infeksie veroorsaak en sekere siektes vererger. Met ’n besnydenis word die voorhuid verwyder waar dit aan die onderkant van die eikel vas is.
Vir die besnydenis van babas word toestelle soos klampe algemeen gebruik. Eers word geraam hoe ’n groot deel van die voorhuid verwyder moet word. Die voorhuid word oopgetrek om die eikel te onthul en seker te maak dit is normaal voordat die binneste weefsel van die voorhuid van die eikel losgemaak word. Die besnydenistoestel (soms is ’n dorsale snit aan die rugkant van die penis nodig) word dan oor die voorhuid geplaas en bly daar totdat die bloed ophou vloei. Daarna word die voorhuid geamputeer.
Dit is ’n pynlike prosedure en die gebruik van ’n pynstiller word aanbeveel. Soms word ’n middel ingespuit, maar pynstillende salwe is ook beskikbaar. Iemand wat besny is, moet vier tot ses weke lank nie masturbeer of seks hê nie sodat die wond kan genees.
Voorkoms 400px|duimnael|links|Die voorkoms van besnyde mans in die wêreld.
Besnydenis is een van die mediese prosedures wat wêreldwyd die meeste uitgevoer word. Sowat 37 tot 39 persent van alle mans is besny, waarvan die helfte om godsdiens- en kulturele redes. Dit vind gewoonlik plaas voordat ’n man in sy vroeë twintigs is.
Die prosedure is meer algemeen in die Moslemwêreld en Israel (waar feitlik alle mans om godsdiensredes besny is), die VSA en sommige dele van Suidoos-Asië en Afrika. Dit is taamlik ongewoon in Europa, Latyns-Amerika, dele van Suider-Afrika en die grootste deel van Asië.
Die oorsprong van besnydenis is nie seker nie; die oudste dokumentêre bewys daarvan kom uit Antieke Egipte. Verskeie teorieë is al voorgestel, soos dat dit ontstaan het as ’n godsdiensofferande of as ’n inwyding van seuns in die volwasse lewe.
Geskiedenis Volgens die historikus Grafton Elliot Smith is die prosedure 15 000 jaar gelede al uitgevoer, voor die begin van die aangetekende geskiedenis. Daar is meningsverskille oor hoekom die gebruik ontstaan het. Een teorie is dat dit in een streek begin en van daar versprei het; volgens ’n ander teorie het dit onafhanklik in verskeie kulture ontstaan. In sy werk van 1891 History of Circumcision stel Peter Charles Remondino voor dit het begin as ’n minder gevaarlike manier om die vyand te ontman. Kastrasie of die verwydering van die penis sou waarskynlik tot die dood gelei het, terwyl die een of ander metode van besnydenis die gevangenes sou merk, maar toelaat om te bly leef en as slawe te werk.Gollaher (2001), hoofstuk 1, The Jewish Tradition, ble. 1–30
Die geskiedenis van die verspreiding van die gebruik kan deur hoofsaaklik twee aparte streke nagespeur word. In die lande suid en oos van die Middellandse See het dit begin in Soedan, Ethiopië en Antieke Egipte. Daarna het dit versprei na die Jode en Moslems, van wie die Bantoevolke die gebruik oorgeneem het. In Oseanië het die inboorlinge van Australië en die Polinesiërs besnydenis beoefen. Daar is ook bewyse van die gebruik onder die Asteke en Majas in die Amerikas, maar min is daaroor bekend.
Midde-Ooste, Afrika en Europa Daar is bewyse van besnydenis op die Arabiese Skiereiland uit die 4de millennium v.C., toe die Sumeriërs en Semiete na die gebied getrek het wat nou as Irak bekend is. Die vroegste historiese rekord daarvan kom uit Egipte, in ’n beeld uit omstreeks 2400-2300 v.C. van die besnydenis van ’n volwasse man in ’n tombe in Saqqara. Die Egiptenare het hulle waarskynlik besny om higiëniese redes, maar dit was ook deel van hul obsessie met reinheid en is vereenselwig met geestelike en intellektuele ontwikkeling. Geen aanvaarde teorie verduidelik die belangrikheid van besnydenis vir die Egiptenare nie, maar dit lyk asof dit as ’n groot eer en ’n inwyding in die volwasse lewe beskou is. Dit is op openbare seremonies uitgevoer en het klem gelê op die voortbestaan van generasies en vrugbaarheid.
duimnael|120px|Besnydenismes uit die Kongo; 19de/20ste eeu.
Dit kon ook ’n teken van die elite gewees het; die Egiptiese Dodeboek beskryf hoe die songod, Ra, homself besny het.
Besnydenis kom ook in die Ou Testament voor. In Genesis 17 word die besnydenis van Abraham en sy familie en slawe beskryf. In dieselfde hoofstuk kry Abraham se nageslag opdrag om hul seuns te besny wanneer hulle agt dae oud is as deel van ’n verbond met God.
Sommige geleerdes meen ook die Israeliete het benewens om godsdienstige redes, besnydenis toegepas om penishigiëne in hul warm, sanderige klimaat te vergemaklik, as ’n inwyding in die volwasse lewe of as ’n soort bloedofferande.
Alexander die Grote het die Midde-Ooste in die 4de eeu v.C. verower en in die volgende eeue het die Antieke Griekse kulture en waardes die Midde-Ooste bereik. Die Grieke het besnydenis verafsku en die lewe baie moeilik gemaak vir besnyde Jode wat tussen hulle (en later die Romeine) gewoon het. Antiochus IV het besnydenis verbied, so ook Hadrianus, en dit het help lei tot die Bar Kochba-opstand. In dié tyd is net ’n deel van die voorhuid tydens ’n besnydenis afgesny en sommige vergrieksde Jode het probeer om onbesny te lyk deur die oorblywende dele van hul voorhuid te rek. Joodse leiers het dit as ’n ernstige probleem beskou en in die 2de eeu het hulle vereis dat die hele voorhuid verwyder word. So het dit ook ’n teken geword dat hulle lid is van ’n spesifieke gemeenskap, benewens die nakoming van ’n Bybelse opdrag.