duimnael|Kaart van die Kaapse nedersetting 1688–1695

Suid-Afrikaanse pioniers was Europese en plaaslike Suid-Afrikaanse setlaars wat noordweswaarts van die Kaapkolonie migreer het om hulle te vestig in en gebiede van Suid-Afrika te ontwikkel wat onbewoon of soms deur inheemse stamme beset was.

"Hierdie standbeeld mag ons beskou as ’n huldeblyk aan een van die grootste pioniers – ’n pionier wat ’n doeltreffende regering saamgebring het, ’n praktiese beskawing ingevoer het en wat die seën van die Christendom aan die geweldige vasteland van Afrika geskenk het.”

Die burgemeester van Kaapstad se toespraak tydens die Van Riebeeck-standbeeld se onthulling, 1899

Oorsig

Eerste spore Eeue voor Afrikaners hul eerste spore aan die Suidpunt van Afrika getrap het, was hier reeds vele ander spore. Die San, ’n volk van jagters en versamelaars, het reeds sowat 35 000 jaar gelede in die Kaap gewoon. Die Hollanders het na hulle as bosjemans verwys wat letterlik “mense wat agter gevlegte takkies woon” beteken. Hul leefwyse was eenvoudig, maar hulle het nogtans indrukwekkende rotsreliëfs, -tekeninge en -skilderye agtergelaat. Die Khoi-Khoi (letterlik “Mense-Mense”) was ’n tweede groep mense wat in die Kaap gewoon het. Hulle was ’n volk van skaap- en beestelers.

Bartolomeus Dias was die eerste Europeër wat op 3 Februarie 1488 in Mosselbaai sy voet aan wal gesit en met plaaslike Khoi-Khoi-stamme handel gedryf het. Tydens sy terugreis na Europa het Dias ’n padrão by Kwaaihoek opgerig wat vandag die oudste Westerse gedenkteken in Suider-Afrika is. Hy het die Kaap, “Kaap van Storms” genoem, wat deur die Portugese koning herdoop is tot Cabo da Boa Esperança (“Kaap die Goeie Hoop”).

duimnael|Dias uitgebeeld op 'n posseël van Suidwes-Afrika Vanaf 1500 het Portugese skepe op pad na Indië gereeld in Mosselbaai aangedoen om vars water, voedsel en ander voorrade te laai. Tafelbaai is in 1503 deur die Portugees Antonio da Saldanha ontdek wat ook die eerste Europeër in die geskiedenis was om die Tafelberg te bestyg. Ten spyte van die Kaap se strategiese ligging het die Portugese geensins daarin belanggestel om hier ’n permanente nedersetting te stig nie. Daar was ander hawens aan die Afrika-kus soos Lourenço Marques (Maputo) in Mosambiek wat in teëstelling met die Kaap in alle Portugese behoeftes kon voorsien.

VOC In die middel van die sestiende eeu het Spanje sy politieke mag regoor Europa gevestig. Kolonies, soos Suid-Amerika, se rykdomme is geplunder. Spanje wou die Rooms-Katolieke staatsgodsdiens op kleiner volke afforseer. Die Nederlanders het hulle teen die Spaanse oorheersing verset. Die gevolg was ’n 80-jarige oorlog tussen die magtige Spaanse ryk en die klein Nederlandse state. Die Spanjaarde het spottend na hulle verwys as die “geux de mer” of geuse. Dit beteken “bedelaars van die see”. In 1648 het die Geuse onder leiding van Willem van Oranje die Spaanse juk afgewerp en hul vryheid verwerf. Na afloop van die oorlog het Nederland vinnig ontwikkel tot die wêreld se belangrikste handelsnasie.

In 1602 is die VOC gestig en teen 1650 was dit die wêreld se grootste handelsonderneming. Dit kan in vandag se terme vergelyk word met die handelsryke van Henry Ford en Bill Gates. Net in die tydperk 1652 tot 1662 het 250 skepe met 40 200 mense aan boord verby die Kaap na die Ooste geseil. Om dié rede het die VOC besluit om ’n verversingspos aan die Kaap te stig.

Op 6 April 1652, vier jaar na die oorlog, het Johan Anthonisz (Jan) van Riebeeck aan wal gestap om ’n VOC-nedersetting te stig. Van Riebeeck se opdrag was om ’n fort vir sowat 80 mense te bou, klein akkers aan te lê, groente en vrugte te verbou en handel met die inheemse bevolking te dryf. Aanvanklik was Van Riebeeck se fort vierhoekig en deur ’n wal met palissades om beskerm. duimnael|Kaap de Goede Hoop tydens die VOC-jare In Maart 1653 is die verversingspos vir die eerste keer op die proef gestel. ’n Vloot onder die bevel van admiraal Gerard Demmer het in Maart 1653 by Van Riebeeck se verversingspos aangedoen. Die vloot is van groente, vleis en melk voorsien, en die kolonie se prestasies is deur admiraal Demmer ná sy terugkeer in Nederland geloof. Die landbou-aktiwiteite is geleidelik uitgebou, en reeds in 1659 is die eerste wyndruiwe geoes. Die Kaapse bevolking is versterk met die invoer van die eerste slawe in 1658. Saam met die slawebevolking is die Islam-godsdiens aan die Kaap gevestig.

'n Nuwe taal Die VOC se amptelike taal was Nederlands. Soos die skepe van verskillende lande die VOC-verversingstasie besoek, is daar spoedig in ’n mengelmoes van tale soos Frans, Engels en Portugees gekommunikeer. Skeepslui het van die plaaslike bevolking se woorde begin opteken. Khoi-woorde soos dagga, boegoe en kierie was al voor 1652 opgeteken en is vandag steeds deel van die woordeskat van Afrikaans. Alhoewel Nederlands die oorheersende taal was, het daar stadig maar seker uit die mengelmoes van tale ’n nuwe taal ontstaan. Hierdie taal is Afrikaans – spontaan vernoem na die Afrika-bodem waaruit dit ontstaan en wortelgeskiet het.

Vryburgers Die Vryburgers was werkers van die VOC aan wie toestemming verleen is om die VOC se diens te verlaat (dus “vry burgers” te word) en te gaan boer. Sedert 1657 is die eerste plase aan hulle toegeken. Aanvanklik moes die Vryburgers saai en plant wat die VOC voorskryf en die lae pryse van die VOC aanvaar. Reeds in 1658 het die Vryburgers in opstand gekom teen die VOC se ekonomiese voorskriftelike regeerwyse. Die Vryburgers was nie net pioniers wat deur landbou die kontinent moes tem nie, maar ook ekonomiese en politieke pioniers. Hul stryd om ekonomiese vryheid was die voorloper vir die latere stryd vir politieke vryheid. Hier is die eerste grondslag gelê vir Afrikaners se politieke en ekonomiese vryheidsideale.

Die despotiese regering van die VOC het inderwaarheid in skerp teenstelling met die Nederlandse regeerpraktyk gestaan. M.C.E. van Schoor wys dat die Nederlanders in die sestiende en sewentiende eeu politieke en godsdienstige vryhede geniet het soos geen ander volk ter wêreld nie. Die verskil is waarskynlik daaraan te wyte dat die Staten-generaal aan die VOC die volmag gegee het om handel te dryf, ooreenkomste met vorste en klante te sluit, goewerneurs en regters aan te stel en hul eie verdedigingstelsel te vestig. In praktyk het dit beteken dat die Nederlandse regering nooit sy invloed in die Kaap kon laat geld het nie, omdat die VOC as ’n staat binne ’n staat gefunksioneer het. Dit is ironies dat die nasate van die Geuse wat agt dekades baklei het vir politieke en ekonomiese vryheid, nou self die onderdrukkers van vryheidsideale geword het.

Die ontwikkeling van ’n eg Suid-Afrikaanse identiteit onder die pioniers het ongeveer 40 jaar later sigbaar geword toe vier jongmans op Sondag 6 Maart 1707 met ’n Stellenbosch-meulenaar stry gekry en toe handgemeen geraak het. Landdros Johannes Starrenburg het ondersoek ingestel en die jongmans met ’n rottang bygedam. Hendrik Biebouw, ’n 17-jarige jeugdige, het op die landdros geskree: “Ik wil niet loopen, ’k ben een Africaander al slaat die landrost mijn dood, of al setten hij mij in den tronk. Ik sal, nog wil niet swijgen.” Die landdros hét hom en die ander in die tronk gegooi, en in ’n brief aan die regering in Kaapstad het hy aanbeveel dat die vier seuns verban word.

Hendrik Biebouw se uitroep is om twee redes belangrik:

Eerstens was Hendrik Biebouw se openbare verset op Stellenbosch die eerste geleentheid dat daar aangeteken is dat ’n Europeër die naam Afrikaner vir homself gebruik. Die vier seuns is almal in Suid-Afrika gebore, terwyl die amptenare Nederlanders was. Die uitroep dat hy ’n Afrikaner is, staan in die teken dat hy nie die gesag van die Nederlandse landdros erken nie.

Tweedens staan Biebouw in die teken van die Vryburgers se toenemende ontevredenheid met die outokratiese bestuurstyl en korrupsie van die VOC-amptenare. Verskeie Vryburgers het onder leiding van Adam Tas in die geheim ’n klagskrif aan die Here XVII in Amsterdam gestuur. Nadat goewerneur Van der Stel daarvan te hore kom, word Tas verhoor en vir ongeveer ’n jaar in die Kasteel die Goeie Hoop aangehou. Die uiteinde was egter ’n oorwinning vir die Vryburgers. Die Kompanjie het ten gunste van die Vryburgers beslis en Willem Adriaan van der Stel, sekundus Samuel Elsevier, landdros Johannes Starrenburg en Petrus Kalden is na Nederland teruggeroep. Francois van der Stel, broer van die goewerneur, is uit die Kaap verban. Dit was die einde van Van der Stel en sy bondgenote se skrikbewind.

Die koms van die Franse Hugenote Duisende Protestantse Christene is deur die Rooms-Katolieke Kerk vervolg, gemartel en doodgemaak nadat Koning Lodewyk XIV die Edik van Nantes, wat godsdiensvryheid in Frankryk waarborg, herroep het. Protestante mag ook nie meer vir eredienste bymekaarkom nie, hul kerke is verwoes en hul predikante is verban of doodgemaak. Hierdie gebeure wat duisende kilometers ver in Europa afgespeel het, het ’n blywende invloed op die godsdienstige en ekonomiese ontwikkeling van die Kaapkolonie uitgeoefen.

Tussen 1688 en 1700 het sowat tweehonderd Franse Hugenote uit Frankryk gevlug en aan die Kaap gearriveer. Die meeste Hugenote het hulle in Franschhoek en Drakenstein gevestig. Bekende Hugenote-vanne is Du Plessis, Du Toit, Viljoen, Naude, De Villiers, Malan, Du Preez, Malherbe, Cronjé, Pienaar en Senekal. Gewilde Hugenote-name is Francois, Pierre, Etienne, Jacques en Louis. Die trekleier, Piet Retief, was ’n afstammeling van die Hugenote.

Die Hugenote se vervolging toon watter opoffering geloofsoortuiging kan eis. Hulle koms na die Kaap het ’n nuwe diepte aan die Vryburgers se vryheidstrewe en identiteit gegee. Omrede hulle as Protestante geprotesteer het teen godsdiensonderdrukking, was een van hul grootste nalatenskappe godsdiens- en gewetensvryheid. Die Hugenote het ook blywende spore nagelaat op die Kaapse kultuur, wynbou, argitektuur en ekonomiese ontwikkeling.

Die eerste trekboere In die loop van die agtiende eeu het ’n steeds groter plattelandse bevolking van boere ontwikkel. Hierdie boere was opsoek na nuwe en groter weivelde vir hul vee. Die swerwende boere, bekend as trekboere, met hul groot troppe vee het gaandeweg die Kolonie se grense na die Oos-Kaap verskuif. Soos wat die Kolonie se grense verskuif het, het hulle in aanraking gekom met die vyandige Xhosa-stamme. Die Groot-Visrivier is as die oostelike grens van die Kaapkolonie bepaal, maar reeds in 1779 het die Eerste Grensoorlog tussen die trekboere en die Xhosas uitgebreek vanweë botsings oor grond, weiding en vee. Die VOC was nie in staat om die setlaars teen Xhosa-aanvalle te beskerm nie, met die gevolg dat die trekboere op hulself aangewese was vir eie beskerming.

Vryheidsideaal

Die historikus Pieter Kapp wys daarop dat die Kaapse vryheidsideale saamgeval het met twee ingrypende internasionale gebeure, naamlik die Amerikaanse Vryheidstryd en die Franse Rewolusie. Die Amerikaanse vryheidstrewe het die omskepping van 13 Amerikaanse kolonies in ’n federale republiek onafhanklik van Brittanje en Europa tot gevolg gehad. Die grusame Franse Rewolusie wat in 1789 uitgebreek het, was ’n ingrypende vorm van verset teen onderdrukkende heersers. Vryheid, gelykheid en broederskap het saam met republikeins-demokrasie, wat burgers se regte waarborg, krete geword wat regoor die wêreld weerklink het. Aan die Kaap het die internasionale gebeure daartoe gelei dat die aanvanklike behoefte aan ekonomiese vryheid uitgebrei het na ’n strewe om politieke vryheid. Die Kaapse Patriotte-beweging (1778‒1787) het aangedring op die VOC se erkenning van die plaaslike burgers se politieke regte.

Die Franse Rewolusie in 1789 het ook die doodsklok vir die VOC gelui. In 1795 het Frankryk Nederland binnegeval en die Prins van Oranje het na Engeland gevlug. In Nederland het die Bataafse Republiek met Franse steun tot stand gekom.