Jacoba Margaritha Gilfillan (gebore Eksteen op 29 April 1941 in Ermelo, Suid-Afrika) is ’n bekroonde Afrikaanse skrywer van kortverhale en was ’n lektrise in Afrikaans aan die Universiteit van Durban-Westville. Tans woon sy in Stellenbosch.

Lewe en werk Jacoba Margaritha (Rita) Eksteen is op 29 April 1941 op Ermelo gebore as enigste dogter en die oudste van drie kinders van Hendrik Eksteen en Lena Taljaard. Sy het twee jonger broers, Hendrik en Pieter. Haar ouers boer op die plaas Swartwater in die Ermelo-distrik. In 1946 is haar ma op 28-jarige ouderdom aan hartversaking oorlede. Haar jongste broer Pieter, toe slegs ’n baba, is onmiddellik na sy pa se oudste suster toe, waar hy groot word. Rita en Hendrik bly by haar wewenaarpa, maar swerf weens die omstandighede gereeld rond in die uitgebreide familie. Sy begin skoolgaan in die plaasskool op Rooiwal in die Ermelo-distrik, waar sy in die koshuis tuisgaan. Wanneer haar pa weer trou, verkoop hy die plaas en verhuis na Piet Retief. Hier gaan sy na die plaaslike laerskool. Na ’n ruk gaan sy egter saam met haar nuwe ma na Springs, waar hulle by haar ma se ouer suster se gesin bly en sy vir ’n ruk na ’n laerskool op Springs gaan. Hierna gaan sy na ’n ander plaasskool, Transvalia, en wanneer hierdie skool sluit gaan sy na die Van der Merweskool op Ermelo. Weens al die omswerwinge vind sy dit moeilik om aan te pas en spandeer standerds vier en vyf in die spesiale klas (destyds die Aanpassingsklas genoem), waar sy onder die simpatieke leiding van meneer Hechter weer haar voete begin vind. Terwyl sy in hierdie klas is, wen haar ontwerp vir ’n skoolwapen die kompetisie.

Haar hoërskoolopleiding ondergaan sy aan die Hoërskool Ermelo, waar sy in die skoolkoshuis Adriani tuisgaan en in 1959 matrikuleer. Na skool gaan sy na Pretoria, waar sy in die Staatsbiblioteek werk en bevriend raak met mevrou Schoeman, ’n kollega en suster van haar Duits onderwyser op hoërskool. Intussen studeer sy buitemuurs in Biblioteekkunde aan die Universiteit van Pretoria, waar sy aan die einde van 1963 die B.Bibl.-graad verwerf. Terwyl sy nog studeer gaan werk sy by Merensky, die universiteitsbiblioteek op die kampus. Sy ontvang ’n beurs vir verdere studie en gaan dan in 1964 na Amsterdam in Nederland, waar sy as bibliotekaresse in die Zuid-Afrikaanse Instituut op Keizersgracht werk en in Utrecht studeer vir ’n diploma in biblioteekwese. In hierdie tyd leer sy vir professor Roy Pheiffer goed ken, wat indertyd die leerstoel in Afrikaans aan die Universiteit van Amsterdam beklee het en wie se kantoor in die Instituut geleë was. Nadat sy die diploma verwerf het, werk sy in 1965 in die Amsterdamse Stadsbiblioteek, waarna sy na Suid-Afrika terugkeer om haar pa by te staan tydens sy terminale siekte. Na haar pa se dood kry sy in 1966 ’n aanstelling in die munisipale biblioteek in Germiston. Tydens ’n besoek aan mevrou Schoeman by die Staatsbiblioteek van Mtunzini in KwaZulu-Natal ontmoet sy die literator Rouston Gilfillan, indertyd dosent in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Zoeloeland, met wie sy in 1967 trou. Na haar troue gaan werk sy by die universiteitsbiblioteek van die Universiteit van Zoeloeland. Wanneer Rouston in die sewentigerjare ’n aanstelling aan die Universiteit van Kaapstad kry, werk sy by die biblioteek van Barckleyhuis, ’n onderwyskollege in Claremont in die suidelike voorstede van Kaapstad. Later aanvaar Rouston ’n pos by die Universiteit van Stellenbosch en word sy sekretaresse en doen ook sekretariële werk by die Universiteit van Wes-Kaapland. Aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf sy ’n B.A. Honneurs-graad en in 1984 ’n M.A.-graad met ’n verhandeling oor “Tristia-interpretasies, met toespitsing op ‘Groot ode’”. Sedert 1987 bevind sy haar in die akademie en wanneer Rouston ’n professoraat in Afrikaans aan die Universiteit van Natal aanvaar, is sy lektrise in Afrikaans aan die Universiteit van Durban-Westville. In hierdie tyd bly sy in Durban, maar vestig haar na aftrede teen die einde van die eeu weer op Stellenbosch. Sy en Rouston het drie kinders, twee dogters en ’n seun.

Skryfwerk