Die Duitse Demokratiese Republiek (Duits: Deutsche Demokratische Republik, [ˈdɔʏtʃə demoˈkʁaːtɪʃə ʁepuˈbliːk], ) het as 'n sosialistiese Duitse "Arbeiders- en Boerestaat" Handbuch Deutsche Demokratische Republik. Jubiläumsausgabe 1984. Tweede hersiene uitgawe. Leipzig: VEB Bibliographisches Institut 1984, bl. 212 tussen 7 Oktober 1949 en 2 Oktober 1990 op die grondgebied van die voormalige Sowjetbesettingsone in Oos-Duitsland en die Sowjetsektor van Berlyn (of Oos-Berlyn) bestaan.
duimnael|links|Die utopiese droom van 'n beter wêreld – Xde Wêreldfees van die Jeug (Weltjugendfestspiele) in Berlyn. Weste en ooste was gedurende die Koue Oorlog in 'n wedloop van propagandaleuens gewikkel. In 1973 het die Amerikaanse buitelandse beleid met die brutale staatsgreep in Chili en die sinnelose oorlogvoering in Vietnam in die hande van Moskou en Oos-Berlyn se bewindhebbers gespeel en van hulle 'n tyd lank morele wenners gemaak duimnael|links|Kaart van die Duitse Demokratiese Republiek se administratiewe distrikte duimnael|links|'n Verdeelde Duitsland: Wes-Duitsland word in grys aangedui en die Duitse Demokratiese Republiek in groen Die staat, wat vyf maande na die stigting van die Westerse Bondsrepubliek Duitsland amptelik uitgeroep is, is steeds deur die Sosialistiese Eenheidsparty van Duitsland (SED), 'n samesmelting van die voormalige Kommunistiese en Sosiaal-Demokratiese Partye van Duitsland, oorheers en het in politieke en ekonomiese opsig steeds 'n deel van die Oosblok gevorm.
Die sentraalgeleide ekonomie van die DDR het nie daarin geslaag om dieselfde hoë lewenstandaard soos in Wes-Duitsland te skep nie, alhoewel die land as die welvarendste in die Oosblok beskou is. Om die groot stroom vlugtelinge, wat in die vyftiger- en vroeë sestigerjare 'n nuwe heenkome in Wes-Duitsland gesoek het, te beperk, het die SED-regering 'n bewaakte grenslyn met Wes-Duitsland opgerig. Dit het ook die berugte Berlynse muur ingesluit.
Desondanks was die dekade tussen 1961 en 1971 gekenmerk deur 'n euforiese fase. Sowjet-Russiese prestasies soos die eerste mensgemaakte satelliet Spoetnik en die eerste ruimtevlug van 'n kosmonout het algaande die oortuiging laat ontstaan dat die sosialistiese eksperiment suksesvol sou wees. In 1961 het die Sowjet-bewind amptelik besluit om 'n kommunistiese samelewing te verwesenlik. Ook in die DDR het bewindhebbers vol optimisme die utopiese droom van ongekende ekonomiese en wetenskaplike vooruitgang begin droom. Om jongmense en kulturele en tegnologiese elites se guns en politieke steun te wen, is hervormings begin en politieke kompromisse aangegaan. Filmkuns, musiek, literatuur het begin opbloei danksy nuwe vryhede. Die optimistiese gees of Aufbruch nach Utopia Stefan Wolle: Aufbruch nach Utopia. Alltag und Herrschaft in der DDR 1961–1971. Belin: Ch. Links 2013 het in 1968 skielik tot stilstand gekom met die militêre en politieke inmenging in Praag se politieke "lente" van hervormings.
Die uitgebreide welvaartstelsel, wat 'n werksgeleentheid vir iedereen, bekostigbare behuising en lae pryse vir stapelvoedsel voorsien het, het die DDR net soos die oliekrisis in die sewentiger- en die globaliseringstendense van die tagtigerjare geleidelik in 'n ernstige ekonomiese krisis gedompel. Die handhawing van 'n relatief hoë lewensstandaard en skuldbetaling aan buitelandse krediteure moes – om politieke redes – voorkeur geniet bo die benodigde beleggings en modernisering van nywerhede. Bernd Martens: Die Wirtschaft in der DDR. Bundeszentrale für politische Bildung (bpb), 30 Maart 2010
Die demokratisering van die Sowjetunie in die tyd van die glasnost- en perestroika-beleid het uiteindelik ook die politieke en militêre magsbasis van die SED-heerskappy verbreek, en die DDR-bewind het sy wettigheid verloor. Binne enkele maande het staat en party in 'n ongekende politieke grondverskuiwing begin verbrokkel. Ná massabetogings laat in 1989 is nog in die volgende jaar die eerste demokratiese verkiesing gehou. In die somer van daardie jaar is die Wes-Duitse geldstelsel ingevoer wat die Mark der DDR (Mark van die DDR) vervang het.
Op 3 Oktober 1990 het die vyf nuwe deelstate van die DDR (Mecklenburg-Voorpommere, Brandenburg, Sakse-Anhalt, Sakse en Thüringen) met die Bondsrepubliek Duitsland (waarna vroeër dikwels ook as Wes-Duitsland verwys is) verenig.
Geografie duimnael|links|Königsstuhl en Viktoria-Sicht op die Oossee-eiland Rügen duimnael|links|'n Landskapstoneel in die Sächsische Schweiz ("Saksiese Switserland") Die voormalige staatsgebied van die DDR het die huidige Duitse deelstate Mecklenburg-Voorpommere, Brandenburg, Sakse, Sakse-Anhalt en Thuringen asook die munisipaliteit Neuhaus in Nedersakse behels. Die Grondwet van die DDR het Berlyn (feitlik net Oos-Berlyn) as hoofstad van die land bepaal – 'n skending van die Geallieerde ooreenkoms tydens die Jalta-konferensie waarvolgens Berlyn in vier sektore verdeel was wat nie deel uitgemaak het van enige besettingsone nie, ook nie gedeeltelik nie. Die westelike Geallieerdes het hierdie oortreding de facto geduld. Die problematiek in verband met die status van Berlyn staan ook as Berlyn-kwessie bekend.
Die DDR is in die noorde deur die Oossee begrens (insluitende 'n seegrens met Denemarke), in die ooste deur Pole met die Oder-Neißeriviere-grenslyn en in die suide deur Tsjeggo-Slowakye. In die weste het die DDR aan die Bondsrepubliek Duitsland met die deelstate Sleeswyk-Holstein, Nedersakse, Hesse en Beiere gegrens. Berlyn was as 'n enklawe ingesluit in die staatsgebied van die DDR. Die mees noordelike punt was Gell-Ort noordwes van Kaap Arkona op die eiland Rügen, terwyl die mees suidelike punt naby die grenspos Schönberg in die munisipaliteit Bad Brambach (Vogtland) geleë was.
Die noorde en hartland van die DDR het deel uitgemaak van die Noord-Duitse Laagvlakte. Kenmerkende landskapsvorme van die gebied is morenelandskappe, wat tydens die koue periodes van die Ystydperk gevorm is, en 'n groot aantal mere op die Mecklenburgse Mereplato. Suid daarvan het heuwellandskappe tot in die groot bekkens van Leipzig en Thuringen gestrek.
Die suide is deur berglandskappe oorheers (met bergreekse soos die Harz, Thüringse Woud, Rhön, Ertsgebergte, Elbesandsteengebergte, Saksiese Switserland, Lausitzer Bergland en Zittause Gebergte). Die hoogste bergpieke was die Fichtelberg met 'n hoogte van 1 214 meter bo seevlak, die Brocken (1 142 meter) en die Groot Beerberg (983 meter). Die grootste meer was die Müritzmeer op die Mecklenburgse Mereplato. Ander beduidende mere het die Schwerinse Meer en die Malchinse Meer ingesluit.
Die belangrikste riviere, wat deur die DDR se staatsgebied gevloei het, is die Elbe, Saale, Oder, Havel, Mulde, Lausitzer Neiße, Spree, Ilm, Peene, Unstrut, Warnow, Werra en Wit Elster. Die grootste eilande in die Oossee naas Rügen was Usedom, Poel, Hiddensee en die skiereiland Fischland-Darß-Zingst.
Geskiedenis Die Sowjet-besettingsone duimnael|Landhervorming in Sakse. Posseël uit die jaar 1945 duimnael|Duitsland ná die Tweede Wêreldoorlog in 1947 Net soos in ander Oos-Europese, wat deur Sowjettroepe beset was, het Moskou ook in sy Oos-Duitse besettingsone vinnig begin om die politieke, ekonomiese en maatskaplike strukture volgens die Sowjet-voorbeeld om te vorm. In Pole en Oos-Duitsland het die Sowjettroepe klein groepe van emigrante saamgebring wat nou bande met die Sowjet-owerhede gehandhaaf het. Herzfeld, Prof. Dr. Hans en Dr. Gerhard Linne: Die Gegenwart seit dem Ende des zweiten Weltkrieges. In: Unser Jahrhundert im Bild. Gütersloh: Prisma 1985, bl. 585
Aanvanklik het die Sowjet-bewind voorgegee dat hulle die ontwikkeling van 'n onafhanklike Duitse sosialisme sou steun, en ten spyte van 'n aantal gruweldade tydens die Sowjet-verowering van die Duitse ooste was baie Duitsers bereid om 'n versoening met die Sowjette aan te gaan en met hul administrasie saam te werk. Moskou se strategie was om in die Oos-Europese satellietstate eers 'n blok van demokratiese partye toe te laat. Die samewerking tussen Sosiaaldemokrate en Kommuniste, wat gedurende die weerstand teen die Nazi-bewind begin is, is ná die oorlog voortgesit, en die Sowjet-administrasie het hom in 1945 nog teen 'n versmelting van die Sosiaal-Demokratiese (SPD) en Kommunistiese Party van Duitsland (KPD) uitgespreek.
Die Sowjet-administrasie was die eerste geallieerde owerheid wat vrye vakbonde en "anti-fascistiese" partye in sy besettingsone weer toegelaat het, terwyl die westelike geallieerdes gehuiwer het om hierdie voorbeeld te volg. Vir 'n kort tydperk het Berlyn tot die sentrum van die politieke lewe in Duitsland ontwikkel. Maar in 1946 was dit duidelik dat die Kommunistiese infiltrasie van Sosiaal-Demokratiese organisasies nie suksesvol sou wees nie. Die Sowjet-administrasie het met die stigting van die Sosialistiese Eenheidsparty van Duitsland (SED) die versmelting van die SPD en KPD afgedwing. Net in Berlyn het meer as 80 persent van die SPD-partylede hulle in 'n referendum op 31 Maart 1946 teen die versmelting uitgespreek. Dit was nou duidelik dat die Sowjetunie nie langer bereid sou wees om die hereniging van Duitsland te steun nie as hy sy politieke doelwitte vir die hele Duitsland nie sou kon bereik nie.
Die landhervorming van die jaar 1945 was reeds 'n stap in die rigting van 'n Sowjet-gebaseerde model vir Oos-Duitsland. Onder die voorwendsel van "denazifisering" en "demokratisering" is met 47 persent byna die helfte van alle grondbesit in die Sowjet-besettingsone onteien (in vergelyking met slegs tien persent in die Britse en drie persent in die Amerikaanse sone). Die groot historiese landgoede is in Oos-Duitsland tot staatsbeheerde kollektiewe of klein privaat boerderye omgeskep. Nogtans het sowat sewentig persent van die meer as 200 000 nuwe kleinboere nie eers oor 'n woning of stalle beskik nie, terwyl op die eienaars van middelgroot boerderye druk uitgeoefen is om by die staatsbeheerde kollektiewe boerderye aan te sluit. Herzfeld/Linne (1985), bl. 586
Dieselfde beleid is op die nywerheid- en handelsektor asook ambagte toegepas. Ná 'n gemanipuleerde referendum in die deelstaat Sakse is duisende ondernemings, wat sestig persent van die industriële produksie verteenwoordig het, onteien en of tot Sowjet-aandelemaatskappye (Duits: Sowjetische Aktiengesellschaften, SAG, tot in 1952) of tot staatsbeheerde ondernemings (Duits: Volkseigene Betriebe, VEB) omgeskep. Tussen 1945 en 1953 moes die gebied van die Sowjet-besettingsone daarnaas herstelbetalings ter waarde van 66 miljard mark (16,5 miljard VSA-$) aan die Sowjetunie maak.
Stigting van die DDR duimnael|links|upright|'n Portret van Walter Ulbricht het twee keer op die titelblad van die Amerikaanse nuustydskrif Time verskyn. In 1953 verwys 'n brandende Oos-Berlyn op 'n DDR-kaart na die ernstige krisis waarin die land deur werkersonluste gedompel is nadat verpligte werklaste verhoog is sonder loonstygings duimnael|Ter herdenking van die oorledenes, as waarskuwing vir die lewendesDie monument in die vroeëre konsentrasiekamp Buchenwald, waar aangehoudenes in April 1945 hul selfbevryding bewerkstellig het, versinnebeeld die Duitse Demokratiese Republiek se anti-fascistiese stigtingsmite duimnael|Hierdie grensversterkings by die voormalige grenslyn met Wes-Duitsland is tans 'n museum. Die skietbevel vir DDR-grensposte (waarby steeds onduidelik is wie dit uitgereik het) is 'n gunstelingonderwerp vir westerse propaganda. 200 mense het langs die grens tussen DDR en BRD gesterf, meestal terwyl hulle 'n poging onderneem het om die DDR onwettig te verlaat. Die 25 DDR-grenssoldate, wat gesterf het toe dodelike skote in die ander rigting geklap het (soms afgevuur deur hul eie vlugtende kamerade), word meestal doodgeswyg spiegel.de, 8 Julie 1991: "Die Augen feucht vor Wut". Besoek op 1 Mei 2019