Ds. Abraham Liebrecht Aucamp (distrik Bethulie, 21 September 1905 – 6 Junie 1961) was tussen 1933 en 1961 predikant in vier gemeentes van die Gereformeerde Kerk, onder andere die eerste predikant van die Gereformeerde kerk Eldoret in Kenia, ook sy eerste standplaas. Hy is oorlede in die jaar waarin hy sy emeritaat aanvaar het, waarskynlik weens swak gesondheid aangesien hy indertyd net 55 jaar oud was. Sy gemeentes was agtereenvolgens Eldoret (1933–1937), Bethlehem (1937–1942), Ficksburg-kombinasie (1942–1948) en eindelik Burgersdorp (1948–1961).
Nie lank ná sy aankoms in Eldoret nie het ds. M.P. Loubser, wat jare lank predikant van die NG Kerk in Kenia was, weens swak gesondheid en hoë ouderdom na die Unie terug vertrek. Langer as ’n jaar was ds. Aucamp die enigste Afrikaanse predikant in Kenia en in die tyd het hy soveel moontlik alle Afrikanergesinne en siekes besoek en begrafnisse gehou. Ook het hy hom beywer in belang van kulturele aangeleenthede, die viering van die Afrikanerfeesdae en die behartiging van die skoolbelange van die jeug. Later het daar ook broeders-predikante van die ander Afrikaanse kerke gekom — ds. A. Brand vir die Hervormde Kerk en di. J.W. Dednam en Brits vir die NG Kerk. Die samewerking met dié broeders was hartlik.
Jeugjare en opleiding duimnael|links|320px|Bestuur van die Studentekorps Veritas Vincet, Potchefstroom, omstreeks 1930 of '31. Van links: M. Postma, V.P. Snyman, W. Coetzee, J.L. de Bruin en A.L. Aucamp.
duimnael|regs|320px|Studente Teologiese Vereniging, Teologiese Skool Potchefstroom, 1926. Eerste ry: H.J. Vermeulen, F. Coetzee, P.W. van der Walt, Kuifie van der Walt, S.P. van der Walt, J.H. van Zyl. Tweede ry: J.P. van der Walt, B.J. de Klerk, H.C.J. Flemming, W.J. Postma, L.S. van der Walt, I.J. van der Walt, P.G.W. Snyman. Derde ry: J.J.H. Booysen, W.J. van der Merwe, J.L. van der Merwe, C.E.G. Malan, M. Postma, P.J. de Klerk, S.J. van der Walt, H.F.V. Kruger, J.L. de Bruin, A.L. Aucamp. Vyfde ry: Hugo du Plessis, P.J. Liebenberg, Fanus du Toit, B.B.B. Olivier, J.F. du Plooy, J.M. de Wet, J.B. du Plessis, S.C. Venter, A. Postma.
duimnael|links|300px|Studente en professore (van links: J.A. du Plessis, J.D. du Toit en C.J.H. de Wet) van die Teologiese Skool Potchefstroom, 1929. Abraham Aucamp staan links in die derde ry.
Abraham Liebrecht Aucamp het as jong seun geluister na die vertellinge van sy vader wat gedurende die oorlog (1898–1902) eers op kommando was en later as krygsgevangene op St. Helena, en na die van sy moeder eers op die eensame plaas en toe weggevoer in oop trokke per trein na die konsentrasiekamp by Norvalspont en later na die "moordkamp" by Bethulie. Hierdie gebeurtenisse het 'n onuitwisbare stempel op die kinders afgedruk met die resultaat om niks anders te wees as Christelik-nasionale Afrikaners nie. Omdat die ouerpaar alles in die Driejarige Oorlog verloor het, was dit maer jare van armoede en worsteling om die gesin te onderhou en te laat leer. Hulle was 'n gesin van nege kinders, ses seuns en drie dogters.
Kleintyd het Abraham Aucamp verskillende plaasskole besoek tot hy ná St. 6 na die dorpskool op Bethulie gegaan het, waar hy einde 1924 sy matrikulasie-eksamen afgelê het. Hy kon kort voor sy dood nog goed onthou hoe hy in die eerste skooljare kennis gemaak het met "English" en hoe die kind wat 'n Afrikaanse woord gebruik het, die plank-esel om die nek moes dra.
Begin 1925 is hy na Potchefstroom om predikant te word. Hierdie studie het hy aan die einde van 1931 voltooi en is hy beroepbaar gestel. Dit was in die jare van depressie en droogte. Vakante gemeentes was baie min. Meer as 'n jaar van wag vir 'n beroep het aangebreek. As proponent was hy 'n tyd lank in 'n gemeente behulpsaam vir vry inwoning en £5 per maand. Middel 1933 is hy toe beroep na Eldoret, Kenia.
In Kenia Bevestiging op Bethal So het in die naweek van 19 Augustus 1933 'n uitsonderlike gebeurtenis op die Hoëveldse dorp Bethal plaasgevind nadat die kerkraad van Eldoret, ’n gemeente wat destyds uit net oor die honderd belydende lidmate en sowat 80 dooplidmate bestaan het, die Algemene Vergadering in Transvaal die mandaat gegee het om vir hulle 'n proponent te beroep. Weens die enorme afstand met die enigste verbinding per skip langs die ooskus en ook met treine en karige vervoer, moes die kerkraad die uitsonderlike weg volg dat hul predikant in die Unie bevestig sou word. So is prop. Aucamp op Saterdagmôre, 19 Augustus 1933 deur ds. H.J.R. du Plessis bevestig as die eerste predikant van die Gereformeerde Kerk in Midde-Afrika.
Die kerkraad van Eldoret het juis Bethal gekies omdat die meeste van hul families aan die begin van die 20ste eeu uit daardie omgewing na Oos-Afrika getrek het. Dit was ook Nagmaalsnaweek en die kerkgebou was van Saterdagoggend af elke keer van hoek tot kant met belangstellendes gevul. Twee predikante was aanwesig wat later professor aan die Teologiese Skool op Potchefstroom sou word, di. S. du Toit, die plaaslike leraar, en J.P. Jooste, wat spesiaal van Bethulie af gekom het. Ook ds. N.H. van der Walt (die ou Kenia-veteraan) en ds. W.J. de Klerk wat Kenia in 1929 besoek het, was daar.
Ds. H.J.R du Plessis se bevestigingsrede oor Joh. 3:29 (die vriend van die bruidegom) was aangrypend. Sondagmiddag het die jeugdige ds. Aucamp die kansel bestyg en gepreek uit die nuwe Afrikaanse Bybel, wat maar pas verskyn het. Sy preek was 'n afskeidspreek aan die gemeentes in Suid-Afrika, maar ook sy intreepreek vir die gemeente in Eldoret. Hy was alleen, want hy het sy verloofde 'n ruk vantevore deur die dood verloor. Hy moes sy familie agterlaat en gaan na 'n wêreld wat hy nog nooit gesien het nie. Dit sou ook sy eerste seereis wees. Sy preek het die toehoorders aangegryp; plek-plek was daar trane in die oë. Dr. V.E. d'Assonville (later ds. Aucamp se swaer) skryf: "Baie gedagtes gaan deur die gemoed van dierbares en vriende, onder andere sy boesemvriend en getroue maat, proponent Jan du Plooy, saam met wie hy dikwels onder dieselfde kombers geslaap het. Maar helder klink die oortuigende stem in Bethal se kerkgebou. Sy teks is Hand. 20:24 – 'Maar ek bekommer my glad nie; ek ag ook my lewe vir myself nie dierbaar nie. . .'
Reis na Kenia duimnael|links|200px|Ds. Aucamp by Nairobi op 16 September 1933, kort ná sy aankoms in Oos-Afrika. Die seereis het gegaan van Lourenço Marques (Maputo) tot by Mombasa. Ds. Aucamp het voortdurend aantekeninge gemaak en 'n dagboek gehou, wat behoue gebly het. Op 4 September 1933 het hy sy reis met die Durham Castle begin. Op die aand van die 14de land hy in Mombasa. Met die treinreis na die binneland het hy dinge tot in die fynste besonderhede waargeneem. Hy skryf onder meer: "Dit is asof die trein sy slingerweg moet soek tussen die hoë en baie palmbome deur. Alles is so fris, groen en lewendig, en as 'n mens let op die gegewens by die verskillende stasies, dan merk jy hoe verbasend vinnig die trein klim – binne die eerste 50 myl bereik jy al die hoogte van oor duisend voet bokant seeoppervlakte, en by Limuru, 355 myl van Mombasa, is die hoogte 7 390 voet. . ." Van Eldoret het hy geskryf: "Dit is die hoofstad van die Uasin Gishu-plato, vanwaar 'n pragtige uitsig is oor die Elgeyo-vlakte en tot waar die berg Elgon op 'n afstand van ongeveer 80 myl van Eldoret hom in die verte bloudynsig verhef. Die hoogte van Elgon is 13 870 vt."
Eerste treë duimnael|regs|280px|Ds. Aucamp by die Ford-motor waarmee hy Gereformeerde lidmate in Oos-Afrika bedien het.
In Nairobi, Kenia se hoofstad, moes ds. Aucamp enkele dae oorbly en was hy by die Kilian-gesin tuis. By br. Hans Klopper, op 'n klein plasie 'n paar myl buite Nairobi, het hy toe sy eerste diens in Kenia gehou. Kort voor lank het hy al die Afrikaners in die omgewing ontmoet. Ook aan huis van ene br. Piet Visagie is 'n diens gehou.
Op Dinsdagmôre 19 September voor sonop het die trein die stasie van Eldoret binnestoom. Op die platform het oudl. Bernaas Enslin, diaken Stoffel Roets en br. James Wheeler die jong dominee ontmoet. Hulle het dadelik na br. Stoffel Roets se plaas vertrek waar ds. Aucamp vir eers tuis sou gaan aangesien Eldoret toe nog nie ’n pastorie gehad het nie. In sy aantekeninge het hy geskryf: "Ek was baie bly om weer tuis te wees, want dit is soos wat dr. Kuyper sê in sy In Jesus ontslapen: 'Daar is 'n verskil tussen op reis te wees en tuis wees.'"
Op Donderdag 21 September het hy sy verjaardag gevier. Saterdag 23 September 1933 was daar vir die soveelste keer fees in die gemeente van Eldoret, maar dié keer was dit seker die hoogtepunt, want ná 24 jaar het hulle eindelik hul eie predikant. Die Sondag was dit hul eie dominee wat vir hulle preek. Vier-en-twintig jaar nadat ds. H.J.R. du Plessis die gemeente op 13 Augustus 1909 gestig het, het 'n predikant feitlik op die ewenaar in die hart van Afrika kom woon en werk. Sy arbeidsveld was die hele Kenia en ook verspreidwonendes selfs tot in die Belgiese Kongo en Tanzanië. Op 20 Desember 1933 skryf ds. Aucamp: "Hier is die voorpunt van die Voortrekkers. . ." Dit was ook die voorpunt van die Gereformeerde Kerk. Uit Angola het die trek terug na Suid- en Suidwes-Afrika reeds in 1928 plaasgevind toe die Gereformeerde kerk Humpata dan ook ontbind het. Maar in Kenia was selfs in die depressiejaar 1933 nog 'n bruisende idealisme vol van toekomsideale.
Toe die knellende droogte van 1933 in die suide op sy hewigste was, het die toekoms vir die Afrikaners in Midde-Afrika oopgelê. In die streek Kakemega in Kenia is goud ontdek en selfs verwag dat spoedig "'n jong Johannesburgie" sou ontstaan waardeur nog baie Afrikaners uit die suide sou kom, aldus Die Kerkblad, orgaan van die Gereformeerde Kerk, van 20 Desember 1933. Die kerk het 'n bloeitydperk binnegegaan en hierin het die predikant ’n groot aandeel gehad.
Gemeentelike werk duimnael|links|320px|1933: Die Algemene Sinode van die GKSA in sitting Pretoria, afgeneem op die trap van die Uniegebou. Eerste ry: A. Postma, P.G.W. Snyman, Derk Rumpff, J.G.H. van der Walt, I.D. Krüger, prof. J.C. Coetzee, T.T. Spoelstra, A.S.E. Yssel, D.N. Kotzé, W.J. Postma, J.P. van den Berg, I.J. van der Walt. Tweede ry: H.F.V. Kruger, J.H. Boneschans, J.M. de Wet. Tweede ry: W.J. de Klerk, P.J.S. de Klerk, B.J. de Klerk, B. de Klerk, S.J. van der Walt, L.S. van der Walt, J. Schutte, N.H. van der Walt, E.I.J. Venter, H.S. van Jaarsveld, H.J. Venter, D.G Venter, J.V. Coetzee. Vierde ry: J. van Rooy, A. Aucamp, H.P.J. Pasch. Vyfde ry: J.A. van Rooy, J.H. Kruger, G.H.J. Kruger, W.F. Venter, I.J. Lessing, J.B. du Plessis, S.P. van der Walt, J.P. Jooste, J.L. de Bruin, S. du Toit, D.P. du Plessis, F.P.J. Snyman.
Die heel eerste kerkraadsvergadering wat ds. Aucamp op Eldoret gehou het, was die begin van 'n aansteeklike ywer en geesdrif in die hele gemeente. Die nuwe predikant het al die gemeenteaktiwiteite konstruktief en op 'n gereelde basis gestel. Sy program vir eredienste is soos volg bepaal: Die eerste Sondag van elke maand in die wyk van oudl. Enslin; die tweede in die wyk van oudl. Klopper; die derde afwisselend op die plekke Bessiefontein en Broederstroom; die vierde in Eldoret in die kerkgebou waar die hele gemeente dan sover moontlik sou bymekaarkom. Vir die eerste keer in Eldoret se geskiedenis kon onder die moeilike omstandighede gereeld kategismuspreke gelewer word, terwyl die dominee ook elke week katkisasies op verskillende plekke gehou het. Die maandelikse kerkraadsvergaderings – vroeër hoogstens een keer per jaar – het geweldig bygedra om die ampsdraers se kennis oor die Gereformeerde leer en kerkregering te laat toeneem. Dit moes hulle vroeër jare lank ontbeer. Die vaste predikant was vir die gemeente ook 'n herder en leraar in al hulle lief en leed, in hul huwelike en ook in hul siekte, dood en smart.