Eveleen Castelyn (1928–2004) was ’n Afrikaanse digter wat veral in die skryf van haikoes en tankas uitgeblink het. Haar debuutbundel, Tussen hemel en aarde, is in 1979 met die Eugène Maraisprys bekroon.HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013,

Lewe en werk Eveleen Pretorius is op 17 Junie 1928 op Schweizer-Reneke gebore en word groot op hierdie dorp waar haar vader, Jan Pretorius, stadsklerk was. Na die dood van haar vader in 1937 verhuis die gesin in 1939 na Pretoria. Sy gaan skool aan die Laerskool Pretoria-Oos en matrikuleer in 1946 aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool. Hier verwek Anna Neethling-Pohl by haar ’n vroeë belangstelling in en liefde vir die poësie deur haar voorlees van gedigte van Leipoldt, Celliers, Marais, Krige, Eybers en die Louw-broers. Noodgedwonge moet sy na skool gaan werk om haarself te onderhou en sy kry opleiding in handelsvakke aan die Liefse Handelskollege in Pretoria. Vanaf 1947 tot 1952 is sy snelskrifonderwyseres by hierdie selfde kollege en later werk sy ook ’n ruk by die Universiteit van Pretoria. In 1950 trou sy met die onderwyser Hermanus Christoffel (Cas) Castelyn, later professor aan die Fakulteit Opvoedkunde van die Universiteit van Suid-Afrika. Hulle het twee seuns, Jan en François. Die gesin het ’n wye belangstelling in kuns, antieke Oosterse porselein, Persiese tapyte, Africana en wêreldletterkunde.

Eveleen dien vanaf 1973 tot 1978 in die skakelredaksie van Tydskrif vir Letterkunde. Sy het ’n goeie leeskennis van Duits en Frans en is goed bevriend met Elisabeth Eybers, wat ook op Schweizer-Reneke groot geword het en wat haar baie aanmoedig en help met haar gedigte, veral voor die verskyning van haar eerste bundel. Haar man ontval haar in 2002 en sy is op 5 Desember 2004 in haar huis in Menlopark in Pretoria oorlede

Skryfwerk Haar eerste gepubliseerde werk is kinderverhale en sy publiseer “Gladdejan die seepmannetjie en ander stories vir kleuters” in 1957, opgevolg met “Stories vir die kleingoed” in 1961. Reeds vroeg in die sewentigerjare verskyn daar ook gedigte en kortverhale van haar in Standpunte en Tydskrif vir Letterkunde. Vanaf haar eerste bundel lewer sy gedigte wat getuig van digterlike selftug, waarin ’n goed ontwikkelde beeldsintuig en sin vir kontraste werksaam is.Heinrich Ohlhoff se profiel oor Castelyn “Perspektief en Profiel Deel 3” van 2006 is die mees insiggewende bron oor Castelyn se poësie. Deurlopende temas in haar werk is die waardes gesentreer in ’n stadslewe, in die gesin en godsdiens, geweld en sosio-ekonomiese en politieke vraagstukke. Die mens met sy ervarings en bedreigings soos pyn, siekte, ouderdom, geweld en buitestaanderskap is telkens die kern. Die tegnologie word ook beklemtoon, soos veral in “Kubermens” verwoord. Sy behandel ook die verbygaande tyd, aftakeling, afstand doen en skeiding en is waarskynlik die eerste Afrikaanse digter van tanka-verse en ons voorste digter van haikoe-verse in die tradisionele Japannese vorm. Haar bydrae tot die Afrikaanse poësie lê veral in haar besondere vermoë om verse te skryf wat byna deursigtig is in hulle eenvoud, maar telkens met ’n herlees ’n fyn deurdagte vakmanskap verraai.

Haar debuutbundel “Tussen hemel en aarde”Brink, André P. “Rapport” 8 Oktober 1978 se titel dui reeds verskeie van die temas aan, soos die kontraste tussen hemel en aarde, heilig en wêrelds, dood en lewend en ideaal en werklikheid en verys ook na die lot van woonstelbewoners.Cloete, T.T. “Tydskrif vir Letterkunde” Nuwe reeks 17 no. 3, Augustus 1979 Dit bevat verse oor die aarde en die aardse leed waarin dit duidelik blyk dat die aarde nie ons woning is nie.Cloete, T.T. “Tydskrif vir Geesteswetenskappe” Jaargang 19 no. 3, September 1979 Dit is veral die stad wat die hemelse dinge, soos die fraai en blomryke natuur, die gesinsverband en die eenheid met die aarde, bedreig. Baie gedigte handel oor siekte, afskeid en dood, waar mense in transito tussen hemel en aarde is.Grové, A.P. “Die Transvaker” 25 November 1978; Scholtz, Merwe “Beeld” 16 Oktober 1978 Die openingsgedig “In die wagkamers” beskryf die pasiënte wat in die wagkamers sit met die X-straalfoto’s van hulle ingewande en wag op die verslae oor hulle siektes, wat soos doodsberigte aan hulle oorgedra word. Hierdie stryd teen siekte is soos die groot verdrukking wat die pasiënte op aarde moet trotseer. “Terapie” beskryf die diagnose van die ortopediese chirurg, maar die spreker vind troos in die rym van die mediese woorde met alledaagse woorde, terwyl die spreker vertroosting vind daarin dat die fisiese behandeling sal geskied deur iemand wat slegter daaraan toe is as sy. “Histerektomie” werk knap met ironiese teenstelling, met die eerste strofe wat die begin van lente en by implikasie nuwe lewe aankondig, terwyl dit juis die tyd is wat die spreker se vrugbaarheid finaal beëindig word. “Afsondering” beklemtoon die afgeslotenheid van groepe mense en individue, veral die baie wat in afsondering sterwe. “’n Wes-Transvaalse trauma” beskryf die herinnering van die droefheid na die oorlye van ’n vader, wat die spreker herbeleef wanneer die nagwind verdrietig huil. “Die slagoffer” het ’n kind as spreker, wat ná die egskeiding deurloop onder die ouers se haat vir mekaar. Aangrypend is die deernis met die mens wat spreek uit “Harmonie in Mearsstraat”, wat geskryf is na aanleiding van ’n skildery waar die mens in sy neerdrukkende stadsbestaan geteken word. “Van Kersfees tot Mei” beskryf die oppervlakkige bejeëning van godsdienstige vakansiedae, waar die ware aard van hierdie geleenthede nie meer erken word nie. “Johannesburg” speel knap met die teenstelling van die stad in die aand met sy blink liggies, wat in die dag afwesig is, met slegs die werklikheid dat die stad van onder hol is, wat ook die leegheid van die stadsbestaan beklemtoon. Die stutte is ook verwyder, wat suggereer dat die bestaan nie stewig is nie en soos ’n kaartehuis kan intuimel. “Foto-verhaal” is ’n beskrywing van ’n lewensgeskiedenis vanaf die kinderspel tot by die graf na aanleiding van ’n paar foto’s. “Hansie en Grietjie” het die bekende sprokie van Grimm as agtergrond, maar die digter verplaas die gebeure nou na ’n moderne stadsmilieu. Die ouers se gejaagde lewenswyse veroorsaak dat hulle in werklikheid stiefouers word wat hulle kinders daagliks by bewaarskole aflaai en na werk weer oplaai en hulle terugneem na hulle hokke, waar hulle by implikasie die funksies van die heks in die sprokie oorneem. Die toespeling slaag egter slegs gedeeltelik, aangesien daar te veel van die basis gegewe wegbeweeg word. “Word die bome nog?” skets die stadbewoner se afgeslotenheid van die natuur, met die eerste strofe waarin die spreker vrae vra en wonder of die natuur nog is soos in die verlede. Die tweede strofe dui dan die onnatuurlike van die woonstelplantasies aan en sluit aan by “Hansie en Grietjie” in die suggestie van die besering aan die kind. “Werkende vrou” is ’n treffende beskrywing van hoe die vrou wat in haar werk opgaan, afgesluit word en vervreem word van haar man en kinders terwyl die tyd meedoënloos verbygaan. Die aanduiding van hoe die tyd verbygaan (“nou-nou” in die eerste strofe, “dagskof” in die tweede en “jaar” in die derde) word subtiel gedoen, terwyl die vertrek van die swaeltjies ook simbool is van hoe die somer van die lewe verbygegaan het en daar nou slegs die winter is. “Dienspligtige” is ’n tweegesprek tussen die dienspligtige en sy ma. Hierin word die onpersoonlike gebruik van die metaalplaatjie om sy doodstyding aan die ma oor te dra, verduidelik. Die ma antwoord dat hy tot dusver slegs lig verwond is, met die implikasie dat enigiets vorentoe nog kan gebeur. “Ruimtewandeling” beeld die spreker se begeerte uit om na die dood ligvoets in die niet te wandel, wat gekontrasteer word met die stoet begrafnisgangers wat stadig voortbeweeg met haar lywige oorskot. In ’n ander toonaard is “September”, waar die titel reeds die begin van lente en nuwe lewe suggereer en die egpaar opnuut hulle huwelik herdenk met ’n fees waarin hulle die heuning en maan (toespeling op “honeymoon”) geniet. Hierdie bundel word in 1979 met die Eugène Marais-prys bekroon.