Nota: Vir die politikus en kabinetsminister, sien Michiel Coenraad Botha.
M.C. Botha (1954–) is ’n Afrikaanse skrywer en redakteur van die streekskoerant The Hermanus Times. As skrywer verwerf hy onder meer bekendheid vir sy kortverhale, reisverhale en romans. Hy publiseer ook 'n aantal bekroonde dramas.HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013,
Lewe en werk
Herkoms en opleiding Marthinus Christoffel Botha is op 3 Augustus 1954 in Pretoria gebore as een van twee kinders en enigste seun van regter André Stephan Botha. Sy suster, Lynette, trou tydens apartheid met ’n Indiër en vlug daarna landuit.Rapport 7 Julie 2008: http://152.111.1.87/argief/berigte/rapport/2008/07/07/RU/4/RUNews004-BOEK4A.html Hy is ’n kleinseun van M.C. Botha, voormalige rektor van die Universiteit van Pretoria. Sy volle skoolopleiding geniet hy in Pretoria en hy matrikuleer in 1972 aan die Hoërskool Menlopark. Na matriek doen hy sy militêre diensplig en studeer daarna vir ’n ruk aan die Universiteit van Pretoria, maar voltooi nie hierdie studie nie. Dan is hy vir ’n ruk ’n regtersklerk vir regter Denys Williamson en daarna regter Irving Steyn in die Johannesburgse hooggeregshof, en ook 'n deeltydse fotograaf. Hy verhuis later na Hermanus, waar sy pa ’n vakansiehuis het. Hier skryf hy voltyds en vanaf 1975 is hy aan en af as joernalis werksaam by The Hermanus Times.
Loopbaan as joernalis en redakteur van The Hermanus Times Hy werk gereeld totdat hy genoeg geld het om te reis, waarna hy weer met sy terugkeer ’n pos opneem. Sy eerste reis is vir tien maande deur Europa. Van die los werkies wat hy in sy lewe gedoen het, sluit in mielies oes op ’n plaas net buite Pretoria, druiwe oes op ’n wynplaas tussen Bonnievale en Robertson en die verkoop van blokkiesraaisels wat hy self opstel aan plaaslike koerante. Tydens die skilder Walter Battiss se afskeidsreis deur Suid-Afrika wat in Mei 1982 eindig, is hy Battiss se motorbestuurder. Battiss is in Augustus daardie selfde jaar oorlede. In die tagtigerjare onderneem hy ’n lang Europese reis en vestig hom dan by sy terugkeer in Kaapstad, waarna hy na Onrus verhuis en dan redakteur word van The Hermanus Times en later ook van die susterpublikasie Overberg Venster. Gedurende 2003 loods hy deur middel van The Hermanus Times Operasie Mooimaak, waardeur die hele gemeenskap help om die Mount Pleasant woonbuurt in Hermanus te verfraai. Hy is getroud met Corrie Hugo, maar die skrywer en sy vrou is later van mekaar vervreem. Hulle het twee seuns. Hy het in 2001 en 2002 ’n ernstige verhouding met die Kanadees Leslie Cockwell, wat hy in Hermanus ontmoet het nadat sy daar aangerand en verkrag is. Hierdie verhouding ly skipbreuk wanneer die Kanadese owerhede weier om aan hom ’n visum toe te staan om haar te besoek.News24: http://www.news24.com/xArchive/Archive/Author-puzzled-by-shut-out-20020825
As joernalis verower hy verskeie Sanlam Gemeenskapsperstoekennings op grond van sy werk vir The Hermanus Times, waaronder ’n merieteprys in 1990 in die kategorie algemene nuus, in 1994 wenner van die kategorieë vir redaksionele kommentaar en rubrieke, Joernalis van die Jaar in 1995, naaswenner as Joernalis van die Jaar in 1999, wenner van die stemmingsfoto in 2000, naaswenner vir redaksionele kommentaar in 2001 en wenner vir omgewing en gesondheid in 2003. In 2006 word hy in ses kategorieë onder die top tien geplaas, naamlik Joernalis van die Jaar, redaksionele kommentaar, koppe, geleentheid, sport en portrette. In 2007 word hy onder die top tien geplaas vir redaksionele kommentaar, koppe en geleentheid (waar hy eerste geplaas word vir sy artikel oor Run baby run) en as beste fotograaf in die stemmingsfotokategorie. In 2008 word hy onder die top tien geplaas vir redaksionele kommentaar, kolomme en is hy die wenner in die portretkategorie. Hy behartig die rubriek Sondagrus in Sondag en neem ook deel aan die Overbergse Boekefees op Kleinmond in 2007. Benewens skrywer is hy ook ’n geesdriftige fotograaf, wat onder andere in 2007 die Voëls van die Overberg uitstalling by die Kalfiefees op Hermanus hou en in 2009 die uitstalling van naakstudies Kaal by die Woordfees op Stellenbosch. In sy vrye tyd skilder hy ook graag.
Skryfwerk
Kortverhale Aanvanklik skryf en publiseer hy gedigte, maar lê hom later toe op kortverhale. Sy kortverhale verskyn vanaf 1974 in letterkundige tydskrifte soos Tydskrif vir Letterkunde, Standpunte en Contras. Hy debuteer in 1980 met sy eerste bundel kortverhale, Die hartklop van gevoel.Smuts, J.P. Burgerband. Tafelberg-Uitgewers Beperk Kaapstad Eerste uitgawe 1985 Hierdie verhale gaan hoofsaaklik oor die verhouding tussen mense, in die besonder oor die verhouding tussen man en vrou, met die openingsverhaal en slotverhaal wat bymekaar aansluit om so eenheid aan die bundel te verskaf.Olivier, Gerrit. Standpunte. Nuwe reeks 159, Junie 1982 In wese is al hierdie verhale ’n soeke na geluk wat steeds ontwykend,Pretorius, Wessel. Die Transvaler, 23 Februarie 1981 steeds illusie bly; die werklikheid is telkens anders.Van Zyl, Dorothea “Beeld” 27 April 1981 Feitlik al die verhale staan in die teken van ’n wrang soort nugterheid, en ’n erotiek wat dikwels op ontstellende wyse gestroop is van emosie. In Liefde is sterker as plastiek kies twintig meisies byvoorbeeld ’n winkelpop as man en na twee jaar sien hy gehawend daaruit. Reeds in hierdie bundel is sy gebruik van die kortverhaalvorm indrukwekkend en slaag hy daarin om die verhale op hoogtepunte te laat eindig, al is die gehalte van die verhale nog ongelyk.
SkertseFerreira, Jeanette. Die Transvaler, 16 November 1981 is ’n voortsetting van sy debuut, maar op satiriese wyse, waar die mens as ’n masjien eerder as natuurlik voorgestel word en die politieke situasie ook onder die loep kom. Dit is ’n indringende blik op die Suid-Afrikaanse gemeenskap, waar die eienskappe van ’n kwasi-intellektuele maar gevoellose maatskappy, emosieloos en ontdaan van ’n sin vir vryheid en ’n natuurlike drif vir die lewe aangespreek word – alles kenmerke van die gewone mens. Walter Battiss doen die tekening vir die buiteblad van hierdie boek. Die vrees vir sensuur oor die inhoud van die verhale en die Battiss skets op die voorblad laat hom besluit om hierdie boek by die alternatiewe uitgewer Taurus uit te gee, eerder as by ’n hoofstroom-uitgewer.
Die prys wat jy moet betaalDe Vries, Abraham. Die Burger, 22 Julie 1982 is momentopnames van die lewe, waar uit gewone situasies ’n spannende verdere verloop van sake gekonstrueer word. Die karakters is hoofsaaklik uitsonderingsfigure en buitestaanders, wat met deernis en droë humor geteken word. Meer as in die verlede slaag die skrywer hier daarin om sonder verduideliking en met suggestie parallelle te trek en betekenis te skep (vergelyk Die reisiger), terwyl die erns tekens versag word deur die skerp humoristiese waarneming van weggooisinne. Mona Lisa verwys na die bekende skildery deur Leonardo da Vinci wat in die Louvre in Parys hang. Klaas van Wyk is ’n toeris wat in sy kop die reis vanaf die vele afbeeldings van hierdie beroemde skildery tot die werklike skildery moet aflê, wat in ’n glaskas beskerm word en afgeskort is sodat toeskouers nie naby kan kom nie. Hierdie afstand word verder gekompliseer deur die hoogdrawende en niksseggende kommentaar van die gids. Klaas gaan hierna na ’n beeld van Rodin, waaraan hy kan vat en fisies (en emosioneel) baie nader aan kan kom. Hy keer terug na die afsydige en onbereikbare Mona Lisa, waarop Leonardo da Vinci self opdaag en die glasbeskerming rondom die skildery stukkend loop sodat die vrou op die doek hom kan herken.
Kort hierna volg Die einde van ’n kluisenaar se lewe,Brink, André P. Rapport, 3 Oktober 1982 wat Botha afsluit met ’n opstel oor sy kortverhale.Smuts, J.P. Die Burger, 11 November 1982 Hieruit blyk dit dat hy deernis, humor en wysheid as ’n kortverhaal se drie belangrikste bestanddele beskou, die surreële met die reële probeer versoen en die slot van die verhaal as die digste element van die verhaal beskou. Meeste van sy verhale voldoen aan hierdie vereistes. Getrou aan die titel behandel die bundel ’n aantal kluisenaars en buitestaanders as karakters, waarin hulle dan juis soek na hulle eie plekkie in die son. Die verhaal van Frans Malan is ’n hoogtepunt, waar die hoofkarakter, ’n plattelandse stadsklerk, oënskynlik gelukkig en aangepas is binne sy kleinburgerlike bestaan. Dit blyk egter subtiel dat sy aangepastheid eerder ’n soort isolasie is wat sy besef van die volle werklikheid van die lewe verdoesel. Hy en sy vrou lewe in aparte wêrelde en hy is uitermate geheg aan sy hond, wie se dood sy lewe ontwrig. Na ’n toevallige ontmoeting met die verwaarloosde bruin man Antonie, wat hy probeer help, word hy dan ook weggeskeur uit sy gemaksone. Hy word in ’n totaal vreemde wêreld geplaas met ’n omgekeerde baas-kneg verhouding, waardeur hy ook ’n persoonlikheidsverandering ondergaan. Die slot deel mee dat hy nie meer kan fokus nie, met veeldoelige betekenis. Hy kan glad nie vooruit sien in die toekoms nie, want die toekoms is totaal anders as die verlede en hy het fokus op sy lewe verloor, sonder om werklik te verstaan. Die verwagting word dan geskep dat hy soos Antonie ook vorentoe alleen die wêreld sal moet aandurf.
In Bome van kennis en ander verhaleBrink, André P. Rapport, 9 Maart 1986 is die verhale meestal ’n verplasing of aanvulling van die realistiese deur die magiese.Rabie, Jan. Die Suid-Afrikaan, Herfs 1986 Die titelverhaal handel oor ’n vrou – die aartsmoeder – en haar obsessie oor bome wat deur onsigbare bose magte uitgeroei word.Van Zyl, Ia. Tydskrif vir Letterkunde. Jaargang 25 no. 1, Februarie 1987 Dit is ’n fantasiespel wat geweef word rondom die uitbeelding van die oeroue konflikte en vraagstukke van die mensdom. In Inkululeko (wat “vryheid” beteken) lewer ’n posbode “sinnelose” boodskappe af sodat hy ook ontvanger van ’n gedroomde boodskap kan word. Hierdie verhaal word voorgeskryf vir onderrig in Wes-Kaapse skole. In Die jaarring maak die leser kennis met ’n vrou wat besoek ontvang van ’n spookman wat haar trouring aan haar kom terugbesorg. Hy blyk oplaas haar eie vermoorde man te wees en sy word sodoende met die waarheid en in wese ook met haarself gekonfronteer. In aansluiting by die magiese is daar ook ’n tipe onskuld te midde van wrede handelinge teenwoordig, sodat moordenaars telkens ’n gebrek aan berou toon vir hulle dade. In Gabebah raak ’n groep gevangenes op ’n houtpop verlief. Met sy ontslag neem die hoofkarakter die pop saam huis toe, as surrogaat vir die vrou wat hy vermoor het.