duimnael|Wilhelm Knobel

Wilhelm Knobel (*26 Oktober 1935, Bethlehem – 4 Januarie 1974, Kaapstad) was 'n Afrikaanse digter en skrywer. Hoewel hy hoofsaaklik bekendheid verwerf het vir sy digkuns, skryf hy onder meer ook prosa (kortverhale en vervolgverhale), 'n kinderboek en doen hy ook vertaalwerk.Versindaba: http://versindaba.co.za/tag/wilhelm-knobel/

Lewe en werk

Vroeë lewe en herkoms Wilhelm Friedrich Knobel is op 26 Oktober 1935 op Bethlehem gebore as een van sewe kinders van Gideon Jacobus Knobel en Esther Pienaar Roux.Geni: http://www.geni.com/people/Wilhelm-Knobel/6000000016134052856 Sy pa was Volksraadslid en boer en het in ’n motorongeluk gesterf, terwyl sy ma op 89-jarige ouderdom in die Helen Keller-tehuis in Pinelands in Kaapstad oorlede is. Deon Knobel, later professor in forensiese patologie aan die Universiteit van Kaapstad en staatspatoloog, is een van sy broers. Hy bring sy kinderdae deur op die familieplaas Versien, waar hy die alledaagse bedrywighede van ’n boereplaas beleef en gadeslaan, hoewel die slag van diere, die jag van hase en die vang van babers in kuile hom ontstel. Hierdie gebeure maak ’n diep indruk op sy sensitiewe gemoed en vind jare later neerslag in sy gedigte. Baie vroeg reeds ontwikkel hy ’n onversadigbare leeslus. Hy is verder intens geïnteresseerd in musiek en neem jare lank klavierlesse. Sy skoolonderrig ontvang hy aan die plaaslike skole op Bethlehem waar hy in 1953 aan die Hoërskool Voortrekker matrikuleer.

Opleiding en begin van loopbaan Hierna skryf hy vir verdere studie in by die Universiteit van Stellenbosch. Vroeg in sy eerste akademiese jaar in 1954 kry hy egter ’n ernstige senuwee-aanval, wat hom verhoed om daardie jaar verder te studeer. Die res van die jaar bring hy dan op die plaas deur. Hy ly hierna vir die res van sy lewe aan bipolêre gemoedstoornis, ’n toestand wat in sy tyd ongelukkig nog nie goed begryp is nie en waarvoor psigotropiese medisyne nog nie genoegsaam ontwikkel is nie.

In 1955 begin hy weer studeer en behaal in 1957 sy B.A.-graad met lof, met Afrikaans-Nederlands, Engels en Filosofie as hoofvakke. Hy neem in hierdie tyd reeds gevorderde tjello-lesse en neem deel aan heelwat buitemuurse aktiwiteite. Tydens sy Honneursjaar in Filosofie neem hy ook Frans en die jaar daarop (1959) behaal hy ook sy B.A. Honneurs-graad in Frans met lof. In die wysbegeerte stel hy veral belang in die werk van die belangrike eksistensiële fenomenoloog, Maurice Merleau-Ponty, wat die fenomenologie van waarneming anker in die lewende liggaam en dus in die mens se daaglikse bestaan. Hierdie insig stimuleer Wilhelm se denke en vind later neerslag in sy gedigte.

Tydens sy studentejare dien hy vier jaar op die redaksie van Prisma, kultuurblad van die studente, en hier verskyn sy eerste gedigte in druk. In 1958 help hy met die stigting van die letterkundige vereniging, die Afrikaanse Studiekring, en in 1959 is hy voorsitter van hierdie liggaam. ’n Lesing wat Jan Rabie indertyd op Wilhelm se inisiatief voor die Studiekring kom hou het was die aanleiding tot Rabie se boek, Die evolusie van nasionalisme. Hy neem aktief deel aan besprekingsgroepe en dien as kunsredakteur op die studentekoerant Die Matie.Stellenbosch Writers: http://www.stellenboschwriters.com/knobelw.html

Vir die tydperk Maart 1960 tot Mei 1961 is hy werksaam by die Engelse uitgewery Longman‘s Southern Africa in Kaapstad, waarna hy in Junie 1961 met ’n beurs van die Franse regering na Parys vertrek ten einde sy studies aan die Sorbonne voort te sit. Hier maak hy onder andere weer kennis met Breyten Breytenbach. Hy behaal ook tydens ’n somerskool ’n diploma by die École de Préparation Perfectionnement de Professeurs de Français á l’Étranger in moderne Franse letterkunde.

Tydens ’n vakansietoer deur België is Wilhelm in 'n motorongeluk betrokke en doen hy harsingskudding op. Hy ontwikkel ongelukkig ontwikkel ’n heraanval van sy manies-depressiewe psigose of bipolêre gemoedsversteuring, wat hom in Parys na ’n inrigting dwing, en hy keer noodgedwonge in Desember 1961 terug na Suid-Afrika. Hy sit in 1962 sy Franse studies voort aan die Universiteit van Stellenbosch. In tydelike hoedanigheid doseer hy in 1963 Frans aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat en is daarna vir twee jaar (1964–1965) dosent aan die Universiteit van Suid-Afrika. Hierna werk hy ’n hele aantal jare as vertaler by die Sitrusbeurs en Hoofposkantoor in Pretoria.

Persoonlike lewe en sterfte Ten spyte van herhalende periodes van depressie en behandeling, leef hy hom uit in musiek en publiseer talle gedigte in uiteenlopende tydskrifte. Hy bou ’n besonder wye vriendekring op, wat die jong digters Phil du Plessis en Casper Schmidt insluit. Vir ’n geruime tyd is hy ook musiekresensent vir een van die groot Afrikaanse dagblaaie.

Die laaste twee jaar van sy lewe bring hy in Tuine, Kaapstad, aan huis van sy broer Deon Knobel deur. Deon is ’n professor in Forensiese Medisyne aan die Universiteit van Kaapstad. Wilhelm is weens sy swak gesondheid nie meer in staat om ’n betrekking vol te hou nie en word ook ’n aantal kere in die naby geleë Gardens Nursing Home opgeneem vir behandeling.

In Desember 1973 spreek hy die begeerte uit om vir Kersfees vir oulaas terug te gaan na die familieplaas Versien toe. Op Nuwejaarsdag 1974 keer hy terug na Kaapstad en in die vroeë oggendure van 4 Januarie 1974 sterf hy stil in sy slaap in ’n private verpleeginrigting in Tuine in Kaapstad.

Hoewel daar ’n vermoede was dat hy moontlik sy eie lewe geneem het, word hierdie teorie die nek ingeslaan wanneer die amptelike ondersoek bevind dat sy dood te wyte is aan ’n respiratoriese probleem. Hy sterf tydens 'n hiper-maniese aanval, waarvoor hy baie hoë dosisse medikasie ontvang het wat uiteindelik sy asemhalingsentrum onderdruk en sy dood veroorsaak het. Op 8 Januarie 1974 word hy op die familieplaas Versien begrawe na ’n misdiens in die Rooms-Katolieke Kerk op die dorp.

Skryfwerk

Prosa Wilhelm se eerste vervolgverhaal, Niffie se avonture, verskyn van 1947 tot 1948 in die Klein Burger, toe hy nog op laerskool was. Twee ander kinderverhale word ook in Klein Burger gepubliseer. Vanaf sy hoërskooldae spits hy hom toe op die skryf van gedigte. Op universiteit verskyn sy gedigte in Prisma en later publiseer hy ook in tydskrifte soos Inset, Kriterium, Wurm, Lantern, Ophir, De Arte, Sestiger, Kol, Standpunte, Tydskrif vir Letterkunde, Contrast, New Nation, etlike Vlaamse tydskrifte en Unisa English Studies. In 1965 verskyn van sy verse in Stiebeuel 2, ’n versamelbundel saamgestel deur D.J. Opperman en Fred le Roux, waarin belowende jong digters wat nog nie voorheen ’n selfstandige bundel gepubliseer het nie, geleentheid gegee word om ’n debuut te maak. Met sy gebruik van die vrye versvorm en assosiatiewe beelde is sy poësie eksperimenteel van aard en toon hy ’n verwantskap met die Nederlandse Vijftigers. Verskeie temas kom herhaaldelik in sy poësie voor. Die dood in al sy fasette is ’n uiters belangrike tema en die dood van sy vader, sy susterskind en ander kennisse en openbare figure vind almal uiting in gedigte. Dit is egter nie net mense wat aandag kry nie, maar ook die dood van plaasdiere soos beeste, of hase en sy vriendin se hondjie word beskryf. Die dood was vir hom ’n vreeslike gedagte wat hy moeilik verwerk. Liefde is ook ’n deurlopende tema, maar dan meestal as geïdealiseerde en onvervulde ideaal. Musiek en die skilderkuns was blywende belangstellings wat dikwels neerslag vind in sy gedigte en die feit dat hy sommige van die kunstenaars ken, verpersoonlik hierdie gedigte. Die godsdiens is ’n ryk bron van inspirasie en gee aanleiding tot ’n deurlopende soeke na waarheid en sin, wat hy tesame met sy siening van lewe na die dood in sy gedigte beskryf. Hy wy etlike gedigte ook aan die sosiaal-politiese regverdigheid en sy afsku aan huigelary. Uniek in die Afrikaanse digkuns is sy verkenning van sy siektetoestand en die sikliese aard daarvan, waarin die verval van die gemoed aangrypend bewoord word (soos in die gedig Sprokie).

Digkuns Sy eerste bundel is Bloedsteen, waarin die steen in die titel die poësie verteenwoordig, beide vir sy skoonheid en die genesing wat dit bring, terwyl die bloed beide die lewe en die wondbaarheid simboliseer. Die verse spreek van die weerloosheid en wondbaarheid van die self wat ’n alleenstryd voer teenoor die bedreigende lewe en werklikheid. Telkens word daar in ’n mate ontvlugting en skuiling in die digkuns gevind, waarin die begeerte na stilte en lig verwoord kan word. ’n Motto uit Salvatore Quasimodo (“Elkeen staan alleen op die hart van die aarde / deur ’n straal van die son deurboor: / en skielik is dit aand”) is die inset tot die vier afdelings van die bundel. Die jeugverse in die eerste afdeling handel naas natuurindrukke oor die eensaamheid van die mens. Die aangrypende Verhaal met sy Ou-Testamentiese wêreld beskryf die medemens se reaksie (en veroordeling) op die pyn van ander. Die tweede afdeling bevat veral verse oor die siektetoestand. Brief vir Breyten is ’n intertekstuele gesprek met Breyten Breytenbach se gedig Voorlopige vervulling uit Die ysterkoei moet sweet, waarin ’n alternatiewe siening van die waansin verwoord word. Kringloop het betrekking op die spreker se steeds terugkerende siektetoestand. Die afdeling bevat verder ’n aantal knap elegieë vir Ken Swart. Die derde afdeling het grepe uit die Bloedsteen-siklus (wat later in sy Nagelate gedigte volledig en met ’n verduidelikende prosastuk opgeneem word). Verrassend is die verse in die vierde afdeling, waar verskeie in ’n ligter luim geskryf is en sodoende ’n ander faset van die digter verteenwoordig, soos Glo jy aan swem op Sondag?

In Mure van mos ontgin die digter die paradoks wat in die titel verteenwoordig is. Weer staan die mens bedreig deur die lewe en is die lewende mure onvoldoende om die bedreiging uit te hou. Die bundel word in drie ongetitelde afdelings verdeel. Die eerste afdeling ondersoek die mens se bestaan binne sy mure wat hom soms beskut en soms bedreig. Jy bou ’n kamer om my is ’n sleutelgedig, waar die bundel sy titel vandaan haal. In hierdie gedig is daar ’n wedersydse interaksie tussen die ek en die jy en waar die mure aanvanklik afsondering beteken, word dit later vertroud en beskermd. So word die begin en ophou dan omgeruil en omgekeerd voortgesit. Die tweede afdeling ondersoek hoe die lewe en dood ten spyte van hulle skeiding (of mure) tog oorbrug kan word. Daar is byvoorbeeld die herinnering wat die lewendes aan dooies het en in ’n gedig soos Elegie word die hopie bene van die verganklike mens dan onverganklik in sy opgaan in die meer standhoudende koraal. Hierdie gedig is opgedra aan V. Cunod, ’n kunstenaarsvriend wat ter see gesterf het, waarna sy lyk ter water gelaat is. Brief is ontginning van die teenstelling tussen die dood en die doodgewone en een van die bestes in die bundel. Die slotafdeling bevat oor die algemeen mindere verse oor ’n verskeidenheid van temas, met die Engelse gedig the sparrow creates a womb waarskynlik die beste in sy uitbeelding van hoe die ontdekkingslus van jong kinders tot die verrotting van die eiers lei.Brink, André P. Voorlopige Rapport. Human & Rousseau Kaapstad en Pretoria Eerste uitgawe 1976