GenuaGenovaLa Superba | La Dominante 280px Kaart Wapen 180px|senter 75px|senter Vlag 90px|senter|border Land Administratiewe gewes 20px Ligurië Provinsie Genua (GE) Koördinate Stigting Antieke oudheid Oppervlakte: - Totaal 240,29 vk km Hoogte bo seevlak 20 m Bevolking: - Totaal (31 Januarie 2018) 580 097 - Bevolkingsdigtheid 2 400/vk km Tydsone UTC +1 (MET) - Somertyd UTC +2 (MEST) Klimaat - Tipe Gematigde seeklimaat - Gemiddelde jaarlikse temperatuur 15,6 °C - Gem. temp. Januarie/Julie 8,0 / 23,9 °C - Gemiddelde jaarlikse neerslae 1072 mm Burgemeester (sindaco) Marco Bucci Amptelike webwerf genova.it
Genua (Italiaans: Genova, [ˈdʒɛːnova], ; Liguries: Zêna, [ˈzeːna]) is 'n belangrike hawestad in Noord-Italië, hoofstad van die historiese landskap en administratiewe streek Ligurië en van die huidige provinsie Genua, met sowat 611 000 inwoners. Die agglomerasie van Genua het sowat 878 000 inwoners (2001). Aree urbane: Genova Genua is die sesde grootste stedelike nedersetting in Italië en die derde grootste in Noord-Italië. Rofweg die helfte van die Liguriese bevolking is hier saamgetrek. Die stad is die setel van 'n aartsbiskop en 'n universiteit, wat reeds in 1471 gestig is, met sowat 40 000 studente.
Gedurende die Middeleeue was Genua naas Venesië, Pisa en Amalfi een van die vier groot Italiaanse seerepublieke, die Repubbliche Marinare, asook een van die magtigste Europese handelsmoondhede. Gedurende die 11de en 12de eeu was Genua 'n strawwe mededinger van Venesië en Pisa en kon in die 13de eeu 'n tyd lank 'n oorheersende rol in die Middellandse See speel. Genua het sy politieke en kulturele bloeitydperk in die 16de en 17de eeu beleef toe dit onder die welvarendste stede in Europa gereken is, veral tydens die bewind van die doge en vlootadmiraal Andrea Doria (1466−1560) wat Genua se bedeling hervorm en 'n soort adelsrepubliek gevestig het. Genua se status is weerspieël in die elegante paleise wat deur die stad se leidende families langs die Via Garibaldi opgerig is.
duimnael|links|350px|Uitsig oor Genua met sy veelverdiepinggeboue op 'n nou kusstrook Die historiese middestad word onder die grootstes in Europa gereken, onder meer danksy talle historiese paleise wat hier in 'n verskeidenheid boustyle ontstaan het. Een van die vroegste voorbeelde van munisipale stadsbeplanning in Europa mag hier besigtig word – le Strade Nuove, 16de eeuse strate in nuut geboude welvarende kwartiere, en die stelsel van die Palazzi dei Rolli, Renaissance- en barokpaleise wat deur adellikes hier in die laat 16de en vroeë 17de eeu opgerig is, is in 2006 deur Unesco as wêrelderfenisgebiede gelys. Hierdie paleise is oorspronklik deur die Genuese owerheid goedgekeur as amptelike verblyf vir staatsgaste en in besondere lyste (rolli) opgeneem – vandaar die benaming Palazzi dei Rolli.
Vanaf 1990 het Genua 'n ingrypende transformasie ondergaan, soos weerspieël word in die ou hawe of Porto Antico, die historiese spilpunt van Genua se ekonomie en handel. Tussen 1990 en 1992 is dit deur die befaamde Italiaanse argitek Renzo Piano, 'n boorling van Genua, omgeskep in 'n kulturele sentrum en toeristetrekpleister met die tweede grootste seewater-akwarium in Europa, die Acquario di Genova, 'n verskeidenheid musea soos die Galata-seemuseum (Galata Museo del Mare), wat die geskiedenis van seevaart en Genua se verlede as seerepubliek behandel, en hawegeriewe vir jagte en plesierbote. Ter geleentheid van die 500ste jubileum van die eerste Europese verkenning van Amerika deur Christophorus Columbus is hier in 1992 die wêreldtentoonstelling Expo '92 gehou. Twaalf jaar later is Genua as die kulturele hoofstad van Europa van 2004 aangewys.
Weens die stad se ligging op 'n nou kusstrook wat oor 'n afstand van 30 km langs die Italiaanse Riviera strek en deur die Appenyne-bergreeks begrens word, is beboubare persele skaars in Genua. So word in die middestad min uitgestrekte pleine aangetref, maar 'n groot verskeidenheid nou kronkelende straatjies. Selfs die deftige Via Garibaldi met sy Renaissance-paleise bly beperk tot 'n wydte van 7,5 meter. Die meeste woongeboue het tussen sewe en agt verdiepings.
Naas die hawe – een van die belangrikstes in die Middellandse Seegebied wat die welvarende industriële driehoek van Noord-Italië bedien, met Genua, Turyn en Milaan as sy buitepunte – vorm skeepsbou en die yster-, staal-, papier-, tekstiel- en chemiese bedrywe die ekonomiese basis van die stad. Ook voedselverwerking en handel lewer 'n groot bydrae tot Genua se ekonomie..
Etimologie Die stadsnaam is moontlik afgelei van die Latynse woord vir "knie" (genu; meervoud genua), maar daar is ook ander teorieë. Dit kan ook ontleen wees van die god Janus, aangesien Genoa, soos hy, twee gesigte het: een gesig wat na die see kyk en een ander kyk na die berge. Volgens 'n ander teorie is dit afkomstig van die woord ianua wat ook verband hou met die god Janus en "deur" of "deurgang" beteken. Daarbenewens kan dit verwys na die stad se geografiese ligging in die middel van die Liguriese kusboog. Plinius die ouere het in sy Natuurgeskiedenis (3.48) na die Latynse naam oppidum Genua verwys as deel van die Augustiese Regio IX Liguria.
Volgens 'n ander teorie, gegrond op 'n inskripsie op 'n pottebakkerlesing, is die naam ontleen aan die Etruskiese woord Kainua wat "nuwe stad" beteken, en daarop dui dat die Latynse naam 'n vervalsing is van 'n ouer Etruskiese woord met die oorspronklike betekenis "nuwe dorp".
Geografie duimnael|'n Lugaansig van Genua en sy moeilike terrein. Golfbrekers, wat oor 'n afstand van enkele kilometer opgerig is, skei die Middellandse See van Genua se hawe. Die ou seehawe of Porto Antico is maklik herkenbaar aan sy ronde vorm. Die diep ravyn in die middel is die Val Poncevera met sy spoorlyne en brûe. Aan sy weerskante is twee van Genua se kwartiere op heuwels geleë – Coronata in die weste en Belvedere in die ooste Genua is in 'n kusgebied geleë waar die noordwestelike rand van die Appenyne-berge steil kranse vorm en tot die Liguriese kuslyn se kenmerkende klipstrande neerstort – met min plat en beboubare grond tussen die rotswande en die Middellandse See. Hierdie plekke met betreklik arm grond word treffend as eilande in 'n see van rotse beskryf. Steven A. Epstein: Genoa and the Genoese, 958–1528. Chapel Hill, NC: The University of North Carolina Press 1996, bl. 9 Riviere vloei weg van die bergreeks se waterskeiding sodat byna alle varswatervoorrade in die noorde, ooste en suide hul pad na die uitgestrekte Noord-Italiaanse Poriviervlakte baan.
Die twee bergstroompies in Genua se omgewing – Bisagno in die ooste en Polcevera in die weste – is nie bevaarbaar nie. Hulle is nie eens betroubare varswaterbronne nie, selfs ná hewige stortreëns. Weens die gebrek aan groot riviermondings, wat as toegangspoort tot die binneland kon dien, was Genuese van ouds aangewese op die roete oor die nabygeleë Giovi-bergpas, geleë op 'n hoogte van 472 meter bo seevlak, om die boloop van die Porivier en Piëmont met muildiere te bereik.
Ook was daar vanaf die antieke tydperk Romeinse paaie soos die Via Postumia, 'n Genuese sytak van die kuspad Via Aurelia, wat die stad met Tortona, Piacenza en ander nedersettings verbind het. Genua en sy omgewing het immers deel gevorm van 'n roete op pad na streke soos Provence wat al sedert vroeg Romeinse begeerlikhede gewek het en aansporing genoeg was vir ambisieuse padbouprojekte.
Al mag 'n mens Genua feitlik as 'n bergstad beskryf wat temidde van 'n barre landskap regstreeks aan die see geleë is, kan Genuese die beste natuurlike Mediterreense seehawe tussen Barcelona en La Spezia hul eie noem. Nogtans het hulle dit verder uitgebou en aangepas by groeiende volumes seehandel – tot 'n punt waar dit bestendige onderhoud verg.
Klimaat duimnael|links|Die stadsdeel Boccadesse in November, bedek met 'n ligte sneeukleed duimnael|upright|'n Monument vereer die bekendste boorling van Genua, Christophorus Columbus Genua het 'n gematigde seeklimaat wat deur Atlantiese weswinde beïnvloed word, maar ook reeds Mediterreense kenmerke toon. Uitlopers van Mistralwind dra dikwels by tot die vorming van laedrukstelsels in die gebied.
Die gemiddelde jaarlikse temperatuur is +15,6 °C, met geringe temperatuurskommelinge, waarby Januarie die koudste maand is met 'n gemiddeld van +8,0 °C en Julie die warmste met +23,9 °C.
Humiditeitsvlakke is dwarsdeur die jaar betreklik hoog met 'n gemiddeld van sowat 66 persent en bereik hul maksimum in die somermaande en warmer periodes in die lente- en herfstyd. Reënval word eweneens dwarsdeur die jaar aangeteken, met 'n jaarlikse gemiddeld van 1072 mm. Neerslae bereik hul minimum in Julie, terwyl die meeste reënval tussen September en November aangeteken. Winde waai in die wintermaande hoofsaaklik uit noordelike rigting. In die lente en vroeë herfstyd waai winde veral uit die suide.
Geskiedenis Genua bestaan reeds in die 5de eeu v.C. as 'n visserdorpie onder die antieke naam Xenova. Die eerste verwysing na die stad Genua dateer uit die jaar 218 v.C. Genua ontwikkel in die antieke tydperk tot die belangrikste hawestad in Ligurië en hanteer veral invoere soos speserye, Oosterse tapyte, sy en edelmetale uit Afrika.
duimnael|links|Die vuurtoring Torre della Lanterna, opgerig in 1326 op 'n 40 meter hoë rots, is een van die bekendste bakens van Genua. In sy huidige vorm, met 'n hoogte van 77 meter, bestaan dit sedert 1543. Tans huisves dit 'n museum duimnael|links|Die Piazza de Ferrari met sy fontein. Die konsentriese kringe is 'n huldeblyk aan Genua se tremstelsel wat in 1966 ten gunste van motorvervoer gestaak is. Trems het hier om die fontein gery duimnael|Palazzo Doria Tursi (binnehof) duimnael|Die dakterras van die Palazzo Rosso bied 'n uitsig oor die elegante woonkwartier Castelletto Genua het gedurende die 10de eeu tot 'n onafhanklike stadsrepubliek en eersterangse see- en handelsmoondheid ontwikkel wat ook groot dele van sy hinterland oorheers het. In 934 is Genua deur Arabiese Sarasene aangeval. In 1016 het Genua saam met sy bondgenoot, die stad Pisa, daarin geslaag om die Sarasene in 'n seegeveg te verslaan.
Genua het 'n groot deel van sy politieke en ekonomiese mag net soos Pisa aan die tydperk van die kruistogte te danke. Albei stede se vlote het aan die Eerste Kruistog deelgeneem en die kruisvaarderleërs tydens die beleg van Jerusalem in 1099 van voorrade voorsien. In 1105 is aan Genua die reg toegestaan om 'n handelspos in die hawestad Akko te stig wat van die meeste doeanes vrygestel was.
Danksy die monopolie in die handel met die oosterse gebiede van die Middellandse See het Genua rykdom en politieke mag verwerf. As die hoofstad van 'n aansienlike koloniale ryk het Genua tydens die 12de eeu vinnig tot meer as 100 000 inwoners gegroei. Na 'n honderdjarige oorlog is ook Pisa as Genua se belangrikste mededinger uit die weg geruim. Pisa het tot by die einde van die 13de eeu 'n aansienlike deel van sy magsgebied verloor, insluitende Korsika, Elba en Sardinië.
Genua het die magtigste staat in die westelike deel van die Middellandse See geword wat, met die Griekse keiser van Bisantium as 'n bondgenoot, sy mag en invloed ook in die oostelike deel kon uitbrei. Sedert 1256 was Venesië en Genua felle teenstanders. In 1261 het Genua in ruil vir handelsvoorregte in Konstantinopel die Latynse Keiserryk tot val gebring, 'n bondgenoot van Venesië. Genua het vervolgens daarin geslaag om Venesië as vernaamste Europese handelsmoondheid in die oostelike seegebied te vervang.
'n Aantal Griekse eilande soos Rhodos en Samos het as vorstedomme onder die heerskappy van Genuese adellikes gekom, en die stad het begin om winsgewende kolonies langs die kus van die Swart See te vestig, onder meer op die Krim-skiereiland.