Ds. Pieter Gert Wessel Snyman (noemnaam Piet, plaas Steenbokfontein, Koster, 18 September 1902 – Salisbury, Suid-Rhodesië, 8 Februarie 1948) was ’n predikant in twee gemeentes van die Gereformeerde Kerk: van 1931 af van Krokodilrivier en van 1944 tot sy dood minder as vier jaar later van Salisbury, waarvan hy die eerste leraar was en dus ’n ware baanbreker van sy kerk in Suid-Rhodesië. Op sy grafsteen in Harare staan: “Eerste leraar, Geref. Kerk, Suid-Rhodesië (1944–1948). Geestelike leier van sy volk. Sy lewenskrag is verteer deur die lig wat hy vir sy God en volk versprei het. Julle is ’n volk deur God geroepe. Opgerig deur die Afrikaners van Rhodesië en sy eggenote, Elize, en kinders, Leona, Theunetta en Evert. Soli Deo Gloria.”
Herkoms duimnael|links|300px|Studente en professore (van links: J.A. du Plessis, J.D. du Toit en C.J.H. de Wet) van die Teologiese Skool Potchefstroom, 1929. Pieter Snyman staan agter, derde van regs.
Die latere ds. Snyman was, soos ds. J.V. Coetzee hom eenkeer tipeer het, van sy jeug af 'n “oorgegewe mens” en het gespruit uit 'n vrome voorgeslag, “kerkmense in die volle sin van die woord”, aldus prof. Fanus dy Toit. Hy is op 21 Oktober 1902 op Witrand, distrik Marico, gedoop. Sy vader, vroeër van die plaas Steenbokfontein, distrik Koster, wat bekend was as oom Evert en wat sy seun oorleef het, was 'n seun van genl. J.P. Snyman. Sy moeder was Alida Theunetta Grobler, die enigste suster van min. P.G.W. Grobler (1873–1942), na wie ds. Snyman genoem is. Min. Grobler se moeder was ’n dogter van 'n suster van pres. Paul Kruger. Sewe kinders is uit Evert Snyman se twee huwelike gebore. Hy het as veldkornet die hele Tweede Vryheidsoorlog (1899–1902) deurgeveg en onder meer deelgeneem aan die gevangeneming van lord Methuen. Prof. J.C. van Rooy skryf in die Gedenkalbum van die Gereformeerde Kerke in Suid-Rhodesië na vyftig jaar 1914–1964: "(Pieter Snyman) was besonder lief vir sy vader, van wie hy die erns, die daadkrag en deursettingsvermoë ontvang het, terwyl hy van sy moeder die gawe om heerlik en hartlik te kon lag, gekry het." Pieter Snyman se moeder se vurige begeerte om haar seun nog op die kansel te sien, het nie in vervulling gegaan nie. Toe hy in sy finale jaar was (1930), kort voor sy bevestiging, is sy in die jeugdige ouderdom van 49 jaar oorlede. Omdat hy in die Paarl ernstig siek gelê het, kon haar seun nie die teraardebestelling bywoon nie.
Jeugjare Prof. Du Toit skryf Piet Snyman se familie het getuig hy was van jongs af 'n gehoorsame en leergierige kind. Weens 'n nieraandoening moes hy vir vier jaar die skool verlaat. Maar agter die vee het hy homself in die studie verdiep en dikwels het sy vader gesien hoe hy ’n miershoop as sy kansel gebruik het. Sy vraeboek en Bybel was in die eensame veld sy metgeselle en daar het hy ook die kategismus goed leer ken. Hoewel hy die skool in st. 4 verlaat het, kon hy met sy terugkeer direk oorgaan na st. 6. Prof. Du Toit skryf: “Sy liefde vir die natuur, ja vir die hele skepping van God, hier in die veld opgedoen, het hom altyd bygebly.” Prof. Van Rooy skryf sy innige liefde vir die natuur, die bome, die veld het deel van sy vaderlandsliefde uitgemaak. Dit was in die veld dat die roepstem na hom gekom het dat hy verkondiger van die Woord moes word.
Prof. Van Rooy skryf: "Die familie is drie keer byna van aardse besittings beroof deur hul ywer vir die staatkundige vryheid van hul volk. Die vryheidsdrang het woes gebruis in die are van hierdie mense wat geglo het dat geen nasie die reg het en goed genoeg is om andere te oorheers en te vertrap nie."
Opleiding duimnael|regs|180px|Piet Snyman toe hy in 1929 'n Potchefstroomse student was.
duimnael|links|300px|Studente Teologiese Vereniging, Teologiese Skool Potchefstroom, 1926. Eerste ry: H.J. Vermeulen, F. Coetzee, P.W. van der Walt, Kuifie van der Walt, S.P. van der Walt, J.H. van Zyl. Tweede ry: J.P. van der Walt, B.J. de Klerk, H.C.J. Flemming, W.J. Postma, L.S. van der Walt, I.J. van der Walt, P.G.W. Snyman. Derde ry: J.J.H. Booysen, W.J. van der Merwe, J.L. van der Merwe, C.E.G. Malan, M. Postma, P.J. de Klerk, S.J. van der Walt, H.F.V. Kruger, J.L. de Bruin, A.L. Aucamp. Vyfde ry: Hugo du Plessis, P.J. Liebenberg, Fanus du Toit, B.B.B. Olivier, J.F. du Plooy, J.M. de Wet, J.B. du Plessis, S.C. Venter, A. Postma.
Deels danksy die bemoediging van sy leraar en ’n huisvriend van die Snymans, ds. David Kotzé – van 1915 tot 1921 predikant van die gemeente Koster (1915–1921), waar Snyman grootgeword het, en van 1921 tot 1946 van Rustenburg, waar hy op hoërskool was – wat ’n huisvriend was, het Piet Snyman besluit om predikant te word.
Sy hoërskoollewe vanaf 1920 op Rustenburg (waar hy in 1923 gematrikuleer het) is reeds gekenmerk deur “diepe lewenserns”, soos prof. Du Toit dit stel. “Hy het hom beywer vir gesonde vermaak en te velde getrek teen dans en ander ydele vorme van ontspanning. Sy leuse was: Die lewe is te kort om dit in ydelheid deur te bring. Sy betreklik korte lewe van 45 jaar het hy dan ook vol gelewe. Sy kinderlike geloof kon hy so heerlik uitsing as ons voorsinger in die Heimat-eetsaal.” 'n Onderwyser het van hom getuig: "'n Toegewyde leerling met verbasende deeglikheid en pligsgetrouheid. Hy was opgeruimd van geaardheid, maar daarby ook ernstig en doelbewus. Van jongs af het hy vriendskap kon waardeer." Prof. Van Rooy sê hy was "in murg en been student tot op die dag van sy dood. Met pynlike noukeurigheid het hy een van die waardevolste teologiese biblioteke in die land opgebou en het hy ook gewerk aan sy doktorsgraad."
Predikant van Krokodilrivier duimnael|regs|300px|Die Gereformeerde kerk Krokodilrivier neem afskeid van ds. Snyman, 1944. Hy sit derde van regs. Links van hom sit ds. H.J.R. du Plesssis.
Nadat hy die Kandidaatseksamen afgelê en die grade B.D. en M.A. (Wysbegeerte, met lof) behaal het, is prop. Snyman in 1931 op Pansdrift (distrik Brits) bevestig as herder en leraar van die uitgestrekte gemeente Krokodilrivier. Dit was nadat hy in die eg verbind is met Elise (of Elizabeth) Anne Arnold (22 Januarie 1905 – 25 Oktober 2000), van die Paarl. Twee dogters, Leona (oorlede 10 Maart 2005) en Theunette, en ’n seun, Evert (of Ewert; oorlede 5 Junie 2010), is uit die huwelik gebore. Hier het ds. Snyman hom met volle toewyding aan sy gemeente gegee. Terselfdertyd het hy die omgewing van die pastorie in 'n lushof omskep. Weens ’n gebrek aan huiswerkers moes hy sy eggenote in baie opsigte behulpsaam wees.
Prof. Du Toit skryf dit ds. Snyman het altyd student gebly. “Dit was sy sielsbegeerte om vir verder studie oorsee te gaan, maar die finansiële middele het ontbreek. Hoe dit hom geluk het om sy pragtige biblioteek op te bou, bly selfs vir sy beste vriende 'n raaisel. Al het hy net die artikel oor Karl Barth in Koers in die Krisis geskrywe, moes dit vir elkeen duidelik wees dat hy teoloog van die eerste rang is.” Hy is dan ook tot adjunkvoorsitter van die buitengewone sinode van 1946 gekies.
Ds. Snyman het hom in sy 13 jaar tot Mei 1944 as predikant van Krokodilrivier nie net vir sy gemeente beywer nie, maar homself ook aan die breër samelewing gegee. Prof. Van Rooy skryf: "Die jong dominee het spoedig getoon dat hy oor 'n sterk organisasievermoë beskik; sy deeglike preke wat getuig het van erns, voorbereiding en studie en voorgedra met vuur en krag, het gou die gemeente laat floreer. Spoedig was hy ook aan die voorpunt van die stryd om Christelike Nasionale Onderwys; hy het hom beywer vir die opvoeding van die jeug en hy was voorsitter van die Koringkoöperasie, bestuurslid van die Reddingsdaadbond en medestigter van die verbruikerswinkel op Brits.
"Hier het ds. Snyman bewus geword van die ekonomiese agterstand van sy volk en hoewel hy nooit opgehou het om hom in te span vir die ekonomiese vrywording van sy mense, het hy altyd gewaarsku teen die vloek van die materialisme, geldgierigheid en selfsugtigheid.
"Hy het nooit aktief aan die politieke stryd deelgeneem nie, maar nooit geskroom om die lig van Gods Woord te laat skyn op die staatkundige stryd nie. Hy het nooit 'n onsuiwer klank laat hoor nie, en niemand het getwyfel waar hy staan nie. Selfs diegene wat van hom verskil het, het sy oortuiging met eerbied bejeën." Bewys van sy invloed en aansien is dat hy gevra is om hom as kandidaat beskikbaar te stel in die Volksraadsverkiesing van 1943. Al het hy die versekering gekry (waarskynlik by die Nasionale Party) dat al die ander kandidate (seker van die NP in die benoemingstryd) uit die strydperk sou tree as hy sou instem om deel te neem en hoewel hy hart en siel vir die saak gevoel het, was sy roeping om Gods Woord te verkondig altyd eerste. Hy het hy dié aanbod van die hand gewys. Kort voor sy dood is hy weer genader om hom in die Unie verkiesbaar te stel in die 1948-verkiesing. Hy het gedurig gepleit vir die eenheid van die Afrikanervolk.
Prof. Van Rooy skryf die afskeid van sy gemeente was pynlik toe hy die beroep na Rhodesië aangeneem het. "Krokodilrivier het 'n innige liefde vir die leraar ontwikkel en swaar van hom afskeid geneem. Met sy koms na Rhodesië het die karakter van hierdie merkwaardige persoon ten volle ontplooi. Die feit dat hy 'n florerende gemeente, met sy eie pastorie en pragtige tuin (wyle ds. Snyman het geleef in die tuin), kerkgebou en sy talle vriende en verenigings sonder om te aarsel prys gegee het om na Rhodesië te gaan, waar hy 'n handjievol lidmate moes bearbei oor ’n gebied van 150,000 vierkante myl met slegte paaie en die ver-meende gevare van malaria en Engelse onderwys vir sy kinders, het getoon van watter staal hy gemaak is."
In Rhodesië duimnael|links|300px|Ds. Piet Snyman saam met sy vrou en kinders in die pastorietuin in Salisbury. Die seuntjie is die latere ds. Ewert Snyman (1945–2010).
duimnael|regs|270px|Die Gereformeerde kerk in Salisbury.
Prof. Du Toit skryf ds. Snyman se “offervaardigheid het onder meer daaruit geblyk dat hy aan die roepstem van Suid-Rhodesië gehoor gegee (en) 'n gevestigde gemeente prysgegee het om kerkbouer te wees”. Oor sy besluit om die beroep na die Gereformeerde kerk Salisbury as hul eerste predikant te aanvaar, het hy aan sy vrou gesê dat die belange van die Kerk altyd eerste moet staan. Hy het skaars vier jaar in Rhodesië gestaan, maar soos ’n ouderling gesê het: Wat hy vir daardie uitgestrekte wêreld beteken het, kan nie in woorde uitgedruk word nie.” Dit was deels danksy sy onvermoeide ywer dat die Afrikaners in Rhodesië kort ná sy dood “hul eie mondstuk” (menende waarskynlik ’n nuusblad) gekry het.
Hoewel hy kort voor sy dood twee beroepe na die Unie gekry het, het hy aan oudl. Van der Molen gesê dat sy werk in Rhodesië nog nie klaar was nie. “So het hy gedink,” skryf prof. Du Toit, “maar in die oog van die Here was dit klaar, afgerond.” Al was sy hartaandoening vir hom 'n aanduiding dat sy tyd kort was, het hy nie gekla nie en met 'n versnelde tempo gewerk. Die naweek voor sy dood het hy nog sowat 1 300 km afgelê – met suurstofapparaat in sy sak. Die aand voor die finale aanval het hy nog 'n stuk werk gedoen. ’n Groot skare Afrikaners het sy begrafnis bygewoon en later het talle bygedra tot sy grafsteen se koste.
In 1943 maak die kerkraadsnotule vir die eerste maal melding van die plaas Cowley in die wyk Darwendale, waar ’n voorbereidingsdiens gehou is. Op hierdie plaas sou later die eerste predikant vir Suid-Rhodesië beroep word. Die kerkraad besluit ook nou om alle kombinasiegedagtes te laat vaar en om in Oktober 1943 te beroep. Finansieel is die gemeente vir drie jaar gewaarborg vir £800 per jaar: brr. Robbertse en Venter en Van der Molen sal elk vir £200 per jaar instaan en die gemeente vir die orige £200. Die Klassis adviseer ook dat ’n leraar beroep word sonder klassissteun "siende die finansiële waarborge". Indien nodig, kan later weer steun gevra word.