In die lewensiklus van organisasies kom hulle dikwels voor verskeie uitdagings te staan. Een daarvan is wanneer die organisasie se bedrywighede sodanig versleg dat dit op die rand van totale ineenstorting of bankrotskap staan. Sommige instansies slaag daarin om die uitdaging die hoof te bied en bankrotskap af te weer. Die proses wat vir dié doel gevolg word, staan as ’n omkeerstrategie bekend.

’n Omkeerstrategie is ’n proses of ingreep wat beplan, ontwikkel en in werking gestel word ten einde ’n  volhoubare verbetering in die prestasie of resultate van ’n organisasie te bewerkstellig. Dit is ’n proses wat die negatiewe, afwaartse neigings in ’n organisasie verander na positiewe, opwaartse neigings, of wat aktiwiteite van ’n organisasie van swak of onbevredigend na beter of bevredigend omskakel.

Die definisie is van toepassing op enige toestand of situasie, hetsy persoonlik of ten opsigte van ’n sake-entiteit met ’n winsmotief of ’n diensleweringsinstansie soos ’n munisipaliteit of ’n staatsdepartement.

Oorsake wat aanleiding gee tot die implementering van 'n omkeerstrategie Risiko’s en die neem daarvan is sinoniem aan organisasies met ’n winsmotief. Aangesien sulke instellings nie in ’n steriele omgewing bestaan en funksioneer nie, is die instansie onderworpe aan gebeurtenisse wat die winsgewendheid en dus voortbestaan bedreig.

Die volgende faktore kan aanleiding gee tot die implementering van ’n omkeerstrategie in ’n winsgedrewe sake-instansie.

Twee hoofkategorieë kan geïdentifiseer word, te wete interne en eksterne faktore: Interne faktoreEksterne faktore1Oneffektiewe direksieOngunstige ekonomiese toestande2Swak bestuurspraktykeOnverwagte veranderings in markte se behoeftes3Nie-mededingende produkte of diensteGebrek aan finansies4Onvanpaste prysstruktuurTegnologiese veranderings5Swak finansiële beheermeganismesBestaande en veranderende regeringsbeleid6Verouderde tegnologieMededingers en mededingingspraktyke7Gebrek aan bemarkingsvermoëSkommelinge in die pryse van kommoditeite8Te wyd gediversifiseerde ondernemingVeranderings op sosiale gebied9Lomp inligtingstelselsDramatiese wisselkoersskommelinge10Swak aankope en aankoopbeleidFiskale beleid van ’n regering11Ontoepaslike en ontoereikende finansiële beleidStakings12Beloftes van die “groot slag” in sake transaksiesOngelukke en onvoorsiene omstandighede13Oor-verhandeling in aankope of verkopeIndustrie-spesifieke faktore14Traagheid van die organisasie om by verandering aan te pasOmgewingsveranderlikes Uit al die oorsake wat hierbo genoem is, is die een enkele faktor wat algemeen aanvaar word as die belangrikste oorsaak vir ’n omkeerstrategie swak bestuurspraktyke.

Verskil tussen organisasievernuwing en 'n omkeerstrategie Hoewel organisasievernuwing en ’n omkeerstrategie of ingreep nie sinoniem is nie, is daar wel ooreenkomste tussen die twee prosesse.

Organisasievernuwing poog om ’n hoë vlak van absolute sakeprestasies te bewerkstellig. In die geval van ’n omkeerstrategie word gepoog om ’n volhoubare vlak van lewensvatbaarheid of winsgewendheid vir die organisasie te bekom en op die lang duur in stand te hou.

Ten einde die verskil tussen die twee konsepte beter te verstaan kan die volgende beskrywende voorbeeld uit die wêreld van die mediese sorg gebruik word.

Stel jou voor ’n pasiënt wat moeg en afgemat is klop by ’n dokter om hulp aan. Die pasiënt kla dat hy gereeld verkoue kry, futloos is en sy lewenslus verloor het. Ná ’n diagnose beveel die dokter ’n program van gereelde oefening en ’n gebalanseerde dieet aan. Hy skryf ook medikasie voor wat hoofsaaklik uit vitamienaanvullings bestaan.

Die terapie is daarop gerig om ’n resultaat te behaal, te wete ’n skraler pasiënt wie se gewig met behulp van ’n skaal gemeet kan word. Sodoende is ’n bepaalde, absolute resultaat behaal. Hier is dus sprake van ’n vernuwingsproses.

Indien ’n omkeerstrategie gevolg is, sou dieselfde pasiënt wat by die dokter aangemeld het in ’n veel swakker gesondheidstoestand verkeer het. Moontlik met dubbele longontsteking en ’n gepaardgaande hoë koors. Die siektetoestand sou maklik die dood van die pasiënt kan veroorsaak.

Die terapie waarop die dokter besluit is om die pasiënt in die intensiewesorgeenheid op te neem. Die medikasie bestaan hoofsaaklik uit gevorderde tablette, inspuitings en die hulp van ’n fisioterapeut.

Uit die beskrywing is dit duidelik dat organisasievernuwing hoofsaaklik uit ’n aantal minder dramatiese ingrepe bestaan, terwyl ’n omkeerstrategie uit meer intensiewe en doelgerigte ingrepe bestaan.

Verwysings Harvey, N, 2011. Turnaround Management & Corporate Renewal: A South African Perspective. Wits University Press Goodman, SJ, 1982. How To Manage a Turnaround. New York: Free Press Slatter, S and Lovett, D, 1999. Corporate Turnaround: Managing Companies in Distress. London: Penguin Bibeault, DB, 1999. Corporate Turnaround Corporate Turnaround: Managing Companies in Distress. London: Penguin

Kategorie:Ekonomie