Elsabe Brink (* 14 Maart 1938 op Vrede, Vrystaat; † 14 Mei 1996) was ’n Suid-Afrikaanse skryfster en die jonger suster van André P. Brink. Hoewel Steenberg bekendheid verwerf as kinder- en jeugverhaalskrywer is haar skryfwerk nie beperk tot 'n enkele genre nie, en haar oeuvre sluit onder meer kinder- en jeugverhale, prosa vir volwassenes (kortverhale sowel as romans), dramas en vakkundige werke in. Sy het ook onder die skuilnaam Elsabé Ryke geskryf.
Lewe en werk
Herkoms en opleiding Elsabe Steenberg was ’n Suid-Afrikaanse skrywer en die jonger suster van André P. Brink, een van vier kinders van Daniël Brink en Aletta Wilhelmina Wolmarans. Haar suster is Marita en haar jonger broer is Johan.Geni: Elsabe Steenberg Die gesin verhuis baie as gevolg van haar vader se werk as landdros en sy woon verskillende skole by. Sy matrikuleer op Lydenburg en studeer daarna verder aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys. Sedert haar studentedae bly sy dan ook op Potchefstroom, waar sy 'n BA-graad en in 1964 'n MA-graad met onderskeiding behaal, laasgenoemde met ’n verhandeling oor Die begrip van die woord ‘duister’ in die poësie van N. P. van Wyk Louw. Sy verwerf ook ’n Universiteits-onderwysdiploma. In 1975 behaal sy die D.Litt.-graad aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat met 'n proefskrif oor Die kind in die Afrikaanse prosa: 'n literêre evaluasie. Ná ’n kort onderwysloopbaan trou sy in 1961 met David Herculaas Steenberg, professor in die Departement Afrikaans-Nederlands aan die Potchefstroomse Universiteit. Vanaf 1976 beklee sy self ’n pos as senior lektrise aan dieselfde departement. Die egpaar het vier kinders, twee dogters (Ilse, later self 'n gepubliseerde skrywer, en Erika) en twee seuns (Adri en Conrad).
'n Lewe met veelvuldige sklerose 'n Diagnose van veelvuldige sklerose in die sewentigerjare veroorsaak dat sy al moeiliker oor die weg kom en later slegs met behulp van 'n rolstoel kon beweeg.Krüger, Johan. Ná 14 jaar vaarwel aan haar rolstoel? Rapport, 24 November 1991 Ten spyte van haar siekte bly sy die laaste twintig jaar van haar lewe produktief deur aan te hou skryf, 'n pos as buitengewone dosent aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys se honneurskursus in Kinderliteratuur te beklee, vryskutwerk te doen as keurder van kinder- en jeug boeke en boekbesprekings te doen vir koerante, tydskrifte en die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie.Smith, Marietjie. Rolstoellewe demp nie dr. Elsabe se hoop. Kerkbode, 1 Julie 1994 By die ATKV-skryfskool aan die universiteit was sy ook gereeld behulpsaam met opleiding aan aspirantskrywers en sy skryf talle artikels vir letterkundige tydskrifte soos Klas gids en Tydskrif vir Letterkunde.Grové, A.P. Letterkundige sakwoordeboek vir Afrikaans. Nasou Beperk Vyfde uitgawe Eerste druk 1988 Sy tree eers finaal by die universiteit af in 1995. In 1981 lewer sy die referaat Die uitdaging van jeug boeke vir die skrywer by die Simposium oor Lektuur vir die Tienderjarige, wat in Bloemfontein en Kaapstad gehou is.
Persoonlike lewe Sy en haar gesin het al die jare op Potchefstroom gewoon en het ook 'n wegbreekhuis in Clarens in die Oos-Vrystaat besit.Van der Walt, Thomas. ’n Lewe van gehalte. Insig, Junie 1996. Sy is op Dinsdag 14 Mei 1996Van der Westhuizen, Christi: Beeld se doodsberig aan veelvuldige sklerose oorlede.Du Plessis, Hans. Elsabe Steenberg het enduit bly lééf. Beeld, 17 Julie 1996Van der Elst, J. Elsabe Steenberg: 'n Huldeblyk. Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Junie 1996
Skryfwerk
Prosa vir volwassenes Reeds van haar kinderjare word haar verhale aanvaar vir publikasie in Die Jongspan, Patrys en Die Klein Burger en later word haar kortverhale in tydskrifte, waaronder Standpunte en Tydskrif vir Letterkunde, gepubliseer. Sy skryf onder andere die romans vir volwassenes Rondomtralie, Twee om te slaap en Deur 'n raaisel. Rondomtralie vertel die verhaal van die onderwyseres Salomien Wiid, wat tronk toe gestuur word vir die moord op haar man, maar sy kan nie onthou wat gebeur het nie. Die lewe in die tronk toets haar menswees tot die uiterste. Benewens die wroeging om te probeer onthou wat gebeur het, moet sy die eensaamheid, verskrikking en vernedering van 'n lewe agter tralies verwerk. Hierdie boek word in die rolprent Salomien omskep, terwyl Twee om te slaap 'n televisiereeks word. Twee hang bo die pad, vier loop op die matSchumann, Annie. Beeld, 11 Junie 1979 se titel verwys na die situasie van die gestremde, waar haar twee bene in die lug hang en die vier wiele van die stootstoel op die mat loop. Hierin behandel sy haar eie stryd teen veelvuldige sklerose, waar sy nieteenstaande die toenemende aftakelende immobiliteit wat die siekte meebring haar lewe so normaal as moontlik voortsit en weier om toe te gee aan moedeloosheid.
Wildegans wildegansHambidge, Joan: Wildegans wildegans van Elsabe Steenberg Tydskrif vir Letterkunde. Nuwe reeks 20 no. 3, Augustus 1982 is 'n kortverhaalbundel met 'n keur uit haar beste stories wat oor 'n aantal jare in tydskrifte soos Huisgenoot en Sarie verskyn het. Die bundel word verdeel in drie afdelings, naamlik kind, vrou en mens. In die titelverhaal skryf 'n vrou 'n reeks briewe aan haar oorlede man ten einde hulle dogtertjie se onafhanklikheid te probeer verwerk. Die keerpunt en aanvaarding kom wanneer sy onthou van die mak gemaakte wildegans wat sy eens as troeteldier aangehou het. Sy was nie in staat om die wildegans vir altyd te hou nie en so word die wildegans 'n simbool van onafhanklikheid en vryheid. Gebarste kruik en ander verhale is nog 'n bundel kortverhale. Die kortverhaal Wildegans, wildegans word opgeneem in die versamel bundels Kortverhale vir verkenning en Vertellers 2, Blou band in Vrou: Mens onder redaksie van Corlia Fourie, Riviermin in Verlore paradyse saamgestel deur N.J. Snymanen Feetjies woon in wit skulpe in Hennie Aucamp se Blommetjie gedenk aan my.
Verder skryf sy talle artikels in letterkundige tydskrifteKannemeyer, J.C. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 2. Academica, Pretoria, Kaapstad en Johannesburg Eerste uitgawe Eerste druk 1983 en ook verskeie vakkundige boeke, veral oor die jeugboek. Hierdie publikasies sluit in Klein uurwerk oor die sielkundige instelling van die kind en My kind en sy boek. Fantasie en die kinderboekVan der Westhuizen, Betsie. Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Jaargang 29 no. 4, Desember 1989 bespreek die aard van fantasie, kinders se fantasie behoeftes, fantasie in Afrikaanse kinderverhale, die verhouding tussen sprokie en fantasie en wenke aan die voornemende fantasie skrywer. Saam met P.D. van der Walt skryf sy die gids Goeie leesgewoontes, wat nuttig is vir beide volwassenes en kinders. As vaste medewerker skryf sy talle bydraes en resensies vir Tydskrif vir Geesteswetenskappe en Tydskrif vir Letterkunde. Sy is die samesteller van versamel bundels soos Voorlees vir nadink, Voetpad: Verhale vir Afrika en Stippe stappe stories.
Kinder- en jeugliteratuur Vir kleuters skryf sy onder andere Eendag die blou voël (waarin die goeie in die vorm van die blou voël teen die bose in die vorm van die kat gestel word), Die boom wat wou loop (waarin 'n kanferboompie wil loop maar later sy eie identiteit en vermoëns leer aanvaar) en Kariena Karyn (van 'n kleuter dogtertjie wat haar vrees vir die donker oorwin). Die versamelbundel Stippe stappe storiesNB-Uitgewers: http://www.nb.co.za/authors/291 wen 'n ATKV-kinderboektoekenning in 1996 vir ouderdomsgroep 3-5 jaar.
Sy skryf talle verhale vir kinders tot twaalf jaar oud. Dokter Amanda (onder die skuilnaam Elsabé Ryke) vertel van die elfjarige Amanda wat haar poppe dokter en dan van die kinderhuis wegloop om by die dokter te kan bly. 'n Klokkie vir Kersfees vertel van Nika se onselfsugtige soektog vir 'n geskikte geskenk vir haar sussie. Die kind se interaksie met die natuur word uitgebeeld in boeke soos Tjeriktik in die denne en Rooi kanarie hoepelbeen. In Tjeriktik in die denne word klein Karl-Gerhard as enigste seun oorbeskerm groot en kom nooit naby die natuur nie. Wanneer sy ouers oorsee wil gaan en hom by familie wil los, is hy ontsteld en gaan sit in die parkie en huil. Hier ontmoet hy vir oom Dwaal en hulle word vriende. Saam met oom Dwaal het Karl-Gerhard dan daardie Julievakansie tussen dennebome in 'n ou hut gaan woon en leer die ou man hom die lesse van die natuur. Karl-Gerhard verpleeg 'n tjeriktik voëltjie en ontdek so 'n liefde vir die natuur. Ná drie weke tussen die denne en saam met die ou man, is hy ‘’n ryper seun wat baie meer van die lewe begryp. In Rooi Kanarie hoepelbeen is Wynand 'n weeskind wat in die riviergras 'n rooi kanarie vang. Rooi kanaries is skaars voëltjies wat nie sommer wild rondvlieg nie en Wynand besef dat hierdie een beslis aan iemand behoort. Wynand is egter glad nie gretig om uit te vind wie se kanarie dit is nie, want die kanarie is al wat regtig net aan hom behoort. 'n Rooi kanarie is egter so skaars dat Wynand nie kan help om uit te vind wie die eienaar is nie, en toe begin sy innerlike stryd om te besluit of hy die voëltjie gaan teruggee of net gaan stilbly. Sy uiteindelike besluit laat hom beter voel.
Blou is 'n bokkie belig die kind se verbeeldingswêreld waar Therese wonder of sy regtig die bokkie met die klein horinkies en seer been in die bos gesien het. In Engel met 'n besemstok vind die elfjarige Hannele Dellaert uit dat sy die rede is dat haar ouers destyds moes trou. Nou is haar ma oorlede en moet sy dinge probeer verwerk terwyl sy by haar ouma bly. Pierewiet staan stilPienaar, Lydia. Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Jaargang 19 no. 1, Maart 1979 teken beide die swaar en ligter kant van die lewe van 'n kind. Na sy ma se dood trou Antoon se pa met die onderwyseres in wie se klas hy die vorige jaar was en dit neem lank voordat hy haar kan aanvaar. Dan maak hy 'n vlieër wat hy Pierewiet noem en wanneer hy dit nie in die lug kan kry nie, help sy stiefma hom. In Koert se tarentaalPienaar, Lydia. Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Jaargang 20 no. 1, Maart 1980 is Koert se ma in die hospitaal. Om hom te help om hierdie emosionele krisis te verwerk, wil hy vir homself 'n tarentaal van klei maak, maar die tarentaal moet kan vlieg. Wanneer hy hoor dat die operasie geslaagd was, aanvaar hy dat die klei-tarentaal 'n dooie ding is, maar wil nou graag hê dat die groot vet tarentaal in die trop syne moet wees. Eindelik is sy ma gesond genoeg sodat sy kan huis toe kom en dan het Koert nie meer 'n tarentaal nodig nie. Soek-soek op soek is 'n fantasieverhaal van kabouters wat in die bos 'n stryd teen die muise voer, die twee groepe onderskeidelik verteenwoordigend van goeie en slegte waardes.