Westerhout 40 is ’n stervormende gebied in die Melkweg, in die sterrebeeld Slang se Serpens Cauda-deel. Op ’n afstand van 1 600 ligjare is dit een van die naaste streke aan die Sonnestelsel wat Klas O- en Klas B-tipe sterre vorm. Dit word egter grootliks verberg deur sy enorme molekulêre wolk en kan nie maklik in sigbare golflengtes van lig waargeneem word nie. Die geïoniseerde gas van die OB-sterre met hul groot massa het ’n H II-gebied geskep met ’n uurglasvorm.

Eienskappe Soos alle stervormende gebiede bestaan Westerhout 40 uit verskillende komponente: die swerm nuwe sterre en die gasagtige materiaal waaruit hierdie sterre gevorm word (die interstellêre medium).

Die meeste van die gas is in die vorm van molekulêre wolke – die koudste en digste stadium van die interstellêre medium wat hoofsaaklik uit molekulêre waterstof (H2) bestaan.

Sterreswerm ’n Oop swerm van jong sterre lê in die middel van die H II-gebied; dit bevat sowat 520 sterre. Dié in die middel van die sterreswerm is omtrent 0,8 miljoen jaar oud, terwyl dié aan die buitekant effens ouer is: omtrent 1,5 miljoen jaar. Die swerm is rofweg sferies simmetries, met die swaarder sterre nader aan die middel.

Die wolk word geïoniseer deur verskeie Klas O- en Klas B-sterre. Naby-infrarooi-spektroskopie het een laat O-tipe ster (IRS 1A Suid) en drie vroeë B-tipe sterre (IRS 2B, IRS 3A en IRS 5) geïdentifiseer. Daarby is IRS 1A Noord en IRS 2A Herbig Ae/Be-sterre. Radio-uitstralings van verskeie van die sterre is waargeneem en kan ’n aanduiding wees van ultra-kompakte H II-gebiede.

Oortollige lig in die infrarooi dui daarop dat ’n aantal sterre in die swerm ringe omhet, wat besig kan wees om planete te vorm. Nege Klas 0-protosterre in die suidelike deel van die Slang is waargeneem asook drie Klas 0-protosterre in W 40, wat die mening steun dat die gebied baie jonk is en aktief sterre vorm.

Interstellêre medium duimnael|Die kern van die molkulêre wolk soos gesien deur Herschel/SPIRE by 500 µm. Die wit sirkels is is jong sterre wat deur die Chandra-X-straalsterrewag waargeneem is.

W 40 lê in ’n molekulêre wolk met ’n geraamde massa van (sonmassas). Die kern van die wolk het die vorm van ’n skaapwagter se staf en vorm tans nuwe sterre. Die swerm van OB- en pre-hoofreekssterre lê net oos van die kromming in hierdie filament. Danksy die meting van radiolig wat deur koolstofmonoksied geskep word, is die massa van die kern geraam op 200–300 M☉. Daar is ’n swak, bipolêre uitvloei van gas uit die kern wat waarskynlik van ’n jong stervoorwerp afkomstig is.

Galery

Sien ook H II-gebied Lys van stervormende gebiede in die Plaaslike Groep

Verwysings

Eksterne skakels Simbad

15px Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia

Kategorie:Plaaslike Groep Kategorie:Slang (sterrebeeld) Kategorie:Sterreswerms