Suriname, amptelik die Republiek van Suriname (Nederlands: Republiek Suriname [ˌreːpyˈblik ˌsyːriˈnaːmə]), is 'n Suid-Amerikaanse republiek, geleë aan die noordooskus van die vasteland wat in die ooste aan Frans-Guyana, in die weste aan (voormalige Britse) Guyana, in die suide aan Brasilië en in die noorde aan die Atlantiese Oseaan grens. Suriname is die kleinste onafhanklike staat in Suid-Amerika. Die land het, net soos Suid-Afrika, bande met Nederland wat uit die koloniale tydperk dateer, hoewel Suriname tot in 1954 'n Nederlandse kolonie gebly het. Die land het beduidende bevolkingsgroepe van Indiese en Maleise (Javaanse) afkoms.
Suriname het grensgeskille met Guyana sowel as met Frans-Guyana. Die land beslaan 'n oppervlakte van 163 820 km² en het 'n kuslyn van 386 km.
Geskiedenis duimnael|links|Immigrante uit Indië Aan die einde van die Tweede Engelse Oorlog in 1667 is daar, in die Verdrag van Breda, vasgelê dat die Nederlandse kolonie Nieu-Nederland (die huidige New York) geruil sou word met die destydse Brits-Guyana, 'n gebied wat ooreenstem met die huidige Suriname en Guyana. Die gebied het toe die sogenaamde Nederlands-Guyana geword. Nederlands-Guyana is in 1815 weereens verdeel in Suriname, wat in Nederlandse besit gebly het, en die huidige Guyana, wat 'n Britse kolonie geword het. In 1954 het Suriname semi-outonome status binne Koninkryksverband gekry. Op 25 November 1975 het Suriname onafhanklikheid verkry. Goewerneur Ferrier, premier Den Uyl en Koningin Juliana het die verdrag onderteken. Sedertdien is die amptelike benaming Republiek Suriname. 'n Militêre diktatuur, onder leiding van Desi Bouterse, het die land in die 1980's regeer totdat demokrasie in 1988 hervestig is.
Topografie en geologie duimnael|links|Kaart van Suriname (CIA). (Weergawe sonder die betwiste gebiede.) Die hoofstad van Suriname is Paramaribo. Nickerie, ten weste van Paramaribo, en Albina, wat aan die oostelike grensrivier (die Marowijne) geleë is, is aantreklike dorpe, hoewel Albina tydens die binnelandse oorlog so te sê geheel en al verwoes is en die opbou baie moeisaam verloop. Belangrike riviere is die Surinamerivier, die Coppename, die Tapanahoni, die Sipaliwini en die Corantyn, wat die grens met Guyana vorm. Alle riviere vloei van suid na noord. In die suidelike helfte van die land lê twee omvangryke bergreekse, die Oranjegebergte (Wilhelminagebergte) en die Eilerts de Haan-gebergte (vernoem na 'n Nederlandse ontdekkingsreisiger uit die 19de eeu). Die hoogste piek is die Julianatop (1230 meter). Die middelste gedeelte van Suriname bestaan uit 'n laaggroeinde bosland, wat deur houtkap hier en daar dreig om in savanne te verander. Die noordelike strook van 26 tot 100 km breed is moerasgebied.
Bevolking Oorsig Suriname is verdeel in 10 distrikte: Paramaribo, Nickerie, Coronie, Saramacca-distrik, Wanica-distrik, Commewijne, Marowijne, Brokopondo, Para en Sipaliwini. Die dunsbevolkte gebied is Coronie. In die eweneens dun-bevolkte gebied Para woon veral Javane en Kreole. Die meeste van die c. 434 000 (Julie 2001) inwoners woon in die noorde van die land, in die distrikte Paramaribo, Suriname (a) en Nickerie. Die Nederlandse sokkerster Ruud Gullit is van Surinaamse afkoms.
Surinamers in Nederland Ongeveer 350 000 Surinamers woon in Nederland, waarvan die meeste na die onafhanklikheid van Suriname, na die militêre staatsgreep van 1980, of na die Desember-moorde van 1982 uit Suriname gevlug het. Die meeste van hulle is met redelike sukses in die Nederlandse samelewing geïntegreer. Vir die Republiek van Suriname het hierdie uittog ewenwel 'n gevoelige nagevolg: onder die emigrante was baie geskoolde kaders en slegs 'n handjievol van hulle sou later terugkeer. Dit het 'n enorme remmende uitwerking op velerlei gebiede asook die algemene samelewing in Suriname gehad ('n sg. "brain drain").
Samestelling van die bevolking duimnael|Suriname se bevolkingsgroei duimnael|Katedraal van Sint Peter en Paulus in Paramaribo duimnael|Arya Dewaker Hindoe-tempel in Paramaribo duimnael|Keizerstraat-moskee in Paramaribo Die Surinaamse bevolking bestaan uit 'n verskeidenheid etniese groepe: Kreole en Kleurlinge, afstammelinge van slawe uit Afrika. Tipering: oorwegend werksaam in administratiewe bane en in die mynbou. Hulle gesinstruktuur vertoon sterk matriargale trekke. Godsdiens: oorwegend christendom. Woongebiede: vernaamlik die distrikte Paramaribo en Wanica. Boslandkreole of Marrons, nakomelinge van ontsnapte slawe van Afrika. Aukaners (Djoeka) en Saramaccaners bewoon aanvanklik afgeleë bosgebiede (Brokopondo, Marowijne, Saramacca), maar trek later as gevolg van die oplegging van die binneland ook na Paramaribo en ander plekke. Tipering: landbouers (kostgrondje), handelaars. Godsdiens: meestal beoefenaars van die winti; geeste- en voorouerverering. Ook 'wisi' (heksery) behoort tot die kulturele erfgoed. Hindoestane, nakomelinge van Asiatiese 'kontrakarbeiders' uit die toenmalige Brits-Indië. Hulle bewoon vernaamlik die distrikte Wanica, Paramaribo en Nickerie. Tipering: oorwegend werksaam in administrasie en handel, kleinboere. Godsdiens: oorwegend aanhangers van Hindoeïsme. Javane, nakomelinge van die kontrakarbeiders uit die toenmalige Nederlands-Indië. Die distrik Commewijne word van oudsher oorwegend bevolk deur Javane. 'n Aantal plekke binne die distrik het selfs Javaanse name. Daarnaas woon baie van hulle in Lelydorp en in die distrikte Paramaribo en Wanica. Tipering: Oorwegend kleinboere en handelaars. Sterk onderlinge harmonie, roekoen genoemd. Godsdiens: oorwegend Moslem, daarnaas beoefenaars van geeste- en voorouerverering. Han-Chinese, nakomelinge van kontrakarbeiders uit Hongkong of Nederlands-Indië. Chinese woon vernaamlik in die distrikte Paramaribo en Wanica. Heelparty is handelaars. Indiane, die oorspronklike bewoners van Suriname. Hulle woon veral in die distrikte Paramaribo, Wanica en Marowijne. Te onderskei in Bolandse Indiane: onder andere die Trio en Akurio in die suide, en die Tucajana's (die Tucajana Amazones) in die weste. Benedelandse Indiane: Arowakke en Caraïbe. Tipering: Die Indiane lewe van kleinskaalse landbou, vissery en jag en op beskeie vlak van kuns verwante nywerhede. Baie jong Indiane trek na Paramaribo. Godsdiens: die Trio is sedert die einde jare '60 van die 20ste eeu oorwegend christen. Ook onder die Akurio en sommige andere stamme vind mens christene. Die res hang tradisionele natuurgodsdienste aan, waarby geeste- en voorouerverering 'n belangrike plek inneem. Blanke (nakomelinge van die Nederlanders en andere Europeërs en, Libanese, Siriërs en Anglo-Amerikaners). Hulle invloed op die samelewing is groter as hulle (kleine) getalle. Hulle woon veral in die distrikte Paramaribo en Wanica. Godsdiens: vernaamlik christen, sommige moslem. Die blankes wat of onlangs in Suriname aangekom het of wat geen gemengde bloed het, staan bekend as bakra's. Die afstammelinge van die blanke koloniste wat in die middel van die 19de eeu uit Groningen en Gelderland kom, staan bekend as boeroe's. Nakomelinge van Portugese Jode. In hulle geskiedenis speel die Jodesavanne 'n groot rol. Godsdiens: Oorwegend aanhangers van die joodse godsdiens (Joodse Sinagoge in Paramaribo).
Die bevolkingsgroepe het op kulturele, politieke en sosiale vlak weinig onderlinge assimilasie ondergaan. Dit is grotendeels 'n gevolg van die koloniale arbeidspolitiek, wat gerig was op die behoud van die plantasiestelsel. Veral die politieke toneel word sedert jaar en dag agter die skerms beheer deur 'n magstryd tussen die grootste bevolkingsgroepe, die Kreole, die Hindoestane en die Javane. Religieuse en etniese skeidslyne loop grootliks parallel.
Ekonomie duimnael|Suriname se Ministerie van Finansies Suriname is baie ryk aan natuurlike hulpbronnne en word op grond daarvan wel as sewentiende land op die lys van rykste lande geplaas. Die natuurlike hulpbronne omvat onder andere hout, bauxiet, goud en porseleinaarde (kaolien). Klein hoeveelhede nikkel, koper, platinum en ystererts word ook aangetref.
Die grootste pilaar van die Surinaamse ekonomie is die myn van bauxiet deur Suralco en BHP Billiton by Moengo, nie ver van Albina af nie. Van die Surinaamse uitvoer kom 70% van bauxiet. Aanverwante industrie: aluinaardefabriek en aluminiumsmeltery (Billiton en Alcoa). Ten suide van Paramaribo het deur die aanleg van 'n stu-dam in die Surinamerivier die Prof. Dr. Ir. W.J. van Blommesteinmeer (tans die Brokopondostumeer) ontstaan; 'n hidroëlektriese kragsentrale gevoed deur die meer, lewer elektrisiteit, onder meer vir die produksie van aluminium. Bouonderneming: Alcoa. Andere takke van die ekonomie sluit in landbou en vissery, houtontginning (Bruynzeel) en handel. Landbouprodukte: rys, piesangs, palmsaad, kokosneute, grondboontjies, beesvleis, hoenders, bosprodukte, garnale. Uitvoer: onder meer rys, garnale, piesangs, palmolie, suiker. Invoer: Verbruikersgoedere, olieprodukte, voedingsmiddels, katoen, produksiemiddels.
Geldeenheid: die Surinaamse dollar (=100 cent); code: SRD. Op 1 Januarie 2004 is die Surinaamse gulden as munteenheid vervang deur die Surinaamse dollar. Die koers is met 'n faktor duisend verminder. Duisend Surinaamse gulden het dus 1 Surinaamse dollar geword. 'n Eienaardige newe-effek is dat die ou muntgeld, wat deur die devaluasie nie meer gebruik word nie, opeens duisendvoudig in waarde vermeerder het.
Natuur en klimaat Suriname het 'n tropiese reënwoudklimaat, met 'n groot en klein reëntyd en dit ken 'n groot verskeidenheid van flora en fauna. Die oorgrote deel van Suriname is nog altyd met oerwoud bedek. Dit is daarom 'n gewilde studieoord vir bioloë van oral uit die wêreld. Op die strand by Galibi word besondere seeskilpadbevolkings aangetref. Daar is bedreiginge vir die natuur, veral deur die ontbossing en deur verontreiniging as gevolg van kleinskaalse mynbou (by name goudwinning). Suriname het egter 'n lang geskiedenis van natuurbewaring en ook op die oomblik is daar verskillende organisasies aktief.
Tale duimnael|Slagtermark in Paramaribo met tekens in Nederlands duimnael|Die tweede vers van die Surinaamse nasionale volkslied, God zij met ons Suriname, in Sranantongo In Suriname word twintig tale gepraat. Die amptelike taal is Nederlands. Hierdie Wes-Europese taal word deur sowat 60% van die totale bevolking as moedertaal gepraat. Hierdie aantal sal in die toekoms heel moontlik groei omrede Suriname 'n lid is van die Nederlandse Taalunie en Nederlands op skool en in die amptelike omgang gebruik word. Die res van die bevolking praat Nederlands as tweede of derde taal. Die lingua franca, Sranantongo (in die volksmond Sranan), word deesdae as volkstaal deur so te sê elke Surinamer gepraat. Dis 'n Engelsgebaseerde Kreooltaal.
Volgens aantal sprekers is die belangrikste tale in Suriname: Nederlands met een kleurtje Taalschrift, geraadpleeg op 17 Augustus 2019 Nederlands – 200 000 moedertaalsprekers; 200 000 tweede taalsprekers; Sranantongo – 120 000 moedertaalsprekers; 280 000 tweede taalsprekers; Sarnami Hindoestani – 150 000 moedertaalsprekers, en Javaans – 60 000 moedertaalsprekers.
Ander tale (die aantal vermelde sprekers is 'n rowwe skatting): Kreooltale (24 000 sprekers): Aukaans of Ndjoeka, Paramakkaans, Boni (of Bonni, of Aloekoe), en Kwinti (klein aantal sprekers) Saramaccaans (12 500) en Matawai (2 000) Indiaanse tale, onderverdeel in drie taalfamilies: Karaïbs – Kalina of Karaïbies (2 000), Trio en Wajana (altesaam 600 sprekers) Arowakse tale – Lokono (Arowaks, 1 200) Warause tale – Warau (word vermoedelik nie meer in Suriname gepraat nie) Asiatiese tale: Sarnami (140 000 sprekers in Suriname, Surinaamse variant van Hindi); Javaans (60 000) en Chinees (6 000, waaronder Hakka) Euro-Asiatiese tale: Engels en Libanees (Libanese variant van Arabies) (klein aantal sprekers).
Godsdiens