thumb|250px|'n Kleurfoto van die nabyaarde-asteroïed 433 Eros, wat in 2000 deur die tuig NEAR Shoemaker besoek is. thumb|250px|Die kern van die nabyaardekomeet 103P/Hartley, soos gesien deur Nasa se ruimtetuig Deep Impact.

’n Nabyaardevoorwerp (NAV), ook genoem 'n aardskrammer,Van Zyl, J.E. Ontsluier die heelal, Protea Boekhuis, Pretoria. Tweede uitgawe. 2002. Gedruk en gebind deur Interpak. SBN 191-9-8254-44 is enige voorwerp in die Sonnestelsel waarvan die wentelbaan naby aan dié van die Aarde kom. Per definisie is alle NAV's se kleinste afstand van die Son af (hulle perihelium) minder as 1,3 astronomiese eenhede (AE). Dit sluit 37 000 asteroïede en meer as 120 kortperiodekomete in.

Daar word nou aanvaar botsings in die verlede het ’n groot rol gespeel in die vorming van die Aarde se geologiese en biologiese geskiedenis. Asteroïede met 'n deursnee van net 20 m kan aansienlike skade aan die plaaslike omgewing en menslike bevolkings aanrig. Groter asteroïede dring deur die atmosfeer en tref die Aarde, en veroorsaak slagkraters as hulle 'n kontinent tref of tsoenami's in die see.

NAV's het sedert die 1980's van toenemende belang geword vanweë ’n groter bewustheid van die moontlike gevaar wat sommige asteroïede en komete vir die Aarde inhou. In Januarie 2016 het Nasa bekendgemaak dat ’n liggaam, die Planetary Defense Coordination Office, gestig is om NAV's groter as 30 tot 50 meter in deursnee op te spoor en ’n doeltreffende beskermingsplan op te stel.

NAV's het wentelbane van tussen 0,983 en 1,3 AE van die Son af. Wanneer ’n NAV waargeneem word, word dit onder die aandag van die Internasionale Sterrekundige Vereniging se Kleinplaneetsentrum gebring om te katalogiseer. Sommige NAV's se wentelbane kruis die Aarde s’n en hou dus ’n gevaar in.

’n Botsing met enige NAV met ’n deursnee van meer as ’n kilometer kan katastrofies wees. In Junie 2015 was daar 872 sulke NAV's bekend, waarvan 153 moontlike gevaar inhou. In 2006 is geraam 20% van dié soort voorwerpe is nog nie ontdek nie. ’n Meer positiewe raming is dat 93% van NAV's groter as 1 km gevind is en net sowat 70 nog ontdek moet word. (NASA Space Telescope Finds Fewer Asteroids Near Earth) Mindere kennis bestaan oor kleiner voorwerpe, wat steeds grootskaalse skade kan aanrig.

Die bedreiging van potensieel gevaarlike voorwerpe (PGV's) word gemeet aan hoe naby hulle aan die Aarde kan kom. Voorwerpe wat tot 0,05 AE of minder van die Aarde se wentelbaan kan kom en ’n absolute magnitude (H) van 22 of helderder het (’n rowwe aanduiding van die grootte) word as PGV's beskou. Voorwerpe wat nie nader as dit aan die Aarde kan kom nie of ’n kleiner deursnee as sowat 150 m het, word nie as gevaarlik beskou nie. Nasa se katalogus van nabyaardevoorwerpe sluit ook hulle afstand in maanafstande in,NEO Earth Close Approaches at NASA/JPL Near-Earth Object Program Office en dit word dikwels in die media gebruik as ’n algemene maateenheid wanneer oor dié voorwerpe berig word.

Sommige NAV's wat nie groot gevaar inhou nie is van besondere belang omdat hulle maklik verken kan word. Teen Desember 2024 is vyf nabyaardekomete en ses nabyaarde-asteroïede, een van hulle met 'n maan, al deur ruimtetuie besoek. Monsters van drie is na die Aarde teruggebring en een suksesvolle wegkeringstoets is uitgevoer. Soortgelyke sendings word voorberei. Voorlopige planne vir kommersiële asteroïedmynbou is al deur privaat maatskappye beraam, maar min is opgevolg.

Definisies duimnael|260px|’n 2013-voorstelling van die wentelbane van moontlik gevaarlike asteroïede (met ’n grootte van meer as 140 meter en ’n afstand van minder as 7,6×106 km van die Aarde se wentelbaan af).

Nabyaardevoorwerpe word formeel deur die IAU gedefinieer as alle klein Sonnestelselliggame met wentelbane wat nader as 1,3 AE van die Son af is (1 AE is die afstand tussen die Aarde en die Son). Dit sluit groter liggame soos planete (byvoorbeeld Venus) uit, asook natuurlike satelliete wat om ander liggame as die Son wentel (soos die Aarde se Maan) en kunsmatige liggame wat om die Son wentel. 'n NAV is dus óf 'n nabyaarde-asteroïed (NAA) óf 'n nabyaardekomeet (NAK).

Die IAU beperk hulle definisie van NAV's verder tot voorwerpe met 'n wentelperiode van minder as 200 jaar. Dit het veral op komete betrekking. Dié benadering is egter nie universeel nie. Sommige skrywers beperk die definisie verder tot wentelbane wat minstens gedeeltelik verder as 0,983 AE van die Son af is. NAV's is dus nie noodwendig tans naby aan die Aarde nie, maar het die potensiaal om relatief naby aan die Aarde te kom. Baie NAV's het ingewikkelde wentelbane vanweë konstante versteurings deur die Aarde se swaartekrag.

Die wentelbaan van sommige NAV's kruis dié van die Aarde en hulle hou dus 'n botsingsgevaar in. Hulle word beskou as potensieel gevaarlike voorwerpe (PGV's) as hulle geraamde deursnee groter as 140 meter is. PGV's sluit potensieel gevaarlike asteroïede in. Laasgenoemde word gedefinieer geskoei op twee parameters: hoe gevaarlik naby hulle aan die Aarde kan kom en die geraamde gevolge as hulle met die Aarde sou bots.

Dit sluit voorwerpe in met 'n absolute magnitude van helderder as 22 ('n rowwe aanduiding van hulle grootte). Voorwerpe wat óf nie nader as 0,05 AE (7 500 000 km) aan die Aarde kan kom nie óf 'n magnitude van dowwer as 22 ('n deursnee van kleiner as 140 m en 'n aanvaarde albedo van 14%) het, word nie as PGV's beskou nie.

Mens se bewustheid van NAV's thumb|240px|links|'n Tekening uit 1910 van die baan van Halley se Komeet.

Die eerste nabyaardevoorwerpe wat die mens waargeneem het, was komete. Hulle buiteaardse aard is eers in 1577 besef en bevestig nadat Tycho Brahe probeer het om die afstand van 'n komeet deur sy parallaks te bereken. Die laagste perk wat hy verkry het, was ver groter as die Aarde se deursnee.

Die periodisiteit van sommige komete is eers in 1705 besef, toe Edmond Halley sy baanberekings gepubliseer het vir die terugkerende voorwerp wat nou as Halley se Komeet bekend is. Die terugkeer van Halley se Komeet in 1758-'59 was die eerste keer dat die verskyning van 'n komeet voorspel is.

Die buiteaardse aard van meteore (verskietende sterre) is eers in 1833 besef ná ontledings van die Leonide-meteoorreën deur die sterrekundige Denison Olmsted. Die periode van 33 jaar van die Leonides het sterrekundiges laat vermoed hulle kom van 'n komeet wat vandag as 'n NAV geklassifiseer sou word. Dit is in 1867 bevestig toe sterrekundiges uitvind die pas ontdekte komeet 55P/Tempel-Tuttle het dieselfde wentelbaan as die Leonides.

Die eerste nabyaarde-asteroïed wat ontdek is, was 433 Eros in 1898. Die asteroïed was die onderwerp van verskeie intensiewe waarnemingsveldtogte, hoofsaaklik omdat die meting van sy wentelbaan gelei het tot 'n presiese bepaling van die destyds onperfek bekende afstand tussen die Aarde en die Son.

Nabye naderings Teen 2019 is net 23 komete waargeneem wat binne 0,1 AE (15 000 000 km) verby die Aarde beweeg het. Tien van hulle is of was korttermynkomete. Twee of drie van hulle, soos Halley se Komeet, is verskeie kere van naby gesien. Die naaste komeet aan die Aarde was Lexell se Komeet op 1 Julie 1770, by 0,0151 AE (5,88 maanafstande). Nadat dit in 1779 naby Jupiter verbybeweeg het en sy wentelbaan verander is, is dit nie meer 'n NAV nie. Die naaste huidige korttermynkomeet was Komeet Tempel-Tuttle in 1366 by 0,0229 AE (8,92 maanafstande).

In 1937 is die asteroïed 69230 Hermes van 800 m breed ontdek toe dit teen twee maanafstande van die Aarde af verbybeweeg het. Op 14  Junie 1968 het die asteroïed 1566 Icarus van 1,4 km breed sowat 0,0425 AE (6 360 000 km of 16,5 maanafstande) van die Aarde af verbybeweeg. Dit is die eerste kleinplaneet wat met radar opgespoor is terwyl dit die Aarde genader het.

Die eerste nabyaarde-asteroïed wat nader as die afstand van die Maan verby die Aarde beweeg het, was , 'n liggaam van 5-10 m breed, op 170 000 km. Namate NAV-opsporings verbeter het, is een sodanige liggaam sedert 2001 elke jaar waargeneem, minstens 'n dosyn sedert 2005 en meer as 100 sedert 2020.

Op 8 November 2011 het (van sowat 400 m in deursnee) binne 324 600 km (0,85 maanafstande) van die Aarde af verbybeweeg. Tien weke later, op 27 Januarie 2012, het die 10 m breë asteroïed net 60 000 km van ons af verbygetrek. Op 15 Februarie 2013 het 367943 Duende () sowat 27 700 km van die Aarde se oppervlak af verbybeweeg. Dit is nader as satelliete in ’n geosinchroniese wentelbaan. Die asteroïed kon nie met die blote oog gesien word nie.

Teen Desember 2024 was die naaste afstand aan die Aarde sonder 'n atmosferiese of grondbotsing die 5-11 m breë asteroïed op 14 November 2020, met 'n minimum afstand van sowat 6 750 km van die Aarde se middelpunt af, of 380 km van sy oppervlak af.

Aardskeerders Sommige klein asteroïede wat die Aarde se boonste atmosfeer teen 'n vlak hoek binnekom, verlaat weer die atmosfeer ongeskonde en sit hulle wentelbaan om die Son voort. Vanweë die branding van hulle oppervlak in die atmosfeer kan sulke voorwerpe as 'n aardskeerdersvuurbal waargeneem word.

Op 10 Augustus 1972 is 'n meteoor wat as die Groot Dagligvuurbal van 1972 bekend geword het, deur baie mense gesien en selfs afgeneem terwyl dit noordwaarts oor die Rotsgebergte na Kanada beweeg het. Dit was binne 58 km van die Aarde se oppervlak af.

Op 13 Oktober 1990 is die aardskeerdersmeteoroïed EN131090 bo Tsjeggo-Slowakye en Pole gesien terwyl dit teen 41,74 km/s van suid na noord beweeg het. Sy naaste afstand aan die aardoppervlak was 98,67 km.

Botsings Wanneer 'n nabyaardevoorwerp die Aarde tref, ontplof voorwerpe met 'n deursnee van tot 'n paar dosyn meter in die mesosfeer. Die meeste of al die soliede materiaal verdamp en net 'n paar klein stukkies meteoriet bereik die aardoppervlak. Groter voorwerpe tref die water en vorm tsoenamigolwe of tref die grond en vorm slagkraters.

Die bestudering van slagkraters dui daarop dat die frekwensie die afgelope 3,5 miljard jaar min of meer dieselfde gebly het, wat beteken die NAV-populasie word voortdurend deur die hoofasteroïedgordel aangevul. Een botsingsmodel beraam die tyd tussen botsings deur twee rotsasteroïede met 'n deursnee van minstens 4 m op een jaar; vir asteroïede van 7 m breed (wat in 'n botsing soveel energie vrystel as die atoombom wat op Hirosjima geval het: sowat 15 kiloton TNT) op vyf jaar; vir dié van 60 m breed ('n ontploffing van 10 megaton, verglykbaar met die Toengoeska-voorval in 1908) op 1 300 jaar; vir dié van 1 km breed op 440 000 jaar; en vir dié van 5 km breed op 18 miljoen jaar. Sommige ander modelle stel dieselfde frekwensies voor, terwyl nog ander hoër frekwensies voorstel. Vir Toengoeska-grootte-botsings wissel die raming tussen een voorval elke 2 000 tot 3 000 jaar en een elke 300 jaar.

Die tweede grootste waargenome voorval naas die Toengoeska-voorval was 'n lugontploffing van 1,1 megaton in 1963 naby die Prins Eduard-eilande tussen Suid-Afrika en Antarktika. Dit is egter slegs deur ultraklanksensors waargeneem, en dit het gelei tot gissings dat dit dalk 'n kerntoets was.

Die derde grootste en verreweg bes waargenome voorval was die Tsjeljabinsk-meteoor van 15 Februarie 2013. 'n Voorheen onbekende asteroïed van 20 m breed het bo dié Russiese stad ontplof met 'n energie gelyk aan 400-500 kiloton. Die berekende wentelbaan van die asteroïed voor die ontploffing is soortgelyk aan dié van , en laasgenoemde was dus moontlik die meteoor se moederliggaam.

Die Aarde is nie die enigste liggaam wat deur botsings in die gesig gestaar word nie. Botsings teen die Maan kan waargeneem word as flitse lig wat gewoonlik 'n breukdeel van 'n sekonde duur. Die eerste maanbotsings is afgeneem tydens die Leonide-meteoorreën van 1999. 'n Maanbotsing op 11 September 2013 het 8 sekondes geduur en is waarskynlik veroorsaak deur 'n voorwerp van 0,6 tot 1,4 m breed. Dit het 'n nuwe krater van 40 m breed geskep: die grootste een wat nog gesien is (soos in Julie 2019).

Risiko