Sir Philip Anthony Hopkins CBE (gebore 31 Desember 1937) is 'n Walliese akteur, komponis en skilder.. Hy word beskou as een van Brittanje se herkenbaarste en vrugbaarste akteurs, en is bekend vir sy rolle op die silwerdoek en die verhoog. Hopkins het verskeie pryse ontvang, insluitend twee Oscars, vier Baftas, twee Emmys en 'n Laurence Olivier-prys. Hy het ook in 2005 die Cecil B. DeMille-prys en in 2008 die Bafta Fellowship vir lewenslange prestasie gewen. Hy is in 1993 deur koningin Elizabeth II tot ridder geslaan vir sy diens aan drama.

Nadat hy in 1957 aan die Royal Welsh College of Music & Drama gegradueer het, het Hopkins opleiding aan die Royal Academy of Dramatic Art in Londen ontvang. Hy is toe raakgesien deur Laurence Olivier, wat hom genooi het om in 1965 by die Britse Nasionale Teater aan te sluit. Produksies daar het ingesluit King Lear, Coriolanus, Macbeth en Antony and Cleopatra. In 1985 het hy lof ontvang en die Laurence Olivier-prys vir sy spel in Pravda gewen. Sy laaste verhoogrol was in 1989 in die Weseinde-produksie van M. Butterfly.

thumb|300px|links|Hopkins (middel, tweede van voor) in The Two Popes. Van Hopkins se vroeë rolle was in The Lion in Winter (1968), A Bridge Too Far (1977) en The Elephant Man (1980). Hy het twee Oscars vir beste akteur gewen vir sy rol as Hannibal Lecter in The Silence of the Lambs (1991) en 'n man in sy 80's met demensie in The Father (2020). Vir laasgenoemde was hy die oudste persoon nog wat 'n Oscar vir beste akteur gewen het. Die ander rolprente waarvoor hy vir Oscars benoem is, sluit in The Remains of the Day (1993), Nixon (1995), Amistad (1997) en The Two Popes (2019).

Ander noemenswaardige prente was onder meer 84 Charing Cross Road (1987), Howards End (1992), Bram Stoker's Dracula (1992), Shadowlands (1993), Legends of the Fall (1994), The Mask of Zorro (1998) en die Marvel Cinematic Universe se Thor-prente (2011-'17). Vir sy televisiewerk het Hopkins 'n Bafta vir beste akteur gewen vir sy spel in War and Peace (1972). Hy het twee Emmys gewen vir The Lindbergh Kidnapping Case (1976) en The Bunker (1981).

Vroeë lewe en opvoeding thumb|240px|links|Hopkins het van 1961 tot 1963 aan RADA (die Royal Academy of Dramatic Art) in Londen studeer.

Philip Anthony Hopkins is op 31 Desember 1937 in die Margam-distrik van Port Talbot, Wallis, gebore. Hy was die seun van Annie Muriel (gebore Yeates) en die bakker Richard Arthur Hopkins.Vertel in 'n onderhoud op Inside the Actors Studio, 2007. Hy het gesê sy pa se werkersklaswaardes het altyd sy lewe beïnvloed: "Wanneer ek voel ek is dalk spesiaal of anders, dink ek aan my pa en onthou ek sy hande – sy harde, gebreekte hande." Sy skooldae was onproduktief; hy sou liewer kuns beoefen, soos skilder en teken, of klavier speel as om op sy studies te fokus. In 1949, om hom dissipline te leer, het sy ouers daarop aangedring dat hy Jones se West Monmouth-seunskool in Pontypool bywoon. Hy het vyf kwartale lank daar gebly en is toe na die Cowbridge-grammatikaskool in die Vale of Glamorgan in Suidoos-Wallis.

In ’n onderhoud in 2002 het hy gesê: "Ek was ’n swak leerder, en dit het my oopgestel vir bespotting en my ’n minderwaardigheidskompleks gegee. Ek het grootgeword met die absolute oortuiging dat ek dom is."

Hopkins is geïnspireer deur die mede- Walliese akteur Richard Burton, wat hy op die ouderdom van 15 ontmoet het. Hy het Burton later beskryf as "baie grasieus, baie gaaf", maar gesê: "Ek weet nie waar almal die idee kry dat ons goeie vriende was nie. Ek veronderstel dis omdat ons albei Wallies is en naby dieselfde dorp grootgeword het. Ek het hom eintlik glad nie geken nie."

Hopkins het aan die Royal Welsh College of Music & Drama in Cardiff ingeskryf, waar hy in 1957 gegradueer het. Hy het Burton weer in 1975 ontmoet toe Burton voorberei het om Hopkins se rol as die psigiater in Peter Shaffer se Equus oor te neem. Hopkins het gesê: "Hy was ’n fenomenale akteur. So ook Peter O'Toole – hulle was wonderlike groter-as-lewe-karakters." Hy het van 1958 tot 1960 vir twee jaar sy nasionale diensplig in die Britse leër gedoen voordat hy na Londen verhuis het om aan RADA (die Royal Academy of Dramatic Art) te studeer. Hy het in 1963 gegradueer.

Loopbaan 1960-'89 Hopkins se eerste professionele verhoogrol was in 1960 in die Palace Theatre in Swansea in Have a Cigarette. In 1965 is hy raakgesien deur Laurence Olivier, wat hom genooi het om by die Nasionale Teater in Londen aan te sluit.Sir Anthony Hopkins portrait The Daily Telegraph. Besoek op 6 Januarie 2011.

thumb|220px|Richard Attenborough was die regisseur van vyf van Hopkins se rolprente. Hy het hom in die 1970's beskryf as "beslis die grootste akteur van sy generasie". Hopkins het sy debuut op die kassie in 1967 gemaak in 'n BBC-uitsending van A Flea in Her Ear. Sy eerste rol in 'n rolprent was in 1964 in Changes, 'n kortfilm. In 1968 het Hopkins sy deurbraak gemaak in The Lion in Winter as Richard die Leeuehart. Hy is daarvoor vir 'n Bafta benoem as beste manlike byspeler. Hopkins het die rol van Pierre Bezukhov in die BBC se minireeks War and Peace (1972) vertolk en daarvoor 'n prys van die Britse Akademie ontvang.BFI Screenonline: Sherrin, Ned (1931–2007) Biography. BFI. Besoek op 19 Januarie 2015 Hy het begin naam maak as 'n rolprentakteur en in verskeie rolprente verskyn.

Vanaf 1973 het Hopkins verskyn in A Doll's House, die komedie The Girl from Petrovka (1974) saam met Goldie Hawn and Hal Holbrook en Juggernaut (ook 1974) saam met Richard Harris en Omar Sharif. In Oktober 1974 het hy die rol van die sielkundige Dysart in die oorspronklike Broadway-produksie van Equus vertolk teenoor Peter Firth. Hy het 'n Drama Desk-prys gewen vir sy spel. In 1977 was hy die Britse leëroffisier John Frost in Richard Attenborough se prent van die Tweede Wêreldoorlog A Bridge Too Far. In 1978 het hy gespeel in die opvolg van National Velvet met die naam International Velvet saam met Tatum O'Neal en Christopher Plummer. In dieselfde jaar was hy in Attenborough se sielkundige riller Magic.

thumb|links|180px|Hopkins het die rol van sir Frederick Treves vertolk in The Elephant Man (1980). In 1980 het Hopkins in David Lynch se The Elephant Man gespeel as die Engelse dokter sir Frederick Treves, wat die versorging behartig het van Joseph Merrick (vertolk deur John Hurt), 'n erg misvormde man van die 19de-eeuse Londen. Die rolprent het die aandag van resensente getrek en is vir agt Oscars benoem, insluitende vir beste prent. In dié jaar het hy ook saam met Shirley MacLaine in A Change of Seasons gespeel. Hulle het glad nie oor die weg gekom nie en Hopkins het haar later genoem "die onuitstaanbaarste aktrise saam met wie ek nog gewerk het". Die prent het misluk.

In 1981 het hy Adolf Hitler vertolk in die televisieprent The Bunker. John O'Connor het sy spel in New York Times geprys: "Sy Hitler is mal, dikwels veragtelik, maar altyd verstaanbaar." Hy het 'n Emmy daarvoor gewen.

In die vroeë 80's was hy in The Hunchback of Notre Dame (1982), saam met Mel Gibson in The Bounty (1984) en in Mussolini and I (1985). In 1984 was hy in die Nasionale Teater se produksie van Pravda, waarvoor hy die Laurence Olivier-prys vir uitsonderlike toneelspel gewen het.

In 1986 het hy verskyn in die toneelstuk King Lear, sy gunstelingstuk van Shakespeare. Die volgende jaar was hy saam met Judi Dench op die verhoog as Marcus Antonius in Antony and Cleopatra. In 1989 het hy sy laaste verhoogrol gespeel in die Weseinde-produksie van M. Butterfly. In 1989 was hy in die minireeks Great Expectations, waarvoor hy sy vierde Emmy gewen het.

1990-'99: Sterstatus links|thumb|260px|Die sterre van The Silence of the Lambs: Kolksgewys van links bo is Jodie Foster, Anthony Hopkins, Ted Levine en Scott Glenn.

Hopkins het lof van resensente en gehore gekry vir sy vertolking van die kannibalistiese reeksmoordenaar Hannibal Lecter in The Silence of the Lambs saam met Jodie Foster as Clarice Starling. Hulle het albei op die 64ste Oscar-toekenningsaand 'n Oscar vir hulle spel gewen. Die prent het ook gewen vir beste rolprent, beste regisseur en beste verwerkte draaiboek. Hopkins het ook sy eerste Bafta vir beste akteur gewen. Hy het die rol weer vertolk in Ridley Scott se Hannibal (2001) en in Red Dragon (2002). Sy oorspronklike uitbeelding van die karakter in The Silence of the Lambs is deur die Amerikaanse Filminstituut (AFI) as die no. 1-rolprentskurk gekies.

thumb|260px|Isabella Rossellini en Hopkins in Berlyn vir die verfilming van The Innocent (1993). In 1992 het Hopkins byrolle gespeel as Charlie Chaplin se biograaf in Richard Attenborough se biografiese drama Chaplin, en as professor Van Helsing in Francis Ford Coppola se Bram Stoker's Dracula. In dieselfde jaar het hy saam met Emma Thompson en Helena Bonham Carter in 'n verwerking van E.M. Forster se roman Howards End verskyn as die koue sakeman Henry Wilcox. Die prent is baie goed ontvang.

Die volgende jaar het Hopkins saam met Emma Thompson in The Remains of the Day gespeel. David Hunter van The Hollywood Reporter het sy spel geprys as "kolossaal" en 'n "kragtoer". Hopkins het die prent, waarin hy die rol van die butler Stevens vertolk het, een van sy gunstelingflieks genoem. Hy is vir 'n Oscar benoem en het 'n Bafta gewen.

Hopkins het die rol van die Oxford-akademikus C.S. Lewis in Shadowlands (1993) vertolk en daarvoor 'n Bafta gewen. In dieselfde jaar het hy saam met Isabella Rossellini in die drama The Innocent verskyn.

Hy het daarna in Legends of the Fall (1994) en The Edge (1997) verskyn. In 1998 was Hopkins Brittanje se bes betaalde akteur en het hy in The Mask of Zorro en Meet Joe Black gespeel.

2000-'19: Gevestigde akteur thumb|links|160px|Lecter se T-hemp wat Hopkins in Hannibal gedra het. Dit word uitgestal in die Londense Rolprentmuseum. thumb|links|160px|Hopkins se ster op die Hollywood Walk of Fame.

In 2000 was Hopkins die verteller van Ron Howard se lewendige weergawe van How the Grinch Stole Christmas. Daarna het hy sy rol as Hannibal Lecter herhaal in die vervolg op The Silence of the Lambs, getiteld Hannibal (2001). Die regisseur Ridley Scott en die aktrise Julianne Moore het Jonathan Demme en Jodie Foster vervang. Die film het internasionale loketrekords verbeter. maar het gemengde resensies gekry. Hopkins het in die derde rolprent in die reeks, Red Dragon (2002), saam met Ralph Fiennes, Edward Norton, Harvey Keitel, Emily Watson en Philip Seymour Hoffman verskyn. Die film het oor die algemeen gunstige resensies ontvang en was ’n lokettreffer.

thumb|220px|Hopkins soos gefotografeer deur Oliver Mark, Berlyn 2001. In 2003 het Hopkins ’n ster op die Hollywood Walk of Fame ontvang.Happy birthday Sir Anthony Hopkins The Daily Telegraph (Sydney). Besoek op 5 Februarie 2011 In 2006 het hy die Golden Globes se Cecil B. DeMille-prys vir lewenslange bydrae ontvangLifetime honour for Sir Anthony BBC News (17 November 2005) en in 2008 die BAFTA Academy Fellowship Award, die hoogste eerbewys wat die Britse Filmakademie toeken.Bafta Film Awards 2008: The winners BBC News (10 February 2008) In ’n peiling wat in 2003 deur Channel 4 gedoen is, is Hopkins sewende geplaas op hul lys van die 100 grootste rolprentsterre.

Hopkins het Odin, die koning van Asgard, in die 2011-rolprentweergawe van Marvel se rolprent Thor vertolk, en het die rol in 2013 herhaal in Thor: The Dark World en weer in 2017 in Thor: Ragnarok. Hy het Alfred Hitchcock vertolk in die biografiese prent Hitchcock, met Helen Mirren as Hitchcock se vrou. Die prent fokus op die verfilming van die fliek Psycho (1960) en die gevolge daarvan. Hy het ook verskyn in Red 2 (2013), Noah (2014) en Transformers: The Last Knight (2017). In Oktober 2015 het Hopkins verskyn as Sir in ’n BBC Two-produksie van Ronald Harwood se The Dresser, saam met Ian McKellen, Edward Fox en Emily Watson.