Argentinië (Spaans: Argentina, [aɾxenˈtina], ), amptelik die Argentynse Republiek (Spaans: República Argentina), is 'n Spaanssprekende land in die suide van Suid-Amerika, tussen die Andesgebergte in die weste en die suidelike Atlantiese Oseaan in die ooste. Die naam "Argentinië" is afgelei van die Latynse woord argentum (silwer), 'n edelmetaal wat 'n belangrike rol gespeel het in die opkoms van Europese kolonialisme in Argentinië.

duimnael|links|Nasa-Satellietbeeld van Argentinië Argentinië grens in die noorde aan Bolivië en Paraguay, in die ooste aan Brasilië en Uruguay, suid van die Río de la Plata aan die Atlantiese Oseaan, in die weste aan Chili en in die suide aan die Suidelike Oseaan. Argentinië maak aanspraak op 'n sektor van Antarktika (Argentyns-Antarktika, Spaans: Antártida Argentina), die Falkland-eilande (Spaans: Islas Malvinas) en ander Suid-Atlantiese eilande (Spaans: Islas del Atlántico Sur) soos Suid-Georgië en die Suidelike Sandwicheilande (Islas Georgias del Sur y Sandwich del Sur), die Suid-Shetland- (Islas Shetland del Sur), en Suid-Orkney-eilandgroep (Islas Orcadas del Sur).

Argentinië trek die aandag van ekonomiese navorsers nadat dit in die laat 19de en vroeë 20ste eeu genoeg gevorder het om onder die tien welvarendste lande ter wêreld gereken te word, maar sy ekonomiese ontwikkeling het vanaf die Groot Depressie in die vroeë 1930's 'n reeks van af- en opwaartse kurwes getoon wat dit agter sy buurlande, veral Chili, laat terugsak het – om êrens tussen die vyftigste en sestigste plek te beland. Vinnige en selfs stormagtige groei in die 1990's het in 2001 in een van dié land se diepste ekonomiese krisisse geëindig – en van dié land die grootste buitelandse wanbetaler in die geskiedenis gemaak.

Tegelykertyd het Argentyne sedert hul onafhanklikwording in die vroeë 19de eeu nooit daarin geslaag om 'n oorkoepelende nasionale identiteit te skep nie. Argentinië word soms beskryf as 'n nasie van Europeërs wat aan boord van emigrasieskepe gegaan het om die mees Europese land van Amerika of die mees Amerikaanse land van Europa te word. Sy politiek en samelewing is gekenmerk deur spanninge, geweldpleging, 'n halfeeu van staatsgrepe en 'n bloedige vervolging van andersdenkendes, linkses, intellektueles of blote verdagtes tydens die militêre diktatuur tussen 1976 en 1983, wat – ná jare van politieke onrus, ekonomiese chaos, geweldpleging en opspraakwekkende ontvoerings van buitelanders – eufemisties as "Nasionale Proses van Herorganisasie" (Spaans: Proceso de Reorganización Nacional) beskryf is en moontlik 30 000 menselewens geëis het. Dit het sy hoogtepunt – en einde – in die militêre aanval op die Britse Falkland-eilande tydens die Falklandoorlog van 1982 gevind. Argentinië het daarna teruggekeer na 'n stabiele demokratiese regeringsvorm.

Argentyne toon 'n neiging om hulself veral in teenstelling en opposisie met ander te definieer en het dus in hul geskiedenis onderskeidings tussen "federaliste en aanhangers van 'n eenheidstaat", "'n beskaafde samelewing en barbaarse toestande", "radikale en behoudendes", "Buenos Aires en die res van dié land", "Peroniste en anti-Peroniste" gemaak, ongeag dié land se redelik homogene bevolking van merendeels Italiaanse en Spaanse afkoms en die gebrek aan enige merkwaardige taalkundige of etniese diversiteit. Jill Hedges: Argentina. A Modern History. Kindle e-boek. Londen en New York: I.B. Tauris 2011, pos. 118–142

Etimologie duimnael|links|upright|Omslag van die eerste uitgawe van die 1602-gedig La Argentina deur Martín del Barco Centenera Die verwysing na die streek met die woord Argentina is vir die eerste keer gebruik op 'n Venesiaanse kaart in 1536.

In Afrikaans is die naam "Argentinië" ontleen aan Spaans; dié benaming is egter nie Spaans nie, maar Italiaans. Argentina (manlik argentino) beteken in Italiaans "(gemaak) van silwer" of "silwerkleurig", ontleen aan die Latyn argentum vir silwer. In Italiaans word die byvoeglike naamwoord of die eienaam dikwels gebruik in 'n selfstandige wyse as 'n selfstandige naamwoord en word dus l'Argentina.

Die naam Argentina is waarskynlik die eerste keer gebruik deur Venesiaanse en Genuese seevaarders soos Giovanni Caboto. In Spaans en Portugees is die woorde vir "silwer" onderskeidelik plata en prata en "(gemaak) van silwer" is plateado en prateado. Argentina is oorspronklik geassosieer met die silwerberge-legende wat wydverspreid was onder die eerste Europese ontdekkingsreisigers van die La Plata-kom.

Die eerste skriftelike gebruik van die naam in Spaans kan opgespoor word in La Argentina, 'n 1602-gedig deur Martín del Barco Centenera wat die streek beskryf. Hoewel Argentina teen die 18de eeu algemeen gebruik is, was die land se amptelike naam "Vise-Koninkryk die Río de la Plata" in die Spaanse Ryk en "Verenigde Provinsies van die Río de la Plata" ná sy onafhanklikwording.

In die 1826-grondwet is die naam "Argentynse Republiek" vir die eerste keer in 'n regsdokument gebruik. Die naam "Argentynse Konfederasie" was ook algemeen gebruik en is in die Argentynse 1853-grondwet geformaliseer. In 1860 het 'n presidensiële dekreet die land se naam bepaal as "Argentynse Republiek" en dié jaar se grondwetlike wysiging het al die name sedert 1810 as wettiglik geag.

Geskiedenis Vroeë geskiedenis duimnael|Die grot Cueva de las Manos naby die stad Perito Moreno (provinsie Santa Cruz) besit een van die oudste rotsskilderye in Argentinië Die eerste Europeërs, wat in die 16de eeu langs die Argentynse kus geseil en hier voet aan wal gesit het, was seevaarders op soek na 'n suidelike deurvaart van die Atlantiese na die Stille Oseaan, waaronder Ferdinand Magellaan en Pedro de Mendoza. Laasgenoemde het die nedersetting Nuestra Senora Santa Maria del Buen Aire, die huidige Buenos Aires, in omtrent 1536 gestig. In die noordweste van dié land, waar goeie landbougrond gevind word, het die Spanjaarde, wat vanuit die onderkoninkryk Bolivië suidwaarts beweeg het, verskillende nedersettings soos Mendoza, Tucuman, Córdoba en Salta gestig. Hier is perde geteel, vee vir vleisproduksie aangehou en suiker, tabak en groente verbou.

Die noordwestelike deel van Argentinië het sy bloeitydperk in die 17de en 18de eeu as gevolg van handel met die onderkoninkryk Peru beleef, terwyl Buenos Aires destyds niks meer as 'n tweederangse hawe was nie. Eers in 1776 het Buenos Aires die administratiewe sentrum van die nuwe vise-koninkryk 'Rio de la Plata' geword, 'n gebied wat die huidige Argentinië, Uruguay, Paraguay en 'n deel van Bolivië ingesluit het.

Geboorte van die Argentynse nasie duimnael|links|Landskap in Patagonië duimnael|Portret van generaal José de San Martin, Libertador (bevryder) van Argentinië, Chili en Peru duimnael|links|Buenos Aires Op 25 Mei 1810 het die Kreoolse bevolking van Buenos Aires in opstand teen die koloniale Spaanse bewind gekom. Hulle het voor die Cabildo vergader, die gebou waar afgevaardigdes, wat deur die Spaanse Kroon benoem is, byeengekom het en die visekoning en heersende junta se bedanking geëis. Ná 250 jaar se heerskappy oor die kolonie was die heersende klas só verswak dat hulle voor die betogende massas geswig het. Die politieke mag het skielik in die hande van 'n Kreoolse junta beland.

Ook in ander dele van Suid-Amerika, waar 'n opgeleide en liberale stedelike Kreoolse middelklas deur merendeels Spaans-gebore bewindhebbers geregeer is, het inheemse burgers op magsdeling aangedring. In Europa het Napoleon Bonaparte destyds militêr teen sy ou politieke bondgenoot Spanje opgetree, dié land binnegeval en, ondanks plaaslike weerstand, sy eie broer tot nuwe koning verklaar. Hierdie gebeure het die politieke druk op Spanje se koloniale bewind in Suid-Amerika versterk en die tafel gedek vir politieke hervormings.

Die inheemse Kreoolse bevolking was vasberade en magtig genoeg om politieke veranderings teweeg te bring, soos hulle reeds in 1806 en 1807 bewys het toe die inwoners van Buenos Aires 'n militêre oorwinning oor twee invallende Britse leërs behaal het. Terwyl die eerste Britse mag met slegs 1 500 soldate nog relatief klein was, was die tweede oorwinning oor 'n magtige en goed opgeleide leër van 11 000 man, wat deur Buenos Aires se bevolking gedwing is om te kapituleer, al hoe indrukwekkender. Die slaankrag van plaaslike burgermagte het selfs geblyk om groter te wees as dié van Spaanse koloniale regimente. Die Kreoolse bevolking het uit hierdie groot militêre sukses hul reg op selfregering afgelei. Gordon Bridger: Britain and the making of Argentina. Kindle e-boek-uitgawe. Southampton: WIT Press 2013, pos. 127

In 1816 het Argentinië onafhanklik van Spanje geword, na 'n kort stryd met die Spaanse besetters, onder leiding van José de San Martin. De Sa Martin, wat ook in Chili en Peru vir onafhanklikheid geveg het, word nog steeds deur die Argentyne as 'n held beskou. In die eerste jare van die jong nasie ontstaan diverse konflikte tussen sentraliste en federaliste, tot in 1853, toe 'n nuwe grondwet aangeneem is.

In die tweede helfte van die 19de eeu gaan Buenos Aires snel vooruit, deels as gevolg van die aankoms van duisende immigrante. Nuwe tegnologieë (vries van vleis, spoorweë) stimuleer landbou en veeteelt. Nuwe gebiede soos Patagonië word verower. Immigrante uit Engeland en Wallis begin skaapteelt op groot estancias. Argentinië word na die Verenigde State die tweede "Beloofde Land" van die Amerikas.

Vervolgens word Argentinië egter gekenmerk deur aanhoudende politieke konflikte tussen konserwatiewe en liberale elemente en tussen burgers en die weermag. Na die Tweede Wêreldoorlog verskyn die populistiese "peronisme", wat die verhouding tot 'n punt dryf. Tot 1983 word steeds bloediger optredende militêre juntas afgewissel met outoritêre siviele regerings, wat lei tot toenemende ekonomiese probleme, korrupsie, algemene afkeur in die politiek en die nederlaag in die Falklandoorlog teen die Verenigde Koninkryk in 1982.

Hierna help vier vrye verkiesings om demokrasie in Argentinië stewig te vestig. In 2001 het ekonomiese probleme, insluitend die wanbetaling van buitelandse skuld, gelei tot bloedige onluste en die val van die regering. Ekonomiese maatreëls soos die ontkoppeling van die Argentynse peso van die Amerikaanse dollar het vervolgens tot ekonomiese herstel gelei en Argentinië is nou ook 'n gewilde toeristebestemming, aangehelp deur die gunstige wisselkoers teenoor meeste belangrike geldeenhede. Argentinië se totale buitelandse skuldlas het in 2009, te midde van die internasionale finansiële krisis, nogtans weer tot 145 miljard VSA-$ gestyg. www.taz.de, 24 Februarie 2009: Argentinien und die Schulden: Nicht zahlungsunfähig, zahlungsunwillig. Besoek op 19 Julie 2009

Politiek duimnael|links|upright|Die huidige president Javier Milei duimnael|Kaart wat Argentinië met opgeëiste gebiede duimnael|links|upright|Victoria Villarruel dien sedert Desember 2023 as Argentinië se adjunkpresident onder Javier Milei Volgens die grondwet van 24 Augustus 1994 is Argentinië 'n presidensiële federale republiek.

Die Argentynse grondwet van 1853 (hersien in 1994), bepaal 'n skeiding van magte tussen uitvoerende, wetgewende en regsprekende magte, sowel op nasionale as provinsiale vlak. Die president en adjunkpresident word direk verkies vir ampstermyne van vier jaar. Beide mag slegs twee opeenvolgende termyne dien, maar kan na 'n tussenpose van ten minste een termyn vir 'n derde termyn staan.

Die president benoem die ministers. Die grondwet gee aansienlike mag aan die president in die dubbele funksie as staatshoof en regeringsleier. Die president het onder andere die vermoë om in "dwingende en noodsaaklike" omstandighede presidensiële dekrete uit te vaardig. Die huidige regeringsleier is Javier Milei.