Ds. Engelbertus Franciscus le Boucq (Tubeke, Brabant, België, 1675 – Batavia, Julie 1745) was die 14de predikant wat bevestig is vir diens in die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika en die mees omstrede van die vroeë Kaapse leraars. Buiten predikant was hy ook die skrywer van godsdienstige boeke en polemiese geskrifte.

Le Boucq was 'n Bernardynse monnik voor hy sy Roomse geloof vir die Protestantse verruil en hom aangemeld het by die Nederduitse Gereformeerde Kerk van Holland vir diens in Nederlands-Oos-Indië. Ná 'n driejarige dienstyd van 1703 tot 1706 is hy op sy eie versoek na die Kaap die Goeie Hoop verplaas, waar hy aangekom het op 30 Maart 1707. Met sy strydlustige, prikkelbare en impulsiewe geaardheid het hy op onverantwoordelike wyse in die stryd tussen die ondersteuners van Willem Adriaan van der Stel enersyds en die vryburgers aan die Kaap andersyds betrokke geraak. Eindelik het sy laakbare optrede daartoe gelei dat die Politieke Raad hom en sy gesin op 13 September 1708 na Batavia laat deporteer het, waar hy later in die amp herstel is en 19 jaar lank predikant van die Portugese Protestantse gemeente was. Op besoek aan Nederland in 1731 het binne 'n dag nadat hy hom vir die kursus aangemeld het, 'n doktorsgraad in die regte van die Universiteit van Harderwijk verwerf. Naas al sy polemiese geskrifte was sy bekendste werk 'n beknopte uiteensetting van die Heidelbergse Kategismus. Smit, A.P. in Potgieter, D.J. (hoofred.) 1972. Standard Encyclopaedia of Southern Africa. Cape Town: Nasionale Opvoedkundige Uitgewery Ltd.

Hy word beskryf as ’n "rustelose, emosionele en woelsieke" mens. Engelbrecht, prof. dr. S.P. 1952. Die Kaapse predikante van die sewentiende en agtiende eeu. Kaapstad en Pretoria: H.A.U.M.-De Bussy. J.P. Claasen skryf in die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek: "As leraar het Le Boucq ongetwyfeld groot entoesiasme geopenbaar, maar sy taktloosheid, skerp tong en giftige pen het talle botsings met die kerk, die owerheid en sy medemens tot gevolg gehad." Claasen, J.P. in Beyers, C.J. (hoofred.) 1981. Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek. Durban en Pretoria: Butterworth & Kie (SA) (Edms.) Bpk.

Vroeë lewe duimnael|regs|200px|Die Rooms-Katolieke Sint Gertrude-kerk in Tubeke, ds. Le Boucq se geboortedorp.

duimnael|links|300px|Kasteel van Arenberg, voltooi in 1515, het in 1921 deel geword van die kampus van die Katolieke Universiteit Leuven, waar ds. Le Boucq in die wysbegeerte studeer het toe hy nog Rooms-Katoliek-gesind was.

duimnael|regs|300px|Die Beleg van Namen in 1685, net sowat drie jaar voor ds. Le Boucq sy intrek in die nabygeleë klooster van Boneffe geneem het.

duimnael|links|300px|Nadat hy uit die klooster gevlug het, het ds. Le Boucq vyf maande in Rotterdam gaan woon. Dié toneel van die stad met die Laurenskerk se toring sigbaar is omstreeks 1660 geskilder, sowat 40 jaar vantevore.

Le Boucq is in Tubize (Tubeke) in België gebore as die sesde kind van Jean le Boucq en Philippine Steegh (Stegh, Steeg of Steege). Volgens sy ouers se name was sy vader waarskynlik Frans en sy moeder Vlaams. Die name van sy vyf broers en susters was ook Frans en Vlaams. Sy vader was blykbaar welgesteld, want hy het verskillende boerderye besit wat verpag was. Hy het in Leuven aan die Katolieke Universiteit Leuven, in 1425 gestig en die oudste universiteit in die Lae Lande, in die wysbegeerte studeer, en omstreeks 1697 het hy as student na die preek van 'n protestantse predikant van 'n Noord-Nederlandse garnisoen in Leuven gaan luister met die bedoeling om te gaan spot. Die teks van die preek was uit Prediker 11:3 ("Als de wolken vol geworden zijn, zo storten zij plasregen uit op de aarde; en als de boom naar het zuiden, of als hij naar het noorden valt, in de plaats, waar de boom valt, daar zal hij wezen"). Statevertaling. URL besoek op 5 November 2015. Die gedagte wat die prediker beklemtoon het, was dat daar ná die dood nie nog 'n kans is om gered te word nie en dat daar dan ook nie iets soos ’n vagevuur is nie. Dit het die jong Le Boucq laat twyfel en hy is na 'n Jesuïet om daaroor te praat, maar kon geen voldoening kry nie. Van hom is alleen geëis dat hy hom blindelings aan die Roomse leerstellings onderwerp met die bevel om nie weer na 'n protestantse predikant te gaan luister nie. Maar dit het uiteraard nie sy twyfel weggeneem nie; inteendeel, hy het weer 'n preek van die protestante garnisoenspredikant gaan bywoon en hierdie keer was die teks Johannes 6:55 ("Want Mijn vlees is waarlijk Spijs, en Mijn bloed is waarlijk Drank.") Statevertaling. URL besoek op 5 November 2015. en is die onskriftuurlike van die Roomse transsubstansiasieleer aangetoon. Le Boucq se twyfel het hierna groter geword.

Hy het dit voor die biegstoel bely, maar dit het nie gehelp nie. Die biegvader wou hom alleen absolusie gee op voorwaarde dat hy monnik sou word, en ter wille van sy gemoedsrus het hy ingewillig. Dit het hom nie geluk om dadelik in 'n klooster opgeneem te word nie en blykbaar was die aanvanklike weiering net om hom op die proef te stel. Weens sy kwellings kon hy nie meer studeer nie en hy wou toe vir 'n reis na Italië gaan, maar het eindelik met 'n paar vriende ooreengekom om saam in die keiserlike leër diens te neem en teen die Turke te gaan veg. Die vriende het egter kop uitgetrek en toe het hy in die Cisterciënser Abdy in Bonneffe noord van Namen aansoek gedoen om as kloosterling opgeneem te word. Die eerste versoek is afgewys, maar toe hy dit herhaal, het hy tog plek gekry.

Na die klooster in Boneffe In Leuven het hy nog eers 14 dae in 'n herberg tuisgegaan en afskeidsonthale vir sy vriende gegee. Daarna is hy na Antwerpen waar hy 'n paar ooms gehad het. Sy vader het ook daar gekom en toe hy hoor dat sy seun monnik wou word, het hy soos 'n "brullende leeuw" teen hom gekeer en gedreig dat hy hom, as hy in sy voorneme sou volhard, "met zijne pistolen door de kop zoude branden". Maar die jonge Le Boucq wou nie daarvan afsien nie. Hy wou beslis "tot meerdere gerustheid" van sy siel die klooster binnegaan. Hy het dan ook na Boneffe vertrek, maar is by sy intrede in die klooster baie ontnugter deur die drinkpartye en ander dinge wat hy daar gesien het. So het hy daar geen vrede gevind nie en wou weer weg. Maar ten slotte het hy tog gebly, sy kruin laat skeer en hom vir die proefjaar laat opneem. Dit was waarskynlik in 1698. Sy vader het hom gedurende die proefjaar 'n keer besoek en toe hy sy besware aan sy vader meedeel, asook sy voorneme om gedurende of ná die proefjaar uit te tree en die kloosterbelofte nie af te lê nie, het die vader weer baie woedend geword en gedreig om sy lewe te ontneem as hy nou nie in die klooster sou bly nie. Dit blyk hieruit dat die vader driftig en opvlieënd van aard was, net soos hy self ook was.

Ná die proefjaar het hy tog die kloostergelofte afgelê, maar dit was so teen sy sin dat hy God gebid het om dit nie aan te neem nie, hoewel dit sy gemoedsgesteldheid nog meer bedroef het. Hy is hierop in Namen georden, eers die vier klein ordes en daarna as subdiaken en 'n tydjie later as diaken, en het 'n Dominikaan as leermeester in die teologie gekry. Nog 'n tyd later, in 1699, sou hy vir die eerste keer die mis bedien, maar hy het probeer om voor die tyd te ontvlug. Dit het as volg geluk: die ab van die klooster sou vir 'n paar dae 'n uitstappie maak en Le Boucq vra toe op dieselfde tyd verlof om vir vier dae na Leuven te gaan. Daar was 12 lourierbome wat aan hom behoort het en wat hy aan die ab wou gee. Hy het die verlof gekry en is te perd daarheen, terwyl 'n kneg met 'n wa gevolg het. Sy plan was egter om nou te vlug. In Leuven het hy haastig gereël dat die lourierbome aan die kneg afgegee sou word, waarop hy na Antwerpen gery het en aan sy familie daar voorgegee het dat hy om dringende redes vir 'n paar dae uit die klooster weg was. Die aand is hy na 'n herberg in die stad waar sy perd was, onder voorwendsel dat hy daar 'n ander monnik moes ontmoet, maar heimlik met die doel om alles te reël dat hy die volgende dag baie vroeg kon vertrek.

Vlug uit die klooster Alles is gereed gemaak en met dagbreek is hy daar weg en het aan een stuk deur so hard as wat die perd kon loop na die Hollandse grens gery tot in Bergen op Zoom, 'n afstand van amper 35 km. Voor hy die stad binnegegaan het, het hy eers sy monnikspy uitgetrek en in die stad het hy na 'n Hervormde predikant verneem en toe op dié wyse met die bejaarde ds. Frangois Tureq in aanraking gekom, wat hom geld vir ete gegee het. Deur die vinnige rit was die perd halfdood, maar hy het dit tog nog kon verkoop, en het toe vir hom gewone klere gekoop en 'n pruik opgesit. So is hy na Rotterdam, waar hy vyf maande vertoef het en die beskerming van die State-Generaal ingeroep het. Hier in Rotterdam, nog voor die jaar 1700, het hy 'n geskrif uitgegee, Principale Dwalingen van het Afgodisch Pausdom, waar 'n tweede geskrif aan toegevoeg is, Den Uittogt uit Egipten na het Land Kanaän, waarin hy sy verbreking met die Pousdom beskryf.

Hy het toe 'n brief gekry waarin die skrywer voorgegee het dat dit van prof. Junctimme uit Wene was, en waarin probeer is om hom na die Roomse Kerk te laat teruggaan. Hierdie brief is met sy antwoord deur hom in 1700 in Rotterdam in druk uitgegee onder die opskrif Het Bedriegelijk Aanloksel na de Babelsche Hoere. Hy het op naam van prof. Junctimme 'n tweede brief gekry asook een van 'n neef wat priester in Antwerpen was, en ook hierdie geskrifte het hy met sy antwoord in 1700 in Dordrecht, waarheen hy intussen verhuis het, die lig laat sien met die titel Den ydelen Sirenen-Sank van het bygeloovigh Pausdom. Hierdie geskrifte was ooreenkomstig sy onstuimige aard baie bitter en het onder Roomse mense 'n haat teen hom opgewek waardeur hy meermale op straat en op die mark nageroep is.

In Dordrecht het hy lid van die Waalse Kerk geword en van die gemeente geldelike steun gevra om sy studie te kon voortsit. In 1701 het hy in Dordrecht 'n nuwe geskrif, War-net der Papisten, gepubliseer wat ook hartstogtelik fel was, maar hy sê daarin dat hy "niet uit passie, of drift" so skerp skryf nie, "maar tot meerderen afschrik van het Pausdom, en al hare grollen, die de menschen tot haar verderf brengen: want het moet de Roomsgezinden zoo bot en plomp gezegt worden, eer zij der geloof aan geven". Ná hierdie geskrif het hy verder nog laat volg Den Winkel van Schijn-Heiligheid des Pausdoms. Die vervaardiging van hierdie strydskrifte was heeltemal in ooreenstemming met sy strydlustige en hartstogtelike aard en karakter. Engelbrecht, prof. dr. S.P. 1952. Die Kaapse predikante van die sewentiende en agtiende eeu. Kaapstad en Pretoria: H.A.U.M.-De Bussy.

Na die Kaap en Batavia duimnael|regs|300px|Ds. Le Boucq het op 17 Desember 1703 in Batavia aangekom. Andries Beeckman het dié skildery van Kasteel van Batavia sowat 40 jaar vantevore geskilder.